Die Strand-gemeente het geldige besware

Die Strand-gemeente het geldige besware | Netwerk24

Deur Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

21 Julie 2021 Die Burger

Ds. Nelis Janse van Rensburg (17.07) meld dat Die Strand-kerkraad se stellings onverstaanbaar is. Die webblad

gee ’n deeglike uiteensetting van die Algemene Sinode (AS) en kerkleierskap se besluite wat die besorgdhede van Die Strand-gemeente bevestig:

1. Aanvaarding van makro-evolusieleer en dat God nie die Skepper van alles is nie: Professore by Stellenbosse Kweekskool is al hieroor deur lidmate van leerdwaling aangekla, maar kerkleiers het hulle onskuldig bevind.

2. Aanvaarding dat Satan net bestaan as jy in hom wil glo: Die AS se besluit van 12 Oktober 2011 oor die bediening van bevryding, bevestig dat dit opsioneel is om in die bose te glo.

3. Dat jy nie hoef te glo in die maagdelike geboorte van Jesus en sy fisieke opstanding nie: Kyk hier na die uitsprake van Ben du Toit, die Sinode van Noord-Transvaal, Julian Muller, Jurie le Roux, Dirk Human, Adrio König, Nelus Niemandt en Willie Cilliers as voorbeelde van die debat.

4. Dat elkeen deur hul eie gode te dien, gered kan word: Die NGK Diversiteitsforum 2010, wat ook by die AS in 2011 bespreek is, bevestig dat jy nie net deur Christus gered word nie, maar deur enige god of afgod. Baie liberale teoloë ondersteun hierdie beginsel.

5. Die hele Woord is nie deur God geïnspireer nie, maar dat die Bybel die mens se woorde oor God is en dat dele daarvan as mites gesien moet word: Die 2002 AS-verslag oor die Bybel praat van die “menslike karakter van die Skrif”, “gewone mensewoorde”, en “die Bybel as menslike boek”.

6. Dat die huwelik nie slegs tussen ’n man en vrou is nie, maar ook tussen mense van dieselfde geslag en dat elke mens self sy eie geslag kan bepaal: Is Janse van Rensburg dan onbewus van die manewales wat gebeur het op die AS van 2015, 2016 en 2019 aangaande gay mense?

Die Strand NGK het geldige besware.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui