Die Algemene Sinode besluit om die NG Kerk te skeur

Wynand Louw het die volgende artikel geskryf na aanleiding van die besluit wat die NG Kerk se Algemene Sinode in 2013 gemaak het oor die Belharbelydenis.

**********

Die Algemene Sinode besluit om die NG Kerk te skeur | hierstaanek

Deur Wynand Louw

8 Oktober 2013

Ter agtergrond ‘n akademiese joernaal artikel deur Dr Plaatjies van Huffel, op die oomblik moderator van die VGKSA. Beklemtoning is myne.

Die NG Kerkfamilie behoort op weg na eenwording deeglik kennis te neem van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op 27 November 1998. Die volgende regsaspekte kan uit vermelde uitspraak afgelei word (1):

[…]

4. In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk en is op sigself volledig kerk. Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente. Die Suid Afrikaanse howe beskou die plaaslike gemeentes van die verskillende denominasies konsekwent as regspersone. As regspersoon is die plaaslike gemeente die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse. Die Algemene Sinode beskik dus nie outomaties oor die voorgesette regspersoon en bates van gemeentes nie. Die Algemene Sinode kan slegs tot kerkvereniging en die stigting van ’n nuwe kerk oorgaan indien goedkeuring daarvan volgens die voorgeskrewe kerkordelike reëlings verkry is.

5. Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is. Die belydenisgrondslag van die kerk kan alleen gewysig word mits daar aan die formele kerkordelike vereistes voldoen word.

Let op, wanneer sy in paragraaf 5 verwys na “kerke” bedoel sy plaaslike gemeentes, soos duidelik in paragraaf 4 uitgewys.

Nou, vanoggend se besluit van die Algemene Sinode van 2013. Weereens is beklemtoning myne.

Sinode aanvaar met ‘n groot meerderheid dat die volgende voorstel vir artikel 1 na die kerkverband toe kan gaan vir goedkeuring.

Kerkorde Artikel 1:
1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.
3 Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ʼn uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. (2)

Oukei. Ek is nie die slimste ou op die blok nie. Maar Dr Plaatjies van Huffel beweer kerke (plaaslike gemeentes) wat nie die selfde belydenisskrifte onderskryf nie kan nie in die selfde kerkverband wees nie.

Dit beteken die AS 2013 het besluit die NG Kerk moet skeur??? Ek bedoel, ons gemeente aanvaar Belhar, maar die ouens onder die treinspoor nie?

Hoe nou gemaak?

Wat hierdie absurditeit duidelik beklemtoon is dat ons hier te make het met ‘n radikale herdefinisie van wat ‘n belydenisskrif is. Die Algemene Sinode probeer dus om die belydenisgrondslag van die NG Kerk radikaal te verander – deur dit te herdefinieer.

1) Plaatjies van Huffel, M.A. & Van der Merwe, J.M., 2012, ‘Die reis met kerkeenwording tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika’, Verbum et Ecclesia 33(1), Art. #724, 7 pages.

2) NG Kerk se facebook bladsy: https://www.facebook.com/NGKerk?rf=136862756337168

Kommentaar

hierstaanek, 08/10/2013 at 6:23 pm

Net ter verklaring vir die ouens wat nog sukkel met die werk. 🙂

Tot dusver was ‘n belydenisskrif ‘n dokument wat bindend was op die gewete, en ‘n voorwaarde vir lidmaatskap. Daarom sê Dr PvH kerke wat NIE die selfde belydenisskrifte het nie kan nie in die selfde kerkverband wees nie.

Nou het die AS 2013 besluit ‘n belydenisskrif is iets wat NIE NOODWENDIG bindend op die gewete is nie.

Sien? Kul jou hier, kul jou daar en siedaar: Ons kerk is belydenis grondslag is verander deur ‘n herdefinisie van wat ‘n belydenisskrif is.

“He who controls the language controls the masses”. – Saul Alinsky in Rules for Radicals

Somerset (Sommie) Morkel, 08/10/2013 at 6:54 pm

Ek het die volgende kommentaar op my Facebook-bladsy geplaas:
NG-KERK AANVAAR BELHAR-BELYDENIS: RELATIVEER BELYDENIS-WAARHEID-GRONDSLAG TOT ‘N DEMOKRATIESE KEUSE..
(Krisis rondom waarheidsbeskouing: Die effek vd liberaliste in die NGK en die konsekwensies).
1. Die grondverskuiwing in die NG-Kerk op pad na eukumene het nou op die vlak vd Alg Sinode vd NGK plaasgevind.
2. Daar is nou gebuig voor die eise m.b.t. Belhar vd die Allan Boesaks en die Thias Kgatlas vd Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) – mense wat die Marxisties-begronde bevrydingsteologie en die aktivistiese en humanistiese “social gospel” voorstaan, waarin die redding vd mens uiteindelik in sy sosiale bevryding deur die god-van-die-staat van armoede ens. gesetel is.
3. Die Belhar-belydenis beskryf God o.a. as “by uitstek die God vd armes” – ‘n eensydige, blatante onwaarheid.
4. Dr Gerhard Bothma van NGK Bandorpark in Polokwane het die Belhar-belydenis onlangs beskryf as “..‘n geskenk uit die hand van God”.
(Dr Bothma is een van diegene wat openlik konstateer dat hy nie in die bestaan van die duiwel glo nie).
5. Die NGK vereis nou nie meer aanvaarding vd geloofs-belydenisse as noodsaaklik vir kerklidmaatskap nie – want die wig van keuse is ingedryf en die relativering het plaasgevind.
6. Die beginsel is gevestig dat dit ‘n keuse word.
7. Daarmee het die spyskaart-mentaliteit, wat die waarheid van God ondergeskik maak aan mense se besluit, amptelik beslag gekry.
8. Die NGK het nou so demokraties geword dat selfs Gods se Waarheid ‘n keuse word.
9. Hierstaanek.com (Dr Wynand Louw) skryf hieronder: “Wat hierdie absurditeit duidelik beklemtoon is dat ons hier te make het met ‘n radikale herdefinisie van wat ‘n belydenisskrif is. Die Algemene Sinode probeer dus om die belydenisgrondslag van die NG Kerk radikaal te verander – deur dit te herdefinieer.“
10. Maar die stryd is nog nie oor nie – die verskillende streeksinodes en gemeentes moet nog daaroor besluit.
11. Maar wat staan nou in die weg daarvan as dit so demokraties bedryf word?
12. Min mense sal besef WATTER impak hierdie grondverskuiwing wat in die NGK plaasgevind het, werklik sal he.
13. Wat duidelik is, is dat dit die NGK eenduidig verder op die pad na vals-kerk-in-wording plaas.
14. Maar: Daar is vir kinders vd Here wat nie die dwaalweg wil volg nie, die geleentheid om nou op te staan en getel te word in die volgende fase wanneer die Belhar-belydenis vanaf die Alg. Sinode deur die strukture gevoer gaan word vir goedkeuring.
15. Hulle durf nie nou gaan le om gemanipuleer te word deur ‘n te-verwagte veldtog vanuit die kantoor vd Alg Sekretaris, dr Kobus Gerber nie – hy is self ‘n liberale teoloog met sterk en aktiewe eukumeniese voorkeure, oa. vir Rome.
16. Hy is ‘n aktiewe medewerker op weg na die Een-Wereld-Kerk.. en hy is aktief in “Multifaith” forums.
17. As hierdie proses nie gestuit word deur manmoedige standpunt-inname deur gewone lidmate en predikante nie, sal dit verder duidelik word dat die NGK ‘n sterwende kerk is – en dat net die dop sal oorbly wat “die skyn van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën” (2 Tim 3:5)
18. ‘n Verdere gevolg kan wees dat die NGK daadwerklik kan skeur.. (kyk berig hieronder deur hierstaanek.com)
19. ‘n Verdere gevolg van hierdie besluit vd NGK wat te wagte kan wees, is dat des te meer mense die NGK sal verlaat en ander weivelde sal soek.
20. Dr Kobus Gerber het beweer dat dit rassime is wat mense tot dusver uit die NGK laat wegtrek het.
21. Dit sal hom goed doen om eerder te besef dat dit God is wat werk.. Waar Sy Waarheid verloën word, kom Sy oordeel uiteindelik ter sprake – en “dit begin by die huis van God” (1 Pet 4:17).
22. Maar eers verwyder Hy Sy kinders deur hulle uit te roep uit die dwaalkerk: “Kom uit haar uit, my kinders…” (Openb 18:4)
23. Wanneer ‘n kerk se verskuiwing weg vd Waarheid van God se Woord die rede word waarom mense die kerk verlaat, is die vraag hoe lank so ‘n kerk nog kerk van Christus genoem kan word.
24. Die NGK het in die vorige bestel die lidmate mislei m.b.t. Apartheid – maar die kern vd Skrif en die belydenisse onverskrokke verkondig, sodat selfs onder die dwaling van Apartheid, mense gered kon word.
25. Nou, in die nuwe bestel, mislei die NGK die lidmate met keuse-teologie – waar die Waarheid op die spyskaart geplaas word en wegbeweeg word van absolute waarheid en dit ondergeskik gestel word aan mense se keuse.
26. jlroodt het op hierstaanek.com geskryf dat dit is “…om die waarheid relatief tot elkeen se eie verwysingsraamwerk te maak..”.
27. Dit is geestelik tragies… Daarmee stel mens God ongeskik aan jóṹ – die mens se – raamwerk, i.p.v. om God se openbaring as raamwerk te aanvaar en jou daarby aan te pas – in die proses van bekering.
28. God se geopenbaarde word nou aangebied as ‘n demokratiese agenda waar die sondige mens besluit wat hy wil glo of nie.
29. In wese is dit godslasterlik.
Wat dit nog meer tragies maak, is dat mens nie kan huil oor diegene wat die NGK verlaat nie.
30. Hulle sal geestelik wesentlik veiliger wees buite die NGK as binne die NGK – wat ‘n Griekse tragedie soos ‘n piekniek laat lyk.
Somerset Morkel

Retha, 11/10/2013 at 6:05 pm

“7. Daarmee het die spyskaart-mentaliteit, wat die waarheid van God ondergeskik maak aan mense se besluit, amptelik beslag gekry.” – Somerset Morkel
Somerset Morkel, ek weet darem nie so mooi of “die waarheid van God ondergeskik raak aan menslike besluit” as mens ‘n belydenisskrif nie afdwing nie. Dit kan eweneens beteken dat nie almal saamstem oor wat God se wil in ‘n bepaalde situasie is nie. Party goed val in die klas waaroor Paulus in Romeine 14 vertel:
“Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil…Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.
Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting… Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. ”

Wanneer party mense voel hulle ken God se wil in ‘n situasie, kan hulle hulself daarvolgens beperk sonder om ander mense te dwing om ook soos hulle te maak.

Herdefinieer dit die woord “belydenisskrif?” Dalk, as jy nog altyd die woord “belydenisskrif” verstaan het as iets waarvan gelowiges nie mag verskil nie. Maar daar is, eerstens, talle gelowiges op aarde wat bv. nie die Heidelberge kategismus onderskryf nie. Dit beteken nie dat hulle God se waarheid minag nie, net dat hulle dit ietwat anders verstaan. Tweedens, die kerk het nie die status van die ander 3 belydenisse verander nie. Hulle het nog steeds die amptelike status wat hulle nog altyd gehad het.

Om te vertel dat ‘n opsionele belydenis, naas die belydenisse wat nie opsioneel is nie, daardie belydenisse sal ondermyn, klink vir my soos die “slippery slope fallacy”.

Die kerk (bedoelende Christendom) leef, na alles, al eeue lank met meningsverskille saam: Party gelowiges glo in ‘n duisend jaar vrederyk en ander nie, party glo in kinderdoop en ander nie. Gelowiges stem saam dat God ons vra om ons die evangelie te verkondig, maar nie almal stem saam oor hoe om dit te doen, of presies watter deel van God se boodskap alles tel as “evangelie” nie.

Godslastering? Nou is jy darem besig om diegene wat nie met jou saamstem nie met ‘n baie groot kanon te skiet.

hierstaanek, 11/10/2013 at 6:12 pm

Retha, elke predikant in die NG Kerk het ‘n kontrak onderteken dat hulle die 3 Formuliere van Eenheid aanvaar as bindend op hulle gewete. Niemand kan enigiemand dwing om ‘n kontrak te teken nie. Maar wanneer hulle dit geteken het kan jy van hulle verwag om daarby te hou.

En dit is presies wat ‘n belydenisskrif in die gereformeerde tradisie nog altyd was: ‘n Samebindende kontrak. Verwys asb na Dr Plaatjies van Huffel se artikel oor die hofbevindings na die hofsake in 1998. DIE HOF HET BEVIND DAT DIT DIE AARD VAN ONS BELYDENISSKRIFTE IS!!!

Wat die Algemene Sinode gedoen het is om die term “Belydenisgrondslag” te stroop van hierdie betekenis dat dit ‘n kontrak is.

Daarmee het hulle nie net die term herdefinieer nie maar ook ons belydenisgrondslag.

Ek hoop regtig jy verstaan my verduideliking.

Retha, 11/10/2013 at 6:56 pm

Ek verstaan wat jy vertel. En predikante onderteken dit nog steeds. Enkele woorde, wat nie eers in die Bybel voorkom nie, mag dalk gestroop wees van hulle betekenis, maar predikante moet nog steeds die 3 formuliere van eenheid onderskryf.
As die hof in 1998 bevind het wat die aard van ons belydenisse is, het die hof niks vertel oor enige belydenis wat na dit aangeneem is, en wat aannemers self vertel ‘n ander aard het nie. Jy is welkom om te verskil van my en te blog waarom jy verskil, maar dit stem my ongemaklik wanneer mense wat anders dink geverf word as mense wat “God se waarheid ondergeskik aan mense maak” en selfs van “godslastering” beskuldig word. Daarom het ek vir Somerset Morkel geantwoord. My antwoord was nie dat hy – of jy – moet ophou dink ‘n opsionele belydenis is ‘n slegte idee nie, wel dat dit moontlik is om as opregte gelowige nie so te dink nie.

Rom 14:4 stel voor dat mens ten minste nie oordeel oor diegene wat anders as jy dink oor sake wat nie pertinent in die Bybel uitgespel word nie. “Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.”

hierstaanek, 11/10/2013 at 7:41 pm

Retha, jou teks is nie van toepassing op dwaalleraars nie. Kyk maar wat Paulus in Handelinge 20 se oor dwaalleraars, en ook wat hy vir Timoteus skryf.

Asseblief, as jy die Bybel aanhaal, haal dit dan toepaslik aan.

En om te beweer Jesus was verkeerd oor die duiwel is uiters godlasterlik. Ek sou dit graag sagter wou stel maar die liefde van Christus sal my nie toelaat om dit te doen nie!

Retha, 11/10/2013 at 9:02 pm

Oor die duiwel stem ek met jou saam – dis dwaalleer. Ek stem ook saam hierdie teks het nie te doen met dwaalleerraars nie. Ek sien egter nie genoeg rede om te glo om Belhar opsioneel maak, maak van iemand ‘n dwaalleraar nie.

Henrietta Klaasing, 11/10/2013 at 10:05 pm

Retha, dwaalleer is wanneer daar afgedwaal word van leer van die kerk. Die liberale strominge in die kerk wat al die 80s begin het en gaandeweg al erger geword het, het so geleidelik gebeur dat lidmate en selfs kerkleiers soos die padda in die pot met water wat geleidelik al warmer geword het, dit nie eers agtergekom het nie. Mens kan ook praat van kondisionering.

Die een AS na die ander, deur die jare, het gaandeweg , stappie vir stappie, al verder en verder weg beweeg van die “gesonde leer” wat die Woord oor praat (1 Tim. 4:6; Titus 1:9 ; 2:1).

Die vreemde is dat mens uit verskeie oorde hoor dat verskillende streeksinodes sterk-bewoorde voorleggings gemaak het ( veral oor Belhar!), wat skynbaar summier op die AS van die tafel gevee is.

Miskien moet jy hierstaanek se vorige plasings oor Belhar lees, soos:

Piet Naude (Belhar kenner) stel die vernietiging van die NG Kerk se belydenisgrondslag voor.

En veral hierdie een – heel onder word nog skakels gegee – dit behoort dit mooi duidelik te maak.
Aanslag op die belydenisgrondslag van die NG Kerk

Retha, 11/10/2013 at 9:08 pm

Die sin: “Oor die duiwel stem ek met jou saam – dis dwaalleer.” moes wees: “Oor die duiwel stem ek met jou saam – om te glo die duiwel is ‘n onpersoonlike mag is dwaalleer.”

Henrietta Klaasing, 08/10/2013 at 8:04 pm

Diep gedink Sommie! Jou punt 7: “Daarmee het die spyskaart-mentaliteit, wat die waarheid van God ondergeskik maak aan mense se besluit, amptelik beslag gekry.” – dit geld nou al vir ‘n hele paar dinge wat vroeër vastighede in die NGK was: mense kan nou kies of jy die Bybel sien as die Woord van God of woorde oor God; mense kan nou kies hoe hulle die duiwel wil sien; sommige kerkleiers se spyskaart-keuses is nog langer: Ben du Toit kies dat Jesus nie uit ‘n maagd gebore is nie en nie fisies uit die dood opgestaan het nie … ek is seker julle kan nog aanvul hierby.

louisvj, 08/10/2013 at 8:20 pm

Die lewende Woord van God is heilig en onfeilbaar. Sy liggaam kan nie geskeur word nie, het Paul Washer gese. Mense kan probeer om – wat hulself betref – Hom weer te kruisig, maar Hy het reeds in die Allerheiligste anker gegooi (Hebr 6).

Somerset (Sommie) Morkel, 08/10/2013 at 8:44 pm

Korrek, Luigi: Net die struktuur vd sigbare kerk kan skeur. Maar dit kan met die NGK gebeur wanneer die geestelike liggaam hom verwyder vd verrotting vd struktuur.

louisvj, 08/10/2013 at 9:52 pm

Ons het lankal die woord gekry: “Kom uit haar uit, MY volk.” Die ‘haar’ is nie die NGK nie. Dis elkeen wat aan selfverheffing ly. Mens sien dit dikwels buite die strukture ook. En ek hoef nie vir jou te se: die ‘volk’ is nie die Afrikaners nie, maar kom uit elke volk en taal, stam en nasie – om Sy volk te vorm. Dis uitverkiesing; dis die genadeverbond. Die NGK-sinodegangers sal wel die week getoets word of hulle aan die lewende Woord van God bly, en of hulle selfverheffend aangaan.

Henrietta Klaasing, 09/10/2013 at 1:43 am

Belhar moet die land genees ( slotwoorde)!

Belhar belydenis sonder dwang, 8 Okt 2013

Die waarheid van die evangelie op die spel?

2 Kron 7:13-14 : As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, DAN SAL ÉK UIT DIE HEMEL HOOR EN HULLE SONDE VERGEWE EN HULLE LAND GENEES.(AOV) ( let op die aksent teken op “Ék” )

Henrietta Klaasing, 09/10/2013 at 9:59 am

Volgens Neels Jackson ( in Beeld) is “ALMAL” tevrede…

http://www.beeld.com/nuus/2013-10-09-belhar-almal-is-tevrede

Somerset (Sommie) Morkel, 09/10/2013 at 10:36 am

Neels Jackson is m.i. ‘n swak joernalis – ek het dit self al vir hom op Facebook gese – en is ‘n pion van sy liberale redaksie by Skewebeeld se beleid, en hy is deel vd openbare propaganda-veldtog wat nou in werking tree om Belhar ‘n stoot te gee in die geledere vd NGK..
Maar ek is baie teleurgesteld in veral Piet Strauss.
In feite is ek ‘disgusted’.
Hy weet van beter.
Hy sal nou ‘n instrument wees om die saak van Belhar in die NGK te bevorder.
Hy het dit waarskynlik t.w.v. kerkeenheid en om skeuring te verhoed, gedoen.
Dis tragies.
Mens kan nie die waarheid waarin jy self glo, ondergeskik stel aan strukturele kerkeenheid nie.
Vaderland… die man het dan ‘n boek geskryf teen Belhar.
Hoe het die helde geval…
Maar soos die Skrif duidelik se: “Moet op prinse nie vertrou nie”.
Dit is hier geillustreer.
Totsiens, Piet..

Henrietta Klaasing, 09/10/2013 at 10:52 am

Sommie, dit is seker my tale-juffrou agtergrond, maar ek het ‘n broertjie dood aan (en ‘n fyn aanvoeling vir ) “sweeping statements” – Neels Jackson kan ‘n sertifikaat, ‘n spesiale prys EN ‘n beker kry daarvoor. EN ons moet onthou: hy het een of ander spesiale toekenning van die NGK gekry vir sy “lojaliteit” – hy voel seker hy moet ( uit dankbaarheid ) aanhou “deliver”…

Henrietta Klaasing, 12/10/2013 at 8:09 am

Belhar in praktyk: “Met, sonder of onseker?” – help my asseblief!

Ek stel my die volgende voor: ‘n groep jong lidmate staan voor die kansel om belydenis van geloof af te lê. Omdat daar nou ‘n keuse gegee word , MOET dit op een of ander manier prakties uitgevoer word. By ons onderteken die jong mense voor in die kerk ( net na hul een vir een by name “ja” gesê het) ook nog ‘n sertifikaat . Die laaste vraag lui iets soos :

“Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard en alle leringe wat daarvan afwyk te verwerp?”

Nou is daar drie moontlikhede:
*Met Belhar
*Sonder Belhar
*Onseker ( want daar is die paar woordjies “sonder dwang” – m.a.w. jy kan die persoon nie nou dwing om ‘n keuse te maak nie)

Gaan die bewoording verander word vir die mondelinge en die skriftelike verklaring?

Dieselfde geld voornemende predikante. Die legitimasie verklaring wat hulle moet aflê en teken lui so:
1. dat ek glo dat die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid – naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God;
2. dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;
3. dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer.

Ook hulle sal dieselfde opsies moet hê as hierbo. REDENEER EK NOU REG OOR DIE SAAK? Indien wel, hoe gaan dit ge-akkomodeer word??

Somerset (Sommie) Morkel, 12/10/2013 at 9:54 am

Dit lyk my ons het werklik die punt bereik waar daar nie meer versoening kan wees met die standpunte wat binne die NGK se leierskap gehandhaaf word nie.
Verskeie persone wat glo hul is onregverdiglik gekritiseer, het uitnodigings gerig tot gesprekke (koffie drink ens).
Ek het in beginsel niks teen sulke byeenkomste en gesprekke nie, want dit kan tot groter helderheid lei in bepaalde persone se persoonlike standpunte m.b.t. sekere sake.
Die punt is uiteindelik: wat is elke mens se standpunt t.o.v. DWALING in die NGK, want dit is iets wat mens nie kan of behoort te tolereer nie, ook nie t.w.v. eenheid nie..
Natuurlik sou ek dit graag wou hoor.
Toe ek destyds in New York as diplomaat diens gedoen het, was ek lidmaat by die Presbiteriaanse kerk (USA).
In daardie tyd (1984-88) het die PC(USA) – Presbyterian Church (USA) – geworstel met min of meer dieselfde issues (behalwe Belhar natuurlik) waarmee die NGK vandag besig is.
Die senior leraar in ons plaaslike gemeente het onomwonde gese dat hy glo dat Jesus Christus die Enigste weg na God is.
Dit was egter nie meer die geval in die kerk oor die algemeen nie en liberale teoloee het hulle stemme laat hoor – net soos Ben du Toit, Julian Muller, et al..
In teenstelling met hulle het die alternatiewe PCA-Presbyterian Church in America, ‘n ander pad geloop.
Die bekende oorlede dr James Kennedy was een van hulle leraars, wat woordsuiwerheid verkondig het.
Hy was die oorsronklike outeur van Evangelism Explosion – die EE-reeks, tans EE3.
Dit het met die liberaal-wordende PC (USA) van sinodesitting na sinodestitting gegaan soos dit nou met die NGK gaan..
Na drie jaar in New York het ek as lidmaat bedank, juis na so ‘n sinode, en aangesluit by Times Square Church in New York – onder David Wilkerson van “The Cross and the Switchblade”..
Die PC(USA) het intussen drasties gekrimp tot net 1,8 miljoen lidmate (baie klein vir die VSA) nadat hulle evolusie aanvaar het, homoseks aanvaar het, die bestaan vd duiwel verwerp het, die Woord afgewater het, ens.
Hul jongste aganda is Chrislam…: http://www.prophecynewswatch.com/2013/October11/115.html
Wat moet mens meer se:?
Die NGK volhard en sal dieselfde paadjie volg, want hy is reeds onherroeplik daarop.
Sekerlik – en definitief en beslis – kan ons nie meer stilbly nie, argumente ten spyt, en mooipratery ten spyt, en paai-paai ten spyt.
Ons moet mense waarsku.
Dit is deel van elek mens wat aan God behoort, se profetiese roeping om te waarsku.
Ons moet ‘n getuienis uitbring teen hulle wat daar in die strukture sit (om watter rede ookal) en kompromie aangaan met mense wat vir seker deur die Apostels as verteenwoodigers van Satan beskryf sou word..
En dit dan Eenheid noem..
Die NGK word VALS kerk.
Tragies soos dit is vir die eens evangelie-getroue kerk vd Afrikaner.
Hy loop die pad vd liberalisties-verdwaalde Presbyterian Church (USA).

Henrietta Klaasing, 16/10/2013 at 8:08 am

Vanoggend ( 16 Oktober 2013) se Kyknet bespreking was weer die ou-ou storie – ongelyke speelveld van media-manipulasie: Neels Jackson as gespreksleier, Nelus Niemandt natuurlik die drywer, dan Nico van Rensburg van Wes-Transvaal ( blykbaar het die APK skeuring destyds in W-T begin, lei ek af) en dan oor die foon, gen Contant Viljoen ( wat ook “oorgegee” het) . Basies maar presies dieselfde wat in berigte oral gesê is ( goedafgerigte koor :)) . Waarom was daar nie ‘n opponerende spreker nie?

Oorduidelik weer gedoen vir “advertensie” van hul “produk”.

Ek het die woord “kompromie” of terme in daardie verband oor en oor gehoor … en die bottom line: om skeuring te voorkom. Ek het ‘n vermoede dat die teen deel gaan gebeur en dat dit juis skeuring gaan veroorsaak, soos die opskrif van hierdie artikel sê….

Help my asseblief: Is dit die Bybelse manier om ‘n idee aan mense te verkoop?

Henrietta Klaasing, 16/10/2013 at 8:26 am

Ek kan my nogal vereenselwig met van die gedagtes wat Deon Kitching hier uitgespreek het: http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Nie-almal-tevrede-oor-Belhar-besluit-20131012

Petrus, 21/10/2013 at 8:04 pm

Kan ‘n liberale teologie skool terugkeer na die waarheid soos verkondig word in God se woord? Kyk hier: http://vimeo.com/m/76963904

hierstaanek, 21/10/2013 at 9:22 pm

Dankie Petrus. Ek maak hierdie ‘n nuwe pos op hierstaanek.

Carel Jansen, 09/05/2015 at 8:03 am

Ek is van mening dat punt 4 se beredenering nie sekere feite verreken nie.:” In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk en is op sigself volledig kerk.” Die stelling is waar. Maar die NG Kerk werk met ‘n kerkregering wat deels presbeteriaal is en deels uit die verenigingsreg kom. Dit het verskeie arbeidshofsuitsprake reeds gewys (die laaste was die saak teen Moreletapark). Die NG Kerkorde beskryf die plaaslike kerk as kerk, maar ongelukkig word ook die ring, die streeksinode en die algemene sinode as kerk beskryf. Daarom dat Dr Abraham Kuyper hierna verwys as ‘n verkleurmannetjie (cameleontisch) kerkregeringstelsel. Dit het o.a. die praktiese gevolg dat ‘n ring of algemene sinode ‘n nuwe kerk kan begin of ‘n bestaande kerk kan eindig. Die regspersoon lê by die NG Kerk gesetel in die plaaslike kerk (soos verteenwoordig deur die kerkraad), maar ook in die ring en die algemene sinode. Hiermee sit ons met die sg societas-regspersoon (wat dan ook in kerkregeringterme beskryf word as “sinodaal presbeteriaal.” Terwyl in die suiwer presbeteriale kerkregering die howe die regpersoon as universitas indentifiseer, waarin die plaaslike kerk die regspersoon is, terwyl ring/klassis, streeksinode en algemene sinode net kerklike vergaderings is, wat opbou bestaan as die vergadering afsluit. Dit “bestaan voort” nie deur bepaalde persone in bepaalde poste nie, maar slegs in sy besluite. Hiermee wil ek afsluit: die stelling in puint 4 is korrek, maar funksioneer nie so in die NG Kerk nie. Regstelling sal beteken dat die NG Kerk sy kerkorde moet verander.

hierstaanek, 09/05/2015 at 8:20 am

Carel, dankie vir dié opmerking.
Dit gaan egter hier oor die reg op die bates van ‘n gemeente. Gestel Weskaap sinode besluit om af te stig van die NG Kerk (van die Belhar manne versoek dit by implikasie) beteken dit nie ons gemeente is daarby ingesluit nie tensy ons gemeente, nie ons kerkraad nie, daarvoor stem. Die vraag is: wie kry die bates. En “bates” sluit die naam “NG Kerk” in, dit is nie net die kerkgebou en pastorie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui