Afstig-kerkrade kan als verloor

*******

Afstig-kerkrade kan als verloor | Netwerk24

Jean Oosthuizen

18 Oktober 2015

Kerkrade wat wil wegbreek van die NG Kerk omdat homoseksuele paartjies nou in die kerk mag trou, kan ’n duur prys betaal. Hulle loop die gevaar om al hul geboue en bates te verloor – selfs al besluit net een lidmaat van ’n gemeente om nie saam weg te breek nie.

Terwyl sommige kerkrade soos Otjiwarongo in Namibië die afgelope week gedreig het om onmiddellik hul band met die algemene sinode te verbreek en hul finan­siële bydraes te staak, sê kerkregkenners met wie Rapport gepraat het dit is nie so eenvoudig nie.

Prof. Johan van der Merwe, aktuarius en kerkregkenner van die NG Kerk se algemene sinode, wou nie in sy amptelike hoedanigheid iets sê oor die woelinge in die kerk en die regsimplikasies van gemeentes wat dreig om weg te breek nie. Hy het egter in sy persoonlike hoedanigheid aan Rapport gesê hofuitsprake van die verlede dui daarop dat gemeentes nie goedsmoeds hul goed kan vat en loop nie.

’n Vergadering van die algemene sinode se steunspan hou dié week ’n vergadering in Pretoria waar daar na al die regsimplikasies gekyk sal word, sê hy.

In ’n rigtinggewende uitspraak in 1993 het regter Piet Schabort beslis dat die kerkraad van De Deur naby Vereeniging wat van die algemene sinode van die NG Kerk wou wegbreek buite sy bevoegdheid gehandel het.

Van der Merwe sê persoonlik dink hy dié beslissing word verder bevestig omdat die algemene sinode saamgestel word uit streeksinodes. Gemeentes kan daarom nie uit algemene sinodale verband tree nie. Streeksinodes sou dit wel in die lig van die kerkorde kon doen.

Nieteenstaande die regsimplikasies woel dit geweldig op gemeentevlak weens die besluit oor gays.

Die moderator van die Vrystaatse sinode, ds. Helgard Janse van Rensburg, sê hy word oorval deur telefoonoproepe en briewe van lidmate wat ontevrede is met die besluit.

In ’n pastorale brief wat die Vrystaat se moderamen die naweek aan al sy gemeentes gestuur het, word ’n beroep op lidmate gedoen om die saak “op ’n kerklike wyse te hanteer in die lig van die Woord van God”.

Die Vrystaat se moderatuur oorweeg dit om streeksbyeenkomste te hou as dit uit gemeentes en lidmate se kommentaar blyk daar is ’n behoefte vir wyer gesprekke in groter verband.

Janse van Rensburg het lidmate gemaan om kalm te bly en nie vure oor kerkskeuring te stook nie. Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die Vrystaat se sinode, sê dit sal onverantwoordelik en onkerklik wees om kerkskeuring aan te moedig.

In die Wes-Kaap het die Kaapse Studiegroep, wat uit ontevrede predikante en lidmate bestaan, in ’n verklaring gesê as hul kerkrade nie die sinode se besluit aanvaar nie, sal hulle as lidmate uit die betrokke gemeentes bedank. Kerkrade wat die besluit verwerp, sal volgens die groep hul band met die algemene sinode moet opsê en ’n gemeente buite die NG Kerk word.

’n Woordvoerder van die studiegroep, emeritus ds. Ronnie Neveling, was egter kalm toe Rapport hom skakel. Hy wou hom nie uitlaat oor die moontlikheid van kerkskeuring nie.

“Die situasie is vloeibaar. Ek is nie seker hoe die kerkregtelike goed werk nie en die hele ding van skeuring hang op die oomblik in die lug.” Hy sê hulle wil nie kerkrade stormloop nie. Lidmate moet rustig wees en eers kyk hoe reageer kerkrade op die sinode se besluit.

Die ring van Louis Trichardt het vergader om die sinode se besluit te bespreek. ’n Gesamentlike besluit namens al sewe die ring se gemeentes sou vanoggend in die eredienste aan die gemeentes gekommunikeer word. Ds. Petrus Kriel van Levubu wou nie die ring se besluit bekend maak voordat die gemeentes daaroor ingelig is nie.

Baie gemeentes het geen probleem met die sinode se besluit nie. Stellenbosch se Moedergemeente sê die besluit is in ooreenstemming met die gesindheid en praktyk waarmee hulle poog om ’n inklusiewe gemeenskap vir almal, ongeag seksuele oriëntasie, te wees.

Intussen moet gay paartjies wat in die kerk wil trou geduldig wees. Die NG Kerk se algemene sinode moet eers by die departement van binnelandse sake aansoek doen dat instemmende predikante deur die staat aangestel word om burgerlike verbintenisse te voltrek. Tans mag NG predikante dit nog nie doen nie. Dit sal van die staat afhang of hy wel so ’n lisensie gaan toestaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui