Daar is ook goeie nuus oor kerke

Kyk ook:

*******

Daar is ook goeie nuus oor kerke | Netwerk24

Outeur onbekend

6 Augustus 2022
Dis dikwels omstrede of opspraakwekkende voorvalle in die kerk wat die nuus haal. Maar, skryf Clara en Cas Wepener, daar is ook goeie nuus vir diegene wat dit waag om dieper te kyk.

In haar gedig “Twee kleuters in die Vondelpark” skryf Elisabeth Eybers oor ’n seuntjie en ’n dogtertjie wat hand aan hand staan en kyk na ’n swaan.

Terwyl die meisie nog wil kyk, “pluk hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand / vir verdergaan . . .”. Oor hoe die meisie na die voël op die water kyk, skryf Eybers: “Maar sý sien webbe onderwater roer.”

’n Mens kan die wêreld en die dinge om ons haastig en vlak beskou, of vertoef en dieper kyk. Só sien sommige meer as ander.

’n Deel van die wêreld is die kerk. Party mense kyk na die kerk in ons samelewing, is verveeld, sommige selfs geïrriteerd daarmee, of sien min en pluk aan die mense om hulle vir “verdergaan”.

Enkeles weifel en sien wél webbe roer. En dit is nie noodwendig teoloë en hul nadenke oor kerk en wêreld wat die webbe sien roer nie. Soms kom die rimpelings wat deur die kerk se aanwesigheid veroorsaak word deur die lense van nie-teologiese navorsing.

Sagte aanwesigheid

Een voorbeeld in hierdie verband kom uit die veld van spraakterapie, spesifiek die spesialisveld “aanvullende en alternatiewe kommunikasie”. (Dink Stephen Hawking en sy toestel waarmee hy gepraat het, dus mense wat van min tot niks kan praat nie, wie se motoriese bewegings erg geïnhibeer is en dan met behulp van tegnologie kommunikeer.)

In die konteks van ’n Suid-Afrikaanse navorsingsprojek in hierdie veld was die mense wat deelgeneem het aan die studie egter mense sonder die begroting van ’n Stephen Hawking, dus deelnemers uit brandarm kontekste in ons land wat geensins gevorderde tegnologie kon bekostig nie. Die deelnemers was deurgaans jong mense met goeie kognitiewe vermoëns, maar hulle kan nie praat nie en kan slegs met groot moeite hul hande en vingers ten dele gebruik. “Gebruik” is te sterk gestel; dit is eerder met baie moeite beweeg.

In die studie is gekyk hoe sewe jong mense, versprei oor verskeie provinsies in ons land, teksboodskappe op slimfone as aanvullende en alternatiewe kommunikasie gebruik ten spyte van hul erge fisieke beperkings. Die studie het gekyk wat die jong mense en hul kommunikasie-vennote as die voor- en nadele van hierdie kommunikasiemedium beskou.

Onderhoude is persoonlik via WhatsApp met die jong mense gevoer aangesien verbale kommunikasie nie ’n opsie is nie. Ná individuele onderhoude het die jong mense ook hul belewenisse van hierdie kommunikasie met mekaar in ’n fokusgroep bespreek. Hierna is die data tematies geanaliseer en in gesprek met literatuur gebring.

Dit het in die data duidelik na vore gekom dat hierdie “bykans onsigbare” mense in ons samelewing se lewensare hul onmiddellike familie is.

Dit was nie die navorsingsvraag nie, maar dit het ook duidelik geblyk dat geloofsgemeenskappe ook ’n kritieke rol in hul welsyn speel. In elkeen van die respondente se onderhoude het dit telkens en ongevraagd geblyk dat hul kerke aan hulle netwerke verskaf waarsonder hulle bitter swaar sal kry.

Dit was nie ’n teoloog wat die studie gedoen het nie, so die jong mense het geen aansporing gehad om vir die navorser goed te sê wat sy dalk graag oor die kerk en godsdiens wil hoor nie.

Die kerk se sagte aanwesigheid en wat kerke in die lewens van hierdie jong mense beteken, het egter voortdurend in die data opgeduik.

Om déél te wees

In die meeste gevalle help kerke se netwerke nie net die jong mense om te oorleef nie, maar om op hul eie manier te floreer.

Dit is in kerke se WhatsApp-groepe waar hulle nie misgekyk word nie, maar bewustelik ingesluit word, terwyl hulle dikwels uitgesluit word van ander groepe.

Die jong mense het beskryf hoe hulle deel van die gemeenskap is en op hoogte van gebeure bly via hul church chat groups. Ook hoe vriendskappe met gemeentelede van verskillende ouderdomsgroepe gevorm is en via WhatsApp in stand gehou word.

Om gewoon ook net geneem te word na en ingesluit te word in ’n erediens of jeugbyeenkoms, het hulle vertel, se waarde is onmeetbaar.

Al dié inligting is ontsluit sonder dat dit deel van die navorsingsvraag was. Die jong mense het die behoefte gehad om die inligting te deel.

Kerke het in Suid-Afrika al baie drooggemaak. Van ’n legitimering van apartheid tot ’n Doom-spuitery in eredienste het ons al in ons leeftyd beleef. Dominees wat rassisme kondoneer en pastore wat kerkgangers laat petrol drink, is heerlik nuuswaardig.

En tog . . .

Tog is daar ook ’n ander, minder nuuswaardige kant. Daar is ’n kant van kerk-wees wat stil en grootliks onsigbaar gebeur, maar waar iets so kleins soos ’n emoji wat via ’n WhatsApp gestuur word ’n lewe verryk en aan iemand die energie gee om voort te beur in die lewe.

Onsigbaar, maar dáár

Ja, dis maar ’n kwessie van kyk en sien. Vir mense wat self geen klanke kan vorm nie en aanvullende en alternatiewe kommunikasie benodig, is geloofsgemeenskappe dikwels ruimtes wat deur hul netwerke sosiale kapitaal genereer wat van onskatbare waarde is.

Uit ’n sosiologiese oogpunt is dit ook ’n spesifieke soort sosiale kapitaal wat soms spirituele of godsdienstige sosiale kapitaal genoem word.

Dit is met ander woorde netwerke waarin en -deur bande gesmee word wat kwalitatief dieper gaan as die bande wat in en deur ander organisasies gevorm word – nie dat die ander netwerke onbelangrik is nie.

Kerke se netwerke moet definitief ook nie onkrities beskou word nie, maar die teenwoordigheid en waarde van geloofsgemeenskappe en die netwerke wat hulle skep, is vir baie mense in ons midde lewensare.

Grootliks onsigbaar, maar wel daar. Soos wat daar mense in ons midde is wat aanvullende en alternatiewe kommunikasie benodig, word aanvullende en alternatiewe kommunikasie oor die rol van geloofsgemeenskappe in ons land ook soms nodig.

  • Clara Wepener is verbonde aan die sentrum vir aanvullende en alternatiewe kommunikasie aan die Universiteit van Pretoria waar sy ook haar PhD-studie getiteld “Mainstream mobile messaging for youth with complex communication needs” voltooi het. Cas Wepener is ’n professor verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui