Anatomie van ‘n emergent preek: Die wolf in skaapsklere in aksie.

*******

Anatomie van ‘n emergent preek: Die wolf in skaapsklere in aksie | Hierstaanek

Wat preek ‘n NG Kerk dominie wat nie meer die evangelie glo nie maar die emergent dwaling aanhang? Sal mens uit sy preke kan agterkom wat hy glo?

Onderaan hierdie artikel is ‘n NG predikant se preek wat op die internet gepos is. Miskien is hy onbewus daarvan dat hy mislei is. Miskien nie, en mislei hy sy gemeente doelbewus.

(Edit 12/02/2012. Die betrokke leraar Cobus van Wyngaard van die Riebeeckpark gemeente het my gekontak en gevra dat ek ‘n skakel na sy blog hier insit – sien die kommentaar hieronder. Lees maar sy blog by http://anderkant.wordpress.com/)

Droom God? Wat is “God se droom”?

Die Bybel is baie duidelik dat God soewerein is, en dat dit wat Hy in sy ewige raadsplan besluit het, sal plaasvind. As ‘n mens “droom” gebruik hy sy intellek om toekomstige moontlikhede te visualiseer, en dan die uitvoering daarvan te beplan. As God soewerein is, en Sy raadsplan word altyd waar, is “droom” ‘n gepasde term? Ek vra maar net.

Die Bybel leer baie duidelik dat oorlog, tirannie, misdaad, armoede, pyn en lyding die gevolg van die sondeval en sonde is. “Vervloek is die aarde om jou ontwil”. Ons weet dus dat solank daar sonde op die aarde is, daar altyd oorlog, tirannie en misdaad sal wees. Die wêreld sal nooit regkom totdat die mens se sondige natuur nie regkom nie.

En vir die mens se sondige natuur is daar net een kuur: Wedergeboorte deur God se genade en Christus se dood aan die kruis.

Daarom was die fokus van Christelike sosiale aktiwisme histories altyd eerstens om die sonde aan te spreek deur die verkondiging van die evangelie. Maatskaplike betrokkenheid, sosiale geregtigheid en diens van barmhartigheid was nog altyd die tweede kant van die missionêre en evangelisasie munt. Evangelisasie sonder maatskaplike betrokkenheid was nog altyd ondenkbaar. Maar maatskaplike betrokkenheid sonder die evangelie is hoop – loos, en selfs boos. Wat help dit om iemand te voer terwyl jy weet hy gaan ewig hel toe?

Daar kan geen einde aan oorlog, moord en doodslag kom tensy sonde nie uitgewis word nie.

Ons leer uit die Bybel dat daar in die eindtye ‘n groot afvalligheid sal kom. Die ware kinders van God sal dus ‘n al kleiner en kleiner deel van die wêreld se bevolking uitmaak. Daar sal dus meer en meer boosheid in die wêreld kom. Meer oorlog. Meer misdaad, moord en doodslag.

En God gaan die aarde vernietig, om dit te vervang met ‘n Nuwe Hemel-Op-Aarde, die Nuwe Jerusalem wat uit die hemel na die aarde gaan neerdaal. Soos die sondaar in Christus moet sterf om saam met Hom te leef, moet die skepping ook sterf, om as geredde, nuutgebore skepping vir ewigheid te bestaan.

Die emergent kerk verwerp hierdie boodskap van die Bybel. Hulle verkondig dieselfde boodskap as Marxisme: Utopie hier op aarde. Volgens hulle gaan daar ‘n tyd kom dat lewe op die ongeredde aarde hemel op aarde gaan wees. Geen oorlog, misdaad, moord of doodslag nie.

Jy sien, die emergent kerk leer die skepping (en dus ons) is God, maar ons het vergeet dat ons God is. (Panenteïsme) Wanneer ons deur mistiese praktyke (byvoorbeeld Lectio Divina, wat op die NG Kerk Oos Kaap se webwerf opgehemel word) tot die besef is dat ons God is, help ons God om te ontsnap van die kettings van die skepping, en om sy “droom te bewaarheid.”

En onthou, soos die New Age verwerp die emergent kerk die sondeval: Soos Ben du Toit in sy boek “God? Geloof in ‘n post moderne tyd” beweer:

“Indien die mens ‘n keuse gegee word tussen goed en kwaad, tussen reg en verkeerd, van die boom eet of nie van die boom eet nie, is die sonde ‘n onafwendbare gegewe uit die manier waarop die skepping gemaak is.”

Die mens is dus nou nog presies soos God bedoel het dat die mens moes wees. Daar was dus nie ‘n sondeval nie. Die mens het dus nie redding nodig nie maar kan sy eie redding – die realisering van “God se droom” – bewerkstellig.

En wat is “God se droom”, volgens die emergent kerk? Presies dit wat John Lennon sing: Geen hemel nie, slegs utopie op aarde. Geen hel nie, want almal word “verlos”. Geen godsdiens nie, want die hele mensdom is God. Niks wat die moeite werd is om voor dood te maak nie – dink maar aan die moordenaar wat in jou huis inkom om jou gesin uit te wis. Niks wat die moeite werd is om voor te sterf nie – dink maar aan Stefanus, en al die miljoene martelare vir Christus deur die eeue. Marxistiese tirannie – want daar is geen eiendomsreg nie, geen nasionale state nie, geen rede om geld te wil hê nie.

Mens moet jouself afvra: Is hierdie utopie enigsins moontlik?

Lennon, en sy akoliet die NG dominie wat hier preek, dink so. Maar die geskiedenis leer ons duidelik anders.

Marxiste het meer as ‘n eeu lank probeer: Die gevolg was dat 100 000 000 mense bloediglik vermoor is in die 20ste eeu in die naam van John Lennon se Marxistiese utopie.

Die emergent kerk (en hulle New Age gurus) glo dit sal moontlik wees as almal net sou besef hulle is eintlik God.

Let asb op na die geloofsbelydenis van die NG dominie hieronder, lees dit aandagtig deur.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat mens geword het in tyd vir alle tye,
God wat mens geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat mens geword het in liefde en genade vir die hele skepping.

Klink pragtig, né? Maar wat sien jy?

Daar is geen evangelie nie. Christus se maagdelike geboorte, Sy sondeloosheid, Sy soendood aan die kruis vir ons sonde, Sy opstanding uit en oorwinning oor die dood, Sy wederkoms as Regter, is afwesig.

Afgekap. Ge-amputeer en gekouter.

En bietjie verder aan:

Ons glo aan die (finale) heerskappy van God –
die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ’n harmoniese reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal sing.

Alle mense sal deelneem aan die feesmaal? Wat het geword van die groot deel van die mensdom wat volgens die Bybel hel toe gaan?

Jy sien, as alle mense eintlik God is, is die bestaan van die hel onmoontlik, en die verlossing van die totale mensdom – insluitend massamoordenaars soos Hitler en Pol Pot (helde van die Droom van die Sosialistiese Utopie), onafwendbaar. Dus geen wonder die Evangelie is uit sy geloofsbelydenis gesny nie – as daar nie ‘n hel is nie het Christus mos nie nodig om ons te verlos nie!!

Die sosiale evangelie sonder die boodskap van Christus se verlossingswerk aan die kruis sal altyd faal. Dit maak nie saak hoeveel kos en medisyne jy versprei nie, dit maak nie saak hoeveel geld jy in opheffingsprgramme stort nie. As die mens se sondige natuur nie deur die Goddelike wedergeboorte regenereer word nie sal die wêreld boos bly.

Daarmee beweer ek nie ons moet nie liefdeswerk doen nie. Die liefde wat ons as Christene vir die wêreld het bevestig juis die Evangelie wat ons verkondig. Dit is twee kante van dieselfde munt.

Hierdie dominie is ‘n vals profeet – hy verkondig ‘n vals evangelie. Hy preek nie uit die Bybel nie maar uit John Lennon se kanon. Lennon, die New Age Guru par excellence wat beweer het: “Ek is meer populêr as Jesus Christus.”

Jeremia 23:31 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so.” 32 Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op ‘n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.

Jesus sê dwaalleraars verskeur die kudde. My eie persoonlike ervaring is dat hulle sonde legitimeer en so menselewens hier en nou vernietig. En hulle sorg dat miljoene mense in die ewigheid hel toe gaan.

Wees waaksaam. Luister met onderskeiding. Die leuen is dikwels is lieflike, aanloklike woorde toegedraai.

Hier volg die dominie se preek. Dit is pragtig en inspirerend. Maar dit is giftig, soos ‘n heerlike drankie met sianied in.

Jesus droom. Lennon droom. Ons droom. (Deur ‘n NG leraar op die internet gepos)

Skriflesing: Matteus 5:3-12
Wet/geloofsbelydenis uit Matteus 22

Dit is inherent deel van ons natuur om altyd ‘n opsomming te soek van idees, ‘n handvatsel waaraan ons kan vashou om te sê: “dit is wat ek glo”, of “dit is wat ek hieroor of daaroor dink”. Die geskiedenis van die kerk is dus vol van pogings om ons geloof saam te vat, om maklik te kan sê: “so glo ons”.

Vir Jesus is ook eens op ‘n tyd gevra wat hy as die kern beskou, as die belangrikste. Sy teenstaanders het gevra: “wat is die grootste gebod in die wet”. “Wet”, verwys hier na meer as net die 10 gebooie, dit was die term wat deur die mense rondom Jesus gebruik is om na hulle heilige boek te verwys, na hulle Bybel.
“Wat is die grootste opdrag van alle opdragte, die belangrikste opdrag in die Bybel”, is werklik hulle vraag.

En Jesus antwoord: “Julle moet God en julle naaste liefhê”. Soveel wat hy kon sê, maar die liefde is wat sentraal staan. Is dit net ‘n samevatting van ‘n klomp reëls? Die kern van hoe ons moet leef? ‘n Morele riglyn waarby ons moet probeer hou? Vir Jesus was die skynbaar veel meer: “In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat”. Vir Jesus was dit die kern van hulle Bybel gewees. Jesus se
volgelinge eggo ook hierdie gedagte. Vir Paulus, die groot teoloog wat soveel moeite gedoen het om te gaan formuleer hoe hy oor God dink, was die liefde nog belangriker as die geloof (1 Kor. 13). Vir ander van Jesus se volgelinge kon daar geen kennis van God wees as daar nie liefde was nie (1 Joh 4), want God is liefde. “Waar daar liefde is, daar is God”, het hulle gesê, en sing ons steeds vandag.
Ons sou kon sê dat Jesus se opsomming van die grootste gebod, die belangrikste opdrag uit hulle Bybel, veel meer ‘n bloot ‘n etiese riglyn is. Dit is asteware ‘n stuk geloofsbelydenis, dit is gegrond in die wese van wie en wat God is. Dit bely dat: “Ons glo dat God liefde is”.

Matteus 22 vertel:

“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” Jesus antwoord hom: “’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelyk
staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”Kom ons luister na die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het as ‘n herinnering van wat die belangrike dinge in die lewe is:

Matteus 6:9-13

Skriflesing: Matteus 5:3-12

Inleiding

Ek dink ons het in die kerk vergeet hoe om te droom. Hoe om groot te droom. Die geskiedenis van die kerk is vol van dromers. Mense wat ‘n prentjie kon teken van ‘n beter wêreld, en wat ander kon help om saam te droom, en saam te bou. Natuurlik het die kerk ook ‘n storie waaroor ons vandag moet jammer sê, dele van ons geskiedenis waar ons maar lekker droog gemaak het. Maar soos een van Mail &
Guardian se rubriek skrywers so tyd gelede sê: Alhoewel die kerk hom ‘n verskoning skuld vir die slegte dinge wat die kerk deur die geskiedenis gedoen het, moet hy vir die kerk dankie sê, want die kerk het ongelooflik baie bygedra in die bou van ‘n mooi wêreld deur die loop van die geskiedenis.

Maar ek dink ons het vergeet om te droom. Die dromers het stil geraak. Dalk is die wêreld waarin ons leef vandag net te kompleks, en besef ons dat ons moet versigtig wees met ons drome, want dis moeilik om vandag te droom oor wat moet gebeur om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Soos Desmund Tutu al gesê het: tydens Apartheid was dit maklik om te weet wie’s reg en wie is verkeerd, maklik om te sien wat God se wil is, God se droom is. Vandag is dit moeiliker. Ja, en baie van ons sal sê dat selfs tydens Apartheid was dit nie so eenvoudig nie. Maar vandag, vandag is dit soveel moeilik om te kan droom.

Jesus droom

Maar ek dink Jesus was ‘n dromer. Baie het gesê Jesus was ‘n profeet gewees, maar ek dink ‘n profeet is ‘n dromer. ‘n Profeet is iemand wat kan kyk na die samelewing rondom hom of haar, en kan sien dat daar ‘n beter wêreld moontlik is, en wat daai beter wêreld in woorde kan omsit. Wat ‘n visie het. Wat mense teen die stroom op saamneem na hierdie beter droom toe. Ek dink Jesus was presies dit gewees.

Die deel wat ons gelees het is aan die begin van waarskynlik een van die mees radikale preke wat die wêreld nog gehoor het. Hulle sê Ghandi het hierdie gedeelte gereeld gelees, alhoewel Ghandi nie baie van die kerk gehou het nie, het hy van Jesus gehou, en by Jesus ook geleer toe hy sy idees oor niegeweldadigheid geformuleer het. Vandag praat ons oor Ghandi as een van die belangrikste figure vir vrede in die laaste eeu.

Matteus 5-7 ken ons as die “bergpredikasie”. Ek onthou as kind het ek ‘n interpretasie gelees van hierdie gedeelte wat gesê het dat Jesus nie werklik bedoel het wat hy hier gepreek het nie. Dat Jesus hierdie net gepreek sodat ons kan agterkom hoe onmoontlik dit is om reg te leef, en dat ons daarom moet besef
hoe groot ons sonde is. Later, toe ek self meer geleer het oor hoe die Nuwe Testament werk, moes ek ernstig van hierdie interpretasie verskil. Ek dink Jesus het bedoel wat hy hier geleer het, hy het dit bedoel as ‘n dromer, iemand wat ‘n prentjie gehad het van ‘n beter wêreld wat moontlik is.In die hart van Jesus se prediking staan die “Koninkryk van God”. Dit was die kern van waaroor hy
gepraat het. Matteus verander die “Koninkryk van God” na die “koninkryk van die hemel” – kyk gerus maar na parallele gedeeltes in Markus en Lukas om te sien waar Matteus dit verander het – waarskynlik omdat hy vir ‘n Joodse gehoor geskryf het wat nie so baie daarvan sou gehou het as hy die heeltyd na “God” verwys nie. Party Jode het immers gedink mens moet eerder glad nie na God verwys nie, imgeval jy dalk God se naam sonder respek gebruik.

Ek verduidelik altyd vir my belydenisklas dat ek dink die beste vertaling van die Koninkryk van God vandag is “God se droom”. God se droom vir hoe dinge kan wees.

Dit is in hierdie selfde Matteus 5-7 wat ons die bekende “Onse Vader” gebed vind, waar Jesus bid dat God se koninkryk mag kom. En wat is God se koninkryk? Dat God se wil op aarde geskied soos in die hemel. Die hemel was vir die antieke Christene die plek waar God gewoon het, daar waar God se wil
volkome gebeur het. Dus is die uitroep dat God se wil hier tussen ons as mense ook volkome sal gebeur.

Dat God se droom vir hoe dinge kan wees, die hemel, hier op aarde waar sal word.
En hoe sal dit lyk as God se droom gebeur? Dalk hoor ons iets hiervan in die inleiding van die bergpredikasie:

Vers 5: Geseëns is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Sagmoedigheid. Om om te gee. Om ‘n hart te hê vir ander mense. Daar waar ons dit waarmaak, word God se droom waar.

Vers 9: Geseëns is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Vers 10: Geseëns is hulle wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

En nou moet jy weet, Jesus sê hierdie goed ook in ‘n tyd waar dit moeilik is om te droom. Dis ‘n tyd waar geweld aan die orde van die dag is, soos ons ook sien in die manier waarop Jesus gekruisig word. Waar onderdrukking aan die orde van die dag is: die heersende Romeinse politici en ‘n die ryk Joodse elite is besig om al die grond en mag weg te neem van die werkersklas, met wie Jesus waarskynlik primêr praat in die bergpredikasie. Dis nie ‘n maklike tyd om te droom nie, maar Jesus droom.

Lennon droom

‘n Ander dromer het my verbeelding nogals aangegryp die laaste paar weke. Hierdie dromer was nie altyd welkom in die kerk nie, en is steeds nie altyd welkom in die kerk nie. Maar ek dink dis belangrik dat ons sy stem hoor, omdat hy ons roep om groter te droom, en omdat hy ons dalk kan help om nader te kom aan Jesus se groot drome.

Ons luister saam na John Lennon se “Imagine”

Imagine there’s no Heaven
It’s easy if you try
No hell below us
Above us only sky

Imagine all the people
Living for today

Imagine there’s no countries
It isn’t hard to do
Nothing to kill or die for
And no religion too

Imagine all the people
Living life in peace

You may say that I’m a dreamer
But I’m not the only one
I hope someday you’ll join us
And the world will be as one

Imagine no possessions
I wonder if you can
No need for greed or hunger
A brotherhood of man

Imagine all the people
Sharing all the world

You may say that I’m a dreamer
But I’m not the only one
I hope someday you’ll join us

And the world will live as one

Dis natuurlik nie vreemd dat die kerk nie baie van Lennon gehou het nie. Hy raak immers aan die heilige koeie. Hemel, hel en godsdiens. Ek wonder egter of Lennon nie dalk nader was aan God se droom as wat ons dink nie. In ‘n wêreld waar hemel en hel maklik plekke gemaak word wat vir die kerk ‘n verskoning is om nie oor hierdie wêreld te droom nie – dis immers tog nie so erg as dinge hier sleg gaan nie, daar is mos ‘n hemel eendag – kan dit ons dalk help om vir ‘n oomblik te droom asof daar nie ‘n hemel is nie.

Die verhaal van die Bybel is immers een van ‘n God wat absoluut gekies het vir hierdie wêreld.

Maar dieper nog, dink ek die droom van die Nuwe Testament is tog een van ‘n wêreld waar God volledig heers oor hierdie aarde, ‘n nuwe aarde, nie een waar God nog daar bo iewers ver weg van ons af is nie.

En as die droom is dat God totaal hier tussen ons teenwoordig is, dan maak dit tog op ‘n manier sin dat daar nie godsdiens nodig is nie, omdat ons hele lewe diens aan God is.

Hoe dit ookal sy, ons sal kan debateer oor Lennon se godsdienstige verwysings. Maar ek dink ons het maklik deur die dekades na Lennon hierdie gesing het vasgehak by hierdie eerste lyne, en die hart van Lennon se boodskap gemis: Want uiteindelik is dit ‘n droom vir vrede. ‘n Droom dat daar geen hongersnood meer is nie. ‘n Droom waar mense nie meer mekaar doodmaak nie. ‘n Droom van ‘n wêreld waar ons nie meer gedryf word deur ons besittings nie, maar deur ‘n liefde vir mekaar. En dalk moet ons erken dat Lennon groter gedroom het as die kerk, waar ons maklik maar gesê het: “Ag, die armes sal ons altyd tussen ons hê”, of “mense sal maar mense bly”, en Lennon gedroom dat dinge werklik anders kan wees.

Dalk het Lennon ook soos Jesus gedroom.

Vir verskeie redes, waarop ek nie vanoggend gaan ingaan nie, dink ek egter dat Jesus meer van ‘n realis was as Lennon, en terselftedtyd dat Jesus meer radikaal as Lennon was. As Lennon ons dus help om raak te sien dat ons groter kan droom omdat ons binne die tradisie wat na aanleiding van Jesus van Nasaret ontstaan het staan, dan moet ons na Lennon weer terugkom by Jesus, en by Jesus leer droom.

Ons droom

En ons vandag? Ek staan daarby dat ons verleer het om te droom. Ek dink ons praat te min oor hoe die wêreld kan wees! Ek sien dit partymaal onder studente, van hulle droom nog, ook nie almal nie. Hulle sit tot laataand en lag en kuier en gesels oor ‘n wêreld wat anders kan wees, oor ‘n wêreld wat radikaal anders kan wees. Hulle word maklik afgemaak as “onrealisties”, as “jonk”. Maar dalk kan ons by hulle leer om weer te droom.

Hoe gaan hierdie wêreld lyk? Ek wil nie te vinnig praat nie, om te droom is inderdaad kompleks. Maar ons mag nooit so vasgevang word dat ons nie meer kan droom oor wat die wêreld kan wees nie. Om te glo is om te hoop is om te droom.

Droom bietjie weer oor wat hierdie wêreld kan wees…

Geloofsbelydenis

Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en die aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat mens geword het in tyd vir alle tye,
God wat mens geword het in een kultuur vir alle kulture,
God wat mens geword het in liefde en genade vir die hele skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur Wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur Wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
Wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die liggaam van Christus.

Ons glo aan die kerk
wat universeel is, omdat dit teken van God se heerskappy is,
Wie se getrouheid in al sy skakerings getoon wordwaar al die kleure saam net een landskap teken,
en alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo aan die (finale) heerskappy van God –
die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ’n harmoniese reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons:
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word.

Amen.
(’n Spaanse Geloofsbelydenis.)

Seën
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie. Amen.
(’n Ou Franciskaanse seën.)

Kommentaar

Cobus said:

12/02/2012 at 7:25 pm

Beste Wynand
Dankie vir die moeite om te reageer.
Twee kort opmerkings rondom verwysings:
1) Dit is algemene gebruik vir bloggers om hyperlinks te gebruik wanneer daar na bronne verwys word. Jy sal die goeie gees van die dialoog ‘n guns bewys deur tog hierdie gebruik te ondersteun.
2) Wanneer jy besluit om dele van ‘n oorspronklike teks uit te lig, dan is dit goeie gebruik om dit aan te dui (bud “vetdruk myne” agter die dele wat jy in bold gemerk het). Anders gee dit ‘n valse beeld van die oorspronklike weer, waar dit lyk asof die naamlose outeur wie se werk jy sonder enige verwysing aanhaal dele van die teks wou beklemtoon terwyl dit nie die geval was nie.
Ek dink dit sal nogals binne die evangelie wat jy verkondig val as jy die nodige edits wil aanbring ter wille van die outeur wie se werk jy gebruik.
Cobus

hierstaanek said:

12/02/2012 at 8:56 pm

Cobus, ek neem aan jy is die skrywer van hierdie preek.

Die rede waarom ek nie die skakel ingesit het nie was omdat ek jou met relatiewe anonimiteit wou beskerm. Ek hoop altyd dat die mense wie se leerstellings ek kritiseer tot inkeer sal kom. Met jou toestemming sit ek nou hier ‘n skakel na jou blog in.

Jy is welkom om repliek te lewer en dit hier as kommentaar te publiseer.

Ek glo jy moet eerlik wees met jou gemeente. Verstaan hulle presies wat jy glo?

Cobus said:

12/02/2012 at 10:57 pm

Ai Wynand. Ek was nog nooit die leraar van Riebeeckpark nie. Dit lyk vir my of jy goed aanneem sonder om mooi die feite na te vors. Dis ‘n slegte praktyk. Verder, as goed publiek gemaak is, hoef jy nie iemand se anonimiteit te beskerm nie. Ons is mos nie skaam vir ons geloof nie?
Vrede vir jou, en ek hoop dat die kerk vir jou ‘n geestelike tuiste kan word waar jy nie hoef te baklei nie.
Groete, Cobus

hierstaanek said:

12/02/2012 at 11:02 pm

Jammer Cobus, ek het na die opskrif van jou preek gekyk en die aanname gemaak. Waar is jy leraar?

Cobus said:

12/02/2012 at 11:15 pm

Wat van jy kontak my, en ons gaan drink ‘n groot koppie koffie, want hierdie ge-klippe-gooiery hou ek nie van nie. Die koffie sal op my wees.
Jy het my epos adres, ek glo dit verskyn as ek op jou blog comment.

hierstaanek said:

12/02/2012 at 11:29 pm

Cobus

Skryf eerder ‘n repliek hier. Dit sal van baie meer waarde wees. Ek het jou preek in die openbaar kritiseer, ek dink dit sal goed wees as jy my in die openbaar weerlê. Koffie kan later kom.

Wynand

Cobus said:

12/02/2012 at 11:43 pm

Wynand, die aanbod staan.
Ek beleef geen behoefte om myself te verdedig nie, ek dink die lesers is intelligent genoeg om self te kan onderskei of jou openbare kritiek gewig dra.
Ek kan vir jou nog preke stuur om openbaar te kritiseer as jy verveelt is.
Tot eendag wanneer jy wil koffie drink.
Cobus

hierstaanek said:

13/02/2012 at 6:12 pm

Cobus.

Ek sien op jou FB bladsy jy is ‘n navorsings asssistent by Unisa. Werk jy dus vir/met Sakkie Spangenberg?

Ek vind dit tragies dat jy jou geloof op so ‘n jong ouderdom verloor het, onder die invloed van die misleiers by Tukkies en Unisa.

Ek wil jou graag aanmoedig, lees bietjie die Bybel deur die lens van ‘n ander epistemologie. Muller, Spangenberg en die res van die NH mafia hang die postmoderne epsitemologie aan. Alle waarheid en kennis begin by die rede van die mens. Daar kan geen sekerheid wees nie.

Ek wil jou uitdaag, Cobus. Probeer bietjie die Bybelse epistemologie: Alle kennis en sekerheid begin by God. Ons kan waarlik weet en waarlik seker wees van dit wat ons weet.

Probeer dié paradigmeskuif vir een week, en lees die Bybel deur dié bril. Bid dat God Homself vir jou sal openbaar terwyl jy jou verstand besig maak en intens dink oor wat jy lees in die Bybel.

Ek weet, dit is 180 grade teen wat Muller, le Roux en Spangenberg jou leer. Jy sal dus jou hele verstand moet herbedraad teen alles wat die mafia jou geleer het.

Maar ek glo jy sal dan Jesus kan ontmoet, nie net as ‘n para-historiese figuur in ‘n mitiese boek nie, maar as Persoon, met wie jy ‘n innige, persoonlike verhouding kan hê.

Ek bid werklik jy sal die guts hê om die reis aan te pak.

Die maklike uitweg is natuurlik om jouself te aanbid, soos Muller en Spangenberg jou leer. Maar die maklike pad (die breë pad) lei hel toe.

Laat my weet wat jy besluit. Ek is bereid om op te vlieg Pretoria toe vir die koppie koffie.

Gideon Aggenbag said:

13/02/2012 at 11:07 pm

Cobus, ek wil nie herhaal wat Wynand alreeds gesê het nie, maar ek voel gedronge om te skryf. Glo my asb. dat my bedoeling nie is om te veroordeel nie, maar ‘n oproep tot besinning. Ek vind dit ontstellend dat in jou geloofbelydenis oor Jesus Christus, daar geen melding gemaak word van Sy verlossingswerk nie. ‘n Geloofsbelydenis is immers veronderstel om die mees kardinale sake uit die Bybel saam te vat.

Jesus Christus se opstanding uit die dood is so ‘n onmisbare belydenis: 1Kor.15:17: “en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;”

‘n Ander aspek van jou prediking is dat mense ‘n hemel op aarde kan maak. Dit bots lynreg met die Woord van God. Slegs as jy ontken dat die sondeval verdoemende effekte op die natuur van die mens gehad het en ontken dat vrede en versoening met God alleen deur Jesus Christus moontlik is (Rom.5 e.a.), alleenlik dan kan jy glo wat jy gepreek het. Die mens word in sonde gebore. Daarom is hy tot niks goeds in staat nie (Rom.7:18 e.a.). Hoe kan hierdie mens uit homself vrede op aarde bewerk? ‘n Utopië (hemel op aarde) skep as die Woord van God sê hy kan dit nie doen nie?

Cobus, ek benader jou rêrig nie uit die hoogte uit nie. Ek wil by jou pleit om weer te besin en jouself eerlik af te vra of jy nie kan sien dat jy (en Lennon!) besig is om vir God, Sy verlossing en Sy Woord opsy te skuif en jou eie heil te wil uitwerk. Hoe kan jy hoegenaamd jouself ‘n hemel uitwerk sonder die heilswerk van Jesus Christus? Hoe kan jy jou ‘n vrede met God en mens voorstel sonder Jesus Christus – want Hy alleen kan vrede bewerk? Geen mens kan dit doen nie.

Ek bid saam met Wynand dat God die Heilige Gees jou gedagtes en besinning sal lei. Ek wil ook graag aan jou noem dat ek vir Wynand ken. Al mag dit soms (op skrif) voorkom asof hy hard en ongenaakbaar is, kan ek jou die teendeel verseker. Hy het slegs die eer van God ten doel en, toegegee, hy is reguit en op die man af, maar nie onmenslik nie. Onthou ook asb. ons het nie in ons skrywes die luukse van lyftaal, stembuigings ens. nie. Sal jy asb. wat ek en hy vir jou skryf, in daardie gees aanvaar? En eerlik, biddend besin?

Pingback: Abraham Kuyper, die Emergent kerk en Menswaardigheid. « hier staan ek

Cobus said:

24/02/2012 at 1:12 pm

Sjoe vriende, ek sien nou eers die hoeveelheid moeite wat julle gedoen het om julle kommer te verwoord, en ek glo julle moeite regverdig ‘n reaksie. Nie repliek op die kritiek nie, so ‘n debat maak nie vir my sin nie, maar tog reaksie.

Wynand, ek dink jou opmerking getuig van ‘n klein bietjie verwarring oor UNISA. UNISA bestaan nie uit Sakkie Spangenberg en twee vriende nie. Hier is massas van ons wat by die verskillende dele van teologie werk. Ek het Sakkie het mekaar al een keer gegroet in die kafeteria, maar ek is nie seker of hy weet wie ek is nie. Ek dink tog ons gaan verder kom as ons nie die speletjie speel waar ‘n paar teoloë demoniseer word en ‘n groot groep dan “guilty by association” is nie. Ek dink die wêreld is meer kompleks as dit.

Ek vind jou opmerking verder bietjie onsensitief, asof ek ‘n leë kruik is wat maar net gevul word met watookal vir my gegee word. Asof ek nie ‘n eie mens is wat vir myself sal dink wat ek aanvaar en wat ek nie aanvaar nie. As dit werklik vir jou belangrik is om die lense te verstaan waardeur ons werk, dan kan jy maar gaan krap tussen my goed. Jy sal sien dat die teoloog met wie ek primêr in gesprek is op my blog en akademiese skrywe oor die afgelope 5 jaar was David Bosch. So as jy my dan wil beskuldig daarvan dat ek leermeesters navolg, dan dink ek jy moet maar beskuldig dat ek hom navolg, jy sal nie die eerste wees wat spot met my bykans onkritiese navolging van sy werk nie.

Moet asseblief nêrens heen vlieg om by te bekeer nie! Maar as jy oop is vir die koppie koffie as deel van ‘n saam-reis, dan sal dit vir my lekker wees.

hierstaanek said:

24/02/2012 at 1:31 pm

Cobus, dankie dat jy dit opgeklaar het. Ek het nie geweet nie, daarom het ek gevra.

Dit is ontstellend dat jy dit nie eers oorweeg om in teologiese gesprek me my te gaan nie. Dit wys dat jy voel my voorstelling van jou lering is korrek. Dit wys ook dat jy dat jy heeltemal tevrede is met die feit dat jy dwaal en die wete dat jy dwaal.

Jy is intelligent genoeg om te weet jou teologie (ek moet aanvaar my interpretasie daarvan is korrek, omdat jy my nie reghelp nie) is nie verenigbaar met die drie Formuliere van Eenheid nie.

Mag ek jou dus vra waarom jy enigsins nog betrokke is by die NG Kerk? Waarom het jy dié preek in ‘n NG gemeente gelewer terwyl jy geweet het jy verwerp die Evangelie wat jy volgens jou kontrak met die NG kerk moet verkondig?

Is dit nie oneerlik nie?

Waarom sluit jy nie aan by ‘n New Age of Buddhistiese ashram, soos Abel Pienaar se Renaissance gemeente nie?

Cobus said:

24/02/2012 at 2:33 pm

Wynand, jy moet tog nie so ontsteld raak nie. Ek stry bloot nie met jou nie omdat dit nie vir my sinmaak om met jou te stry nie, jy hoef nie allerhande dieper implikasies in my stilte in te lees nie.
Ek vermoed egter ek het so 3 jaar terug reeds op hierdie gesprek reageer (voel bietjie deja vu’erig), so ek gaan maar net vir jou daai reaksie gee: http://teoatup.wordpress.com/2009/04/09/ai-die-fundies-tog/.

Ek besef dat ek jou vraag oor waarom ek nog in die NG Kerk is nog nie geantwoord het nie. Dis iets waarmee ek ernstig moes worstel verlede jaar (alhoewel nie vir enige van die redes wat jy tot dusver oorweeg het nie), en ek dink tog die moeitewerd sal wees vir my om eendag mooi neer te skryf. So hou maar my blogs dop as jy wil, dalk antwoord ek jou vraag nog iewers.

hierstaanek said:

24/02/2012 at 2:45 pm

Cobus, ek aanvaar wat jy sê. Jy ontken egter steeds nie dat ek jou standpunt akkuraat uitbeeld nie.

Wat myself betref sou ek my bes wou doen om seker te maak dat my preke of dit wat ek glo akkuraat uitgebeeld word, as ek jy was.

Ek vind jou verlies aan geloof ongelooflik tragies. Dit is presies wat Ferdie Mulder in sy boek opgestaan beskryf.

Cobus said:

24/02/2012 at 3:14 pm

Dit sou verkeerd wees om te sê jy’s verkeerd sonder om dit te staaf, en weier om daai gesprek hier te voer, so daarom los ek jou maar om jou opmerkings te maak (ek het wel gesê dat dit duidelik is dat jy nog nie moeite gedoen het om my skrywes te lees nie, en ek dink dat dit tussen die lyne tog sê dat ek nie dink jou interpretasie is regtig reg nie).

Wat ek wel sal sê, is dat as ek mense van dwaalleer wou beskuldig, dan sou ek baie seker gemaak het ek beeld hulle reg uit, en ek verstaan die ontwikkeling van teologiese idees reg, anders mag dit net dalk gebeur dat ek gelowiges beskuldig dat hulle hulle geloof verloor het… en ek hoef seker nie te begin om vir iemand wat met ‘n “Bybelse epistemologie” werk te verduidelik hoe duidelik die Bybel-teks praat teen hulle wat onmin tussen gelowiges bring nie…

hierstaanek said:

24/02/2012 at 3:32 pm

Cobus

Ek het baie wyd gelees oor emergent teologie, en jou preek val reg in die middel daarvan. Ek was dus wat my betref bo redelike twyfel seker dat ek die teologie in jou preek reg uitbeeld. Toe jy kontak maak, wou ek natuurlik 100% seker maak, dus my uitnodiging aan jou om in gesprek met my te gaan.

Daar is twee opdragte in die Bybel: Die eerste is eensgesindheid onder gelowiges. Die ander is om dwaalleer met alle mag te beveg. (Nie fisiese mag nie!) Dit sluit in dat dwaalleraars “verbied” moet word om hulle lering te verkondig, en ook dat hulle soms “oorgegee word aan Satan”.

Ek dink dit is oneerlik van emergents in ons kerk oor die algemeen (ek verwys nie spesifiek net na jou nie) om die eerste opdrag te beklemtoon maar die tweede te verswyg.

En ek moet vir jou reguit sê. Die emergents is nie Christen gelowiges nie. As iemand soos Rob Bell beweer dat “Jesus ons nie moes red van God se woede teen die sonde nie” is hy nie ‘n Christen nie, want Jesus se dood aan die kruis om ons straf vir die sonde te dra is die kern van die Christelike geloof. Daarsonder is daar geen verskil met oosterse gelowe nie.

Islam is nader aan die boodskap van die Bybel as die emergent teologie.

Die tekste wat hulle uitspreek teen onmin tussen gelowiges geld dus in elk geval nie vir ons as Christene se omgang met die emergents nie.

Cobus said:

24/02/2012 at 5:23 pm

Wynand

Ek wil nie jou woord in twyfel trek nie, maar ek wonder of jy nie dalk bietjie wyer moet lees oor die emergent/emerging/emergence teologie nie. Ek beskou myself graag as deel van die gesprek, maar ek dink jou beskrywing dat my preek “reg in die middel” van die teologie val, wys op ‘n klein bietjie van ‘n misverstand oor die aard van die emerging gesprek. Ek is deel van die gesprek, maar sal moontlik beter kan beskryf word as aan een spesifieke kant daarvan.

Jou verkeerdelike gebruik van “emergent” laat my ook vermoed dat jy dalk nog so bietjie moet verder lees.

Ek wil tog vir jou vra dat as jy daai tweede opdrag wil ernstig opneem dat jy maar die ouderlinge kry en die ding kom uitpraat, en dan vra dat die ringe ‘n ondersoek loods, ek dink dit is nader aan die uitvoering van die opdrag as hierdie publieke verdagmakery (sorg sommer dat daar koffie is, dan kry ons albei ons sin).

Laastens. Ek sê nou jy moet verder lees, en dit sou sekerlik verkeerd wees om dit daar te laat. Ek het nogals ‘n redelike versameling van sekondêre literatuur oor die emerging church. Baie daarvan akademiese artikels wat jy nie sal toegang toe kan kry as jy nie ‘n universiteits-login het nie. Ek sal dit met liefde vir jou aanstuur om jou in jou verdere studie te help, stuur maar net vir my jou epos adres.

Cobus

hierstaanek said:

24/02/2012 at 5:44 pm

Cobus

Ek is wel deeglik bewus van die emergents se definisies van “emerging” en “emergent”. Dit pla my nie regtig nie. Ek verkies een term wat lekker op die tong sit en sommer so af rol – “emergent” werk dus vir my, en ek hou daarby.

Ek volg ook die kerkregtelike roete – daar is ‘n leerdwaling klag teen Dr Ben du Toit hangend, en verskeie mense wat soos ek voel is besig om gravamens op te stel oor die Sinode van 2011 se dwaling.

‘n Vriend sê nou die dag Mark Twain het gesê “Never pick a fight with a man who buys ink by the barrel”. Op die ou einde word gevegte gewen deur gesprek in die openbare domein.

Dit is die doel van hierdie blog.

My leeslys is op die oomblik redelik vol, (ek struggle op die oomblik met ons moderator se emergent manifes. Goeie aarde…) ek sal moontlik nie by literatuur wat jy my stuur kan uitkom nie, maar ek sal later vir jou my epos adres stuur.

Cobus said:

24/02/2012 at 6:21 pm

Wynand

Nou toe, laat ek jou nou nie moeg maak met definisies en nuanses nie. Dit klink my jy het jou hande vol. Ek bedoel, om ‘n staande moderator geskors te kry sit nou nie in almal se broek nie. Daai ware Hervormers (hulle het ‘n ander naam), het ook gepoog om ‘n vergadering in sitting van ‘n Algemene Sinode laas jaar van dwaalleer aan te kla, maar dit het ook nie gewerk nie (behalwe om die kerk baie geld te kos).

Ek is nogals gemaklik om saam met die moderator, kommunikasie beampte, en die 2011 sinode in sitting in die NG Kerk te wees. Dalk kan ek jou vraag oor hoekom ek in die NG Kerk is maklik antwoord: ek is in die NG Kerk, want hulle is in die NG Kerk (en met hulle sluit ek die 400 afgevaardigdes waarmee jy skynbaar issues het in).

Dit klink elkgeval nie of jy tyd het om op my te mors nie. Ek bedoel, ek is maar ‘n proponentjie. So gaan gerus voort met jou gravamens en dwaalleer klagtes. Wees gewaarsku dat as jy die moderator suksesvol laat skors het, en die sinode in sitting laat ongeldig verklaar het, jy daarna ‘n saak van dwaalleer teen my sal moet maak (wat nog ‘n klomp moeite gaan wees), want ek vind myself tuis in daai geselskap.

Ek kan dink jou leeslys is vol. Ek sou nie eers oorweeg het om my lewe te wy aan ‘n taak so wyd soos joune nie. So sterkte, en laat weet my wanneer jy sukses behaal het (wel, ek sal seker dit deur die grapevine hoor).

Net een vraag, as jy nou nis sukses behaal nie? As die ringe en sinodes besluit hulle is ook heel gemaklik met die diensdoenende predikante en die sinode in sitting, gaan jy dan bedank?

See you in another life brother (ek aanvaar jy het ook nie tyd vir LOST kyk nie?)

Cobus

hierstaanek said:

24/02/2012 at 6:29 pm

Cobus, ek staan verslae.

Cobus said:

24/02/2012 at 6:58 pm

ditto 🙂

Catherina Hayden said:

05/05/2012 at 10:28 am

Dave Hunt van The Berean Call is iemand wat ek vind groot wysheid het wat hy kry deur sy meer as 60 jaar op sy kniee die Bybel lees.Hy stel voor dat mense wat n ander evangelie volg as die wat in die Bybel is, gerus hul eie godsdiens kan he, maar dan moet hulle nie hulle self Christene noem nie – hulle kan hulle self iets anders noem.

hierstaanek said:

05/05/2012 at 10:54 am

Catherina, jy is heeltemal reg. Wat my ontstel is dat hierdie mense intelligent genoeg is om te weet hulle verwerp die kerk se belydenisskrifte – tog het hulle nie die eerbaarheid of integriteit om uit die kerk te gaan nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui