Reaksie op ASM se voorlopige Gids oor homoseksualiteit

Maart 2020

Deur Jan Louw

Ek reageer hiermee op die voorlopige “Gids” wat die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) aan die kerk beskikbaar gestel het. Die bedoeling met die Gids is “toeligting en hulp aan sinodes vir gesprek oor die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings”.

Die Gids begin met ’n Storielyn. Dit behandel die storie van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit vanaf 1986.

In 1986 het die Sinode besluit dat “homoseksualiteit in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit is”. Drie en dertig jaar later in 2019 het die storie geëindig met die besluit om mense in die ampte toe te laat “ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit”.

Prakties beteken die besluit die volledige insluiting van LGBTQI+, in al die ampte en strukture van die Kerk. Die akroniem LGBTQI+, staan vir Lesbies, Gay, Biseksueel, Transseksueel, Queer, Interseks, ens.

Ons ken die woorde (L)esbies en (G)ay in die akroniem. Paulus het dit al geken toe hy gesê het: “Vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar” (Rom 1:26,27). Die woord (B)iseksueel in die akroniem het in 1988 nog nie in die Afrikaanse woordeboeke wat ek het, verskyn nie. Biseksualiteit word egter op die internet beskryf as ’n seksuele oriëntering, waar ’n persoon ’n aangetrokkenheid het tot mense van die teenoorgestelde-, sowel as die teenoor dieselfde geslag. Biseksueles het ook ’n eie vlag waarmee hulle hulleself trots uitbeeld.

Die akroniem waaroor dit hier gaan het met die tyd al langer geword, soos wat meer en meer oriëntasies aanspraak maak op erkenning. Inligting daaroor is op die internet bekombaar.

Die seksuele gedrag waarvan ons hier praat is nie nuut nie. Paulus skryf sterk afwysend daaroor in sy briewe. Hy sê daar is dinge wat in die geheim gedoen word, dinge wat te skandelik is om selfs genoem te word (Ef 5:13).

In 2019 het die NG Kerk LGBTQI+ in werklikheid “ontsondig”. Die kerk het besluit dat mense wat in hierdie verhoudinge lewe kan trou en het selfs besluit om ’n formulier daarvoor op te stel. Die kerk het ook goedgekeur dat mense wat in LGBTIQI+ verhoudinge lewe, nie geweier kan word by die aanstelling van leraars en ander ampte in die Kerk nie.

Nou wil die Sinode met ons oor hierdie nuwe bedeling in die NG Kerk praat. Die Sinode het ’n span van ses mense aangestel om “toeligting en hulp” te gee. Heerden van Niekerk is die sameroeper van die span. Hulle het die verantwoordelikheid aanvaar om in die tyd wat voorlê sinodes te besoek en om op te tree as woordvoerders namens die NG Kerk en sy besluite.

Ek rig hierdie Reaksie op die Gids dus aan Heerden van Niekerk en sy span. Verskoon my Heerden as ek van “julle” praat. Daar is ’n groeiende “ons-julle” verhouding wat ek nie gaan probeer vermy nie.

Heerden, ek wil dus nou voortgaan en onder julle aandag bring wat ek in julle Gids sien. Ek sien ’n Storie van:

1. ’n Kerk wat ongehoorsaam geword het aan die Woord van die Here

Die Gids praat wyd oor baie onderwerpe, maar ek sal graag wil weet, waarom julle swyg oor wat in die Kerk se Grondwet oor homoseksuele verhoudinge staan. Ons hoor by julle wat teoloë sê: Vincent Brümmer, Ferdinand Deist en Marius Nel. Daar is besprekings van die bydraes van Andrew Murray, Nicolaas Hofmeyer,  Abraham Kuyper, Herman Bavinck, CR Kotzé, DR Snyman en DG Malan. Die Gids gebruik indrukwekkende teologiese terme soos: “regsinnigheid van hart, regsinnigheid van leer, fundamentalisme, liberalisme, spiritualiteit van kindskap, bibliolatrie, objektiewe waarheid, kerngeloof, toegepaste geloof”, ens, ens.

1.1 Wat staan in die Bybel oor die onderwerp?

Wat my pla Heerden, is dat julle in hierdie belangrike saak swyg oor die duidelike uitsprake van bv Moses en Paulus oor die onderwerp.

Ek ag dit dus my plig om die Bybel in hierdie gesprek weer op die tafel te kry. Julle ken die tekste goed, maar aangesien julle in die Gids daaroor swyg, wil ek vra dat ons na net een gedeelte uit die OT en een uit die NT kyk.

Ek gebruik hier die nuwe Direkte Vertaling. Ek moet aanvaar dat julle dit as ’n betroubare weergawe van die oorspronklike teks beskou, want die Direkte Vertaling is juis by die opspraakwekkende Sinode van 2019 goedgekeur as nog ’n amptelike vertaling van die Bybel in die NG Kerk:

Levitikus 18:22: “By ’n man mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks.”

Hierdie word aangebied as direkte woorde van die Here, want die hoofstuk begin met:

“Die Here het vir Moses gesê …”

Ek herinner julle ook aan ’n voorbeeld uit die NT:

1 Kor 6:9-10: Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.

Daar is natuurlik nog ander gedeeltes in die Bybel waar daar ook duidelik uitsprake oor die onderwerp is.

Die vraag is: Waarom Heerden, is julle onwillig om te praat oor wat regtig in die Bybel staan? Wat is onduidelik aan wat hierbo geskrywe staan? Dit lyk of julle draaie loop rondom dit waaroor dit eintlik gaan nl: Wat staan in die Bybel?

Ek dink die Gids gee self vir ons die antwoord waarom die Bybel nie meer in julle besluite in berekening gebring word nie.

1.2 Die opinie van die psigiatrie en die menswetenskappe

Ek haal die Gids aan: “Die sinode het besluit om verdere studie te doen en nie weg te deins van komplekse vrae nie. Wat leer ons uit psigiatriese en sielkundige navorsing? Die indeks vir die beskrywing van psigiatriese afwykings [DSM] het immers homoseksualiteit uit hulle lys van psigiese afwykende gedragsverskynsels verwyder. Is homoseksualiteit aangebore of aangeleer?”

By die Sinode van 2007 is die opinie van die menswetenskappe reeds ingeroep. Ek haal aan (bl. 5):  Die menswetenskappe (die mediese wetenskap, die psigiatrie, sielkunde, ens) ondersteun toenemend die gevolgtrekking dat mense se seksualiteit nie ’n doelbewuste keuse is nie, maar die gevolg is van ’n komplekse ontwikkelingsproses;

Die Sinode van 2015 het besluit ons moet ook gebruik maak van die “beste huidige menswetenskaplike bevindings” en het dit in verband gebring met die “algemene openbaring van God”.

Die Sinodes het dus volgens die Gids besluit om hom te laat lei deur die menswetenskappe, wat sommer ook die ereposisie van algemene openbaring van God kry. Dit is mos onaanvaarbaar:

Eerstens kom die term “Algemene Openbaring van God” nie in die Nederlandse  Geloofsbelydenis, Art 2 waarna julle verwys, voor nie. Daar staan alleen in Art 2 van die NGB dat ons die ewige krag en goddelikheid van God in die skepping van God kan sien. Dit beteken ons kan die werke van God in die skepping sien. In daardie sin het die teologie begin praat van die Algemene Openbaring. (Ps 19:2 Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.)

Dit is waar dit egter eindig!  Ons kan nie die wil van God uit die skepping aflei nie. Ons ken die wil van God alleen uit die Besondere Openbaring, naamlik die Bybel.

Die Sinode het dus ’n ernstig misleidende stelling gemaak deur te wil voorgee dat die menswetenskappe deel is van die goddelike openbaring, waaruit ons die wil van God kan leer ken.

Die Sinode gaan egter nog verder. Die Sinode wil voorgee dat die sogenaamde algemene openbaring vir ons leiding gee wat in stryd is met wat God in die besondere openbaring naamlik die Bybel leer. Natuur en skriftuur (Ps 19) praat nie meer dieselfde taal nie! In hierdie absurde situasie vra die Sinode dat ons sal kies vir wat die natuur/algemene openbaring/menswetenskappe ons leer en dit ten koste van die skriftuur!

Tweedens moet ons rekening hou daarmee dat die sogenaamde menswetenskappe, uiteindelik net mensewerk is, waar ons moet rekening hou met die sondige natuur van die mens. Daar is byvoorbeeld in sielkunde kringe verskillende standpunte oor die vraag of homoseksualiteit aangebore of aangeleer is. Ons kan ons doodgewoon nie oor die reg of verkeerd van etiese vraagstukke aan die menswetenskappe oorlaat nie.

Oor die verskynsel van byvoorbeeld pedofilie is daar in die verlede algemeen ’n sterk afkeurende houding ingeneem. Nou word daar anders oor die saak gekyk in die sielkunde.

Derdens moet ons mos in die kerk vir mekaar sê daar is net een Wetgewer en dit is God self. God bepaal wat reg of verkeerd is, nie mense nie. Alleen God is soewerein om te bepaal wat in Sy skepping reg of verkeerd is. Dit is aanmatigend om aan God te wil voorskryf hoe ons wil lewe. Wie dit doen sal daaroor rekenskap gee as Hy as Regter verskyn.

1.3 Menswaardigheid

Daar is ook ’n ander faktor wat meegebring het dat die NG Kerk aan die Bybel ongehoorsaam geword het en dit is die beroep op “menswaardigheid”. Die Kerk het selfs ’n Seisoen van Menswaardigheid uitgeroep. Menswaardigheid het almeer ’n bepalende rol gespeel oor hoe die Kerk oor die Bybel moes dink.

Die 2013 Sinode besluit (bl 8): Die Algemene Sinode …..  verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

Die Gids voeg by: Die 2013 sinode het dus verdere studie gevra oor die status van selfdegeslagverhoudings, …. Die Seisoen van Menswaardigheid moes hierin bepalend wees.

My eerste aanklag teen die NG Kerk is dus dat julle die pad van ongehoorsaamheid ingeslaan het. Julle het ’n hele Gids vol verduidelikings, maar julle besef nie julle maak soos Saul in 1 Sam 15:22  nie. Hy was ongehoorsaam aan die bevel van die Here en Samuel het vir hom gesê:

Gehoorsaamheid is beter as offerande,
om te luister is beter as die vet van ramme.
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;
eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

2. ’n Kerk wat die Woord van die Here vervals het

2.1. Valse weergawes van die betekenis van tekste word voorgehou

* Kan daar ’n duideliker uitspraak wees oor ’n homoseksuele verhouding as die woorde in Lev 18:22: “By ’n man mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie”.

Nogtans word daar vreemde verklarings oor die teks in sinodale verslae en in kerklike debatte oor die betekenis van die woorde voorgehou. Een hiervan is “dat dit nie hier gaan oor homoseksualiteit as sodanig nie, maar oor bepaalde tipe homoseksuele dade, naamlik oor kultiese tempelprostitusie wat algemeen in Kanaänitiese vrugbaarheidsrituele beoefen is”.

In ’n ander verslag word verklaar “dit maak deel uit van die kultiese Heiligheidskode”, waar dit gaan oor die onderskeid tussen Israel en die heidene”. Uiteindelik is die afleiding: “Klaarblyklik geld hierdie uitsprake in letterlike sin nie meer vir ons nie”.

Grondliggend aan hierdie soort eksegese is uitgangspunte van die Bybelwetenskap wat leer dat die wetgewing in die Pentateug eers in die tyd van die ballingskap geskryf is. Hierdie teoloë beweer dit was nie Moses wat hierdie wetgewing gegee het nie. Dit was priesters in die ballingskaptyd. Hulle wou vir die Joodse volk in daardie tyd ’n nuwe selfrespek gee en het daarom vir hulle ’n eie godsdiens beskryf, met Jahwe as hulle god. Die woestynverhale is dus eintlik gelykstaande aan kampvuurstories sonder werklike historiese basis. Hierdie teoloë redeneer dit is immers wetenskaplik ondenkbaar dat ’n paar miljoen mense vir 38 jaar in ’n waterlose woestynwêreld kon oorleef. Per implikasie word selfs die bestaan van ’n persoon met die naam Moses deur wie wonderdade in Egipte plaasgevind het bevraagteken. Uiteindelik is die gedagte dat die Here met Moses gepraat het en die wetgewing vir hom gegee het volgens hierdie teologie vergesogd.

Vir mense wat met hierdie soort uitgangpunte oor die Skrif omgaan, is dit natuurlik geen probleem om met ’n absurde verklaring van byvoorbeeld Lev 18:22 vorendag te kom nie.

* Dieselfde geld vir die teks in 1 Kor 6:9-10. Paulus praat duidelik van manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer.

Die Skrifverklaarders wat die Skrif vervals kry egter wel maniere om die woorde van Paulus te verdraai.

Hulle meen dat die presiese betekenis omstrede is en dat dit nie oor homoseksuele optrede in die algemeen gaan nie, maar oor tempelprostitusie, verwyfdheid of oor pederastie (die gebruik onder die Romeine waar mans ’n seun aangehou het ter wille van seksuele bevrediging). Sien byvoorbeeld die verslag oor homoseksualiteit wat in 2002 voor die Sinode gedien het.

Die betekenis van Paulus se vermaning is duidelik en word eerlik in die Direkte Vertaling weergegee. Die enigste afleiding wat ons kan maak is dat daar teoloë is wat nie wil aanvaar wat geskrywe is nie en met die skyn van geleerdheid die woorde wat daar staan probeer vervals.

2.2 Vasgelooptheid?

Dit is nodig om ’n paar opmerkings te maak oor die standpunt van die Sinode 2019 dat daar soveel onderlinge verskille oor Skrifhantering en Skrifuitleg is dat ons van ’n “vasgelooptheid” moet praat.

Waar kom hierdie “vasgelooptheid” vandaan?  Vanwaar die gewaande onderlinge verskille?

Die Gids verwys ons na sinodale verslae en besluite oor die kerk se amptelike Skrifbeskouing. Ek het weer daarna gekyk en besef waar die “vasgelooptheid” vandaan kom.

Die teoloë wat hierdie verslae opgestel het vind dit moeilik om iets positief oor die Bybel te sê. Hulle skryf oor die Bybel asof dit eintlik ’n problematiese boek is en asof dit baie moeilik is om etiese beginsels vanuit die Bybel te begrond.

Uitdrukkings soos die volgende oor die Bybel kom met eentonige reëlmaat in die verslae voor:

  • Menslike foute in die Bybel.
  • Voldoen nie aan wetenskaplike eksaktheid nie.
  • Maak geen aanspraak op historiese eksaktheid nie.
  • Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen.
  • Skrifbeskouing bly voorlopig en word van tyd tot tyd aangepas met die lig wat beskikbaar is.
  • Dat ’n Skrifbeskouing altyd maar net ’n beskouing is, altyd menslik, altyd feilbaar, altyd voorlopig, altyd veranderbaar, aanpasbaar.
  • Nie ’n boek wat aan ons foutlose informasie verskaf, wat ons dan moet sluk of stik nie.

In die sinodale besluite wat julle aan ons voorhou hoor ons:

  • “ons soek eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer”.
  • Die Algemene Sinode bied hierdie besluite …aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word.

Vertel ons meer Heerden, van julle nederige en ernstige soektog. Is julle soos Pontius Pilatus op soek na die waarheid? God het mos sy waarheid aan ons geopenbaar. Dit is in ons midde en tot ons almal se beskikking.

Ek voel om vir jou en jou span te vra: Waar is die hartlike oortuiging van byvoorbeeld Guido de Bres as hy oor die Bybel skryf? De Bres het in Art 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg oor die Bybel geskryf:

Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

2.3 Ons ervaar nie julle vasgelooptheid nie

Wat “ons” betref Heerden, wil ek sê, ons besef deeglik dat die Bybel nie uit die lug geval het nie, maar ons ervaar nie die problematiek oor die Bybel wat so swaar op julle harte lê nie. Ons ervaar die mense wat die Bybel geskryf en saamgestel het, as “ons” mense.

  • Ons glo soos hulle glo.
  • Hulle God is ons God.
  • Hulle volk is ook ons volk.
  • Hulle Verlosser is ook ons Verlosser.
  • Die geskiedenis waarvan hulle skryf is ook ons geskiedenis.
  • Die toekoms waarvan hulle profeteer is ook ons toekoms.
  • Die kerk waarvan die apostels skryf en leer is ook ons kerk.
  • Die Gees wat in hulle gewerk het is ook dieselfde Gees wat in ons werk.
  • Hulle is vir ons die skare van geloofsgetuies waarvan ons lees in Heb 12:1.

Die mense oor wie julle so meerderwaardig en meewarig praat, is ons in die belangrike opsigte ver voor. Ons word nooit moeg daarvoor om dit wat hulle vir ons nagelaat het, te lees en te oordink nie. God het van die begin af gesorg dat sy groot dade deur hierdie dienaars van Hom op skrif gestel word, sodat óns Hom ook kan ken. Daarom bely ons, dit is die Woord van God vir Kerk en wêreld. Ons lees daarin wat in geen ander boek van die wêreld beskikbaar is nie. Die Bybel is die lig op ons pad en die lamp vir ons voet.

Wat is die probleem Heerden, waaroor julle teoloë sulke lang filosofiese dissertasies skryf en waaroor voortdurend nuwe besluite geneem moet word van die een sinode na die ander? Julle dissekteer die Bybel soos mediese studente, wat met ’n kadawer werk. So sien ek dit as ek die sinlose stellings in die 2002 verslag oor Skrifgesag lees:

  • Sonder interpretasie van die historiese gebeure, is die “feite” op sigself stom.
  • Daarom vertel die Bybel nie maar net feite sondermeer nie, maar wel (on)heilsfeite, dit wil sê feit plus interpretasie.
  • Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid.
  • Na mate die historiese afstand tussen die feit en die tyd van vertolking groter word, neem die feitelikheid dikwels af, terwyl die vertolking toeneem. Soms word dit bykans onmoontlik om tussen feit en interpretasie te onderskei.
  • Die waarheid van die Woord is wel ewig, maar nie tydloos nie. Juis omdat dit ewig is, is dit vir elke tydsgewrig aktueel. Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen.
  • Ens, ens.

3. ’n Kerk waar daar ’n vreemde “energeia” aan die werk is

Die apostel Paulus gebruik die Griekse woord energeia agt keer in sy briewe. In ses gevalle gebruik hy dit om die kragtige werking (energeia) van God in die kerk en die wêreld te verduidelik. Byvoorbeeld:

Fil 3:21: Hy wat ons liggaam van nederigheid sal verander om soortgelyk in vorm aan sy liggaam van heerlikheid te wees, kragtens sy mag (energeia) waarvolgens Hy alles aan Homself kan onderwerp. (DV)

Daarteenoor gebruik Paulus die woord energeia ook twee keer om die kragtige werking van afvalligheid in die wêreld te beskryf:

2 Tess 2: (9)Die een (die wettelose) wie se koms volgens die werking (energeia) van die Satan is, met alle krag en tekens en wonders van valsheid (10)en deur elke misleiding van ongeregtigheid vir dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het sodat hulle gered kan word nie. (11)En daarom stuur God vir hulle die werking (energeia) van die dwaling, sodat hulle die leuen sal glo. (DV)

Ek hou dit aan jou voor Heerden, dat die Storie in julle Gids ’n verhaal van ’n vreemde energeia vertel. Ek sien nie die energeia van Christus in die selfdegeslag verhaal van die NG Kerk raak nie.

Die verhaal wat hom die afgelope drie dekades voor ons oë afgespeel het is ’n verhaal van verwydering en stryd in die kerk. Of julle dit wil weet of nie: Die verhaal wat voor ons oë afgespeel het, is ’n verhaal van manipulasie by sinodes, kerkordelike gekonkel, herhaalde petisies om stemming te werf vir julle saak, maar ook om medegelowiges  wat van julle verskil het verdag te maak. ’n Hofsaak teen die 2016 Sinode-besluit en ’n klag van haatspraak by die Menseregtekommissie is alles deel van hierdie verhaal.

Die verhaal herinner my in hierdie lydenstyd waarin ons, ons nou bevind en terwyl ek skryf, aan die energeia waarmee Kajafas die verhoor van Jesus georganiseer het. Dit was in die nag toe die mense geslaap het. Daar was nie ’n kworum nie. Raadslede soos Nikodemus en Josef van Arimathea was waarskynlik nie teenwoordig nie. Die volgende dag toe die volk die Paasfees gevier het, het hulle eers ontdek dat Jesus aan die kruis hang. So het Kajafas sy bedenklike saak deurgevoer.

Heerden, moet julle nie maar vir julleself erken dat die hele proses wat in die Gids beskryf word deur ’n vreemde energeia gedryf is nie. Ons het niks gesien van die Christelike ideaal wat Paulus in Efesiërs 4 beskryf nie:

(15)Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, (16)en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie (energeia), en so bou die liggaam homself op in liefde.

4. ’n Kerk wat misleidende argumente gebruik (Hand 15)

Heerden, julle hou die apostelvergadering in Handelinge 15 vir ons voor as ’n “baie duidelike voorbeeld van twee groepe wat saamstem om te verskil.” Daarmee wil julle “die kerk gerusstel dat ons 2019 besluit ’n Bybelse manier van besluit is”.

Dit is ’n leuen!

Julle is reg as julle sê die vroeë kerk moes uitsluitsel kry oor ’n baie gewigtige teologiese saak, naamlik of die Christene uit die heidendom ook soos die Jode besny moet word. Daar was Christene uit die Jodendom wat die besnydenis wou handhaaf, ook vir die ander nasies wat in Christus geglo het. Dit was ’n ernstige saak waaroor uitsluitsel verkry moes word.

Die apostels het ’n vergadering in Jerusalem gereël waar die saak intensief bespreek is. Die profesieë in die Ou Testament is nader getrek. Daar is bevind dat God van lankal af beplan het dat die nasies deel van sy volk sou word.

Toe het die vergadering ’n besluit geneem. LW die vergadering het hulle gedistansieer van die mense wat die Christene “verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag ontvang het nie”. Verder het die apostels ’n brief uitgestuur om die besluit van hulle vergadering bekend te maak. Hulle het in die brief verklaar:

“Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.”

Hierdie besluit het ’n waterskeiding in die kerk meegebring. Onder leiding van die Heilige Gees het die kerk finaal afskeid geneem van die Joodse gebruike.

Let op die vermaning wat saam met die brief aan die heidene uitgegaan het. Dit was nie meer nodig om die Joodse gebruike na te kom nie, maar die Christene oor die wêreld moes breek met die heidense gebruike naamlik afgodery en die afgodiese offerpraktyke. Hulle moes ook breek met onsedelikheid wat so kenmerkend van die heidendom was. Op dié manier is vir die toekomstige tye ’n nuwe stempel geplaas op die Christelike lewenswyse in die samelewing.

Nie almal was tevrede met die besluit van die vergadering in Jerusalem nie. Daar was steeds Joodsgesindes wat hulle gebruike aan die Christene wou opdring. Die hele brief van Paulus aan die Galasiërs gaan daaroor. Paulus noem dit ’n “ander evangelie” en bevestig dat dit verkeerd is om jou vertroue op die wet te plaas. Hy voel so strek daaroor dat hy sê: Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman! (Gal 5:12)

Heerden, dit is hieruit duidelik dat die Sinode in Jerusalem nie bloot ’n vergadering was om mekaar se opinies aan te hoor en ’n kompromie te vind oor verskillende standpunte van die gelowiges nie.

As julle vir ons wil sê dat die apostels saamgestem het om te verskil is dit doodgewoon nie waar nie!

5. ’n Kerk wat van iets wat in die oë van God afstootlik is, ’n randsaak maak

By pt 3.3. van die Gids maak julle ’n onderskeid tussen kerngeloof waar ons nie maklik van mekaar kan verskil nie en persoonlike geloof waar ons wel ons eie opinies kan nahou, want dit gaan oor randsake.

In die konteks is dit duidelik dat julle vir ons in die Gids wil sê dat elkeen oor homoseksuele optrede ’n eie opinie kan hê, want dit is ’n randsaak. God kan vir die een sê om selibaat te bly of nie alkohol te gebruik nie, maar dit geld nie noodwendig vir iemand anders nie. Dit is deel van jou persoonlike geloof en is dus ’n randsaak. Die Gids sê: “Ek moet altyd waak dat ek nooit my persoonlike geloof en dit wat God aan my openbaar, verhef asof dit die kern van geloof is en almal dit net so moet hoor en verstaan”.

Is die homoseksuele kwessie in die kerk ’n randsaak vir ons geloof waaroor elkeen sy eie opinie kan nahou of is dit ’n sjibbolet waaroor ons paaie uitmekaar gaan? Dit is die vraag.

Dit is duidelik dat “julle” dit vir “ons” as ’n randsaak wil voorhou en dat dit dus nie nodig is dat ons met mekaar hieroor rusie maak nie. As dit dan ’n randsaak is, waaroor maak julle dan self so ’n bohaai oor die saak? Nelis die moderator het gesê dit is nodig dat regsekerheid oor die saak gekry word en so het hy die groep invloedryke lidmate inderwaarheid gesteun in hulle aksie om met die kerk hof toe te gaan – oor ’n randsaak? Waarom is daar oor jare soveel tyd, energie, beplanning en geld bestee by verskillende sinodes aan ’n randsaak? Die selfdegeslag kwessie was vir dekades die nommer een onderwerp op die sinodes se agendas. Dit klink nie of julle dit self as ’n randsaak beskou het nie.

Daar is egter ’n belangriker vraag op die spel. Dit is die vraag of homoseksuele verhoudings in die kerk vir die Here ’n randsaak is. Kan dit inpas in die heilige lewe waarvoor ons, ons in die kerk moet beywer?

Vir ons is dit duidelik uit Lev 18:22 dat dit vir die Here “iets afstootliks” is as ’n man by ’n man slaap, soos by ’n vrou. Die Hebreeuse woord vir afstootlik is to-eba. To-eba word veral gebruik vir afgodery en erge onsedelike dade.

Dit is interessant dat die voorskrif van die apostels wat vanuit die Jerusalemvergadering na die heidense Christene uitgegaan het spesifiek was om hulle te weerhou van afgodery en onsedelikheid (Hand 15:29). Dit is die sake wat vir die apostels uitgestaan het as dinge wat vir die Here afstootlik is.

Die NG Kerk se Sinode moet dus nou verstaan as daar lidmate is wat ’n afkeur ervaar van homoseksuele optredes in die kerk. Dit is vir ons nie ’n oortuiging wat opkom uit ons historiese of kulturele agtergrond nie. Dan sou ons, ons daarvan kon bekeer, maar ons afkeur is gegrond op ons diepste oortuigings van wat in die Bybel staan. Dit is gegrond op ons vereenselwiging met God, wat Hom in die Bybel geopenbaar het. Hy het sy wil aan ons geopenbaar en ons sal sondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees.

In die NT is die Griekse woord vir onsedelikheid die woord pornos.

Kyk hoe skryf Paulus oor pornos:

1 Kor 5: (9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid (pornos) leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes (pornos) of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik (pornos) of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

In Openbaring 22:15  waarsku Jesus vir oulaas in die Bybel teen die gevaar van pornos. Sulke mense sal nie in die Nuwe Jerusalem toegelaat word nie:

“Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes (pornos), die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen”.

Heerden, ons kan dit dus nie aanvaar as die Sinode LGBTQI+, as ’n randsaak in die kerk aan ons wil voorhou nie.

6. ’n Kerk wat sy eie beeld van God gemaak het

Die Sinodes en die Gids lê in hulle aanbieding van hulle standpunt oor selfdegeslagverhoudinge baie klem op die woorde, liefde, genade,  diversiteit en uiteindelik inklusiwiteit.

Die Gids haal uit die 2007 Sinode se aan:

“Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer moet word”.

2016:

Dat die kerk die plek is waar almal omarm en die genade van Christus ontdek moet word.

2019

Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat: hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

Die klem op Christus se liefde en genade word almeer problematies as die kerk die liefde van Christus inklusief vir alle mense wil maak (2007):

“Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. …. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle behoort op grond van hulle doop en geloof as volwaardige lidmate van die kerk van Christus aanvaar te word. Onder volwaardige lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug”.

In my beoordeling van hierdie soort argumentasie moet ons die vraag vra: Wie is die Christus van wie hier gepraat word? Ons bely mos dat Christus die HERE is. Hy is die God van Israel. Hy is die Een wat Homself in vuur by Sinai geopenbaar het sodat die volk te bang was om in sy teenwoordigheid te kom. Hulle het Moses gevra om namens hulle met God te praat.

Toe die volk die goue kalf gemaak het was dit ’n verskriklik gebeurtenis. Moses het vir 40 dae lank vir hulle ingetree, omdat die HERE so vertoornd oor hulle optrede was en hulle almal wou uitwis (Deut 9:18).

Die HERE het uiteindelik gepraat en gesê:

“Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.” (Eks 34:6-7)

Die God wat vlees geword het, het nie van karakter verander in die NT nie. Hy is steeds dieselfde Here. Sy woorde aan Moses is steeds geldend.

Jesus het Hom vir oulaas in die boek Openbaring aan sy Kerk geopenbaar. Hy het nie verskyn as Jesus van Nasaret nie, maar Hy het vir sy kerk gewys wie Hy werklik is. Hy het as die verheerlikte Christus voor Johannes gestaan. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. Johannes het by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Jesus het gesê:

Dit dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid”.

Dit is die Jesus van Wie ons hier praat. Hy is vol genade,barmhartigheid en ontferming, maar Hy is ook die Een wat vir die gemeente in Pergamum gesê het:

“Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang” (Op 2:14).

Om Jesus eensydig in sy menslikheid te skilder as ’n genadige en liefdevolle persoon, wat almal, ongeag, in sy koninkryk insluit, kom neer daarop om ’n (afgods)beeld van Christus te maak. Ja, ’n Jesus wat in diens moet staan van die NG Kerk en sy Seisoen van Menswaardigheid.

7. ’n Kerk waar hartlike broederskap onmoontlik geword het

Die Gids sê die kerk is ’n “familiebesigheid”, waar ons mekaar aanspreek as “broers en susters”. Ons benodig weer in ons tyd die “sakrament” van die soen (bl 26).

Ons moet egter weer die vraag vra: Wie is deel van hierdie broederskap?

Die Evangeliste vertel van ’n geleentheid toe Jesus se moeder en sy broers en susters met Hom wou praat terwyl Hy besig was om die mense te leer. Hy het vir die skare gesê: “Wie is my moeder en my broers en my susters?” Toe gee Hy self die antwoord: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel” (Luk 8:21).

Waar mense in die kerk dus onwillig is om te handel volgens die woord van God bring dit die broederskap in gedrang. Ongehoorsaamheid aan die Woord van die Here bring eerstens die verhouding met Christus in gedrang, maak ook die onderlinge broederskap. Die Sinode van 2019 ontken dit per implikasie met die besluit dat “die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie”.

Ons het in hierdie tyd te doen met ’n ontnugterende ervaring. Dit is vir ons moeilik en selfs onmoontlik om almal in die kerk as broers en susters te belewe. Dit gaan nie oor persoonlikheidsverskille nie, maar ons ontdek ons praat nie meer dieselfde taal nie. Ons kyk nie meer op dieselfde manier na die Bybel, na God en ons verlossing nie. Ons probeer hard om mekaar soos in die verlede te omhels as broers en Christus, maar ons belewe onegtheid. Ons voel skuldig daaroor, maar ons weet nie hoe om dit te oorbrug nie. Ons was eens kollegas en vriende, maar die afstand tussen ons word al groter. Ons ken mekaar nie meer nie. Ek glo julle ervaar ook die dinge waarvan ek praat.

Daar is die verhaal van Joab en Amasa in 2 Sam 20:9.  Hulle was twee generaals van Dawid. Joab het op Amasa afgestap en vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” Met die een hand het hy Amasa aan die baard gegryp asof hy hom wou soen, maar in sy ander hand was daar ’n swaard, waarmee hy Amasa in die maag gesteek het.

Dit is soos dit nou gaan in die kerk. Ons is veronderstel om saam in diens van die Evangelie te staan,  maar ons kan mekaar nie meer vertrou nie.

By 2016 het die Sinode bely:

  • dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet hierdie soeke in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.
  • dat almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.
  • dat die kerk die plek is waar almal omarm en die genade van Christus ontdek moet word.

Dit is mooi woorde waarmee ons mekaar probeer bluf, maar as ons mekaar nie met die Evangelie kan vertrou nie, kan ons mekaar met niks meer vertrou nie.

Ons kyk terug na dosente wat die opstanding van Christus geloën het en daarmee weggekom het. Ons kyk terug na die kerk wat by verskeie sinodes besluit het dat lidmate nie in die duiwel hoef te glo nie. Ons kyk terug na ’n geskiedenis van leraars wat openlik belangrike leerstellings, soos die maagdelike geboorte en die ewige oordeel bevraagteken het. Die lys is lank en pynlik. Dis moderators en ander leiers in die kerk wat hierby betrokke is.

Ons kan ’n kerk wat sulke dinge onder die voorwendsel van diversiteit doen, nie vertrou nie. Julle wil ons omarm met die een hand, maar in die ander hand is daar ’n swaard!

8. Om saam te vat

Heerden, ten spyte van die moderator se ontkenning in die Kerkbode, is die Gids wat julle opgestel het, ’n poging om die LGBTQI+ besluite van die 2019 Sinode goed te praat. Julle verteenwoordig soos die Gids sê “diegene wat ruimte wil maak vir gelowiges uit die LGBTQI+ gemeenskap om hulle seksualiteit met verantwoordelikheid teenoor God uit te leef”. Net daardie paar woorde is reeds ’n mondvol, maar gaan nie verder hier bespreek word nie.

Die gedagte dat hierdie ’n besluit is “wat dit aan mindere kerkvergaderings oorlaat om in hulle eie konteks en volgens hulle eie Skriftuurlike oortuigings, eie besluite hieroor te neem”, maak nie indruk nie. Julle sê die sleutelwoord is “moedig aan”. Dit maak ook nie indruk nie.

Die teerling is gewerp. Die besluite is onherroeplik en het onvoorspelbare en onheilspellende implikasies voor die gereg vir kerkrade wat in stryd met die Sinode se besluite sou optree. Ons wat nie met hierdie nuwe NG Kerk wil saamgaan nie, sal altyd op die pad vorentoe as liefdeloos, fundamentalisties, kinderagtig of selfs onintellektueel veroordeeld staan. So het leidende figure in die kerk, reeds in die media, uitsprake oor ons gemaak.

Laat ek dit as ’n voetnota net duidelik stel dat ek nie in hierdie Reaksie gereageer het teen die LGBTQI+ gemeenskap as sulks nie. Ek het gereageer oor besluite van die Kerk wat implikasies het vir ons kerklike lewe in terme van die Skrif.

Jan Louw

14 thoughts on “Reaksie op ASM se voorlopige Gids oor homoseksualiteit”

  1. Innig dankie Jan en met groot waardering – – ek besef as ek so lees, dat hier veel gebed en luister en skryf en herskryf agter hierdie omvattende bydrae sit. Mag hierdie boodskap ver en wyd gelees word!

  2. Ds. Jan, baie dankie vir die goeie skrywe.

    Die eienste mense wat die waarheid van die Woord ontken, wil nou die gids voorhou vir ons as goud – Matt. 24 v 23, 35 – maar Jesus het hulle herken toe Hy hulle gesien het Jhn. 8.

  3. Wat ’n deeglike uiteensetting.

    Baie dankie Jan. Jy het daardie Gids deeglik aan die hand van die Woord van God ontleed en deeglik bewys dat dit nie die toets van die Skrif deurstaan nie.

  4. Mooi Afrikaans, goed begronde (debat-) standpunte, be-Gees-terde aanbieding, ’n onvermydelike aanknoping van die stryd om die Siel van die Kerk. Baie dankie, ds. Jan.

  5. Dankie Jan vir hierdie beredeneerde uiteensetting, veral verwysende na Handelinge 15. So maklik kon hier die gedagte gelaat word dat dit reg is om verskillende standpunte te huldig.

  6. Baie dankie vir hierdie deeglike stukkie werk. Die kern bly tog liefde, vir mekaar, vir alle mense, maar veral vir God. Mag ons die waarheid aanhang, en ons naaste lief genoeg hê om hulle met die waarheid te bedien – in liefde, maar sonder die goedpraat van wat God sê verkeerd is!

  7. Uitstekende uiteensetting en formulering van die probleem.
    ‘n Baie goeie bybelse teologie, sowel as sistematiese teologie.
    Mag die Here jou ryklik seen Jan.

  8. Dankie aan ds Jan en elke leraar en lidmaat van die NG Kerk wat vir die waarheid van die Woord van God opstaan!

  9. Oor die leuen van “menswaardigheid”
    1) Mense se waarde lê in die feit dat ons na God se beeld geskape is.
    2) Sonde breek God se beeld in ons. Daarom breek sonde ons menswaardigheid
    3) Seksuele sonde is ook sonde. Dit breek ons menswaardigheid.
    4) Die idee dat die ondersteuning van sondige seksuele praktyke soos homoseks menswaardigheid bevorder is antichristelik, anti-evangelies en demonies. Die goedprating van gay seks (of ENIGE tipe sonde) vernietig menswaardigheid.

    Die alarms moes al toentertyd met die “seisoen van menswaardigheid” afgegaan het. Dit is die drekopbrengs van ongeregenereerde gedagtes.

  10. Uitstekend Jan! Die liefde wat Heerden-hulle voorstaan, is nie die liede van JX nie, maar ’n misleide liefde wat sonde goedpraat. Nêrens in die Bybel (Lewende Woord van God olv die HG), het Jahweh, ons God en Vader dit ooit gedoen nie. Hoe kan ons dit noú wil verander?! Ek bid nog dat daar ’n bekering sal kom.

  11. Isabella Akker.
    Wat ’n waardevolle uiteensetting sonder om die BYBELSE waarhede te verbloem. Sal iemand nog wonder hoekom ons Die Afrikaanse Protestantse Kerk, gestig het? Ek vertrou dat die behoudende lidmate met gebed en smeking hulle antwoorde by God se woord sal vind. Sterkte. Bid vir hierdie predikant wat die moed van sy oortuiging gehad het om die valshede te weerlé. Dit herinner aan ander Bybelse stellings soos dat ‘hulle’ vir ‘hulle’ leeraars sal aanstel wat hulle ‘streel in hulle gehoor’.

  12. Hoe kan ons saampraat as selfs gesê word dat ons saam glo in Art 7 van die NGB. Dan word dit onvolledig aangebied. ’n Halwe waarheid is mos óf erge misleiding óf baie erger as ’n leuen. Dit breek met skynwaarheid die ware eenheid in Christus, Hy is ons eenheid van geloof. Nie mense denke oor Hom nie.
    Hier onder volg die volledige artikel 7. Let op die uiters betekenisvolle weggelate deel, waaroor Guido de Bres gehang is omdat hy nie daarvan wou afsien nie. Die Hervorming as sulks, het immers juis tot die dood toe as ons fondament, voor Skrifgesag gegaan en dus so fundamenteel dat Jesus juis Sy Woorde (die hele Skrif as woorde van die Driëenige God) in Matt 7:15-27. Dit maak Hy self as toetssteen vir dwaalleer en geestelike bou van ons huise.
    Dis dus ’n leuen om te beweer dat ons dit as mensewoorde opsy kan skuif in alles behalwe simboliese mens vertolkings na willekeur. Dis geen wonder dat so ’n siening geen oortuigende Skrifplasings kan gee nie, maar soos Jan aantoon, net mensedenke as nuwe afgod aanhaal.
    En die ou taktiek, hang etikette in elke dokument om jou onweerspreekbare opponent.
    Soos die leuen woord met vals betekenis, nl. homofobie wat telkens voorkom:
    Homo = Latyn vir “mens” soos in homo sapiens.
    Fobie = irrasionele vrees.
    Dus beteken homofobie letterlik “irrasionele mensevrees”.
    Beskuldig die AS dus ons hedendaagse protestante nou ook daarvan. Dis mos ’n leuen. Ons staan vir die Evangelie van Christus soos in HK 1 en verder uit die Skrif opgesom: sonde, verlossing en nuwe lewe van dankbaarheid. Vir alle oortreders van God se Wet daarvan. Ons verwerp dus die arrogansie van beter as God te wil wees, of intellektueel Sy gelyke, of selfs meerdere te wees deur Scientia supra Scriptura deur elkeen self te oordeel wat reg en verkeerd is “elkeen met sy eie waarheid”, ook God?
    Lees maar Satan se oorspronklike strategie met Eva en Adam: bevraagteken God se gesag, Sy woorde en doen wat jy wil teen Sy wil, dan word jy soos Hy. Jy kan dan ook self intellektueel oordeel tussen wat reg en verkeerd is en Hom selfs werrspreek dasroor. Jy sál nie dadelik daardeur sterf soos Hy gesê het nie. Min ateïste sterf dadelik as hy God vloek of slegsê. Hulle wat egter van beter geweet het, sal net erger straf ondergaan.
    Hulle neem dan Skrifgetroue protestante hof toe, of MRK toe voor mense howe , soos God ons in die Skriif verwyt.
    Of hang hom op, net soos die Roomse gedoen het:
    Hulle ban Skrifgetroue protestante wat op die ASM is uit kerklike strukture en uit die ASM, ook tokkelokke wat dwaalleer Skriftuurlik kundig ontbloot: uit alle NGK teologiese fakulteite. Hulle stel selfs nasmlyste op sodat God en ons vir ewig kan sien wie sulke dinge in die Kerk inbring en in die vervolging deel het.
    Hulle bring voor die aardse hof die AS 2016 vergadering en dreig die AS 2019 vooraf met die hof as dit die AS 2016 besluit sou steun.
    ‘n Ander protestant staan tans voor die MRK onder ’n vals aanklag. Sonder ’n poging van die kerk om sy ASM verwante aanklaers tot orde te roep.
    Nes in die Hervorming gebeur het.

    Kyk mooi na wat weggelaat is in die Gids, en wat juis onomwonde uitspel waar die gekaapte NGK nou staan. Vergelyk vanaf my nota in riffelhakies.
    Kyk na die Gids se halwe waarheid aanhaling daarvan as sou dit ons eenheid bevestig. Die weggelate deel spel helder uit waarmee daar juis Skriftuurlik geen kompromie mee moontlik is nie. Dis juis waar ons paaie onherroeplik skei. Aamgesien die NGK sr grondwet gebou is op die Skrif, die belydenisskrifte en AGB, vereis integriteit juis dat as ek nie meer daarmee saamstem nie, ek ander kerk moet soek waar my standpunte hulle belydenisgrondslag is.

    Lig en duisternis meng egter glad nie soos die groot uitgelate deel in duidelike taal wys. Dis alles behalwe ’n randsaak.
    Dis kern waarheid.
    Hoe sal ons God se wil ken sonder Sy onfeilbare Skrif?
    Waarin lê ons gewaande eenheid as dit nie in Christus is nie. Soos Jan hierbo duidelik stel. Jan het ook ontbloot dat feitlik al die NGB stellings oor God verwerp word deur dwaalstrominge in die NGK.
    Kyk maar verder vanaf art 1 tot 37 hieroor.
    Watter artikel word deur die kerkleiding vandag onvoorwaardelik aanvaar?
    Of anders met verantwoordelike Skrifuitleg op kontekstuele eerlike Skrifgesag en Skrif aanhaling as onSkriftuurlik bewys en daarom verwerp?
    Anders het ons mos twee evangelies:
    1. Mensewoorde oor Jesus, die joodjie.
    2. God se self openbaring van Sy goddelikheid en ewige krag soos blyk uit Sy skeppingsdade en Skrif deur Sy Gees, die ooggetuie.
    Rom 1:16-32 word vandag letterlik vervul in die NGK.

    Kyk nou na die volle artikel (volgens die Hervormde Kerk se teksverwysings) oor Skrifgesag soos ons NGK dit nog amptelik het as belydenisgrondslag vanaf sy bestaan.

    NGB Artikel 7:
    Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die
    mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. ^1 {2 Tim 3:16-17}

    {Hiervandaan weggelaat in die Gids.}

    Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig
    beskrywe is, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word nie
    ^1.1 {1 Kor 3: 11; 1 Kor. 15: 1-2; 1 Pet. 1: 11-12} –
    ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê ^2 (Gal 1: 8-11).
    En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat
    ^3 (Deut 6:9; Deut 12:32; Spr. 30:5-6; Gal. 3:15; 1Tim. 1:3; Openb 22:18-19),
    blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak ^3.1 {Ps 19:8-9,12; Ps. 12:7}
    en in alle opsigte volkome is ^3.2 {Deut. 4:6}.
    mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie ^3.3 {Hand. 4:19};
    ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of die opvolging van tye of persone ^3.4 {1 Kor. 8: 6; Ef. 4: 5; Kol. 1:16 – 18},
    of kerkvergaderings of verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel
    nie, want dié waarheid is bo alles ^3.5 {Mark. 7: 7; Hand. 4: 19; Kol. 2: 8; 2 Tim. 4: 3-
    4; 2 Pet. 2: 15-16}.
    Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self ^3.6 (Ps 62: 9 (10); Rom 3: 4; 2 Tim. 4: 3-4).
    Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: : Ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is” ^4 (1Joh 4:1).
    En: “As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie” ^5 (2Joh 1:10).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui