Ware soeke na God se wil

Hierdie artikel het in Rapport verskyn kort voor die 2011 algemene sinode van die NG Kerk.

Op die ou einde het die sinode die besprekingspunt oor “bevryding (die uitdryf van duiwels)” sommer uitgebrei en besluit om ruimte te skep vir mense wat nie die bestaan van die duiwel glo nie (kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose).

Die sinode het ook ruimte gemaak vir saamwoonverhoudings, met ander woorde, seks voor die huwelik (kyk Huwelik en Saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk 2011-10-12).

Kyk kommentaar onderaan die artikel.

****************

‘Ware soeke na God se wil’ | Rapport

2011-10-01 23:29

Johannes de Villiers

Saamwoon, grootdoop, kerkeenheid en duiweluitdrywery is van die omstrede kwessies waaroor standpunt ingeneem sal word wanneer die NG Kerk se algemene sinode oor ’n week in Boksburg vergader.

Maar, skryf dr. Kobus Gerber, dié kerkverband se algemene sekretaris, dié besprekingspunte beteken nie die sinode gaan net ’n ruimte vir debat wees nie. Dit is eerder ’n opregte soeke na God se wil.

“As kerkvergadering vergader ons met ons oop Bybels in die teenwoordigheid van die Hoof van die Kerk, Jesus Christus ons Here. Ons moet sy stem hoor.

“Ons moet onderskei wat sy wil is met betrekking tot die sake op die agenda,” skryf hy in ’n voorwoord tot die vergadering.

In die agenda word beleidsvoorstelle gemaak oor talle sake wat onlangs in die nuus was.

* Saamwoon: Oor buite-egtelike saamwoonverhoudings gaan die NG Kerk gevra word om ’n betreklik behoudende standpunt in te neem. Die voorstel lui gelowiges noem tereg die huwelik ’n gawe van God en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie. Die kerk word gevra om gelowiges wat saamwoon aan te moedig “om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook agtermekaar te kry”.

* Doop: In die agenda word bevestig dat die Christelike verbondsdoop onherhaalbaar is. Dit sluit die moontlikheid vir oordoop of grootdoop uit. Wanneer gemeentes wel “doopvierings” wil bedien waarin reeds gedoopte volwassenes hul kinderdoop in herinnering bring, word dié gemeentes aangemoedig om dit “doopherdenkings” te noem sodat verwarring nie kan ontstaan dat dit ’n tweede doop is nie.
Daar word voorgestel dat enige praktyk wat die suggestie skep dat die handeling wat uitgevoer word eintlik ’n herdoop of weerdoop is, afgewys word.
(Na verwagting sal ’n voorstel as beskrywingspunt ingedien word ingevolge waarvan sekere gemeentes vra dat ’n tweede, “bekeringsdoop” vir volwassenes toegelaat moet word.)

* Bevryding (die uitdryf van duiwels): Dié voorstel, wat op die algemene sinode in 2007 ’n omstrede gesprekspunt was, word weer aangeroer. Aandag word gegee aan die vraag of Satan as ’n persoon bestaan, maar ruimte word gelaat vir verskillende interpretasies van wie of wat die Bose is.
Die NG Kerk word gevra om te erken dat sommige predikante duiwels uit mense dryf, maar vra dat dit “as ’n buitengewone bediening beoefen sal word en nie as deel van ’n roetine-pastoraat nie”.
Verdere beperkings word gevra. Dit moet onder toesig van ’n kerkraad en ring gebeur. Mense uit wie die duiwels verjaag word, moet eers mediese evaluering ondergaan om te verseker die “besetenheid” is nie ’n verklaarbare siektetoestand nie.

* Kerkeenheid: Die kerk gaan gevra word om ’n eenwordingsproses met die oorwegend Indiese Reformed Church in Africa (RCA) en oorwegend swart NG Kerk in Afrika (NGKA) goed te keur ingevolge waarvan die RCA en NGKA sinodes van die NG Kerk word met die drie gereformeerde belydenisskrifte as grondslag.

* Heidelbergse Kategismus: Die sinode gaan gevra word om ’n voetnota by die Heidelbergse Kategismus te voeg om woorde daarin te versag wat vir Katolieke kwetsend kan klink.
In dié belydenisskrif word na die Roomse mis verwys as “afgodery wat vervloek is”, maar die NG Kerk word nou gevra om aan te dui dat dié beskrywing nie die eietydse verstaan van die Katolieke nagmaal verteenwoordig nie.

Kommentaar

Kobus Gerber (en Ben du Toit) het ook by die Parlement aanbeveel dat gay huwelike gewettig word (kyk hier). ’n Eerlike soeke na God se wil? Met ’n oop Bybel? In die teenwoordigheid van ons Hoof, Jesus Christus?

Hy draai maklik belangrike sake toe in mooi (misleidende?, bedrieglike?) woorde. So het die moderatuuur (waarvan Gerber die sekretaris was/is, op 23-24 Junie 2009 “bely” dat God die Skepper van hemel en aarde is, máár dat hierdie proses van skepping verloop het “volgens die ingewikkelde aard van wetmatighede”, en dat dit nog steeds so ontwikkel en funksioneer. En dan daarby die (kamma) “hieroor kan ons ons net verwonder”. In effek het hulle besluit dat God maar net ’n toeskouer was van die evolusionêre ontwikkeling van alles wat ons sien.

Vir watter rede sal God vir die Sinodegangers iets anders vertel as wat in die Bybel staan? As jy God se wil wil ken, begin by die Bybel.

******************

Henrietta Klaasing
2011/10/03

Dankie aan Rapport vir Johannes de Villiers se berig “Ware soeke na God se wil” (1 Oktober 2011) so kort voor die Algemene Sinode.
Mooiklinkende frases van dr. Kobus Gerber soos “opregte soeke na God se wil”, “vergader met ons oop Bybels in die teenwoordigheid van die Hoof van die Kerk, Jesus Christus ons Here,” en “ons moet sy stem hoor” beïndruk nie. Is daar by die uitwerk van genoemde besprekingspunte asook andere in die agenda uitgekom deur dié stappe te volg? Wat mens oor hierdie sake in die sekulêre media en die kerk se eie mondstukke lees en na luister, toon duidelik die toenemend liberale en humanistiese koers wat die NGK inslaan.

’n Voorbeeld: Oor saamwoon word die kerk gevra om gelowiges wat saamwoon aan te moedig “om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook agtermekaar te kry”. Is die Bybelse weg nie sondebesef, berou en bekering voordat man en vrou na saamwoon in die eg verbind word nie?

Nog ’n bekommernis rakende die NG Kerk is wat uitgekom het op 25 September 2011 op RSG se Kruis en Dwars. ’n Gesprek is gevoer tussen Chris Jones en Sheg Najjar met Johan van Lill as gespreksleier, oor samewerking tussen Christene en Moslems. Terme gebruik deur Jones  soos “shift from conversion to conversation” en “om saam te werk teen armoede” beklemtoon die humanistiese hier-en-nou benadering van ’n “social gospel” wat tekenend is van die Ontluikende Kerk. Waarom die skuif weg van die Bybelse opdrag om dissipels te maak van al die nasies? Gaan hierdie rekonsiliasie tussen die Christendom en Islam uitloop op iets soos die intergeloofs- en ekumeniese “Chrislam”?

In die Bybel word ses van die sewe gemeentes in Asië gewaarsku (Openb. 2 en 3) en die waarskuwings fokus telkens op toleransie, akkommodering van die kwade en onverskilligheid teenoor dit wat die Woord van God leer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui