Die paadjies van ons gedagtes

Die volgende nuusbrief is in April 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

’n Klompie jare gelede het ek en Amor oudergewoonte met die honde gaan stap. Ons sien ’n man en sy vrou van voor af aankom. Ons ken hulle en weet dat die vrou sukkel met depressie. Sê maar haar naam is Anette. Daardie dag sien ons sommer van ver af dat dit sleg gaan met Anette. Toe ons nader kom, het sy gaan stilstaan en met albei haar hande aan ’n heining vasgehou. Sy het stadig op haar knieë afgesak in ’n gebedshouding, terwyl sy steeds met haar arms omhoog aan die heining vashou. Sy was emosioneel aan die einde van haar kragte. Ons het by hulle gaan staan en Amor het Anette opgehelp. Ek was los vir die aand en ons kon saam met hulle huis toe gaan en tyd aan mekaar bestee.

Watter raad gee jy vir ’n mens wat emosioneel gedaan is? Daar staan in Spreuke 18:14 (Ou Vert): “Die gees van ’n man ondersteun hom in sy siekte; maar ’n verslae gees – wie kan dit opbeur?” Ek het daardie aand vir Anette gesê: “My raad vir jou is om vir ’n maand lank niks vir die Here te vra nie. Lê jou daarop toe om vir ’n maand lank nie met die Here te praat oor jou sorge nie. Hy weet in elke geval daarvan. Praat net met Hom oor sy goedheid.” Ek het ervaar dit help nie om net te sê ek moet bid en alles sal regkom nie. Ons bid en bid, maar dit help nie as mens nie in staat is om God te vertrou nie. Miskien het jy dit ook al ervaar.


Dit is die rede waarom ek vir Anette gesê het: “Fokus daarop om vir die Here in jou gebede dankie te sê”. ’n Mens se gedagtes het die manier om elke keer dieselfde spoor te vat. Dit is soos die reënwater in die groenstroke wat geneig is om al met die voetpaadjies langs te loop. Met elke reënbui loop die water weer in dieselfde paadjie en die skade raak al groter. Die oplossing is om mooi te gaan kyk waar die water langs kom en dan moet jy spesiaal kanale maak vir die water waarin dit kan wegvloei. As jy dit nie doen nie, kies die reënwater elke keer weer ons voetpaadjies en naderhand kan ons nie meer daarop loop nie. So moet ons gedagtes ook met die hulp van die Here op nuwe paaie gelei word. Paulus praat daarvan as hy sê in Fil 4:6,7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Ons het ’n tyd later weer vir Anette langs die pad gekry. Dit het sommer baie beter met haar gegaan. Sy het my dankie gesê vir die raad wat ek haar gegee het. Ongelukkig is daar nie ’n resep wat vir alle mense werk nie, want geen twee mense is dieselfde nie en ons omstandighede is ook nie dieselfde nie. Elke mens het die verantwoordelikheid om jou gees te versterk sodat jy beter in staat kan wees om staande te bly in die moeilike dae. Dit beteken dat jy jouself moet ondersoek en moet kyk met watter paadjie die stroom van pessimisme in jou lewe begin vloei. Daardie stroompie begin ongemerk met sy skade. Jy moet voortdurend daarvan werk maak, net soos die munisipaliteit voortdurend na die paadjies in die groenstroke moet omsien.

Ek dink dit is belangrik om van jongs af ag te gee op ’n gesonde lewensuitkyk. Ek ken ’n dame wat in haar ouderdom oorval is deur depressie. Sy is tans onder doktersbehandeling en sterk medikasie. My raad vir haar was: “Sit ’n warmwatersak op jou maag, maak jou oë toe en sê vir die Here dankie vir al die goeie dinge in jou lewe. Sê dankie dat jy ’n man het. Hy is nie volmaak nie, maar jy is nie alleen nie in jou huis nie, jy het ’n maat. Sê dankie vir jou kinders en kleinkinders. Hulle het hulle eie probleme, maar hulle is daar en hulle is lief vir jou.” Sy het gesê dat sy dit doen, maar dit wil nie werk nie. Die skade is alreeds te groot. Die paadjies vir ’n gesonde gedagtegang is verwoes. Sy het nou in haar ouderdom, nie meer die krag om nuwe vore te maak waarlangs haar somber gedagtes weggelei kan word nie. Ons bid maar net dat die Here vir haar sal doen wat sy nie meer self kan doen nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui