Minnaar kla oor Gaum jr. se dinge

Kyk ook:

Die volgende is nog ’n artikel oor Laurie Gaum se geskiedenis. Kyk ook Die Bybel oor homoseksualiteit.

**********

Minnaar kla oor Gaum jr. se dinge

(Van Rapport gekopieer.)

2005-04-03

MARLENE MALAN
Kaapstad

Twee dae voor Kersfees verlede jaar is hulle in Amsterdam amptelik in ” ’n lewenslange verbintenis spiritueel ingeseën”.

Die afgelope week, minder as vier maande na dié “huweliksplegtigheid”, het ’n bom gebars oor die vier jaar lange liefdesverhouding tussen ds. Laurie Gaum, jongste seun van dr. Frits Gaum, tot verlede jaar redakteur van die Kerkbode, amptelike lyfblad van die NG Kerk, en sy minnaar, mnr. Douw Wessels, ’n sielkundige van Durbanville.

Wessels het aangedui dat hy môre ’n klag teen Gaum jr. by die NG gemeente St. Stephens, in die hartjie van Kaapstad, die ring van Kaapstad en die algemene sinode gaan indien oor Gaum se algemene gedrag. Gaum is die afgelope vier jaar ’n leraar by St. Stephens.

Luidens die klagskrif, wat in Rapport se besit is, kla Wessels dat Gaum “op só ’n wyse optree dat hy ernstige vrae by my laat oor sy geloofwaardigheid en bevoegdheid as leier van sy gemeente”. Wessels het ook laat blyk hy is bereid om onder eed hieroor te getuig.

Die klagte behels onder meer emosionele en verbale “geweld”, ontoepaslike gedrag en sy minagting vir ’n monogame verbintenis.

Hy het aan Rapport gesê hy het dié klagte ingedien “omdat Laurie my heeltemal vernietig het. Ek is gebroke en was verplig om hom te los omdat hy my so dikwels verneuk het – by die dertig keer al. Ek is ’n professionele mens met ’n enorme praktyk, maar ek kan byna nie meer cope nie. Ek verskaf geldige redes en probeer nie wraak neem nie. Ek wil hom as predikant tot verantwoording roep. Ek is verskriklik lief vir Laurie, en wat ek nou doen, is vir my verskriklik swaar.”

Luidens die klagte het Wessels Gaum op 31 Mei 2001 op die stoeptrap van die NG kerk Tamboerskloof in Kaapstad ontmoet toe die gay-kwessie op dié dag daar bespreek is.

“Sedertdien het ek Laurie baie goed leer ken. Verlede jaar, op 23 Desember, is ek en Laurie deur ’n predikant in Begijnhof, Amsterdam, amptelik in ’n lewenslange verbintenis spiritueel ingeseën.”

Weens Gaum se verneukery, sy minagting vir hul “huweliksverhouding” en omdat “hy nie uitleef wat hy predik nie”, het Wessels onlangs die verhouding beëindig.

Gaum was byna drie jaar gelede in die nuus toe hy die communitas-beweging saam met ds. Wynand Nel en prop. Rudi Buys in Kaapstad begin het.

Al drie het hul grade in die teologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hulle het toe gesê hulle wil ’n “oop, diverse” bediening stig “waar almal welkom sal wees”. Hulle het hulle dit ook ten doel gestel om ’n tuiste te bied vir “ontnugterde, kerklose” Christene, wat hulle nie meer in bestaande NG gemeentes tuisvoel nie.

Nou kla Wessels oor ” ’n besonder emosionele verbintenis” wat steeds tussen Gaum en Buys bestaan.

Aanvanklik het die NG Kerk hulle met tugstappe gedreig oor dié communitas-beweging, maar dit het intussen ’n stil dood gesterf.

Gaum het aan Rapport gesê sy privaatheid is geskend deur die berig en foto’s wat vroeër die afgelope week in ’n poniekoerant verskyn het. “Ek sal die nodig regstappe doen om my privaatheid en reputasie te beskerm,” het hy gesê.

Mnr. Keith Johnston, een van die gemeenteleiers, het aan Rapport gesê hy weet van die aangeleentheid. ” ‘n Mens skop nie iemand wat reeds lê nie. Mnr. Wessels en ds. Gaum kry albei seer. Maar ds. Gaum staan nie alleen nie. Ons is almal broers in Jesus Christus.”

– Rapport

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui