NG Kerk by kruispad

Die volgende artikel is van www.ditsem.net gekopieer vanaf NG Kerk by kruispad. Kyk ook:

************

NG Kerk by kruispad | Ditsem.net

11 November 2013

As nadraai van die pasafgelope sitting van die Algemene Sinode van die NG Kerk 6 – 10 Oktober 2013 te Port Elizabeth, het die NG Kerk kennelik by ’n kruispad gekom soos nog nooit in sy geskiedenis nie. Dit is veral omdat vir die eerste keer in sy bestaan ’n verandering aan die belydenisgrondslag van die kerk voorgestel word.

Terselfdertyd is ook besluit om “’n eietydse interpretasie van die Twaalf Artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis te ontwikkel”.
Twee ander kontroversiële besluite wat die Algemene Sinode pas geneem het, handel onderskeidelik oor die duiwel en homoseksualisme.
Oor die Belhar-belydenis is spesifiek besluit dat aan die breër kerkverband voorgestel word dat artikel 1 van die Kerkorde gewysig word om soos volg te lui:
“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.
“Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, nl. die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie formuliere van eenheid, nl. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
“Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.
“Die kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.”

Hierdie voorstel gaan nou aan streeksinodes en kerkrade voorgelê word vir ’n besluit, maar dit kan slegs aanvaar word indien kerkrade elkeen dit met ’n twee-derde meerderheid sou goedkeur. Dieselfde geld al die streeksinodes.

Dit is opmerklik dat die voorstel oor Belhar so bewoord is dat dit slegs ’n ja of ’n nee vereis en dat daar nie ’n geformuleerde alternatief op die tafel is nie. Ook opvallend is dat sover bekend nog nooit aan lidmate van ’n kerk die opsie gestel is om ’n belydenis te aanvaar, of nie – ’n kerk het gewoonlik ’n vaste belydenisgrondslag wat ’n voorwaarde is vir lidmaatskap.

Uit bepaalde oorde is daar geweldige druk op die NG Kerk om die Belhar-belydenis te aanvaar, maar aan die ander kant is daar lede van die NG Kerkfamilie wat hulself van die belydenis distansieer. By die ander Afrikaanse susterskerke en ook ander Afrikaanssprekende kerke is Belhar glad nie op die tafel nie.

Ook betekenisvol is dat terwyl daar die aandrang is op sg. kerkhereniging binne die NG-familie, daar kwalik sprake is van vereniging of selfs net beter samewerking met die ander twee Afrikaanse susterskerke, of ander kerke wat Afrikaanssprekendes bedien.

Daar is klinkklare aanduidings dat binne die geledere van die NG Kerk sterk teenstand teen die Belhar-belydenis bestaan en dat dit eintlik niks anders is as rewolusionêre retoriek en dwaalleer nie.

Oor die kwessie van die duiwel / Satan is daar nie eenstemingheid in watter gestalte of vorm hy bestaan nie, en of hy selfs inderdaad bestaan. Daar is natuurlik baie NG-lidmate wat geen twyfel het dat die Satan presies is wie en wat die Bybel sê hy is nie.

Oor homoseksualisme is daar ’n deursneemening in die NG Kerk dat dit by moderne vereistes aangepas moet word, selfs dat selibaat-homoseksueles tot die ampte toegelaat moet word. Aan die teenkant is daar die standpunt dat homoseksualisme ingevolge uitdruklike uitsprake in die Bybel sonde is en as sulks hanteer moet word, maar dat die sondaar met deernis en begrip bejeën moet word.

Volgens die terugvoering wat die Vrystaatse Moderamen tans oor die jongste besluite gee, is die volgende vyf prioriteite die hoogste op die ranglys vir die NG Kerk op die pad van nou af vorentoe:

  • Missionale kerkwees
  • Armoede
  • Jeug
  • Belhar en kerkhereniging
  • Menswaardigheid

Opmerklik weereens omtrent hierdie prioriteite, is dat siele wen vir die Koninkryk van Christus spesifiek nie figureer nie – vir ander weer die eerste prioriteit vir die algemene kerk van Christus.

Daar bestaan dus wyduiteenlopende sienings binne die NG Kerk – sake waaroor lidmate tot op voetsoolvlak binne afsienbare tyd definitiewe standpunte sal moet inneem.

Daar kan verwag word dat hoe sake vir die NG Kerk gaan verloop, ’n impak met wyduitkringende effek in SA gaan hê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui