Ope brief aan Prof Nelus Niemandt, gepos op Facebook 12/02/2012

Die volgende is oorspronklik geplaas op Hier staan ek.

***********

Ope brief aan Prof Nelus Niemandt, gepos op Facebook 12/02/2012

12 Februarie 2012

Ope brief aan Prof. Nelus Niemandt

Die Facebook draad is hier: http://www.facebook.com/kerkbode/posts/371354542893177

Beste Prof Niemandt

U pos op die Kerkbode se Facebook muur hieronder toon duidelik dat u die emergent beweging ondersteun. Dit is ook wyd bekend dat u in die verlede emergent leiers soos Leonard Sweet en Rob Bell positief aangehaal het.

Dit skep geweldige kommer by die lidmate van die NG Kerk. Die emergent teologie is volgens verskeie gerekende teoloë onverenigbaar met die Bybel en belydenisskrifte. Indien u dus u steun aan die emergent beweging gee lyk dit dus asof u die Bybel se leer, soos dit in die Drie Formuliere van Eenheid verduidelik word, verwerp.

Ek dink dit is dus van kardinale belang dat u vir eens en vir altyd hier in die openbaar verklaar wat u glo. Dit is nie genoeg om te beweer dat u die belydenisskrifte onderskryf nie, omdat daar ‘n presedent geskep is deur mense soos Prof Julian Muller en Dr Ben du Toit wat beweer het dat hulle die belydenisskrifte onderskryf maar dan duidelik leerstellings verkondig wat blatant die belydenisskrifte verwerp.

Ek versoek u dus om punt vir punt te definieer wat u glo.

John Piper het gesê: “Imprecision and vagueness have been used for thousands of years by those who want to abandon meanings and retain words.” Moet asseblief nie dat hierdie aanklag vir u geld nie.

Ek verwys u graag na ons korrespondensie wat ek gepos het by hierdie adres, en herhinner u daaraan dat u geweier het om aan my te verklaar wat u glo, maar dat u die saak met die woorde “ek staan by my legitimasie eed” as afgehandel verklaar het.

Korrespondensie met prof Nelus Niemandt of Hier staan ek

of

Korrespondensie met prof Nelus Niemandt op Glo die Bybel

Prof. Niemandt, dit is ongelukkig nie goed genoeg nie. Die NG Kerk is in ‘n krisis omdat die algemene lidmate nie weet wat die leiers glo nie, en vermoed dat hulle afvallig is. Slegs u, en die ander lede van die moderamen, kan hierdie geloofwaardigheidskrisis in die kerk die nek in slaan.

Ek versoek u dus viendelik om elke vraag hieronder ondubbelsinnig te beantwoord. (Ek sal dit natuurlik ook waardeer indien u die meer volledige vrae wat ek u in ons korrespondensie by bg adres gevra het sal antwoord)

Vraag 1) Aanvaar u ‘n wereldbeeld wat breedweg as “panenteïsme” beskryf kan word? Met ander woorde, glo u dat die hele skepping analoog is aan die geskape menslike natuur en liggaam van Christus? Glo u dus een van die volgende: dat god die “siel” of “mind” van die skepping is, dat die skepping “deel van god” is of dat die skepping “uit god gespruit het?’ (“emanated from god?”) U verwys in u Facebook pos baie positief na Jurgen Moltmann, wat panenteïsme vekondig. Ondersteun u dus Moltmann se pantenteïstiese teologie?

Vraag 2) Glo u dat Jesus uniek is in die feit dat Hy alleen uit God gegaan en van God gekom het soos hy beweer in Johannes 6:46? (In teenstelling met wat die
panenteïste beweer – dat ons almal “Homo Christos” is?)

Vraag 3) Glo u Jesus is uit ‘n maagd gebore, dat daar geen manlike saad by sy konsepsie betrokke was nie, maar dat Maria deur ‘n bonatuurlike ingrype van God bevrug is?

Vraag 4) Glo u Jesus het Lasarus uit die dood opgewek, soos wat ‘n mediese dokter dit vandag sou bevestig?

Vraag 5) Glo u Jesus het met ‘n ware, tasbare liggaam uit die dood opgestaan, wat alhoewel dit nie aan die huidige natuurwette van hierdie bestel onderworpe is nie ‘n ware, fisiese objek is wat onder andere ook in tyd en ruimte kan funksioneer? Glo u dat die wat gered word ook eendag sulke tasbare liggame sal hê?

Vraag 6) Glo u dat die bewuste, ewige verdoemenis in die hel bestaan?

Vraag 7) Glo u dat die duiwel en sy demone geskape wesens in eie reg is, met die eienskappe van persoonlikheid?

Vraag 8) Glo u dat slegs die mense wat Jesus bewustelik aanneem as Verlosser gered sal word, en dat die res vir ewig hel toe gaan?

Laastens wil ek u graag verwys na my artikel oor die Algemene Sinode van 2011 se besluit om dwaalleer in die kerk toe te laat. Dit is by hierdie adres:

https://hierstaanek.com/2012/01/01/die-algemene-sinode-van-2011-se-besluit-oor-die-duiwel-is-ongeldig/

U het in u legitimasie eed belowe om dwaalleer met al u krag uit die kerk te weer. Ek wil u dus versoek om een van die volgende te doen:

1) Verduidelik asseblief op logies beredeneerde wyse uit die kerkorde, die belydenisskrifte en die Bybel, waarom ek verkeerd is, en die Sinode se besluit oor die toelating van dwaling in die kerk volgens die Bybel en belydenisskrifte regverdigbaar is.

Of, indien u dit nie kan doen nie,

2) Verklaar dan hier en nou dat u ‘n gravamen teen die betrokke besluit by ‘n volgende kerkvergadering waarop u gaan dien gaan inhandig.

Indien u nie 1) kan doen nie maar weier om 2) te doen, sou dit beteken dat u u legitimasie eed verbreek.

Prof. Niemandt, ek kan maar net bid dat u die erns van die saak besef, en dat u my nie weer met ‘n kort sinnetjie oor u legitimasie eed sal wegstuur nie.

By voorbaat dank

Wynand Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui