Die Trojaanse Perd (Juig!)

Die volgende resensie oor Die Trojaanse Perd in die NG Kerk het in die Juig!-tydskrif verskyn.

Die Trojaanse Perd | Juig!

2010

In ’n boek wat pas verskyn het, spreek die skrywers daarvan hulle sterk uit teen afwykende leerstellige tendense in die NG Kerk. Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme is duidelik ’n poging deur die sewe skrywers daarvan om die NGK tot besinning te bring oor wat ge¬sien word as ’n wegbeweeg van die gereformeerde belydenisgrondslag van dié kerk.

Dit val op dat vier van die sewe skrywers nie teoloë is nie; twee is wetenskaplikes, een is ’n dermatoloog, een ’n opvoedkundige en drie is predikante. Dit is ’n aanduiding van die ernstige afmetings wat die ontevredenheid oor leerstellige dwaling besig is om aan te neem. Hierdie is duidelik ’n boek wat geskryf is vir mense wat die Here en hulle kerk liefhet en wat nie bereid is om maar net die maklike uitweg van wegvlug te volg nie.

RADIKALE HALFEEU

Dit is ook opvallend dat hierdie boek nie sommer vinnig aanmekaar geflans is nie; daar is deeglike navorsing gedoen en die boek gaan in diepte op talle sake in. Die Trojaanse Perd in die NG Kerk fokus op die radikale veranderinge wat oor die afgelope sowat vyftig jaar in die Skrifbeskouing in dié kerk plaasgevind het.

Waar die Skrif in die verlede gesien is as God se Woord aan mense, word dit tans deur baie teoloë gesien as mensewoorde óór God. Dit is volgens die skrywers van die nuwe boek ‘n onaanvaarbare aantasting van die uniekheid, waarheid en gesag van die Woord en dit verhef die mens tot die regter oor die Woord. Die mens kan nou besluit wat wáár is, en wat nie. En die mens kan ook nou besluit wat die eintlike boodskap van die Skrif is – in die proses kan die boodskap van die Skrif later selfs lynreg verskil van wat dit in die verlede was.

KERNWAARHEDE BETWYFEL

In dié verband word daar dan verwys na die verskuiwing wat in praktyk plaasgevind het in die kerk se siening oor morele kwessies. “Alles word gerelativeer om by die tyd en by die mens aan te pas”. Volgens die skrywers van die nuwe boek verduister hedendaagse Skrif-uitleg die Bybel, eerder as om dit te verhelder. Dit ruk die hart uit die Evangelie, omdat dit die kern-waarhede van die Skrif bevraagteken.

So word God ook ‘verduister’. Die oorsake van hierdie ommekeer in Skrifbeskouing word helder en duidelik aangespreek: in die gereformeerde tradisie is die boodskap van die Bybel gesien as ‘n boodskap wat vir alle mense van alle tye geldig is – omdat God nooit verander nie. Daardie boodskap kom wel in ’n taal wat mense verstaan, maar die inhoud daarvan is vandag nog nét so geldig as toe dit aanvanklik gegee is.

NUWE OPVATTING OOR GOD

Maar onder invloed van die evolusie-teorie is dit alles op sy kop gekeer. Om mee te begin word die geskiedenis van die Bybel nie meer gesien as waar nie; so het dinge nie gebeur nie, dit het evolueer. Die monoteïsme het uit die politeïsme evolueer. So ook ons opvattinge oor God.

God self word nou deur baie teoloë gesien as ’n ‘konsep’ wat oor tyd verander; soos ons kennis groei, so groei ons ook in ons opvatting oor wie en wat God is. Die ‘nuwe’ teologie se wortels lê diep in die evolusie-teorie. Maar, soos Jesus ons geleer het, word die boom aan sy vrugte geken. As godsdiens evolueer verval die absolute eise van die Skrif. Ons is immers almal aan die evolueer en wie sê dat die ander godsdien¬ste nie al veel verder as ons gevorder het nie? Daarom moet ons ruimte maak vir die diversiteit van godsdienstige opvattinge.

DIVERSITEITSFORUM

Dan stig ons ’n ‘Diversiteitsforum’ waarop almal aan die bespreking kan deelneem – almal behalwe die fundamentaliste. En dan mag ons oor enigiets praat, behalwe oor die Bybelse eis dat mense tot beke¬ring moet kom. En ons amptelike webtuiste, Kerkbode-aanlyn, word dié plek waarop ateïste na hartelus kan gal braak onder die vaandel ‘die seisoen van luister’, terwyl gelowiges wat nog in die Woord glo, duidelik nie so gewild is nie. Jy kan dus ’n webtuiste kry met die naam ‘Kletskerk’ waarin die verskriklikste godslastering denkbaar geduld word en vloektaal aan die orde van die dag is, maar moet dit tog net nie waag om die Evangelie-boodskap daarop te skryf nie. As jy dít waag, word jy onmiddellik die voorwerp van hatige venyn. Hieroor word die leser ook in Die Trojaanse Perd ingelig.

DOLEANSIE ONTSTAAN

Daar word in die boek spesifiek verwys na die feit dat hierdie nuwe Skrifbeskouing in 2002 tydens ’n Sinodesitting amptelik in die NGK beslag gekry het. Teen die verslag waarin die voorstel vervat is, het Dr. Willie Marais destyds uitvoerig in ’n artikel beswaar aangeteken. Maar die verslag is desnieteenstaande met ’n meerderheid goedgekeur. Die vraag oor die pad vorentoe word ook aan die orde gestel. Die moontlikheid van ‘doleansie’ word genoem; dat lidmate hulle bywoning en bydraes moet staak, totdat die kerk tot besinning gekom het. Daar word ook gewys op die vernietigende gevolge wat soortgelyke liberale teologie op kerke in Europa gehad het. Die vraag of teologiese opleiding aan universiteite moet geskied, kom ook aan die orde. Die fokus van universiteite is op wetenskap, nie op geloofsbou nie.

MAAK DIT ERNS

En omdat wetenskap deesdae per definisie evolusie as voorveronderstelling het, kom geloof in Skrif-geopenbaarde waarheid eintlik vanselfsprekend onder skoot. Kort¬om, hierdie is ’n boek vir Christene wat dit erns het met hulle geloof en hulle kerk. Dis geskryf vir mense vir wie die behoud van die gesonde leer ’n saak van groot erns is en wat bekommerd is oor die liberalistiese tendense in die leerstellings van die Kerk. Dat hierdie boek gaan opslae maak, lei nie die minste twyfel nie. Of sommige kerkleiers hulle daaraan gaan steur, is ’n ope vraag, gegewe hulle fanatiese aanhang van ’n onbewese en onbewysbare hipotese (evolusie) en die liberalisering wat dit in die teo¬logie veroorsaak het.

Dat die NG Kerk hom hard gaan vasloop teen die konsekwensies van dwaalleer in eie geledere, staan soos ’n paal bo water. Laat die Die Trojaanse Perd in die NG Kerk maar ’n profetiese stem wees vir almal wat dink hulle kan die Bybel verander soos húlle wil!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui