Almal wil pelgrims wees – Nelus Niemandt

Kyk ook:

Die volgende artikel is gekopieer van Beeld argief. Kyk ook die kommentare onderaan die artikel.

***********

Almal wil pelgrims wees | Beeld

Afrikaanse kerke is arm aan dié togte; Buchan vervul behoefte

2009-08-31

Nelus Niemandt

Lourdes, Jerusalem, Mekka, Kushinagar, Moria. Die groot godsdienste het almal pelgrimstogte. Miskien is dit omdat godsdiens altyd met ’n mens se lewensreis te doene het. Daar word selfs gesê dat daar in alle groot stories net twee temas is – ’n vreemdeling kom in die dorp aan of ’n mens vertrek op ’n lang reis. Die heel eerste Christene in Antiochië is beskryf as mense van die “Weg”.

Christene is altyd op reis, gestuurdes wat op weg probeer raaksien wat God reeds aan die doen is.

Die gedagte aan ’n reis kom oral in die Bybel voor. Dink aan Abraham, Jakob, die reis na die beloofde land toe, die Emmausgangers, Henog en Noag wat saam met die Here gewandel het. Dink aan Lukas se evangelie en Jesus se pelgrimstog na Jerusalem. Christene arriveer nooit nie (behalwe as ons sterf).
Afrikaanse kerke is arm aan pelgrimstogte. Mens hoor nie van Gereformeerde of Pinksterkerke wat meesleurende pelgrimstogte het nie. Dit terwyl daar ’n diep behoefte daaraan is: ek hoor van al hoe meer Afrikaanse mense wat die Santiago de Compostela (Die Weg van die Heilige Jakobus) in Spanje gaan stap. Elke jaar sien ons miljoene lede van die ZCC op hul pelgrimstog na Moria en wonder wat hulle daar ervaar.

Ek dink Angus Buchan het onbewustelik ’n vrugbare aar raakgeboor met sy groot Mighty Men-byeenkomste. Vandat ek die eerste keer daarvan gehoor het, het ek gedink dit gaan eintlik oor ’n pelgrimstog. Waaroor gaan dit in ’n pelgrimstog? Leonard Sweet beskryf in sy skitterende nuwe boek So beautiful vyf eienskappe:

  • Pelgrimstogte het te doene met ’n diep behoefte daaraan om God te ontmoet. Daaruit volg vergifnis en versoening. Dink maar aan die klem wat Buchan lê op bekering, die aflê van ’n ou lewe en die vergifnis wat daar in Jesus Christus is.
  • Daar is ’n sterk verwagting dat genesing en heling sal plaasvind. Prof. Christina Landman het onlangs in Beeld die vinger op hierdie belangrike behoefte in mense se geestelike lewe gelê en ook die genesings wat by die Mighty Men plaasvind in dié terme verstaan. Mense wat die byeenkomste bygewoon het, vertel van ’n ervaring van versoening en innerlike heling. Buchan self het in die laaste byeenkoms ’n wondergenesing ervaar.
  • Ikone en soeweniers hou die herinnering aan die pelgrimstog lewendig. Tydens die Kruistogte, die mees omvangryke pelgrimstogte in die Christelike geskiedenis, was die versamel van ikone en relikwieë ’n geweldige bedryf. Mens sou kon vra waar die ikone en soeweniers van Buchan is. Ek het self gewonder, totdat ek onlangs weer in ’n Christelike boekwinkel instap en al die dagboeke, boeke, CD’s en ander herinnerings aan die bediening van Buchan sien. Daar het jy dit.
  • Pelgrimstogte kweek ’n sterk ervaring van onderlinge kameraadskap of broederskap onder die deelnemers. In die geval van die tienduisende wat die aartappellande van KwaZulu-Natal besoek het, is dit dalk die sterkste element van ’n pelgrimstog wat daar funksioneer.
  • Die laaste element wat Sweet noem, is die ervaring dat dit ’n avontuur is – die geleentheid van ’n leeftyd. Ek is seker hierdie element is ook sterk teenwoordig in die manne wat afsit KwaZulu-Natal toe, uitkamp en die avontuur van ’n naweek in die buitelug geniet.

Angus het gesê dat 2010 die laaste bedevaartstog is wat hy aanbied.

Miskien sal duisende Suid-Afrikaners (vroue darem ook) iets in die plek daarvan kry as hulle die tienjaarlikse pelgrimstog na die Passiespele in Oberammergau in 2010 aanpak – waar al vyf die elemente duidelik te vinde is. Maar die groot uitdaging vir kerke is om op ’n kreatiewe manier nuwe en eietydse pelgrimstogte vir lidmate te ontdek.

Ware, meesleurende pelgrimstogte is meer as bloot die vrug van kreatiewe denke – dit gaan om die ontdekking van iets wat God reeds aan die doen is en ’n vars en eietydse manier waarop dit gevier word.

Kommentaar

Daniel Louw

‘n Mens word ongelukkig aan mens se vriende geken. As Leonard Sweet, ’n totale ontluikende (emergent), ’n vriend van Nelus Niemandt is, dan sê dit baie van Nelus se sieninge.

Dr Henrietta Klaasing

Liberale boodskappe Nelus Niemandt se rubriek, Pelgrimstogte (1/9/09), verwys.

Dit is ontstellend as iemand van Niemandt se statuur ’n boek van Leonard Sweet “skitterend” noem. Mens kan nie glo dat iemand in sy posisie nie weet dat Sweet, saam met mense soos Brian Mclaren, Rick Warren en Rob Bell genoem word as hoekstene in die Ontluikende Kerk-beweging nie.

Die Ontluikende Kerk (“Emerging Church”) vang mense maklik deur klem te lê op dinge soos die mooi-klinkende praktiese sy van geloof.

In der waarheid is hulle propvol Oosterse mistiek en gnostisisme, terwyl hulle stelselmatig die leringe van Jesus Christus en die apostels herdefinieer binne ’n subjektivistiese, eksistensiële werklikheidsvisie.

Wanneer mens dieper kyk, sien mens ook trekke van intergeloofspanteïsme wat onderlangs twyfel saai dat Jesus die enigste weg tot die Vader is.
In Suid-Afrika is ’n groeiende groep “christene” wat stadig maar seker hul rug draai op die algenoegsaamheid van Christus en God se Woord en hulle heil soek in liberale, mens-behagende boodskappe soos dié van Sweet en ander aanhangers van die Ontluikende Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui