Duskant die middel van nêrens verby

Die volgende artikel wys iets van Julian Müller se teologie.

**********

Duskant die middel van nêrens verby

2008-01-21

Dit is tyd vir ’n nuwe, Afrikaanse tussenin- en duskantteologie, skryf JULIAN MÜLLER.

MET tussenin en duskant verwys ek na Valiant Swart se musiek, na aanleiding van wat Danie Marais daaroor geskryf het. Hy sê Valiant is ’n goeie storieverteller, en ’n goeie storieverteller is “per definisie tussenin en duskant reg of verkeerd”.

Op sy jongste album, Horisontaal, verklaar Valiant in “Vreemde landskap” hom “tussen die lyne” en somewhere between:

anderkant die dal
ver oor die vlei
onderdeur die dorings
van die donker vallei
net duskant die middel
van nêrens verby
daar kry jy vir my

Ek wil sy metafore graag gebruik om na te dink oor ’n gepaste teologie vir vandag. Dit bring my by die konsep van ’n tussenin- en duskantteologie. Tussen die lyne en duskant die middel.

Die teologie waaraan ons te lank gely het, is ’n teologie op die lyntjie en op die middel. ’n Teologie wat presies geweet het waar die lyntjie langs loop en waar die middel is. Ons behoefte vandag in die kerk in Suid-Afrika is aan ’n skoene-uitskop-teologie, teologie wat so eerlik kan wees soos Valiant se whisky op ys.

Dit is ’n teologie verby die fundamentele, maar duskant die relativistiese; duskant die reglynigheid van ortodoksie en tussen sekerheid en angs; duskant reg en verkeerd; kontekstueel; by mense. As die teologie nie van die lyntjie en van die middel af gaan ontsnap nie, gaan dit ’n oom-teologie bly wat al hoe minder tot die jongeling gaan spreek.

DIE Afrikaanse teologie staan voor ’n geweldige uitdaging en kruispad. In ’n toenemende kommersialiserende samelewing is die georganiseerde godsdiens (kerk) en die teologie geneig om te vervlak. Godsdiens moet as ’n produk verpak en bemark word.

Jy hoef net by die boekwinkel se filosofie-, psigologie- en godsdiensrak te gaan staan en deurblaai. Die tendens is om boeke te publiseer wat die groot waarhede van die lewe in manageable shapes (Brueggemann) aanbied. Wat inhoud sowel as formaat betref, moet dit bevatlik en oorsigtelik wees. Dit moet meteens duidelik wees wat die inhoud van die “produk” is en watter voordele dit vir jou sou inhou as jy dit aanskaf.

Daarom moet die klem liewer op die kwantitatiewe as op die kwalitatiewe val. Jy moet dadelik weet hoeveel dit van jou gaan vra en hoeveel jy daaruit kan kry. Jy moet weet waarin jy inkoop.

Hedendaagse mense is waarskynlik vuisvoos weens die oormaat van keuses, teorieë en sienings waarmee hulle daagliks gekonfronteer word.

Daarom is daar ’n diepliggende behoefte aan oorvereenvoudiging, veral op sekere lewensterreine.

Godsdiens en kerk is beslis een. Mense se behoefte is aan ’n veilige ruimte, waar daar nie vrae en onsekerhede is nie. Jy moet net gehelp word om aan jou oortuigings vas te hou.

Mense ly steeds aan die ontnugterende skok van ’n kerk wat hulle met die apartheidsteologie in die steek gelaat het.

Nadat die kerk dekades lank verkondig het dat apartheid Bybels regverdigbaar en selfs wenslik is, moes die lidmate op ’n dag uitvind dat daar iewers langs die pad ’n nuwe teologie in die kerk ingesluip het.

Nou moes hulle hoor apartheid is nie meer teologies te regverdig nie en is inderdaad sonde. Ná so ’n ontnugtering ly mense aan vertrouenskok. Hoe kan mens die teoloë wat sulke draaie loop, nog vertrou?

Hulle het behoefte aan die ou, onbetwisbare en gevestigde evangelie. Hulle wend hulle na die kerk met sy vaste en onveranderlike strukture en belydenis. Hierdie behoefte aan eenvoud en ondubbelsinnige kommunikasie oor teologiese kwessies word tienvoudig versterk deur die algemeen geldende same­lewingsdiskoers, wat op verbruikersentimente gebou word.

Met ’n samelewing wat enersyds vra vir pasklaar produkte wat verhandelbaar is en ’n godsdienstige ingesteldheid wat andersyds vra vir eenvoud en absolute sekerheid, is die tafel gedek vir die redusering van die evangelie – ’n evangelie wat verkoopbaar is en daarom beslis nie op die kompleksiteite klem lê nie. Hy moet klokhelder praat en geen sweem van onsekerheid oordra nie. Hy moet weet waar die lyntjie is en wanneer die lyntjie oorgesteek word en hy moet hom stewig op die middelpunt kan vestig.

Dít is ’n soort teologie wat inderwaarheid geen teologie is nie. Dit behels nie interpretasie nie, net wéét en toepas. Alles is klaar in netjiese formules uitgeskryf en dit hoef maar net gerepeteer te word. Niks word aan verdere interpretasie, bevraagtekening en verbeelding oorgelaat nie.

Dit word ’n prosaïese verwoording en verwording van die misterie van die evangelie. Al die onsekerheid en verwondering van die poësie dat die Woord vlees geword het en onder ons kom woon het, word gesmoor.

TEENOOR dié reduksie moet ons liewer soek na moontlikhede om die evangelie in al sy rykdom en misterie na vore te laat tree.

Die Nederlandse priester-digter Huub Oosterhuis gebruik die begrip “tweede taal” om te verwys na die “taal wat eigenlijk niet te zeggen is. Die je spreekt om niet helemaal te hoeven zwijgen.”

Dit is die taal wat ons nodig het as ons ons geloof in iets soos die opstanding wil uitdruk. Want in die opstanding gaan dit oor die onsêbare. Jy smag na taal om iets uit te druk wat eintlik nie in taal verwoord kan word nie.

Die neiging vandag na ’n gesuiwerde evangelie, ’n soort neo-ortodoksie, is tekenend van ’n fundamentalistiese reduksie. Dit lê op die teenpool van die poësie en die lied. Die “tweede taal” skep ruimte, terwyl die taal van die gereduseerde “evangelie” konfronterend, uitdagend en selfs liefdeloos is. Goeie teologie vind jy duskant die waarheid en duskant openbaring. Teologie is soekend na die regte verbindings. ’n Teoloog moet soos ’n visserman wees wat die vrae (aas) dieper ingooi as waar die opsigtelike antwoorde (vis) lê en loer. Teologie se vrae het te make met die eksistensiële verbindings tussen verhale – verhale oor menswees in ’n bepaalde konteks, verhale oor die ervaring van God se teenwoordigheid te midde van die ervaring van sin en onsin.

Die raakvlakke tussen daardie verhale is die ruimte waar teologie in ’n bepaalde tyd probeer om taal te vind om die byna onsêbare te verwoord. Daarom is teologiese uitsprake altyd voorlopig.

Teologie is nie anderkant openbaring nie. Teologie is bewus van openbaring, maar ook bewus van die misterie van openbaring. Teologie is nie verwoording van openbaring nie, maar die verwoording van die soeke na, behoefte aan en stamelende voorlopige verwoording van die (ver)skynsels van die openbaring.

Dit is maar soos dryfhout. Vér van die oorsprong, krom en verwronge. Tog soms ontsettend mooi en ’n noodsaaklike verbinding met die Oorsprong.

Die teologie word te dikwels en te maklik as vaste proposisies verwoord. Ons bedoel dit nie altyd so nie, maar ons teologiese uitsprake kom maklik oor asof ons klaar gedink en in ons denke reeds ’n ekwilibrium (op die middellyn) bereik het.

Ons as teoloë sal weer nederiger ons plek duskant sekerheid en tussenin die onsekerheid en twyfel moet vind. Dan word ons teologie: . ’n teologie vir mense; . in staat om sy eie voorlopigheid te verwoord; en . gewillig om verbeeldingryk en waagmoedig nuwe taal te gebruik om ons ervaring van menswees voor die aangesig van God te verwoord.)

  • Prof. Julian Müller is ’n teoloog van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui