Dominee bedank voor tugondersoek oor grootdoop

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.

***********

Dominee bedank voor tugondersoek oor grootdoop

2009-09-05 14:07

Johannes de Villiers

Hy is maar net een van talle leraars wat gedwing word om die NG Kerk te verlaat weens hul menings oor die grootdoop, meen ds. Johan Potgieter.

Potgieter, predikant van die NG gemeente Queenstown, het die afgelope week saam met sy kerkraad besluit om te bedank.

Rapport het vroeër berig Potgieter het ’n tugondersoek van die plaaslike ring in die gesig gestaar nadat hy in die doopbad van die plaaslike Assemblies of God-kerk die bekeringsdoop aan 12 van sy lidmate bedien het.

Volgens Potgieter, ’n gewilde predikant wat onder kennisse as ds. Velle bekend staan en ook lid van die gospelgroep Selah4God is, het hy bedank om sy gemeente die pyn te spaar van ’n saak wat waarskynlik in die hof sou draai.

Dit spyt hom veral omdat hy een van vele NG predikante is wat die grootdoop bedien, maar omdat die meeste ander dit bloot “doopvierings” eerder as ’n “doop” noem, vermy hulle die soort moeilikheid waarin Potgieter beland het. Hy meen deels is hy in die moeilikheid omdat hy die doop in eerlikheid “doop” genoem het.

Hy is in verbinding met ander predikante in dieselfde bootjie.

“Daar is soveel ouens in dié situasie, maar die kerk gaan nie vir ons ruimte maak nie.”

Vorentoe beplan hy om ’n nuwe bediening saam met sy vrou te begin. Selah4God se eerste CD word volgende naweek bekend gestel en hul program vir Oktober is reeds vol bespreek.

Hy behou voorlopig nog sy ampsbevoegdheid as leraar in die NG Kerk, maar as die ring besluit om die ondersoek teen hom voort te sit, kan hy dit ook verloor.

– Rapport

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui