Beswaardes beweer daar is ’n Trojaanse perd in die NG Kerk

Kyk ook:

Die volgende artikel is in Kerkbode geplaas toe Jean Oosthuizen nog die nuusredakteur was. Let op na die uiters negatiese beriggewing. Kyk ook die kommentaar onderaan.

*************

Beswaardes beweer daar is ’n Trojaanse perd in die NG Kerk

4 Desember 2010

Gekopieër vanaf Kerkbode

’n Groepie ontevrede lidmate, waaronder ’n paar afgetrede predikante van die NG Kerk, beweer daar is ’n Trojaanse perd in die NG Kerk.

Hulle sê die kerk behoorlik die stryd aan oor sake wat wissel van evolusie tot saamwonery. Die samestellers van ’n nuwe boek wat vandeesmaand verskyn, het veral hulle mes in vir die sogenaamde “liberales” in die kerk. Die boek se titel is: Die Trojaanse perd in die NG Kerk met die subtitel Kanker van evolusie en liberalisme.

Enkele gedagtes word ook uitgespreek oor die Evangeliese Inisiatief (EI). Alhoewel daar waardering is vir die getuienis wat die EI uitdra ten opsigte van wat die “waarheid” is, is die vraag in die boek: Doen die EI genoeg om ’n omkeer te bewerkstellig?

Die samestellers sluit predikante in wat reeds lankal afgetree het, onder andere ds Hanah Viljoen wat in 1959 predikant geword en in 1995 afgetree het. Nog ’n dominee wat aan die boek help skryf het, is ds Gideon Aggenbag, wat ook reeds afgetree het in die NG Kerk, maar steeds as predikant van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) diens doen. Van die ander samestellers is bekende kreasioniste soos dr Hennie Mouton van Pretoria en mnr Pieter Pelser van Hermanus.

Evolusie word gesien as die vrot appel in die NG Kerk se kis. Die onderwerp kry “uitgebreide” aandag in die boek. Die “omhelsing” van evolusionisme het glo verwoestende en verreikende gevolge op sake wat deel is van die gereformeerde belydenis.

Een van die samestellers, dr Henrietta Klaasing, skryf op die NG Kerk se diversiteitsforum “nou is die tyd dat gewone lidmate hulle sê begin sê”. Dit was glo die hoofrede vir die skryf van Die Trojaanse perd. Sy sê daar is al ’n geruime tyd ’n hewige woordestryd aan die gang, in kleiner en groter kerkvergaderings, in die sekulêre media, in die kerk se mondstukke, oor die TV en radio en in boeke wat deur verskillende hoëprofiel-kerkleiers oor en weer geskryf word. “Vir ’n lang, lang tyd het die ‘gewone lidmaat’ die ‘geveg’ aanskou, en maar net doodstil gebly.”

Die webbestuurder van die NG Kerk se diversiteitsforum, dr Charles Malan, beskuldig van die boek se samestellers op die NG Kerk se forum van verdagmakery. Dr Malan skryf op die forum: “Ons het geensins die Trojaanse perdebouers se soort dissipline en sensuur nodig nie. Anders as wat julle doen, sal ons na julle luister en selfs julle boek gratis adverteer, maar die dae is verby dat julle mense soos Anton (Kerkbode se uittredende redakteur) uit hulle poste dryf terwyl hulle julle akkommodeer.”

Dr Malan daag die “regse fundamentaliste” in die kerk uit om te kyk of hulle hom uit die pos van webbestuurder op die NG Kerk se eie webwerf kan verdryf. “Solank julle beleefd en ter sake kommunikeer, sal julle standpunte ten minste ’n ruk lank op die diversiteitsforum verskyn. “My belangrikste wapens is Christelike naasteliefde en verdraagsaamheid. Maar ek het ook ’n boodskap uit die Tao vir julle (gryp dadelik na julle penne oor hierdie afvalligheid!): Ons bejeën diegene wat van ons verskil, met sagmoedige onverskilligheid,” het dr Malan op die NG Kerk se webwerf geskryf. – jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Beswaarde pêre
2010/12/04

Die diversiteitsforum het ’n geruime tyd al in die spreekwoordelike fladderende duiwehok ontaard…Hoekom sou dr Charles Malan nou skielik bedreigd voel oor sy pos as webmeester as hy nie self agter die deur staan nie? Hy praat van naasteliefde en verdraagsaamheid, maar lyk my sy “talk is cheap” – hy verwyder poste links en regs wat nie by sy sieninge aansluiting vind nie – so “so much for” ‘die wapens van naasteliefde en verdraagsaamheid’ en nou word die ‘fundamentaliste’ vir al die ellendes verantwoordelik gehou? Ag asb. dr kom by en erken jy’s nie opgewasse vir die job nie, maw jou “gentle indifference” flous niemand nie. Liza – liza.eric@gmail.com

Beriggewing is selde objektief
2010/12/04

Dat beriggewing selde objektief is, blyk weereens baie duidelik uit hierdie berig van Jean Oosthuizen.

Hy verwys graag na die twee afgetrede predikante wat deel was van die skrywerspan, maar laat die dienende predikant ds. Jan Louw uit. Hy noem vir Pieter Pelser ’n samesteller van die boek, terwyl hy slegs ’n bydraer was soos duidelik op die webwerf www.glodiebybel.co.za gesien kan word waar hy sy inligting gekry het, maar vir dr. Henrietta Klaasing wat wel ’n skrywer en samesteller was, en ’n doktorsgraad in teologie het, verswyg hy.

As webbestuurders hul uiterste bes doen (buiten Charles Malan se diversiteitsforum, gaan kyk ook na Jean Oosthuizen se kletskerk, en wat hy daar oor die boek skryf) om ’n boek so negatief as moontlik voor te stel, en dan beweer dat hulle akkommoderend is, en die boek “gratis adverteer”, maak dit sekerlik ’n grap van hul vroom uitlatings.

Hierdie soort beriggewing op Kerkbode-aanlyn, skrywes op die “NG Kerk se diversiteitsforum” en dan ook op kletskerk, wat steeds ’n skande vir die Christelike geloof is, is van die sake wat in die boek bespreek word. – Hennie Mouton

Oogmerk met skryf van boek
2010/12/04

Ek is seker die skrywer van die artikel ken Shakespeare se uitdrukking: “The lady doth protest too much, methinks” en die toepassing daarvan. Hier word besondere sterk taal gebruik, soos “die samestellers van die boek het hulle MES IN vir die liberales in die kerk” , en daar word geïnsinueer dat hulle poog om mense soos Anton Pienaar en Charles Malan uit hul poste te dryf. Miskien moet die skrywer en Charles Malan liewer self die boek lees en kyk wat is werklik die skrywers en mede-werkers se oogmerk met die skryf daarvan, wat op verskillende plekke in die boek baie duidelik gestel word. – Henrietta Klaasing

Bitterbekkies
2010/12/05

Ag tog nog ’n klompie van die ou suur sedige bitterbekkies in die kerk vir wie alles onder die Liewe Vader se son sonde is en almal wat nie soos hulle dink nie hel toe gaan. Laat hulle maar kwek en kwaak. Ek dink nie daardie boekie gaan ’n best seller word nie. – Gert van Dyk

Tant Hetta se bende
2010/12/07

Ai tog. ’n Boek so relevant soos ’n BA graad in Naturelle bestuur in die nuwe SA.

Hoofstuk 1: Hoekom ’n almagtige god rus nodig het na 6 dae van werk.
Hoofstuk 2: Hoe ’n slang Hebreeus kan leer
Hoofstuk 3: Hoe om al die lewende wesens op ’n boot in te sqeeez en ’n jaar lank te voer.
Hoofstuk 4: Hoe ’n Israeliet in ’n Boesman kan verander in 80 geslagte sonder evolusie. Hoe evolusie die groot leuen van Satan is.
Hoofstuk 5: Hoe maagde kan verwagtend raak
Hoofstuk 6: Die hel word voorberei vir Malherbe en Kettiekop
Hoofstuk 7: Bewyse dat 49 verskillende daterings metodes verkeerd is.
Hoofstuk 8: Hoekom Creation.com wetenskaplikes regte wetenskaplikes gebruik en hul navorsing wereld kwaliteit is.
Hoofstuk 9: Kletskerk, Satan en Pomp – bewyse dat hulle kop in een mus is.
Hoofstuk 10: Bankbesonderhede vir die wat ruim wil skenk
– Kettiekop

KETTIEKOP IS ’n KETTER
2010/12/08

Kettiekop, jy is ’n ketter. Moenie my woord aanvaar nie: neem jou tien vrae na jou naaste predikant en vra hom of ek reg is. – Vraagteken

Dieselfde boek?
2010/12/09

Ek het so pas die boek klaar gelees en verstaan glad nie sommige van die komentare nie. Dr. Malan, praat ons van dieselfde boek,Trojaanse perd in die NG Kerk ? Ek het niks gelees wat ek in verband kan bring met “regse Fundamentaliste” nie. Ek het wel geldige redes vir kommer gesien oor wat in die kerk gebeur, geskryf deur `n groep mense wat God waarlik lief het. Selfs al word dit nie `n best seller nie, Gert van Dyk, gaan ek die boek veseker aanstuur vir almal wat ek ken. – Elbie Brits

Om te ketter of nie…..
2010/12/14

As mens die moeite sou doen om terug te kyk na die ketters van die geskiedenis, wil dit voorkom of vrind Kettie hom in goeie geselskap bevind. Inderdaad ’n kompliment. – Malherbe

Hennie Mouton (Kerkbode wou dit nie plaas nie)
2010/12/29

Wanneer dink jy, die leser, is dit geregverdigd om van ’n trojaanse perd in die kerk te praat?

Watter van die volgende stellings is vir jou aanvaarbaar, en watter nie? :

1. God het nie in 6 dae enkele duisend jare gelede die hemel en die aarde geskep nie.
2. God het nie bonatuurlik alles geskep nie – alles het deur natuurlike prosesse ontstaan.
3. God het die natuurwette geskep, maar daarna het alles bloot natuurlik verloop.
4. God het deur evolusie geskep, maar Hy het die proses beheer, of is slim genoeg om te geweet het hoe die proses sou uitdraai.
5. God het die evolusieproses geskep, maar Hy is maar net ’n omstander of waarnemer betreffende hoe dit sou verloop en wat al die gevolge sou wees.
6. God bestaan nie werklik nie, maar kan beskou word as die somtotaal van alle natuurwette.
7. God is nie groter as die natuurwette nie, maar is self net ’n produk van die natuurwette.
8. God is nie ’n Wese nie, maar net gedagtes tussen mense – as die laaste mens sou sterf, is god ook dood.
9. Adam en Eva was nie twee werklike mense van wie alle mense afstam nie.
10. Dood is nie die gevolg van Adam en Eva se sondeval nie – dit het al vir miljoene jare gebeur voor die eerste mense verskyn het.
11. Noag se vloed was net plaaslik – nie wêreldwyd nie.
12. Daar is geen fisiese waarheid in Noag se vloed nie.
13. Noag se ark, met 8 mense asook die diere soos beskryf in die Bybel daarop, het nooit bestaan nie.
14. Die ouderdomme van die mense, soos gegee in die geslagsregisters van Genesis, is nie werklikheid nie. Die ouderdomme is sinneloos of het een of ander simboliese betekenis.
15. Abraham het nie werklik bestaan nie.
16. Geen voorspellings in die Bybel het gegaan oor gebeurtenisse wat selfs net eeue later eers sou realiseer nie, met ander woorde voorspellings het net gegaan oor die tyd van die voorspeller self.
17. Nêrens in die Ou Testament word na Jesus Christus verwys nie.
18. Jesus is nie uit ’n maagd gebore nie.
19. Jesus het nie werklike fisiese wonderwerke gedoen nie.
20. Jesus het nie liggaamlik opgestaan nie, maar het net in die gedagtes van sekere van sy volgelinge herleef.
21. Jesus was nie God nie.
22. Jesus was net ’n gewone mens, en die gedagte dat hy vir ons sondes kon gesterf het, is onsinnig.
23. Jesus kom nie weer om te oordeel nie.
24. Indien daar ooit ’n “hemel op aarde” gaan wees, sal die mens of sy evolusionistiese verbetering dit self moet skep.
25. Die Bybel is maar net mense se opinies oor wie en hoe hulle gedink het God is, maar is nie God se Woorde as sulks nie.
26. Die mens kan self besluit wat reg en verkeerd is.
27. Dat Adam en Eva ook self wou besluit oor wat reg en verkeerd is, en dat dit die mensdom in ellende gedompel het, is maar net ’n storie.
28. Vandag kan die wetenskap vir ons beter sê wie Jesus was as wat die Bybel kan sê.
29. Vandag kan die teoloë vir ons beter sê hoe God behoort te wees as wat in die Bybel verklaar word.
30. God bestaan nie.

Sal dit jou verbaas as baie van hierdie stellings deur teoloë, teologiese dosente en NG-kerkleiers aanvaar of as moontlikhede aanvaar word?
Wanneer dink jy word ’n kerk ’n valse kerk?
Kan ’n kerk werklik al hierdie verskillende opinies akkommodeer, sonder om mense daarvan te probeer laat afsien, met die verskoning van “ons oordeel nie”?
Wat beteken die woorde van 1 Kor. 5:12-13, Op. 2:5-6, Op. 2:20-23, Op. 3:2 en talle ander Skrifgedeeltes anders as dat die kerk en sy leer suiwer gehou behoort te word?
Bogenoemde is die tipe sake wat geanaliseer en bespreek word in die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme”.
Soek www.glodiebybel.co.za op vir meer besonderhede.
Let daarop dat mense wat in die boek aangevat word, nie almal al bogenoemde stellings onderskryf nie, maar meestal net sekeres daarvan. Tussen Bybelgelowige standpunte en liberalisme lê daar immers ’n hele glyskaal van opinies.

As jy oortuig is dat hierdie sake nie van belang of toepaslik in vandag se Christelike kerke of die NG Kerk in besonder is nie, sal jy die boek nie wil lees nie.
Let daarop dat dit oor baie meer gaan as ’n sesdagskepping of nie.
Selfs al aanvaar jy nie ’n sesdagskepping nie om watter redes ookal, dink asseblief tenminste oor die ander sake.
Probeer vir jouself uitmaak waar die aanvaarbare grense sal wees, of beter nog — bid baie ernstig daaroor en vertrou God om dit vir jou te wys.

Is this what we have come to?
2010/12/24

Ek dink nie ek kwalifiseer as ’n skreeuende liberalis nie, maar ek weet dat fundamentalisme my grief. Om die beeld verder uit te brei, wat is die inhoud van hierdie perd? Ordentlike eksegese en respek vir die komplekse aard van die Skrif? Hoekom vind die EI en hulle bendelede hulleself verplig om hekse te jag, en dan in die naam van Jesus? Die Bybel is duisende jare gelede geskryf vir mense met ’n totale ander wereldbeeld as wat ons het, met ’n ander verstaan van hoe die fisiese lewenswette funksioneer. Nou het ons soveel respek vir hierdie unieke komplekse skrif verloor, dat ons dit net so in ons verstaan wil invorseer. Is dit respek??

Mens hoef nie ’n doktorsgraad te he om te weet dat die Skrif nie wil poog om wetenskaplike uitsprake te maak nie, maar eerder om geloofsuitsprake te maak. uitsprake soos geloof in ’n God wat vrede en liefde bowenal stel en veroordeling en heksejagtery verag. Liefde. – Bekommerde Proponent

[Kommentaar: Ek wonder waaroor is die proponent so bekommerd? Is dit dalk vir die vrae in Bylaag D?]

Proponent bevestig probleme
2011/01/02

Bekommerde proponent is darem tenminste bekommerd, maar hy of sy verstaan heelwat sake skynbaar presies verkeerdom.

Die inhoud van die perd, met ander woorde die probleme in die Kerk wat die boek bespreek, is beslis nie ordentlike eksegese of respek vir die komplekse aard van die Skrif nie, maar onder andere juis sulke oorvereenvoudigde sienings soos syne dat God se boodskap neerkom op “vrede en liefde bowenal”.

“Vrede en liefde bowenal” is op geen manier die boodskap van die Bybel nie.

Dat proponente sulke onwaar uitsprake maak, demonstreer die tragiese gevolg van sommige van die teologiese opleiding wat hulle ontvang. Verder is dit ironies dat hy die veroordelende uitspraak maak dat God “veroordeling en heksejagtery verag”, terwyl hyself nogal ’n oordeel moes vel betreffende die inhoud van die boek om by so ’n stelling uit te kom. Ook in sy geval wonder mens of hy ooit die boek gelees het. – Dirk Kasselman

Trojaanse perd
2011/01/02

Enigeen wat die boek gelees het sal weet dat dit nodig geword het om so ’n boek die lig te laat sien.Die inhoud van hierdie boek is nie uit die lug gegryp nie. Mense wat kritiek het moet dit kan staaf. – Piet du Toit

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui