Belhar: Almal is tevrede

Die volgende artikel het die Die Burger verskyn op Woensdag 9 Oktober 2013.

*********

Belhar: Almal is tevrede | Die Burger

Belyers, nie-belyers tegemoetgekom

Neels Jackson

Woensdag 09 Oktober 2013

Port Elizabeth. – ’n Groot deurbraak is gister op die algemene sinode van die NG Kerk gemaak toe ’n manier gevind is om die belydenis van Belhar in die kerk se belydenisgrondslag op te neem wat mense wat Belhar wil bely én dié wat dit nie wil doen nie, tevrede gestel het.

Die sinode het ’n voorgestelde nuwe kerkorde-artikel goedgekeur wat die kerk se belydenisgrondslag wysig. Dit is egter nog net die begin van die proses. Al tien die kerk se streeksinodes en twee derdes van die kerkrade moet dié voorstel nou met ’n tweederdemeerderheid goedkeur voordat die algemene sinode dit finaal kan goedkeur.

Leiers soos genl. Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, en prof. Piet Strauss, voormalige moderator, het die voorstel gesteun, dus is die hoop groot dat die hele kerk dit sal aanvaar.

Viljoen en Strauss is twee van die bekende figure in die kerk wat nie bereid is om Belhar te aanvaar nie. Hulle kon hulle egter met die nuwe voorstel versoen.

Die voorgestelde kerkorde-artikel lui eerstens dat die NG Kerk gegrond is op die Bybel as Woord van God.

Daarby word gesê die kerk se ses huidige belydenisse verwoord die leer wat die kerk bely.

Dan volg die punt oor Belhar: “Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as belydenisskrif onderskryf nie.”

Die voorgestelde artikel sê voorts die uitbreiding van die belydenisgrondslag geskied sonder dwang. Viljoen het sy tevredenheid uitgespreek en gesê die besluit is die beste manier om die hele kerk bymekaar te hou.

Strauss het daarop gewys dat die ses historiese belydenisse genoeg is om almal in die kerk saam te bind.

Dr. Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), het die besluit as ’n groot deurbraak vir die NG Kerk bestempel.

As kerke in die NG Kerk- familie egter herenig, sal hulle weer oor die formulering van die belydenisgrondslag wou praat.

Die VGK meen alle belydenisse geskied sonder dwang en so ’n kwalifikasie behoort nie net vir Belhar te geld nie.

Prof. Nelus Niemandt, moderator, het die besluit gister as ’n historiese oomblik in die NG Kerk se geskiedenis bestempel. Dit is die eerste keer dat die kerk met ’n proses begin om sy belydenisgrondslag te verander.

. . .

Die oorsprong

Belhar is in 1986 deur die destydse NG Sendingkerk as belydenisskrif aanvaar.

Dit handel oor kerkeenheid, versoening en geregtigheid – die drie aspekte van die evangeliese boodskap wat volgens dié kerk in die gedrang gekom het deur die teologiese regverdiging van apartheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui