Kerkleiers se bokspringe om Belhar verkoop te kry

Nelus Niemandt

NELUS NIEMANDT, MODERATOR VAN DIE NG KERK sê die volgende in Beeld van 6 November 2014. Dit is na aanleiding daarvan dat die Oostelike Sinode met ’n 73% meerderheid besluit het om die Kerkorde te verander om Belhar in te sluit as ’n belydenisskrif:

“Die gesprekke wat nou op gemeentevlak plaasvind, gaan meestal oor die historiese kwessies en die pynlike verlede. Dit is interessant dat lidmate nie die teologiese integriteit van die belydenis bevraagteken nie.”

“Ek dink ook sommige lidmate is verdwaal tussen kerkeenheid en die kerkorde. Lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die Belydenis van Belhar aanvaar het. Ons wil dit in die kerkorde insluit, en dié versoek het van NG lidmate self gekom. Dit kom van die voetsoolvlak van die kerk. Dis nie dat die Ver­enigende Gereformeerde Kerk ons dwing om dit te doen nie,” het hy beklemtoon.

“Daar is dominees wat aan my kom sê as ons die belydenis insluit, sal die mense uit hul kerke loop. Die NG Kerk het die belydenis egter reeds aanvaar. Hoekom het daardie mense nie toe al uitgeloop nie? Ek het steeds ’n rustigheid oor die proses. Ek dink nie ons moet baie verdeeldheid verwag nie.”

Volgens Niemandt sal die meeste sinodes eers volgende jaar tot stemming kom. Die algemene sinode het in 2011 besluit om die Belydenis van Belhar as deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te integreer, waarna die voorstel vir die wysiging van art. 1 in 2013 aanvaar is.

THEO DANZFUSS AKTUARIUS VAN DIE SINODE HOËVELD het hieroor op die volgende manier in ’n brief aan Beeld gereageer. (Die brief is nie geplaas nie):

Theo Danzfuss

Belhar aanvaar?… ’n infame onwaarheid!

In Beeld van 6 November 2014 word prof. Nelus Niemandt soos volg aangehaal: “Lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die Belydenis van Belhar aanvaar het.” En bietjie verder weer: “Maar die NG Kerk het die belydenis dan reeds aanvaar. Hoekom het daardie mense nie toe al uitgeloop nie?

Juis omdat daar uiteenlopende vertolkings was van die Algemene sinode 2011 se besluit oor Belhar, het die Algemene sinode in 2013 die vertolking onderskryf dat daardie besluit slegs vertolk moet word as ’n voorneme (voorneme word op die AS se webwerf in vet letters gedruk)! Die besluit om die Belharbelydenis te aanvaar kan die Algemene Sinode eers neem nadat die volle stemprosedures deur al die gemeentes en sinodes gevolg is, en dan ook slegs indien al die vereiste tweederde meerderhede verkry is. Om nou te sê: “Lidmate moet onthou dat die NG Kerk reeds die Belydenis van Belhar aanvaar het” is ’n totale wanvoorstelling. Wat is dan die sin om ons lidmate en kerkrade en sinodes nog te laat stem?

Die artikel is verder nog in verskeie ander opsigte ontstellend: Die ASM (algemene sinodale moderamen) se uitdruklike versoek om die gesprek binne die kerk, weg van die openbare media af te hou, geld blykbaar slegs vir lidmate wat teen die aanvaarding van Belhar is. Die bewering “dat lidmate nie die belydenis se teologiese integriteit bevraagteken nie” laat mens fluit van verbasing. Kan ’n mens regtig nog so uit voeling wees met die werklikheid? Daar is tog talle boeke en artikels deur leraars en lidmate gepubliseer wat ernstig beswaar maak juis teen Belhar se teologiese bedenklikheid. Hoewel die sinode se bronnelys en “gereedskapkis” baie eensydig pro-Belhar is, bestaan daar baie dokumente wat die teologiese dwalinge van Belhar aantoon. Voorbeelde hiervan kan gevind word by webwerwe soos www.glodiebybel.co.za. In genoemde artikel word ook gespog dat die Oostelike sinode met 73% ten gunste van die wysiging van ons belydenisgrondslag gestem het, maar daar word verswyg dat die gemeentes van dieselfde Oostelike sinode met ’n baie groot meerderheid daarteen gestem het. Sulke eensydige en propagandistiese informasie bevorder beslis nie die deursigtigheid of die geloofwaardigheid van die stemproses nie. Theo Danzfuss.

&&&&&&&&&

Volgens die Kerkbode is die betekenis van ’n “ja” of ’n “nee” stem as volg by die OOSTELIKE SINODE verduidelik:

  • JA: Ek stem persoonlik saam met Belhar en gee aan ander ruimte om dit nie te bely nie.
  • JA: Ek stem nie persoonlik saam met Belhar nie, maar gee ruimte aan ander om dit wel te bely.
  • NEE: Ek stem nie persoonlik saam nie en wil ook nie vir ander ruimte gee nie.

&&&&&&&&&

Die betekenis van ’n “ja” of ’n “nee” stem is as volg aan die lidmate van die GEMEENTE HELDERBERG verduidelik:

Wanneer ek JA stem,

  • Verleen ek my instemming met die voorstel van die Kerkraad dat die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde by die volgende kerkraadsvergadering goedgekeur word.
  • Stem ek persoonlik saam met die inhoud van Belhar en oordeel dat dit deel van die NGK se belydenisgrondslag vorm. Terselfdertyd gee ek ook ruimte aan ander om dit nie te bely nie.
  • Stem ek nie persoonlik saam met die inhoud van Belhar nie, wil eintlik nie hê dat dit deel van die NGK se belydenisgrondslag is nie, maar ek gee ruimte aan ander wat dit wel wil bely en so wil hê.

Wanneer ek NEE stem,

  • Verleen ek nie my toestemming met die voorstel van die kerkraad dat die nuwe Artikel 1 van die Kerkorde by die volgende kerkraadsvergadering goedgekeur word nie.
  • Stem ek persoonlik nie saam met die inhoud van Belhar nie, wil ook nie hê dat dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk vorm nie, wil ek ook nie aan ander die ruimte gee om dit so te hê nie.

THEO DANZFUSS REAGEER AS VOLG op hierdie verduideliking van die besluit in die gemeente Helderberg:

My kommentaar op die verduideliking wat daar gegee word is as volg:

  1. Punt een: Wanneer ek JA stem…
    1. Eerste twee kolkarakters is nie baie goed geformuleer nie, maar kan tog aanvaar word as verduideliking van “ja” stem.
    2. Tussen tweede en derde kolkarakter moet in elkgeval ’n “OF” staan anders maak dit geen sin nie.
    3. Die derde kolkarakter se verduideliking is heeltemal verkeerd en misleidend. Dit beweer dat ek ja moet stem al wil ek nie hê dat Belhar deel van die kerk se belydenisgrondslag moet wees nie. My ja-stem is dan volgens die verduideliking net om ander ruimte te gee wat dit wel wil bely. Dit is egter nie waar nie.
      1. As die wysiging goedgekeur word dan is Belhar deel van die NG Kerk se amptelike belydenisgrondslag selfs al is daar sommige wat Belhar nie aanvaar nie, aanvaar hulle wel dat Belhar deel word van ons NG kerk se amptelike belydenisgrondslag.
      2. Die storie dat jy met ’n ja-stem maar net vir ander wat dit graag wil bely ruimte gee is vals en baie misleidend.
      3. As artikel 1 bly soos dit is, (dus ’n nee-stem), het ander wat dit wel wil bely steeds volle ruimte om dit te bely.
      4. As jy nie wil hê dat Belhar deel van ons belydenisgrondslag moet word nie kan jy dit net op een manier stem en dit is deur ’n helder en duidelike hoofletter NEE!
      5. As jy “ja” stem, is jy baie liefdeloos want dan dwing jy lidmate wat Belhar verwerp om deel te wees van ’n kerk wat Belhar aanvaar. Jy maak dus van almal wat Belhar nie wil aanvaar nie tweedehandse lidmate. Hulle moet dan voortaan deel wees van ’n kerk wat (volgens hulle oortuiging) ’n valse belydenis aanvaar.
  1. Punt twee: Wanneer ek NEE stem…
    1. Die eerste kolkarakter is weereens nie goed geformuleer nie, maar kan tog as regte verduideliking aanvaar word.
    2. Die tweede kolkarakter is weereens verkeerd en misleidend. As ek “nee” stem kan dit baie dinge beteken soos bv:
      1. Ek aanvaar nie die inhoud van Belhar nie en wil dit nie deel van ons belydenisgrondslag maak nie, …of…
      2. Ek aanvaar wel die inhoud van Belhar, maar ek glo nie dit moet een van ons amptelike belydenisse te word nie. …of…
      3. Ek wil hê dat Belhar nie net ’n opsionele belydenis moet wees nie maar volledig deur die kerk aanvaar moet word net soos die ander belydenisse… of…
      4. Ek gee ruimte vir almal wat Belhar as hul belydenis wil aanvaar maar omdat daar baie lidmate in die NG Kerk is wat Belhar nie aanvaar nie, moet ons almal se sienings respekteer en daarom kan Belhar nie een van die NG Kerk se amptelike belydenis wees nie.
      5. Dit is egter onwaar om te beweer dat iemand wat nee stem nie vir ander wat Belhar wel aanvaar ruimte wil gee nie!
  1. Nog ’n belangrike saak wat ons moet onthou is die volgende:

Die voorgestelde nuwe formulering klink so:

Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, …

    1. Die eerste word as feit gestel… Belhar is deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag… dus is dit ’n amptelike belydenis van die kerk selfs al sou sommige dit nie aanvaar nie
    2. Let op dat die wat dit aanvaar, aanvaar dit op die quia stanpunt… dus “omdat dit met die Woord van God ooreenstem“, nie op die quatenus standpunt nl “in soverre dit met die Woord ooreenstem” nie.
    3. Wat direk daarna gesê word maak van almal wat dit aanvaar huigelaars en Skrifloënaars, want daarna word gesê dat almal dit tog nie hoef te aanvaar nie. dit beteken hulle bely God se Woord sê so, maar tog hoef ons nie te aanvaar wat God se Woord sê nie. Hulle sê in effek een van twee dinge: of, jy hoef nie God se Woord regtig ernstig op te neem nie, of ons wat Belhar nie saam met hulle quia bely nie is tyweedehandse onbekeerde lidmate. So sê nie net hulle nie, maar die Kerk sê dit dan mos amptelik!!!

&&&&&&&&&

Piet Strauss

PROF PIET STRAUSS SE VERDUIDELIKING IN VOLKSBLAD

Dinsdag 30 September 2014

Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?

Die kerkrade en gemeentes van die NG Kerk moet voor die einde van die jaar stem oor ’n nuwe artikel 1 van die Kerkorde soos voorgestel deur die Algemene Sinode. Hierdie artikel gaan oor die belydenisgrondslag of diepste identiteit van die NG Kerk.

Die voorstel spruit daaruit dat die Belydenis van Belhar op aandrang van die Verenigende Gereformeerde Kerk nou langer as 20 jaar op die tafel van die NG Kerk lê. Vir VGK as ’n jonger kerk in die NG familie is dit die uitdrukking van hul identiteit. En juis omdat die belydenisskrifte van die kerk as ’n reaksie op wat die Bybel oor sekere kernsake van ons verhouding met die Here sê, die lidmate bind, moet kerkrade en gemeentes ook in die saak geken word.

Die Algemene Sinode van 2013 het die voorstel wat al van die sinode van Hartenbos in 2004 kom, opnuut gewysig en feitlik eenparig aanvaar.

Duidelikheidshalwe eers waaroor nié gestem word nie.

  • Die stemming gaan nie oor die inhoud van Belhar nie, maar oor hoe Belhar in die NG Kerk hanteer moet word; oor ’n praktiese maatreël om die sterk stemme in die kerk daarvoor en daarteen te hoor en formeel te erken; om aan albei ruimte te gee omdat albei ’n gerekende groep in die NG Kerk is.

Die voorstel wil die huidige situasie in die NG Kerk met ’n artikel in die kerkorde wettig. Belhar moet nie die NG Kerk skeur nie. Dit sou in stryd met Belhar self oor die eenheid van die kerk wees.

  • Die stemming verander niks aan die huidige 6 belydenisskrifte en die wyse van hul aanvaarding in die NG Kerk nie. Ons aanvaar hulle steeds as in ooreenstemming van die Bybel. Die argument dat as jy oor Belhar ’n keuse het of as dit opsioneel is, al die belydenisse van die NG Kerk opsioneel word, is nie waar nie. Lees die voorstel. Die hantering van die huidige 6 belydenisse is regtig nie op die tafel nie.
  • Die argument dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk word, of jy nou daarvoor of daarteen is, hou ook nie rekening met die voorstel nie. Die voorstel lui dat Belhar in die belydenisgrondslag van die NG Kerk ingetrek word “op so ’n wyse” sodat dié wat wil, dit kan onderskryf en dié wat dit nie as belydenis onderskryf nie, die vryheid daartoe het. Vir hulle is dit nie ’n belydenis nie.

“Belhar word op só ’n wyse aanvaar dat dié wat dit as belydenis aanvaar, dit kan doen en dié wat dit nie as belydenis aanvaar nie, dit ook kan doen. ”

Die voorstel wil help dat ons Belhar hanteer en vorentoe gaan. Die saak sal natuurlik met die NG familie uitgepraat moet word. Uit daardie oord het ons reeds van stemme verneem dat die huidige stemproses as ’n proses van die NG Kerk gerespekteer moet word. Die saak sal nie net met die VGKSA nie, maar ook met die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa deurgepraat moet word.

Die saak sal ook aan die ander Afrikaanse Kerke oorgedra moet word. Behalwe in die VGKSA, is Belhar nie in al hierdie kerke aanvaarbaar nie.

Waaroor stem die kerkrade en gemeentes?

Die stemming gaan oor die voorstel wat beteken:

  • Die bestaande belydenisse word nie geraak nie.
  • Belhar word op só ’n wyse aanvaar dat dié wat dit as belydenis aanvaar, dit kan doen en dié wat dit nie as belydenis aanvaar nie, dit ook kan doen.
  • Die laaste puntjie in die voorstel lui dat daar by die aanvaarding van nuwe belydenisskrifte – anders as die huidige ses wat nie geraak word nie – geen dwang sal wees nie. Nie eens van my eie kerkraad of sinode nie.
  • Prof. Piet Strauss, ’n voormalige Vrystaatse moderator van die NG Kerk, is ’n professor in kerkreg aan die Universiteit van die Vrystaat

&&&&&&&&&

WAAROM EK “NEE” STEM (JAN LOUW)

Dit gaan oor ’n verandering van die NGK se “belydenisgrondslag”.

  1. Die huidige belydenisgrondslag van die NGK word gesien as die drie ekumeniese belydenisskrifte (12 Artikels, Nicea, Athanasius) plus die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls).
  2. Die Sinode vra van sy lidmate dat ons Kerkorde verander moet word om Belhar deel te maak van hierdie belydenisgrondslag van die NGK.
  3. Belhar sal egter opsioneel wees in die belydenisgrondslag. Belhar is dus ’n 7e belydenisskrif, maar verskyn tussen hakies. Lidmate wat Belhar nie as deel van ons belydenisgrondslag wil sien nie hoef dit nie as deel van die belydenisskrifte van die NGK te aanvaar nie.

Dit is waaroor ons “ja” of “nee” moet stem. Ons moet stem oor ’n 7e belydenisskrif wat “op ’n manier” deel moet word van die belydenisgrondslag van die NGK. In so ’n belangrike besluit kan dit nie daaroor gaan of ons gaaf wil wees of gunsies wil doen of ruimte wil maak vir ander nie.

Ek stem oor twee redes “nee”.

  1. Die een rede is omdat ek nie vrede het met Belhar as ’n belydenisskrif nie.
  2. Die ander rede is dat belydenisskrifte van die kerk nie opsioneel kan wees nie. ’n Organisasie se grondwet is nie ’n opsionele aangeleentheid nie.

Die suggesties dat mense wat “nee” stem nie vir ander mense in die kerk ruimte wil gee nie is misleidend en vals. Ek neem aanstoot daarteen.

Niks verhoed ’n NGK lidmaat om Belhar te bewonder en aan te haal, selfs in ’n preek in die kerk nie. Ek het egter ’n groot probleem daarmee as Belhar in ons bundel van belydenisskrifte opgeneem moet word sodat lidmate in die katkisasie daaruit onderrig moet word en dat alle ampsdraers Belhar as ’n belydenisskrif moet onderteken as deel van ons belydenisgrondslag. Dit is immers wat die VGK ondubbelsinnig met die insluiting van Belhar vir ons gesê het en dit is onafwendbaar die situasie waarheen ons kerkleiers ons wil lei as hulle van ons vra om “ja” te stem.

Daarvoor sê ek NEE!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui