Al is jy hóé slim, bereik jy ’n plafon

Kyk ook:

*******

BRIEF | Al is jy hóé slim, bereik jy ’n plafon | Rapport

28 Januarie 2024

Willem Theron, Montana, skryf:

Dit is natuurlik George Claassen se onvervreembare reg om ’n passievolle ateïs te wees, maar sy gebrek aan respek teenoor gelowiges is onverskoonbaar.

Terme soos “blindheid”, “klewerig”, “wensdenkery” en “bygeloof” is nie net beledigend nie, maar ook aanduidend van iemand wat geen vermoë het om genuanseerd te dink nie. Ek was op genoeg simposia om te weet dat wetenskaplikes, al verskil hul hoe skerp van mekaar, nooit so met mekaar praat nie.

Hy gee voor dat die skrywers oor intelligente ontwerp skurkagtige stommerike is en dat hul argumente “spookasem-uitvlugte” is.

Laat ek dadelik toegee: Daar is geen wetenskaplike bewys vir intelligente ontwerp of die bestaan van ’n Skepper nie, en oor die realiteit van evolusie is daar geen debat nie. Maar watter wetenskaplike het die ontstaan en verdere ontwikkeling van lewe gemonitor 4 miljard jaar gelede? In die wetenskaplike literatuur vind mens ’n handvol teorieë en sinne wat begin met: Researchers generally think that . . .

Voorspelbaar is die res bespiegeling, weliswaar op hoë vlak, maar niks wat naastenby aan Popper, die hekwag by die wetenskaplike poorte, se kriteria voldoen nie. As dié wetenskaplikes postuleer dat die elegante ensiemsisteme wat daagliks miljoene komplekse biochemiese reaksies in ons liggame fasiliteer die resultaat is van ’n toevallige belyning van spesifieke atome in die primordiale sop, maak ook hulle ’n geloofsprong – en van heelwat groter omvang as dié van gelowiges.

Claassen maak verskeie denkfoute.

Eerstens oorskat hy die mens se vermoëns om alles te verstaan en verklaar.

Die menslike brein is ’n wonderlike orgaan, maar beperk. Ons almal, ook Claassen, kyk deur ’n ideologiese bril na die wêreld, en dit het ’n kragtige invloed op hoe ons dink. En al breek jy deur die grense van ideologie, bereik jy tog maar uiteindelik ’n ondeurdringbare plafon.

Selfs die buitengewoon briljante Einstein het destyds daardie plafon bereik toe hy kwantum-meganika verwerp het.

God does not play dice with the universe, was sy beroemde oordeel.

Tweedens besef hy nie die beperkinge van die wetenskap wat hy so aanbid nie. Alle kennis is op ’n bepaalde oomblik voorlopig en onvolledig. Die grootste gedeelte van wat ek op nagraadse vlak 40 jaar gelede geleer het, is nou oudmodies, ten beste dalk ’n beskeie deel van ’n meer omvattende waarheid. Maar destyds het ons, as deel van die arrogante mensdom, geglo dis die onomstootlike waarheid.

Derdens is dit wensdenkery om te dink hy kan met sarkasme en halwe waarhede mense oorhaal tot sy siens­wyse. En om geleerdes wat op beskaafde wyse hul saak stel te vergelyk met sterrewiggelaars is sowel verspot as teenproduktief.

Vir iemand wat hoog opgee oor wetenskaplike denke verwag mens werklik ’n hoër standaard van argumentasie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui