Verantwoording van kritiek teen teologiese leringe van dosente aan die teologiese fakulteit

Die volgende Suid-Afrikaanse teoloë word in hierdie dokument genoem:

  • Prof Adrio König
  • Prof Andrie du Toit
  • Dr. Cornél du Toit
  • Prof Cilliers Breytenbach
  • Prof Dionne Crafford
  • Prof JA Loader
  • Prof Jan van der Watt
  • Prof Johan Heyns
  • Prof Julian Müller
  • Prof Jurie le Roux
  • Dr Johan van Schalkwyk
  • Prof Willem Prinsloo

Ander teoloë:

  • Bavinck
  • Colenso
  • Karl Barth
  • Klaas Runia
  • Norman Shepherd
  • Schaeffer
  • Wolfhart Pannenberg

*********************************

VERANTWOORDING VAN KRITIEK TEEN TEOLOGIESE LERINGE VAN DOSENTE AAN DIE TEOLOGIESE FAKULTEIT AFD B

(UNIVERSITEIT PRETORIA)

IN OPDRAG VAN DIE SINODE VAN DIE NED GEREF KERK WES-TRANSVAAL

CF Heiberg

Oktober 1992

“Maar wat doen we als
de grate leugen heerst?
Als die heerst in de kerk?
Wat doen we? We zeggen: Tolerantie!”

J Kamphuis

You should not be disturbed if the answer
is not that which you expected,
of course, you are seeking the truth
rather than proof of a preconceived
theoretical answer to the original question”

RB Salter

—————————————————-

INHOUDSOPGAWE

  • INLEIDING
  • HOOFSTUK I
  • ‘N TEOLOGIESE PARADIGMAVERSKUIWING IN DIE NED GEREF KERK?
  • 1. Wat word bedoel met die term “paradigmaverskuiwing”?
  • 2. Van die erkenning van voorveronderstellings na die regverdiging van kontekstuele teologie
  • 3. Getuienis van ‘n paradigmaverskuiwing in die teologie van die Ned Geref Kerk
  • 4. Tegnieke waarmee die nuwe paradigma in die Ned Geref Kerk gevestig, en die ou paradigma vernietig word
  • 5. Ten Slotte
  • HOOFSTUK II
  • DIE AANSPRAAK OP ‘ N SOGENAAMDE OBJEKTIEWE, WETENSKAPLIKE TEOLOGIESE BENADERING
  • 1. Die mite van wetenskaplike neutraliteit
  • 2. Die kritiek teen die sogenaamde fundamentalisme
  • 3. ‘n Progressiewe openheid ten opsigte van die nuwe teologie
  • 4. Gevolgtrekking
  • HOOFSTUK III
  • FASETTE VAN DIE SKRIFBESKOUING AAN DIE FAKULTEIT
  • A. DIE BELEIDSTUK “SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK”
  • 1. Geheeloorsig van SS
  • 2. Kommerwekkende tendense in die beleidstuk (SS)
  • 3. Uitsprake van dosente wat in stryd is met SS
  • B. BELANGRIKE TENDENSE AAN DIE FAKULTEIT WAT VERBAND HOU MET SKRIFBESKOUING
  • 1. Eensydige beïnvloeding
  • 2. Die menslike karakter van die Skrif
  • 3. Die historiese karakter van die Skrif
  • HOOFSTUK IV
  • OU EN NUWE TESTAMENT
  • 1. Inleidend
  • 2. Die Ned Geref Kerk se amptelike standpunt oor die historiese kritiek
  • 3. Dosente wat die radikale historiese kritiek positief waardeer
  • 4. Die eenheid van die Skrif aangetas
  • 5. Die historiese gesag (betroubaarheid) van die Skrif aangetas
  • 6. Is die historiese gesag van die Skrif regtig so belangrik?
  • 7. Die normatiewe gesag van die Skrif aangetas
  • 8. Voorspelling en die Messiaanse karakter van die Ou Testament aangetas
  • 9. Prof Jurie le Roux en J W Colenso
  • 10 Prof Cilliers Breytenbach se interpretasie van Galasiërs 3:28
  • HOOFSTUK V
  • DOGMATIEK
  • 1. Inleidend
  • 2. Godsleer
  • 3. Waarheidsbeskouing
  • 4. Die voorsienigheid van God en lyding
  • 5. Die soewereiniteit van God en die uitverkiesing
  • 6. Die versoening van Christus
  • 7. Prof Johan Heyns en die Kodesa-gebede
  • HOOFSTUK VI
  • SENDING, EKUMENE EN GODSDIENSWETENSKAP
  • 1. Wat is ‘n Christen?
  • 2. Oor kerkeenheid en ekumene
  • 3. Prof Johan Heyns oor ikone
  • 4. Prof Dionne Crafford oor die heidense godsdienste
  • SLOT
  • WAT ‘N VERSKUIWING!
  • 1. ‘n Verskuiwing inderdaad, maar wat ‘n verskuiwing!
  • 2. Is daar hoop?
  • BYLAAG I
  • “MEMORANDUM RONDOM ONSEKERHEDE RAKENDE DIE LEER VAN ONS FAKULTEIT” (1988)
  • BYLAAG II
  • “PLEGTIGE LEGITIMASIE VERKLARING”
  • LITERATUUR

—————————————————-

INLEIDING

DIE KRONOLOGLE VAN DIE KONTROVERS EN PROBLEEMSTELLING

1. DIE SESDE SINODE VAN DIE NED GEREF KERK WES-TRANSVAAL, 12 JUNIE 1991

Op Woensdagmiddag 12/6/91 het die Verslag van die Kuratorium van die Teologiese Fakulteit, Universiteit Pretoria, met die volgende aanbeveling voor die Sinode van die Ned Geref Kerk Wes-Transvaal gedien: “Die Sinode neem met dank en waardering kennis van die ywer en toewyding waarmee die dosente die teologiese opleiding en die Kerk in die breë verband die afgelope 4 jaar gedien het en bid hulle die seën van die Here toe” (Agenda:114).

Ek het vir ‘n spreekbeurt gevra en onder meer die volgende gesê:

Sonder om te ontken dat daar ook mooi dinge op die Fakulteit gebeur en ons professore opreg is in hulle arbeid, wil ek net die volgende sê: Ek kan nie hierdie aanbeveling met my hele hart ondersteun nie en wel om die volgende rede: Die teologie aan UP se Fakulteit is myns insiens nie meer konfessioneel gereformeerd nie, maar bevind homself al hoe meer in die vaarwaters van o.a. die humanisme, rasionalisme, religieuse eksistensialisme en pragmatisme. Baie sg. “nuwe teologiese ontwikkelings” is niks anders nie as eeue-oue dwaalrigtings in ‘n nuwe kleed.

… ek roep nederig die Fakulteit, en die Ned Geref Kerk in die algemeen om onvoorwaardelik te buig voor die totale Skrifopenbarig in heel ons leer en lewe. So alleen kan ons God verheerlik.”

‘n Kort debat het gevolg waarin die meeste sprekers heftig teen my uitlatings gereageer het en die voorsiter van die vergadering, dr. Hennie Grobler, my woorde afgemaak het as “growwe veralgemenings” (Beeld 13/6/91). Ek is ook deur die vergadering versoek om my bewerings te staaf en aan die Sinode voor te lê.

Selfs predikante wat my saak goedgesind was het na afloop van die sitting gesê dat ek nie die “koninklike weg” gevolg het, deur die bewerings in die openbaar te maak nie[1]. Om my drastiese optrede by die Sinode te verklaar, gee ek net ‘n kort oorsig van die omstandighede wat daartoe gelei het.

2. ‘N VERKORTE KRONOLOGIE VAN DIE KONTROVERS

Reeds van ons eerste dag in die Fakulteit in 1986 was ek en ‘n paar klasmaats bekommerd oor die geestelike en teologiese klimaat aan die Fakulteit. Ons het gereeld daaroor gesels en gebid en ook besef dat ons voor God medeverantwoordelik gehou sou word, indien ons daaroor sou swyg. Heelparty gesprekke met individuele dosente, asook “botsings” in die klas het hierop gevolg, maar sonder enige sukses.

In April 1988 het prof. Flip van der Watt (die destydse de­kaan), n.a.v. twee morele skokke wat die Fakulteit getref het, ‘n ope en ernstige uitnodiging tot die studente gerig om oor enige saak wat ons mag pla die dekaan se kantoor te besoek. Ons het hierdie kans met albei hande aangegryp en op 21 April 1988 ons eerste besoek aan prof. Van der Watt se kantoor gebring. Ons het op hierdie stadium ons kommer in die algemeen uitgespreek en geen individuele dosent bespreek nie. By ‘n tweede besoek aan prof. Van der Watt se kantoor in Junie, het ons wel die naam van een dosent genoem. In beide gesprekke was ons gevoel dat prof. Van der Watt ons saak bo verwagting goed gesind was en selfs ons kommer gedeel het. Hy het egter gesê dat hy nie in staat is om ‘n waarde oordeel oor ons besware te maak nie en sal daarom vir prof. Johan Heyns vra om ons aan te hoor.

Op 29 Julie 1988 het ons (4 studente) ‘n gesprek met proff. Van der Watt en Heyns gehad. Die gees van die gesprek was merkbaar anders as die vorige twee. Prof. Heyns, wat onder meer gesê het dat hulle groot waardering het vir die feit dat ons ons studies so ernstig opneem, het ons versoek om al ons bewerings op skrif te stel, spesifiek te wees m.b.t. elke dosent wat geraak word, en dit aan die dosenteraad voor te lê. Indien ons sou versuim om dit te doen en voortgaan met ons bewerings, sou ons aangekla word van oortreding van die Negende Gebod. In vrees en bewing is ons uit die kantoor, maar vas oortuig dat ons nie gaan swig nie.

‘n Maand of wat later is ons (“mnr. Heiberg en sy vriende”) na afloop van ‘n Fakulteitsperiode in een van die Universiteit se lesingsale, deur prof. Flip van der Watt versoek om agter te bly. By hierdie geleentheid het prof. Heyns aan ons gevra of ons wil voortgaan om die memorandum oor die Fakulteit op skrif te stel, waarop ons positief geantwoord het. Hierop het prof. Heyns ons gewaarsku dat ons “legitimasie op die spel is”.

Ongeag hierdie dreigement het ons voortgegaan en op 11 Oktober 1988 het ‘n groep van 12 studente wat die memorandum (sien eerste bylaag) onderteken het, ‘n vergadering met die volle dosenteraad gehad. Tydens hierdie vergadering waar prof. Van der Watt die voorsitter was, en waarin ons vanselfsprekend in ‘n mate deur die teologiese kennis van die dosente oorweldig is, was prof. Andrie du Toit die enigste dosent wat hoegenaamd enige aanduiding gegee het dat iets van wat ons wil sê in die memorandum, dalk waar mag wees en ondersoek behoort te word.

Hierna het nog vele gesprekke met dosente gevolg. In Oktober 1989 het ek ‘n beswaarskrif oor die leer aan die Fakulteit by die Sinodale Kommissie van Wes-Transvaal ingedien. Na ‘n gesprek met die dekaan, prof. Willem Prinsloo, aan die begin van 1990, het ek op sy versoek en met die hoop dat daar positiewe verandering sal plaasvind, besluit om die beswaarskrif voor­ waardelik terug te trek (tot groot onsteltenis van kollegas wat die saak gesteun het).

In antwoord hierop het ek ‘n skrywe van die Kuratorium (ged. 8/3/90) ontvang, waarin gesê word dat daar kennis geneem is van van my skrywe (ged. 22/2/90) om die beswaarskrif terug te trek, en sluit dan af met die woorde: “Ons vertrou dat die aangeleentheid bevredigend afgehandel is“! (klem toegevoeg).

In die eerste helfte van 1990 het prof. Heyns die Ring van Krugersdorp besoek. Tydens ‘n byeenkoms van Ringspredikante het prof. Heyns, in hulle teenwoordigheid, kategories ontken dat hy bewus is van enige ongereformeerde of vrysinnige leer aan die Fakulteit. In ‘n skrywe aan die Ring van Krugersdorp rapporteer die Kuratorium intussen ook dat hy homself deeglik vergewis het van die “leersuiwerheid” van die dosente.

Op 1 Mei 1990 het ‘n groep van vyf studente en leraars ‘n gesprek met prof. Pieter Potgieter gehad, oor die aangeleentheid van dwaling aan die Fakulteit van Pretoria, met die hoop dat hy, indien hy “moderator” van die Algemene Sinode sou word, deur sy invloed die vloedgolf van teologiese relativisme in die kerk sou teengaan. Van sy kant af is nie weer iets gehoor nie.

Ons is altyd weer deur die dosente uitgenooi tot gesprek, maar het gou uitgevind dat ons niks daarmee bereik nie. Stadig maar seker het die oortuiging by ons posgevat dat die poorte van die “koninklike weg” prakties gesproke geslote is, ten minste vir die saak wat ons op die hart dra. Intussen het dosente en leraars van die Ned Geref Kerk, van regoor Suid-Afrika – in stryd met die uitdruklike belofte van hulle legitimasie-eed (sien tweede bylaag) – voortgegaan om in die openbaar ongereformeerde en selfs vrysinnige uitlatings te maak in preke, lesings, personderhoude en tydskrifartikels.

Dit is in die lig van hierdie gebeure dat my optrede by die Wes-Transvaalse Sinode verstaan moet word. Ons is geen ander keuse gelaat nie, as om die spel te speel soos ons opponente dit speel. Ons het algaande besef dat, indien ons te lank gaan wag, dit kan gebeur dat die unieke gereformeerde erfenis van ons kerk sodanig uitgewis sal word, dat daar prakties gesproke baie min leefruimte vir ‘n gereformeerde teologie in die Ned Geref Kerk sal oorbly. Drastiese optrede was, en is steeds, dus dringend noodsaaklik.

3. PROBLEEMSTELLING

Tydens die Wes-Tranvaalse Sinode is daar gesê dat my bewerings van ongereformeerde en selfs vrysinnige leer aan die Fakulteit “growwe veralgemenings” is. Ek is ook deur die Sinode versoek om my bewerings te staaf.

Ek hoop om in die volgende hoofstukke aan te toon dat my bewerings nie “growwe veralgemenings” was nie, maar op goeie Bybelse en gereformeerd-teologiese gronde berus. In my studie hieroor het ek egter gou uitgevind dat dit om veel meer gaan as ‘n aantal geïsoleerde uitsprake of beweringe van dosente, wat nie met mekaar verband hou nie. Inteendeel is hier ‘n baie duidelike en bewuste grondverskuiwing in die Ned Geref Kerk se teologie besig om plaas te vind, waarna meer gereeld in akademiese kringe verwys word as ‘n “paradigmaverskuiwing”.

Daarom sal ek in hoofstuk I eers kortliks probeer aantoon wat die terme “paradigma” en “paradigmaverskuiwing” behels, en ook dat daar substansiële getuienis vanuit verskeie oorde is dat so ‘n verskuiwing inderdaad besig is om plaas te vind in die Ned Geref Kerk.

In hoofstuk II tot VI bepaal ek my dan meer spesifiek tot die situasie aan die Teologiese Fakulteit van Pretoria, soos wat die teologiese verskuiwing duidelik sigbaar is in o.a. die algemeen-teologiese benadering aan die Fakulteit (hfst. II), die Skrifbeskouing (hfst. III) en daaruit voortvloeiende in die vakgebiede van Ou en Nuwe Testament (hfst. IV), Dogmatiek (hfst. V) en Sending- en Godsdienswetenskap (hfst. VI).

In die slothoofstuk hoop ek om o.a. samevattend aan te toon wat die volle omvang van die paradigmaverskuiwing behels en dan enkele konklusies daaruit te maak.

Ek maak deurgaans nie net van permanente dosente se woorde en geskrifte gebruik nie, maar ook van enige persoon wat in ‘n tydelike hoedanigheid klas gegee het.

Dit is my opregte bedoeling om geen dosent onregmatig in ‘n swak lig te stel nie. Daarom het ek altyd gepoog om die dosente se woorde en menings eerlik, en getrou aan die waarheid, weer te gee. Indien dit uit hierdie dokument blyk, dat ek enige dosent verkeerdelik weergegee het, of hom verkeerd verstaan het, of onbillike gevolgtrekkings uit sy woorde gemaak het, vra ek nederig on verskoning, en sal ek dié betrokke gedeeltes onverwyld onttrek.

HOOFSTUK I

‘N TEOLOGIESE PARADIGMAVERSKUIWING IN DIE NED GEREF KERK?

1. WAT WORD BEDOEL MET DIE TERM “PARADIGMAVERSKUIWING”?

Die idee van ‘n “paradigmaverskuiwing” is nie net in die natuurwetenskaplike wêreld van vandag dié onderwerp van diskussie nie. Ook in die teologiese wetenskap, en met name die teologie in die Ned Geref Kerk, word dit gebruik as ‘n verklaring van die verandering, of dan verskuiwing, wat oor die afgelope dekade of twee in die teologiese bewussyn van talle Ned Geref Kerk-teoloë en leraars (hetsy bewustelik of onbewustelik) plaasgevind het.

1.1 DIE WETENSKAPS FILOSOFIESE BESINNING VAN THOMAS KUHN

Die natuurwetenskaplike, Thomas S. Kuhn, het(soos ander voor hom) sy rug gekeer op die klassieke wetenskapsbeskouing, wat aan die ideaal van absolute neutraliteit en objektiwiteit wou vashou en dit ook as primêre kriterium vir die geldigheid van alle natuurwetenskaplike onderneming wou stel. “Die wetenskapspraktyk, so reken hy, word nie gelei en beheers deur tydlose en logies kodifiseerbare reëls van ‘n onveranderlike wetenskaplike metode nie” (Rossouw 1981:9), maar deur sosiale en historiese faktore.

Hierdie historiese en sosiale faktore (voorveronderstellings) bepaal die heersende navorsingstradisie (paradigma) wat op ‘n sekere stadium geld, en van waaruit die wetenskapsaktiwiteit plaasvind. “‘n Paradigma is nie ‘n stel duidelik geartikuleerde reëls, beginsels of prosedures nie, maar eerder ‘n verwysingsraamwerk van implisiete aannames waartoe ‘n gemeenskap van ondersoekers hulleself persoonlik verbind het en wat deur hulle as gesaghebbend aanvaar word” (Rossouw 1981:10).

Waarvoor Kuhn veral bekendheid verwerf het en wat vir hierdie hoofstuk van belang is, is wat hy noem “scientific revolution” (Kuhn, 1973:82 e.v.). Hiermee word bedoel die vervanging van ‘n heersende paradigma deur ‘n nuwe een. Dit gebeur wanneer die heersende paradigma nie meer akkumulerende anomalieë en raaisels binne ‘n bepaalde vakgebied bevredigend kan oplos nie, maar ‘n verleentheid vir daardie vakdissipline geword het (vgl Poythress, 1988:47 en Rossouw, 1981:11). “In this situation people are willing to search about more broadly, looking for better solutions. In the process they are willing even to challenge ideas traditionally associated with the existing disciplinary matrix (paradigma)…If the process continues, this new approach generates disciplinary matrix of its own.” (Poythress, 1988:47).

Daar ontwikkel dan ‘n “geveg” tussen voorstanders van die ou paradigma en dié van die nuwe een. Kommunikasie tussen die twee denkskole word selfs later onmoontlik omdat hulle mekaar se voorverohderstellings en data as nie op standaard beskou nie (Poythress, 1988:48).

1.2 ‘N HIPOTETIESE VOORBEELD VAN ‘N PARADIGMAVERSKUIWING

Poythress noem as handige voorbeeld van so ‘n paradigma­ verskuiwing in die teologie, die opkoms van die histories­ kritiese Skrifbeskouing by ‘n bepaalde, denkbeeldige behouden­de teologiese inrigting (1988:61-62).

Aanvanklik sal ‘n kritiese Skrifbenadering nie geduld word nie. Dan volg ‘n tydperk van intense debat wanneer voorstanders en teenstanders van die historiese kritiek mekaar die stryd aansê. Nadat die voorstanders van die historiese kritiek dan die oorhand begin kry, sal teenstanders daarvan van die akademiese personeel begin verdwyn (hetsy of deur aan te pas, of om nie in aanmerking te kom vir vakante poste nie). Die ou paradigma sal toenemend onderwerp word aan ongekontroleerde kritiek, wat gewoonlik gevoer word in die gewaad van sg. wetenskap. Studente sal ook algaande geindok­trineer en selfs gedwing word om in pas te kom met die nuwe Skrifbeskouing.

2. VAN DIE ERKENNING VAN VOORVERONDERSTELLINGS NA DIE REGVERDIGING VAN KONTEKSTUELE (SPEKULATIEWE) TEOLOGIE

In die lig van die voorafgaande, maar veral ook van die opkoms van die nuwe hermeneutiek, het daar in die teologiese wêreld van die twintigste eeu ‘n belangrike ontdekking plaasgevind.

2.1 DIE NUWE HERMENEUTIEK

Dit is dié ontdekking dat verskeie faktore (persoonlike, kulturele, sosiale en wêreldbeskoulike faktore) ‘n bepalende rol speel by ‘n persoon se lees van die Skrif, sodat (so word daar gesê) elkeen die Bybel as “‘n kind van sy tyd lees” en daar dus nie sprake kan wees van ‘n objektiewe lees van ‘n bepaalde teksgedeelte nie[2]. Die somtotaal van hierdie faktore word genoem ‘n persoon se voorveronderstellings, of dan om Kuhn se taal te gebruik, sy paradigma.

In ‘n sekere sin is hierdie ontdekking niks nuut nie, aangesien Gereformeerde denkers (soos Dooyeweerd en Kuyper) reeds van vroeg in hierdie eeu dit dikwels as hulle belangrikste opdrag gesien het om “aan te tonen dat het theoretische denken niet autonoom is, maar door religieuze grondmotieven wordt gedreven” (Veling, 1988:7). Cornelius van Til het in die Verenigde State soortgelyke baanbrekerswerk op dié gebied gedoen. Hy skrywe tereg (Van Til, 1963:101):

“To admit one’s own presuppositions and to point out the presuppositions of others is therefore to maintain that all reasoning is in the nature of the case, circular reasoning. The startin point, the method, and the conclusion are always involved in one another.”

2.2 DIE NUWE HERMENEUTIEK NOG GEEN BONDGENOOT VIR DIE GEREFORMEERDE TEOLOGIE NIE

Daar is egter ‘n belangrike verskil tussen die ontdekkings van die nuwe hermeneutiek en Kuhn aan die een kant, en die klassieke gereformeerde apologetiek aan die ander kant. Soos Veling (1988:9) tereg sê moet ons nie te gou opgewonde raak oor die insigte van die hedendaagse hereneutiek nie. Alhoewel die geloof in ‘n outonome wetenskap, in die toonaangewende filosofiese kringe, nie meer populêr is nie, beteken dit nie dat die gereformeerde gelowige nou sommer ‘n bondgenoot in die nuwe hermeneutiek gevind het nie

Inteendeel, “…er blijkt al gauw een nieuwe tegenstelling” (Veling, 1988:10). Die moderne filosofie, en by name die nuwe hermeneutiek, ag die verskillende uiteenlopende voorveronderstellings heeltemal relatief. Hulle verander maar soos die geskiedenis verander (historisme). Geen normatiewe onderskeid word getref tussen ‘n konsekwent Bybelse lewens-en wêreldbeskouing aan die een kant, en ‘n lewens- en wêreldbeskouing vanuit een of ander humanistiese raamwerk aan die ander kant nie. Die nuwe hermeneutiek bevind homself dus nog steeds in die diep swart see van die relativisme.

2.3 DIE ANDER UITERSTE: KONTEKSTUELE TEOLOGIE

Alhoewel ‘n mens dankbaar is dat die nuwe hermeneutiek en Kuhn die hedendaagse filosofie en wetenskap wakker geskud het uit hulle lang winterslaap van logiese positivisme, en hulle nou die onomstootlike feit van die rol van voorveronderstellings/paradigmas/verwysingsraamwerke (wat m.i. altyd maar weer neerkom op religieuse grondmotiewe) insien, het die nuwe hermeneutiek (a.g.v sy opstand teen die Bybel as geïnspireerde Woord van God) die teologie nou in ‘n nóg groter ellende gedompel, nl. in die irrasionalistiese en spekulatiewe kontekstuele teologie.

Die voorveronderstellings (konteks) van die teoloog is nou amptelik as ““wetenskaplik” geheilig. Hy kan nou maar voortgaan… Die leser kan nou, amper na willekeur, betekenis in die teks van die Bybel inlees vanuit sy eie konteks, want, so het Gadamer ons geleer (Veling, 1988: 12-13), die horison van die teks en die horison van die leser versmelt sodat die “waarheid” dan ““gebeur”. Om die Bybel te lees en te inter- preteer vanuit ‘n eksistensialistiese, panteïstiese, Marxistiese, feministiese, homoseksualistiese, kapitalistiese, rassistiese of watter ander vreemde vertrekpunt, kan nie meer per se as oriskriftuurlik en onwetenskaplik afgemaak word nie.

Dit bring ons in die boesem van spekulatiewe teologie, want die gronde waaraan hierdie teologie getoets kan word, ontbreek. Dit is daarom nóg teologie, nóg wetenskap (vgl Stoker, 1941:268).

3. GETUIENIS VAN ‘N PARADIGMAVERSKUIWING IN DIE TEOLOGIE VAN DIE NED GEREE KERK

Verskeie skrywers het al regstreeks of onregstreeks verwys na ‘n paradigmaverskuiwing in die teologie van die Ned Geref Kerk.

Enkele voorbeelde dien as illustrasie:

* Prof. JJF Durand (1988:122) skrywe: “…from the beginning of the 1930s to the end of the 1950s, Barthian theology had such a formidable opponent in Kuyperianism that it was never able to obtain a firm foothold in the field of Afrikaner theological thinking. The reasons for this are not too difficult to find.

First, Barth’s theology was regarded as suspect because his views on Scripture did not conform to the orthodox Reformed standpoint generally accepted in South Africa during those years… It was only as late as the 1960s, and particularly in the 1970s, that the Barthian resistance… began to take hold among young Afrikaner theologians and new thoughts with a definite Barthian flavour made significant inroads into the debate on church and society.

… During the same period a further development in theology compounded the problem. A new awareness of the hermeneutical problems involved in interpreting a text within a given situation came to the fore – in this case the question of whether theologians drawing on the Bible can make meaningful pronouncements about any subject, given the historical gap between biblical times and the present.”

* Die Nederlandse dogmatikus, Hendrikus Berkhof skryf[3] in die voorwoord tot ‘n boek van ar. Adrio König: “…König is among those theologians in South Africa who are attempting to break away from a traditional fundamentalist approach to the Bible typical of an older Dutch generation raised on the neo-Calvinism of Abraham Kuyper.

“…Berkouwer… drew, particularly during the second os half of his professorship, very near to Barth. Many brilliant Afrikaner students sat at his feet…

“…the influence of Berkouwer and other leading Netherlands theologians has broadened the outlook of the younger generation of Afrikaner theologians, who occupy several of the chairs of theology in South Africa. They are no longer satisfied simply to repeat what a previous generation of Netherlands theologians have said” (Berkhof, 1982:viii).

Hierby kan nog genoem word –

* die brief van prof. Louis Heyns in “Die Kerkbode” (29/11/91) waarin hy praat van ‘n verskuiwing wat oor die laaste jare in die teologiese denke van die Ned Geref Kerk plaasgevind het

* prof. Ferdinand Deist (1991:372) wat skrywe van ‘n “ommekeer” in die Skrifuitleg van die Ned Geref Kerk sedert die sewentigerjare

* dr. L van Deventer (Kerkbode 19/1/90) wat praat van “‘n verskuiwing in Skrifbeskouing en Skrifgebruik” (vgl Van Deventer en König, 1989:310), waarsonder die toelating van die vrou tot die amp van ouderling en leraar in gereformeerde kerke ondenkbaar sou wees

* dr. JA Laubscher (1987:238) wat skrywe dat daar binne ‘n dekade “’n baie betekenisvolle liturgiese verskuiwing plaasgevind het vanaf ’n strakheid en voorskriftelikheid na meer vryheid, spontaneiteit en kreatiwiteit – veral ten opsigte van die aanddiens”

Die teologiese verskuiwing is m.i. ook nog te staaf uit die Ned Geref Kerk se duidelike wegbeweeg van die Calvinisties-teologiese posisie van die Gereformeerde Kerke, in die rigting van die merendeels neo-ortodokse teologiese posisie van die Nederduitsch Hervormde Kerk, asook in die positiewe herwaardering van die teologie van die tradisioneel- ongereformeerde Teologiese Fakulteit van Unisa.

3.1 DIE VERSKUIWING BY PROF GC BERKOUWER

Soos reeds gesien uit die aanhalings van Berkhof hierbo, het die verskuiwing in die Nederlandse gereformeerde teologie, en by name by GC Berkouwer – aan wie se voete “brilliant Afrikaner students” gesit het, waarvan heelparty teologiese dosente geword het (vgl. Bakker, 1973:299-300) – ‘n belangrike rol gespeel in die teologiese verskuiwing in die Ned Geref Kerk. Ter wille van illustrasie wil ek kortliks hierby stilstaan.

Berkouwer het sodanig in fundamentele aspekte van die gereformeerde teologie verander dat Van Til gemaklik kan praat van ‘n “umkehr at Amsterdam” (Van Til, 1977:35); Hendrikus Berkhof kan praat van “the second half of his professorship” (Berkhof, 1982:viii) en prof. Johan Heyns kan onderskei tussen Berkouwer se vroeëre “sterk apologetiese” houding jeens Barth, wat later verander het in ‘n “heel nuwe, wel kritiese maar tog waarderende houding…” (JA Heyns, 1971:11).

Waarin het Berkouwer verander? Sonder om daarop in te gaan wys ek op die hoofaspekte van Berkouwer se verskuiwing ­

* teologies gesproke het Berkouwer wegbeweeg van die historiese gereformeerde posisie van Herman Bavinck, en beweeg in die rigting van Karl Barth en die neo-ortodok­sie (Van Til, 1977:46, vgl ook Berkhof, 1982)

* wat sy Skrifbeskouing betref wou Berkouwer gróter reg laat geskied aan die menslike en historiese karakter van die Skrif, as wat die gereformeerde teoloë van vroeër sou gedoen bet, (hulle sou volgens die latere Berkouwer die goddelike karakter van die Skrif oorbeklemtoon) (Van Til, 1982:40- 46, Krabbendam, 1980:421-426, Van Deventer en König, 1989:304)

* wat die uitverkiesing betref verwerp Berkouwer die kousale raamwerk van Dordt waarvolgens God alles laat gebeur volgens die raad van sy wil, vir ‘n benadering wat groter reg wil laat geskied aan die sg. ware doksologiese bedoeling van Dordt (Conn, 1973:142, Kamphuis, 1968: 23-24, Van Til, 1977:39-40)

* wat Rome betref het die latere Berkouwer sy vroeëre apologeties-kritiese houding laat vaar vir ‘n meer waarderend-kritiese benadering (Van Til, 1982, JA Heyns, 1971:11).

Hiermee is m.i. nog nie gesê dat Berkouwer nie nog groot waarde as gereformeerde teoloog het nie. Dit dien egter wel as duidelike parameters wat die verskuiwing in die teologie van die Ned Geref Kerk sou kon aandui.

4. TEGNIEKE WAARMEE DIE NUWE PARADIGMA IN DIE NED GEREF KERK GEVESTIG, EN DIE OU PARADIGMA VERNIETIG WORD

Hieronder noem ek enkele tiperende tegnieke waarmee die teologiese revolusie dikwels gevoer word.

(Deur die loop van hierdie dokument sal dit aan die leser duidelik word hoe algemeen hierdie tegnieke in argumente van die nuwe paradigma funksioneer. Aangesien enige wetenskaplike, ten minste somtyds, daartoe geneig is om hierdie tegnieke te gebruik, sal dit deurgaans my eerlike voorneme wees om dit te vermy.)

4.1 DIE MITE VAN DIE MODERNE MENS

Een van die mees algemene en effektiewe tegnieke wat deur voorstanders van ‘n nuwe teologiese paradigma in die Ned Geref Kerk gebruik word, is die voorwendsel dat daar so ‘n groot afstand ontwikkel het tussen die Bybel en sy boodskap enersyds, en die mens van vandag andersyds, dat die boodskap van die Skrif noodgedwonge herinterpreteer en selfs ontmitologiseer moet word – indien ons enigsins hierdie “moderne mens”, of dan die mens van die twintigste eeu (vgl. Heyns, 1971:35), van die tegnologiese- en ruimte eeu, wil bereik. Eintlik kom dit maar daarop neer om die evangelie aan te pas by die mens, in plaas van anders om.

Die vraag is egter : wie is hierdie moderne mens? Is daar so ‘n mens? M.i. lê die probleem daarby dat hier nie meer in ‘n Bybelse sin onderskei word tussen die natuurlike mens en die Geestelike mens nie. Die natuurlike mens het nog altyd ‘n probleem gehad om in wonders te glo (vgl. Linnemann, 1990:73), om voor die eise van die evangelie te buig (II Tim.4:1-4), of om die Bybelse leer van die uitverkiesing te aanvaar (vgl. Luther, 1982:xxiv)[4] In die woorde van Paulus neem die natuurlike mens “die dinge van die Gees van God nie aan nie, want dit is vir hom dwaasheid” (I Kor.2:14). Eta Linnemann (1990:75) wys ook treffend daarop dat die “moderne” ongelowige Duitser dieselfde bygelowe het as die mense van die heidendom of van die middeleeue.

Vanweë ‘n gebrek aan Bybelse standaarde en tug binne die tradisionele kerke, is groot getalle “natuurlike mense” oor die verloop van dekades “verchristelik” sonder dat hulle waarlik deur die Gees van God wederbaar is. Hierdie “moderne” mense, wat seker al maklik die oorgrote meerderheid van die lidmatetal van hierdie kerke uitmaak, marsjeer nou, in die mondering van hul dikwels materialistiese, hedonistiese, en pragmatistiese lewensuitkyk na die troon van God, met hulle eise dat Sy Woord by hulle sal aanpas.

4.2 MANIPULASIE VAN DIE GESKIEDENIS

‘n Ander baie effektiewe tegniek is om die geskiedenis te manipuleer (vgl. Schaeffer, 1985:89-90), sodat dit sê wat jy wil sê, en sodoende morele steun vir jou saak te verwerf. Vir die nuwe teologie is dit geen etiese probleem nie, aangesien dit bloot beskou word as “herinterpretasie” van die geskiedenis.

Een van die beste voorbeelde van die gebruik van hierdie tegniek in die Ned Geref Kerk is die manipulasie van Calvyn (sien hfst. III en VI), waardeur Calvyn o.a. gebruik word om die moderne ekumeniese beweging te regverdig in gereformeerde kringe. Hierdie soort van oefening, wat neerkom op akademiese oneerlikheid of andersins ten minste op onkunde, kan slegs onderneem word in ‘n milieu waar die geskiedenis (in hierdie geval van die Reformasie) relatief onbekend is. So ‘n milieu is deesdae nie te moeilik om te vind nie, selfs nie onder ampsdraers van die Ned Geref Kerk nie.

4.3 SKULDGEVOELENS DEUR MIDDEL VAN ASSOSIASIE

Nog ‘n tegniek wat uiters geslaagd is in Suid-Afrika, vanweë ons land se politieke geskiedenis, is om iemand skuldig te laat voel oor sy oortuigings deur dit onregmatig te koppel aan een of ander sosiale taboe.

So bv. word die historiese gereformeerde posisie dikwels onregmatig geassosieer en selfs gelyk gestel met die politieke ideologie van apartheid. Hiermee word egter nie ontken dat Afrikaner gereformeerdes in die verlede, hulle teologiese erfenis kon misbruik en verdraai het tot ‘n soort “Boere­ Calvinisme” (vgl. Deist, 1991:369-371) nie.

Die gelykstelling van die histories-gereformeerde teologie met apartheid is egter m.i. een van die primêre redes waarom die nuwe teologiese paradigma (anders as bv. in Noord-Amerika, Nederland en Australië) so min teenstand hier ondervind.

‘n Ander goeie voorbeeld van hierdie tegniek, was om – in die debat oor die vrou in die amp – teenstanders daarvan uit te maak as mense wat sosiaal veragter het, omdat hulle nie tred hou met veranderinge nie, of om hulle selfs subtiel te beskuldig van chauvinisme[5].

Saam met hierdie tegniek van skuldgevoelens deur assosiasie, gaan ook dikwels die mentaliteit van “isolation is death” of “change or perish”.

4.4 VALSE TEENSTELLING

‘n Ander tegniek wat taamlik algemeen in die teologiese revolusie gebruik word, is dié van valse teenstelling.

Omdat die opponent(e) se standpunt(e) in sulke ekstreme en oordrewe terme (dikwels ook simplisties) geskilder word, is die eie standpunt altyd die enigste “redelike” alternatief. Hierdie tegniek kom, net soos die vorige twee, neer op niks minder nie as wetenskaplike oneerlikheid.

5. TEN SLOTTE

Prof. JA Heyns (1971:34) het reeds twintig jaar gelede, i.v.m die belang van die teologiese verskuiwing in Nederland vir die Ned Geref Kerk, geskrywe: “… hier aan ons eie teologiese inrigtinge, in ons eie taal en handboeke, moet hulle (ons teologiese studente) deeglik en intensief deur ons self, in die moderne denke ingelei word“.

Wat presies het prof. Heyns destyds met hierdie woorde bedoel? Uit die konteks waarin dit geskrywe staan, is dit vir my nie duidelik nie. Die geskiedenis het ons egter in die twintig jaar wat op sy woorde gevolg het (soos ons in die volgende hoofstukke sal sien), wel deeglik geleer wat die volle implikasie daarvan sou behels.

HOOFSTUK II

DIE AANSPRAAK OP ‘N SOGENAAMDE OBJEKTIEWE, WETENSKAPLIKE TEOLOGIESE BENADERING

1. DIE MITE VAN WETENSKAPLIKE OBJEKTIWITEIT

Ondanks die feit dat ‘n positivistiese wetenskapsbenadering aan die Teologiese Fakulteit amptelik vaarwel toegeroep is, is ‘n innerlike teenstrydigheid verraai deurdat dosente meermale gesê het dat dit die Fakulteit se eerlike voorneme is om die teologie onbevange en “sonder oogklappe” te benader. Die mite van wetenskaplike neutraliteit leef dus, teen alle verwagtinge in, voort onder ons teoloë!

Hoewel ek self nie hierdie kennisteorie (van wetenskaplike neutraliteit) deel nie, het dit male sonder tal geblyk dat die dosente self net lippediens aan dié teorie en voorneme bewys het.

Dit is veral duidelik geïllustreer deur die meeste dosente se kritiek teen die “fundamentalisme” aan die een kant en ‘n openheid teenoor die teologie van die nuwe paradigma aan die anderkant. Hier is dus slegs sprake van ‘n baie selektiewe openheid. ‘n Digte oogklap oor die teologiese “regter-oog”, maar geen hindernis voor die teologiese “linker-oog” nie. Van ‘n objektiewe, wetenskaplike teologiese benadering, soos die dosente vir hulleself ten doel gestel het, was daar m.i. weinig sprake van. Daar was eerder, oor die algemeen, ‘n baie duidelike eensydige beïnvloeding.

As ‘n mens in ag neem dat ons studente opgelei word vir ‘n gereformeerde kerk, wat in ‘n gereformeerde teologiese tradisie behoort te staan, is dit vreemd dat nie ‘n enkele bladsy uit die grondlêers van hierdie teologiese tradisie soos veral Calvyn[6] en Herman Bavinck aan ons voorgeskryf is nie, terwyl omvangryke werke uit die nuwe paradigma voorgeskryf is.

‘n Kursoriese kyk na die geraadpleegde bronnelyste van die meeste resente boeke en tydskrifte van ons teoloë verraai ook ‘n duidelike eensydigheid. Hier en daar duik nog ‘n behoudende Nederlandse outeur op. Oor die groot volume resente wetenskaplike werke uit die Engelstalige gereformeerde wêreld is daar egter ‘n byna totale stilswye. Dit is ‘n interessante verskynsel, veral as daarop gelet word dat juis baie van hierdie versweë literatuur die wysgerige voorveronderstellings, asook argumentasie van die neo-liberalisme ontbloot en dus aan enige toegewyde student substansiële teenargumente sal gee. Dit word egter van hom weerhou.

Alhoewel daar soms ook formeel gewaarsku is teen liberaal­ teologiese invloede, was die stryd teen die sg. fundamentalis­me op ‘n baie hoër frekwensie en in groter intensiteit en emosie.

Dit gaan m.i. nie hier om die vraag of teologiese studente ook blootgestel moet word (vgl. Du Toit, 1988:19) aan ander teologiese invloede behalwe hulle eie konfessionele[7] posisie nie. Daarmee is na my mening geen fout te vind nie, solank dit binne hulle eie konfessioneel-teologiese raamwerk geskied, sodat tersaaklike afwykings konsekwent aangetoon kan word. So ‘n oefening kan alleen maar die student se apologetiese vermoëns verhoog, wat baie noodsaaklik is.

2. DIE KRITIEK TEEN DIE SOGENAAMDE FUNDAMENTALISME

Die belangrike vraag is: Wat word verstaan onder “fundamentalisme”? Ek kan my nie herinner dat ‘n dosent ooit probeer het om hierdie begrip te presiseer en te definieer nie. Dit het in die algemeen voorgekom asof daar ‘n teologiese veldtog is teen alles wat nog as “gereformeerd” en “behoudend” geklassifiseer kan word.

Volgens sekere bronne is die volgende sake, persone en kerke vandag al geëtiketteer as “fundamentalisties”: almal wat getuig van heilsekerheid, almal wat glo in ‘n ses-dag skepping, alle voorstanders van verbale inspirasie, alle teenstanders van die vrou in die amp, die Ned Geref Kerk voor die laat sewentiger-jare, die Christlike Gereformeerde Kerk van Nederland se 1968/9 Sinode, die Christian Reformed Church nog in 1984, die Sinodale Kommissie van die Ned Geref Kerk Wes-Transvaal in 1986, die Gereformeerde Kerke (SA), Jay E Adams, Herman Bavinck, Totius, Abraham Kuyper, BB Warfield en ekself!

Ek haal vervolgens enkele voorbeelde aan waarin behoudende standpunte en selfs standpunte wat bekend gestaan het as “gereformeerd” nou onder ernstige verdenking geplaas word.

* Prof. Andrie du Toit oor die fundamentalisme.

As ‘n ontleding gemaak word van prof. Du Toit se artikel “Fundamentalisme” (Beeld 26/11/91) dan val sy onregverdige oordeel oor sekere sake m.i. duidelik op:

(i) Die Amerikaanse teoloog BB Warfield word deur prof. Du Toit as ‘n fundamentalis beskou, terwyl niemand minder as Herman Bavinck (GD.I:179) nie, van Warfield en sy kollegas (soos Geerhardus Vos[8] en Dick Wilson) kon skrywe “het seminarie van de Presbyteriaansche kerk te Princeton … bezit … een uitnemend stel van professoren… de Gereformeerde positie met eere handhaaft“.

Bavinck had ooglopend ‘n ander dunk van dié sg. fundamentaliste. Miskien is Bavinck nou self ‘n fundamentalis!

(ii) Volgens prof. Du Toit is die volgende standpunte, wat tradisioneel deur gereformeerde teoloë gehandhaaf is, nou fundamentalisties:

* Om die evangelies (nie noodwendig “geweldadig” nie) met mekaar te harmonieer. Dan is Calvyn (New Testament Commentaries – A harmony of the gospels, 1978), EP Groenewald (Handboek Bybelse geskiedenis – Die Nuwe Testament, 1978) en dr. Jakob van Bruggen (Christus op aarde, 1987) van Kampen dan seker ook fundamentaliste.

* Om Genesis 1-3 te verstaan as “die skepping van ons wêreld in sewe dae“[9].

* Om die standpunt o.g.v. die Skrif te handhaaf dat ‘n vrou nie in die erediens mag leer nie.

(iii) ‘n Ernstigste beswaar teen prof. Du Toit se artikel is sy metode. Deur tradisionele gereformeerde stand­punte oor dieselfde kam te skeer as Amerikaanse pre­-millenialisme en wettisisme, wek prof. du Toit klaar­blyklik ‘n skuldgevoel by gereformeerdes d.m.v. assosiasie (Kreitzer:14).

* By geleentheid het ‘n student vir prof. Attie Barnard genader oor ‘n moontlike onderwerp vir sy BD skripsie. Hy wou graag skrywe oor die apologetiek van Cornelius van Til en die betekenis daarvan vir die prediking. Prof. Barnard se kommdentaar was, verwysende na o.a. Van Til, dat die Amerikaanse teologie oppervlakkig en dus nie die moeite werd vir ‘n skripsie is nie!

* By ‘n ander geleentheid het prof. Pierre Berthoud van die gereformeerde teologiese inrigting by Aix en Provence (Frankryk) een van ons sendingklasse toegespreek oor hulle werk in Frankryk. Berthoud het daarop nadruk gelê dat hulle Calvinisties wil wees, en beklemtoon dat hulle ortodokse Katolieke in Europa as sendingobjekte beskou en nie as evangeliese gelowiges nie. Hy het ook opgewonde vertel dat Calvyn se kommentare nou weer algemeen in Frans beskikbaar gestel word.

Na afloop van sy besielende praatjie het prof. Carel Boshoff in die teenwoordigheid van Berthoud, maar in Afrikaans gesê: “Ons moet net onthou, hulle is nog nie teologies so ver ontwikkeld as wat ons is nie.”

* Prof. Jurie le Roux wat aan ‘n groep van ons studente erken het dat hy “die kettings van die gereformeerde dogmatiek” van hom afgegooi het, skrywe o.a. soos volg oor die gereformeerde teologie: “Binne die gereformeer­de lewe is daar maar telkens die geneigdheid om eksklusief te werk te gaan. Daarmee word bedoel dat sekere metodes of benaderings as strydig met die gesag van die Skrif beskou word en dan doelbewus vermy word…” (Le Roux, 1988:60).

* Prof. Julian Müller het by geleentheid, tydens ‘n besoek aan sy huis in 1988, my oortuiging dat Adam en Eva historiese persone was, as belaglik beskou (sien ook hfst.IV).

* Sedert my BD I jaar het dit my ook opgeval hoedat daar soms gespot is met die Gereformeerde Kerke se kweekskool en teoloë. Selfs die Teologiese Fakulteit van UOVS is soms as teologies-nie-op-datum beskou.

Hierdie is slegs enkele voorbeelde om te toon dat die Fakulteit wel met “oogklappe” aan werk, al is dit dan net t.o.v. die sg. fundamentalisme.

2.1 BIBLISISTIESE SKRIFGEBRUIK DEUR DOSENTE

Iets wat gewoonlik gepaard gaan met egte fundamentalisme is ‘n biblisistiese Skrifgebruik. Daarop is die studente meermale, met reg ook, attent gemaak. Dit is egter ironies hoedat som­mige dosente soms self in die strik van biblisisme trap.

* Tydens die debat oor die vrou in die amp van die 1990 Algemene Sinode het prof. Attie Barnard as argument daarvoor Hand. 18:26 gebruik.

* In dieselfde debat het prof. Johan Heyns die argument gebruik dat vrouens die eerste getuies[10] van die opstanding was.

In sy artikel “Is Vigs straf op die sonde? (Voorligter 9/91) gebruik prof. Julian Müller Joh. 9:2-3 om aan te toon dat Jesus “volstrek geweier het om ‘n direkte verband te trek tussen ‘n mens se siekte toestand en sy skuld“.

‘n Mens sou tereg kon vra: wat dan van tekste soos: Deut. 28, Joh. 5:14, Hand. 12:21-23, I Kor. 11:29-30, Jak. 5:16 en Open. 2:21-22 wat dui op die teendeel?

Prof. Piet Meiring misbruik (soos talle ander) Luk. 2:14 as sou dit handel oor wêreld- of politieke vrede, as hy vra: “Waar’s die vrede op aarde?” (Voorligter 12/90)

Wanneer daar oor kerkeenheid en ekumene gepraat word, is die misbruik van die Skrif al so algemeen dat dit byna as normaal aanvaar word. Sekere tekste (bv. Joh. 17:21-23) en beginsels word verabsoluteer ten koste van die onmiddellike konteks en ander ewe belangrike beginsels. Op hierdie wyse word die klem sodanig op “eenheid” geplaas dat die heiligheid en klassieke katolisitiet van die kerk in die proses ernstig in gedrang kom. Boonop vind dit alles plaas onder die vaandel van “gehoorsaamheid aan God” (sien hfst.VI).

3. ‘N PROGRESSIEWE OPENHEID TEN OPSIGTE VAN DIE NUWE TEOLOGIE

3.1 INLEIDENDE OPMERKINGS

Die “nuwe” of “post moderne” teologie het sekere duidelike onverhandelbare vertrekpunte­-

* om wetenskaplik-akademies geloofwaardig te wees

* om sosiaal-polities relevant te wees

* om ten alle koste progressief ontwikkelend (en nie staties) te wees

* om in die ruimste sin van die woord ekumenies te wees.

Al vier hierdie vertrekpunte word gedefinieer vanuit ‘n spesifiek humanisties-filosofiese verwysingsraamwerk (paradigma) waarin o.a. die eenheid, en daarom ook die normatiewe gesag van die Skrif ontken word en die antitese tussen geloof en ongeloof, waarheid en onwaarheid algaande opgehef word. Horisontaal -medemenslike verhoudinge kry ook die eerste prioriteit terwyl die vertikale God-mens verhouding verder af op die rangorde geskuif word.

Karl Barth, die teoloog wat aan die Fakulteit soveel kritieklose verering ontvang, word deur Hans Küng (1991:271) as die “main initiator of a ‘post modern’ paradigm in theology” beskou.

Die gereformeerde teologie was in die verlede nog altyd in ‘n groot mate geisoleerd vanweë sy intensie om konsekwent Bybels te wil wees. Hierdie isolasie was egter ook sy krag. In die Nederlandse gereformeerde wêreld, waar die paradigmaver­skuiwing sy eie unieke karakter dra, wou dit ‘n einde bring aan hierdie isolasie. Prof. JA Heyns (1971:12) gee hieronder ‘n oorsig oor die volle impak van die verskuiwing of “vernuwing” in die Nederlandse gereformeerde teologie. Hierdie verskuiwing skryf hy “is nie net tot die teologiese terrein en met name die dogmatiek, etiek en eksegese beperk nie, ook in die praktiese kerklike lewe en die breëre maatskaplike lewe, is daar m.b.t. die tradisioneel-Gereformeerde standpunt fundamentele verskuiwinge aan die gang. M.b.t. talle sake word nou nuwe vrae en nuwe antwoorde gegee en gaan die gevoelens inderdaad uiteen. Om enkeles daarvan te noem: Skrifgesag, skepping, evolusie, uitverkiesing, kerk en ekumene, belydenis en die aard van die gebondenheid daaraan, die historisiteit van Adam en Eva, die ewige lewe, die opstanding van Jesus Christus, ‘n christelike lewensstyl, christelike wetenskap, ens.”

Die gereformeerde teologie wou hom ten alle koste uit sy teologiese isolasie ontworstel om waarlik “ekumenies” te kan wees. Die duur prys wat in hierdie proses betaal is, is sy tradisionele intensie tot konsekwente Skrifgetrouheid. Natuur­lik het die histories-kritiese teologie die gereformeerde teologie in sy worstelstryd bygestaan deur hom tydig en ontydig te herinner dat enige aanspraak op konsekwente Skrifgetrouheid eintlik voor-wetenskaplike naïwiteit is.

3.2 DIE SITUASIE AAN DIE TEOLOGIESE FAKULTEIT

Die voorbereidende fase tot ‘n openheid vir die nuwe teologie is die destabilisering van sekerhede. Twyfel word verheerlik en as ‘n deug beskou. So word daar al bv. deur studente spottenderwys na Bybelkunde verwys as “twyfelkunde”. Om te twyfel is om nederig en beskeie te wees. Hy wat hom te oortuigend uitspreek oor wat hy glo reg en verkeerd is, maak homself skuldig aan “hubris”. Soos John Wilson tereg skrywe “Justification by faith has been replaced by justification by doubt” (1980:7).

Hierdie soort twyfel is dikwels deur van ons dosente op een of ander wyse bevorder. Dit kan ook nie skade doen nie want, skrywe prof. Le Roux (1988:64-65) op voetspoor van die Nederlandse etici: daar moet ‘n skerp onderskeid gemaak word “tussen religieuse en rasionele kennis … Religieuse kennis kan tog nie deur wetenskap ongedaan gemaak word nie, want dit lê op ‘n totaal ander vlak. Dit is tog mos iets wat net innerlik ervaar kan word.” (Prof. Le Roux en van sy kollegas was nooit skaam om ‘n dualisme tussen geloof en rede te verkondig nie.)

Noudat die houding van die sg. gereformeerde ortodoksie wat “ewig absolute uitsprake oor God en sy handelinge met die mens maak en daarom geen kritiese wetenskap duld nie” (Le Roux 19 88:65) agtergelaat is, is die weg gebaan tot ‘n “onbevange” openheid in die teologie.

Ek dui vervolgens graag enkele voorbeelde van hierdie “onbevange” openheid aandui:

* Ek kan nog duidelik onthou hoe opgewonde daar in 1986 op die Fakulteit gesels is oor die besoek van dr. Hans Küng aan Suid-Afrika. Küng, wat ten spyte van sy kritiek teen die Roomse Kerk, baie ver is van ‘n gereformeerde of evangeliese posisie, is sommer as “een van ons” beskou en het ook die geleentheid gehad om te preek, in ten minste een gemeente in Pretoria, waar ‘n huidige dosent op die kerkraad gedien het.

* In 1988 is ons klas (in die teenwoordigheid van proff. AB du Toit, PPA Kotzé en Jan van der Watt) tydens ‘n Nuwe Testament-periode toegespreek deur dr. Sjef van Tilburg (Katholieke Universiteit, Nijmegen, Nederland) oor Christus se verhoor en lyding in die Matteus Evangelie. Van Tilburg het baie moeite gedoen om die lyding van Christus binne die konteks van die bevrydingsteologie te probeer plaas. Christus het gely vir die onderdruktes.

Na afloop van sy lesing is dié Roomse teoloog groot lof toegeswaai. Geen korreksie is aangebring op sy verwringing van die teks van die Bybel en die evangelie van Christus nie. Hy is daarenteen voorgehou as voorbeeld omdat hy bereid was om self tussen noodlydendes in Nederland te gaan woon.

Ek het toe aan dr. Van Tilburg gevra of dit nie meer korrek is om te sê dat Christus vir die sondes van arm en ryk gely het nie en dat armes en rykes hulle daarom tot Hom moet bekeer nie? Hy was duidelik ongemaklik oor die vraag, het skuins na die dak opgekyk en geantwoord dat dit my (CFH se) opinie is.

* As prof. Andrie du Toit (1988) êrens skrywe oor “teologiese weerbaarheid” dan motiveer hy dit deur, sonder kwalifikasie, teoloë soos o.a. Barth, Ebeling, Van Huyssteen en Schleiermacher aan die leser voor te hou, bv.: “Waarskynlik die belangrikste van alles is egter dat ons wordende predikante geïnspireer moet word om Soos Friedrich Schleiermacher, lewenslank studente in die teologie te bly” (1988:20).

Kan prof. Du Toit verwag om op so ‘n wyse (gereformeerde) teologiese weerbaarheid te bevorder?

Was Schleiermacher dan die enigste voorbeeld waaraan prof. Du Toit kon dink – wat lewenslank student gebly het? Neem prof. Du Toit outomaties aan dat alle “wordende predi­kante” op hoogte is met die ernstige dwaalleringe by Schleiermacher?

Indien die antwoord op hierdie twee vrae negatief is, waarom word Schleiermacher dan so onverskillig as ideaal aan ons voorgehou? Is dit nie juis om teologiese weerloosheid te bevorder nie?

* Op soortgelyke ongekwalifiseerde wyse sê prof. Johan Heyns van pous Johannes Paulus II: “Hy maak by my die indruk van ‘n baie gebalanseerde Christelike nugterheid“. Is dit nou omdat die pous teen politieke geweld en Marxisme gekant is, dat hy sommer ‘n gebalanseerde en nugture Christen word? Ons vergeet dus maar sy bekende en openlike aanbidding van Maria.

* Prof. Jurie Le Roux (sonder die kettings van die gereformeerde teologie) het openlik getuig dat sy teologiese inspirasie van Schleiermacher af kom. Hy het geen probleem om Colenso tot die status van ‘n held te verhef (sien hfst. IV) en die Nederlandse etici (waarteen Bavinck so duidelik geskrywe het: vgl. Bremmer, 1961:65-114 en Trimp, 1970:65-99)) as norm voor te hou nie (Le Roux, 1988:62-65). Elders roep hy sy lesers op om lyding in die lig van die eksistensie-filosofie te verstaan as hy skrywe: “Die eksistensie-filosofie kan besondere lig werp op die strukture van mens-wees” (Le Roux, 1990a:57).

* Prof. Piet Meiring beskou prof. du Plessis, van die destydse Du Plessis-saak, as een van die Ned Geref Kerk se grootste teoloë wat sy tyd ver vooruit was (Die Kerkbode 25/10/91).

* Daar is ook meermale deur verskeie dosente daarop gewys dat, ten spyte van sy teologie, ons tog nie die “groot piëteit” van Rudolf Bultmann uit die oog moet verloor nie.

3.3 ‘N HERINTERPRETASIE VAN KETTERY?

‘n Mens kan met reg vra: wat het dan geword van die eeue-oue onderskeid tussen leersuiwerheid en dwaling, tussen konfessie en kettery?

Hieroor skrywe Klaas Runia soos volg: “De ketter is niet (meer) het goddeloze monster… maar hij heeft juist met de profeet en de heilige gemeen dat hij alles voor zijn geloof opoffert… Ketterij moet dan ook gezien worden als ‘begraven waarheid’ die weer opnieuw aan het licht gebracht moet worden. Ketters zijn de waarlik religieus-creatieve mensen, de grote wegbereiders naar nieuwe ideeën” (Runia, 1988:101).

Ons moet uitgaan van die bona fides van die ketter. Philip Hughes (1989:318) wys tereg daarop dat niemand Simon Petrus se opregte bedoelings kon bevraagteken het, toe hy wou keer dat Jesus na die kruis gaan nie en tog beskou Christus hierdie versoek van Petrus as van die duiwel. “Gaan weg agter my Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van mense” (Matt. 16:23).

Ek wil nie voorgee dat die dosente in alle opsigte hierdie herinterpretasie van kettery deel nie. Tog is daar m.i. ‘n baie duidelike spoor van hierdie benadering op die Fakulteit sigbaar. Dink maar net weer aan die voorbeeld van Bultmann wat hierbo genoem is.

4. GEVOLGTREKKING

Wanneer die Fakulteit dus ‘n sg. objektiewe wetenskaplike benadering tot die teologie nastreef dan is dit ‘n bepaalde selektiewe “objektiwiteit” wat neerkom op ‘n openheid vir die nuwe teologiese paradigma, maar ‘n besliste “NEE” vir die ou paradigma, die sg. fundamentalisme. Die voorwendsel van teologiese objektiwiteit funksioneer m.i. eintlik maar net as ‘n verskoning vir leervryheid.

HOOFSTUK III

FASETTE VAN DIE SKRIFBESKOUING AAN DIE FAKULTEIT

A. DIE BELEIDSTUK “SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK” (SS)[11]

Aangesien hierdie beleidstuk telkemale deur die dosente aan ons groep protesterende studente voorgehou is as die Ned Geref Kerk en die Teologiese Fakulteit se “amptelike standpunt” waarvan ons dus nie mag verskil nie, ag ek dit noodsaaklik om ‘n paar opmerkings daaroor te maak.

1. GEHEELOORSIG VAN SS

Die beleidstuk gee aan vier groot temas aandag, te wete: die begrip “teopneustie” (hier gaan dit hoofsaaklik oor die inspirasieleer), die aard van Skrifgesag, die samestelling van die Skrif (waarin onder andere oor die verhouding Ou en Nuwe Testament en die kanon gehandel word) en laastens Skrif en Belydenis.

Daar is m. i. heelwat positiewe elemente in die dokument soos byvoorbeeld: die duidelike afwysing van die relasionele waarheidsbegrip[12] (2.7) en die historiese kritiek (2.1.5 en 3.1), die aanvaarding van die historiese betroubaarheid van God se heilsdade in die geskiedenis (2.3), ‘n ondubbelsinnige standpuntinname oor die afgeslotenheid van die kanon (3.3) en die handhawing van die besondere band tussen die Skrif en die belydenisskrifte van ons kerk (4).

2. KOMMERWEKKENDE TENDENSE IN DIE BELEIDSTUK. (SS)

Daar is m.i. ook sekere kommerwekkende tendense in SS wat vreemd is aan die Skrif, die belydenisskrifte en die histories-gereformeerde beskouing van die Skrif. (Hierdie tendense kom selfs nog duideliker aan die Teologiese Fakulteit voor).

2.1 OOR DIE TEOPNEUSTIE (INSPIRASIE) VAN DIE SKRIF

(i) By die lees van SS val dit ‘n mens op dat dit met baie minder oortuiging en vrymoedigheid praat oor God as die Eerste Outeur (Auctor Primarius) van die Skrif, wanneer ‘n mens dit vergelyk met die Bybel self, die NGB en die Calvinistiese vaders.

Daarenteen is dit opvallend dat Art 3 van die NGB wil wal gooi teen enige opvatting dat die menslike bemiddeling van God se woord aanleiding kon gee tot onbetroubaarheid of feilbaarheid daarvan. Die Woord van God is “nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê” (2 Petrus 1:21) (Art 3).

Die NGB gaan verder om te sê dat God toe daarna die profete en apostels “beveel” het om “Sy geopenbaarde Woord op skrif te stel” (Art 3). Die NGB gaan selfs so ver (na aanleiding van Eksodus 32:16) om die meganiese inspirasie van die dekaloog te bely! (“Hy het self met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe“, Art 3).

Dit wil sê die aanvanklike prediking van die Bybelskrywers is uit God (en nie uit hulleself nie, wel deur hulleself) maar ook die tot skrifstelling van God se woord daarna is op Sy bevel en vind onder Sy sorg plaas.

Luister ook na Calvyn as hy skrywe oor II Timoteus 3:16:

“All those who wish to profit from the Scriptures must first accept this as a settled principle, that the Law and the prophets are not teachings handed on at the pleasure of men or produced by men’s minds as their source, but are dictated by the Holy Spirit… We owe to the Scripture the same reverence as we owe to God, since it has its only source in Him and has nothing of human origin mixed with it” (Calvin, 1979:249).

Hierdie is baie sterk en oortuigende taal oor die goddelike oorsprong en aard van die Skrif, wat ‘n mens byna tevergeefs soek in SS en aan die Teologiese Fakulteit.

In die eerste plek lyk dit of die “teopneustie” van die Skrif vir SS eerder ‘n “geloofsoortuiging” as ‘n eienskap inherent aan die Skrif self is (vgl. SS 1.1). Daar word bloot gepraat van ‘n “blywende en onver­nietigbare verbintenis” tussen die Heilige Gees en die Skrifte (1.1), wat ‘n baie vae stelling is en oop is vir allerlei interpretasies.

Wanneer SS sy weergawe van die organiese inspirasieleer[13] gee, val dit duidelik op dat, vir die opstellers daarvan, dit hoofsaaklik gaan oor die “selfwerksaamheid” van die verskillende skrywers, hulle eie persoonlike vermoëns, situasie, metodes, geaardhede en styl sodat hulle die “beskikbare gegewens… op hul eie manier weergegee” het (1.2). Net wanneer ‘n mens bekommerd wil word oor wat die produk hiervan gaan wees word ons verseker dat die Heilige Gees dwarsdeur die hele proses “op ‘n besondere wyse werksaam” was “om die resultaat te waarborg“.

Die nuanseverskil tussen die NGB en SS is baie fyn maar tog ook duidelik. Die NGB spreek baie vrymoediger en duideliker oor die goddelike inspirasie as SS. SS spreek weer baie vrymoediger en duideliker oor die “selfwerk­saamheid” van die skrywers. Dis daarom ook te verstane dat die geslag teoloë en predikante wat SS aanvaar so geredelik en ongekwalifiseerd kan praat van “klaarblyklike foute” in die Bybel (vgl. Du Toit, Beeld 26/11/91).

(ii) ‘n Mens lees tussen die lyne van SS dat dit probleme het hoe om ‘n Boek met so “‘n menslike en historiese karakter” as Woord van God te aanvaar (1.2; 1.3) Vir Calvyn egter was die menslike karakter van die Bybel ‘n bewys van God se vrymagtige en genadige besluit om na ons vlak toe te kom en ons te akkomodeer (attemperatio), anders sou ons onmoontlik sy openbaring kon begryp (George, 1988:192). Om ‘n treffende voorbeeld aan te haal:

“Die antropomorfiete, wat hulle verbeel het dat God liggaamlik is omdat die Skrif dikwels ‘n mond, ore, oë, hande en voete aan Hom toeskryf kan maklik weerlê word. Want wie selfs met ‘n geringe verstand kan nie begryp dat God amper babataal met ons praat, soos voedsters die die gewoonte het om om met suigelinge te doen nie? … Hy moet noodwendig ver benede sy verhewendheid afdaal om dit (kennis in verband met Hom) moontlik te maak (vir ons)” (Inst 1.13.1).

Die menslikheid van die Bybel moet nie vir ons ‘n struikelblok wees nie, maar eerder ‘n rede tot groot dankbaarheid, want hoe anders sou ons die almagtige en verhewe God kon ken?

Dit wil voorkom asof die “menslike” karakter tog vir SS ‘n verleentheid is. Daarom het ons die “inwendige getuienis van die Heilige Gees” nodig om bewus te word van die identiteit “tussen hierdie menslike woord en die Woord van God” (1.3). Die leerstuk oor die inwendige getuienis van die Gees duik dus op ‘n heel ander plek op in SS as byvoorbeeld in die NGB. Die Reformatore het dié leer “gebruik” teen die Roomse opvatting dat dit die kerk is wat die gesag aan die Bybel toegeken het (en sodoende die gesag van die Roomse Kerk bo dié van die Skrif handhaaf). “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is” (NGB, Art 5).

Daar is dus ‘n baie opsigtelike verskil in die manier waarop die leer van die “inwendige getuienis” gebruik word. By die NGB funksioneer dit as teenvoeter teen Rome se aanspraak dat die Kerk aan die Skrif sy gesag toeken , by Calvyn as die seël van die Gees om ons wankelrige harte te oortuig teen die aanslae van die “veragters van God” wat strewe na die “ondermyning van die Skrif” (Inst 1.7.4, vgl. Murray[14], 1979: 44-46).

Radikaal anders gebruik SS die leer oor die “inwendige getuienis” van die Gees. Dit is nodig vanweë die “menslike en historiese karakter” van die Skrif. Die swakheid lê vir SS in die Skrif en nie in die menslike hart (soos by Calvyn) nie.

2.2 SKOPUS EN SKRIFGESAG

Daar was by gereformeerde denkers nog altyd min twyfel dat daar in die Heilige Skrif ‘n sentrale deurlopende tema (of temas) is, hetsy dit die verbond, die koninkryk van God, verlossing of die persoon en werk van Christus genoem word. Dit leer II Tim 3:16 ons tog immers self.

Hierdie sentrale tema word egter in verskillende boeke van die Bybel op verskillende sake toegepas. In die Johannes-evangelie gaan dit bv. primêr daaroor dat die lesers oortuig moet word dat Jesus die Christus is en dat deur geloof in Hom ‘n sondaar die ewige lewe beërf. In II Petrus en Judas is die motief egter duidelik ‘n waarskuwing teen dwaalleraars en ‘n oproep om vas te hou aan die outentieke apostoliese leer.

SS sê egter dat die Skrif “…nie aan ons gegee is as ‘n bron van openbaring oor allerlei aangeleenthede wat oor die breë terrein van ons kennis lê nie”. Nee, “…dit het ‘n bepaalde religieuse skopus of doel” (2.2). Alles wat in die Skrif verkondig word moet “in verband” gebring word met hierdie doel (2.3.4).

Wat bedoel SS hiermee? Is dit bloot die handhawing van die ou oortuiging dat daar sekere lyne is wat regdeur die Bybel loop en wat ons altyd in berekening moet bring in die lees van die Skrif? Of impliseer SS se woorde (waarna hierbo verwys is) ‘n begrensing van die Skrif se gesag?

2.2.1 Wat Bedoel SS met die “skopus van die Skrif?

SS hanteer die “skopus van die Skrif” onder die noemer van “Die aard van Skrifgesag” (2). Dit is m.i. dus opvallend dat SS (vir sy gevoel) verkeerde idees oor die gesag van die Skrif wil hokslaan, en die gesag wil beperk tot die sg. religieuse skopus van die Skrif.

Die vraag is egter: Wat is hierdie sg. “religieuse skopus”? Die bewoording en beredenering van SS oor hierdie onderwerp is so vaag en dubbelsinnig (terwyl byna 30% van die beleidstuk net hieraan gewy word!) dat dit aanleiding kan gee (en inderdaad op die Fakulteit gee) tot ‘n baie wye spektrum van interpretasies. Die ander vraag is: wat is die implikasies daarvan dat alles in die Skrif “in verband gebring moet word met die skopus“?

My oortuiging is dat SS ‘n bepaalde natuur-genade dualisme verkondig, of dat SS ten minste tot so ‘n dualisme aanleiding gee, ten spyte van enkele waarskuwings in SS teen ‘n verkeerde gebruik van die skopus-dogma. Die Bybel se gesag en invloed word al hoe meer beperk tot persoonlike saligheid en private piëteit. Vir sommige bestaan die skopus byna net in die woorde “Jesus is die Here”.

Of anders gestel, daar word slegs aan Jesus Christus se priesterlike amp (verlossing in die engere sin) vasgehou, terwyl sy profetiese amp (leer) en koninklike amp (heerskappy oor die skepping en kerk) prysgegee word. Jesus kan nie meer leer en regeer nie want sy septer (die Woord) is van Hom ontneem. Hy kan nou slegs siele red, en die Bybel is bloot ‘n teksboek vir evangelisasie (Weeks, 1988:85-90).

2.2.2 Is die gereformeerde Skrifbeskouing nou prysgegee?

Bogenoemde opvatting van SS is m.i. lynreg in stryd met die unieke Calvinistiese Skrifbeskouing, waaroor die vroeëre Berkouwer (geen datum:296-384) so breedvoerig handel as “Het isolement der Gereformeerde Schriftbeschouwing“. Waar dit vir Luther primêr gegaan het oor die regverdiging van die sondaarmens, gaan dit vir Calvyn oor die heiliging van die hele lewe (vgl. Runia, 1969:179-180), en daarom ook oor gehoorsaamheid aan God se Woord in die hele lewe (Jonker, 1977:250,252).

Die Skrif self leer duidelik dat dit deur God ingegee is sodat die mens van God “volkome kan wees, toegerus vir elke goeie werk” en nie bloot net tot saligheid nie. Dink maar net ook aan Jesus se sendingopdrag “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het“. Die NGB leer ook dat God se Woord vir ons duidelik alles leer “wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is” (Art 2) en dat “die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe is” (Art 7).

Die unieke karakter van die Geneefse Reformasie (teenoor Rome, die Anabaptisme en selfs teenoor Luther en Cranmer) was “soli Deo gloria” op elke vierkante meter van God se skepping. Dit wil sê, die Woord van God is gesagvol vir die geskiedenis (verlede, hede en toekoms), natuurwetenskap, die politiek, kultuur, huislike lewe, erediens ens. wanneer dit doelbewus daaroor skrywe. Cornelius van Til (1967:8) skrywe:

“The Bible is thought of as authoritative on everything of which it speaks. And it speaks of everything. We do not mean that it speaks of football games, atoms, etc., directly, but we do mean that it speaks of everything either directly or indirectly … It is only if you reject the Bible as the Word of God that you can seperate its so-called religious and moral instruction from what it says, e.g. about the physical universe.”

Hiermee word egter nog nie gesê dat die Skrif ‘n geskiedenis­- of wetenskaphandboek[15] is nie.

2.2.3 Herman Bavinck oor die skopus van die Skrif

Bavinck het hom duidelik uitgespreek[16] teen ‘n verkeerde begrip van die skopus van die Skrif. Hy leer dat alhoewel Christus die middelpunt van die besondere openbaring (relevatio specialis) is, die besondere openbaring hom nie beperk tot die persoon van Christus nie (GD.I:292).

Hy skryf verder oor die Skrifopenbaring as “een machtig, wereldbeheersend en wereldvernieuwend systeem van getuigenissen en daden Gods“. (GD.I:311) Dit is waar dat die Skrifopenbaring ‘n soteriologiese karakter dra maar dan moet hierdie soteriologiese karakter Skriftuurlik verstaan word in die sin dat

“de gansche mensch door de zonden bedorven is en daarom ook geheel en al door de genade in Christus gered en verlost moet worden. Tot de zonde behoort ook de dwaling, de leugen, de duisternis des verstands en daarom behoort ook de heilsopenbaring niet alleen in mededeeling van leven maar ook in bekendmaking van waarheid te bestaan … Hij is de volkomen Zaligmaker, de Zaligmaker van de ganschen mensch en van de gansche wereld” (GD.I:318).

Die ganse wêreld in haar organiese bestaan moet deur die Woord van God uit die mag van die sonde ontworstel word sodat “de heerlijkheid Gods weder te doen schitteren in alle creatuur” (GD. I:318). Die objek van verlossing is die kosmos – en nie alleen die etiese, of die wil met uitsluiting van die verstand nie, nie alleen die psigiese met uitsluiting van die somatiese en fisiese nie, “maar alles te same (GD.I:319).

Hierdeur, sê Bavinck, wou die Reformasie die natuur-genade dualisme van die middeleeue deurbreek en die hele mens en hele wêreld onder die gesag van God se Woord plaas (GD.I:331). Wie die Skrifgesag tot die religieus-etiese wil beperk, rig hom daarom nie bloot teen periferiese sake nie, maar teen die sentrum van die openbaring, teen Jesus Christus self (GD.I:389).

Waarom hierdie omslagtige aanhalings uit Bavinck? Dit is om aan te toon dat die historiese Gereformeerde siening van die gesag van God se Woord oor die hele lewe nie prysgegee kan of mag word nie. Wie dit doen raak maar net weer verstrengel in ‘n Thomistiese natuur-genade dualisme en kom onregstreeks in opstand teen die koningskap van Jesus Christus self. Daarby word die noodroep van die ganse skepping om ontworsteling van die sonde nie meer gehoor nie.

2.2.4 Gevolgtrekking

Dit is my oortuiging dat SS se opvatting oor die skopiese gesag van die Skrif wel aanleiding gee tot ‘n natuur-genade dualisme. Behalwe vir religieus-etiese sake is die boodskap van die Skrif blykbaar so verpak in die destydse kulturele en wêreldbeskoulike voorveronderstellings, dat die gesag van die Skrif oor talle terreine bevraagteken word, soos byvoorbeeld oor die skepping, die geskiedenis, die regspraak, die psigologie, die opvoedkunde, die staat, die ekonomie, die huwelik, die erediens, die kerkregering, die geesteswêreld ens.

Wie se woord is nou wet oor hierdie lewensterreine? Die priestersklas-elite of die akademiese experts s’n?

Tog word die hele “skopus-dogma” vergeet wanneer daar gepraat word oor sending. Dan moet ons weer besef dat dit nie net gaan om die redding van siele nie, maar oor “die hele evangelie vir die hele mens in sy hele wêreld” (Nel, 1987:56) of anders gestel om “holistic evangelism“. (Crafford, geen datum:10). Hoe ironies pragmaties!

2.3 OOR DIE VERHOUDING OU/NUWE TESTAMENT

Hier volstaan ek deur net te sê dat SS presies doen waarteen hyself waarsku in 3.1, naamlik om vanuit ‘n “Skrifvreemde vertrekpunt” die Skrif te benader. By 3.2 word voorgegee dat ‘n Christen-gelowige die Ou Testament “voorlopig losstaande” Testament kan bestudeer, bedoelende daarmee dat dit (die O.T.) nie heenwys na Christus nie. Kry SS hierdie gesigspunt uit die Skrif self?

Jesus het uitdruklik gesê dat wie die Ou Testament gelowig lees na Hom toe sál kom omdat dit na Hom (intrinsiek en losstaande van die Nuwe Testament) heenwys, Johannes 5:39-47, Lukas 24:25-27,44-45.

SS sal moet verduidelik hoe ‘n Christengelowige die Ou Testament die een oomblik gelowig (heenwysend na Christus), kan lees, maar dit die volgende oomblik slegs “wetenskaplik” (nie heenwysend na Christus nie) moet bestudeer. Word geloof en rede nou geskei? Moet ‘n teoloog dan nie die Ou Testament gelowig-wetenskaplik (heenwysend na Jesus Christus) bestudeer nie? (sien ook hfst. IV)

2.4 DIE STILSWYE OOR DIE DUIDELIKHEID VAN DIE SKRIF

Daar heers ‘n doodse stilte in SS oor die reformatoriese eienskap van die duidelikheid van die Skrif. Hoe moet ons dit verstaan dat SS hieroor swyg terwyl die reformasie so lustig daaroor kon skryf? Die reformatoriese leer van die duidelikheid van die Skrif was as’t ware die basis van die gereformeerde konfessies, “… omdat de Schrift duidelik is, daarom kan de waarheid van de Schrift onder woorden gebracht en beleden worden“, skrywe B Kamphuis (1988:13).

Volgens Bavinck het Rome (wat die duisterheid van die Skrif gehandhaaf het) aangevoer, dat vir ‘n regte verstaan van die Bybel allerlei addisionele kennis noodsaaklik is van o.a. die antieke geskiedenis, aardrykskunde, kronologie, argeologie, tale ens. – wat die Bybel dus vir die leke ontoeganklik maak. (GD.I:445) Hierby sou SS (en die Fakulteit) nog kon byvoeg “literêre-, bronne-, vorm-, redaksie-, en tradisie-analise” (3.1)[17] want “verantwoordelike Skrifstudie moet eenvoudig rekening hou met elemente van stilering, komposisie en ander faktore wat by die totstandkoming van die Bybel met sy talle literêre genres ‘n rol gespeel het” (3.1).

Deur die eienskap van die duidelikheid (helderheid) van die Skrif te bely (vgl. Silva, 1987:77-97), het die gereformeerde teologie seker nooit bedoel om te sê dat: alles in die Skrif ewe duidelik is[18], of dat daar nie sekere basiese hermeneutiese reëls by die (verantwoordelike) lees van die Bybel nodig is nie, of dat Bybelse wetenskap[19] daarom oorbodig is, nie. Wat hulle wel daardeur onwrikbaar bely het is dat die Bybel toeganklik is vir die gewone (ernstige) leser. Die Woord is tog immers ‘n lig op ons pad en ‘n lamp vir ons voet.

Dit is hoogtyd dat die Ned Geref Kerk homself baie duidelik (!) uitspreek oor die duidelikheid (al dan nie) van die Heilige Skrif.

Anders is dit heel moontlik dat lidmate en ampsdraers in die kerk mag dink dat hulle na die hemel moet opklim, of na die doderyk moet afdaal, om die woorde van die Here te verneem (vgl. Rom.10:6-8).

3. UITSPRAKE VAN DOSENTE WAT IN STRYD IS HET SS

Ongeag die ernstige leemtes in SS is dit nog veel behoudender as sommige teoloë.

SS DOSENTE
Die Kanon Die Kanon
“Daarmee bely ons ook dat niks bygevoeg kan en hoef te word by die kanon, soos vervat in ons belydenis­skrif te nie.” Prof. WS Prinsloo (datum onbekend:36) skrywe: “Die Bybel is gewoon nie so ‘n netjiese organiese geheel nie, en ‘n oordrywing van die kanon kan lei tot relativering van die oorspron­like historiese situasie en boodskap”
Die leer van die skrif Die leer van die Skrif
SS getuig saam met die NGB dat die “leer van die Woord van God heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is” (1.2) en verder dat die Skrif “aan ons bepaalde norme bied wat van toepassing is op ons lewe in die geheel” (3.4). Prof. Cilliers Breytenbach het aan my persoonlik gesê dat die Nuwe Testament “geen objektiewe leerstellings bevat nie”.[20]
Historiese Betroubaarheid Historiese Betroubaarheid
SS getuig dat “die Bybel histories nie onbetroubaar is nie” en dat “die Bybel juis afhanklik is van die betroubaarheid van die geskiedenis van Gods heils­dade” (2.3). Prof. AB du Toit skryf in Beeld (26/11/91) “daar is klaarblyklik historiese fou­te in die Bybel”.Prof. Jurie le Roux sê by geleentheid oor die uittog uit Egipte en die opstanding van Christus: “Wat werklik daar gebeur het weet ons nie, ons beskik net oor die geloofsinterpretasie daarvan.”[21]
Historiese Kritiek Historiese Kritiek
SS spreek homself duidelik uit teen die histories­kritiese Skrifondersoek. (2.1, 2.5, 3.1) Proff. Le Roux en Breytenbach is nie skaam om openlik hulle ongekwalifiseerde steun aan die historiese kritiek te gee nie (sien hfst.IV).
Die moderne mens se verstaansoontlikhede Die moderne mens se verstaansmoontlikhede
“Hierdie stelreël (dat die Skrif sy eie uitlegger is) word geweld aangedoen deur diegene wat die Skrif met ‘n vooropgesette wysgerige hermeneutiek aan die moderne mens se verstaansmoontlik­ hede wil onderwerp”. Ds. Jan Bischoff sê volgens Beeld (26/10/91): “‘n Kritiese benadering is noodsaaklik om die evangelie aan die moderne mens te verkondig.”

B. BELANGRIKE TENDENSE AAN DIE FAKULTEIT WAT VERBAND HOU MET SKRIFBESKOUING

Wanneer ek hier op algemene tendense dui wil ek beklemtoon dat nie al die dosente in dieselfde mate hieraan skuldig is nie. Wat ek hier gee is ‘n geheelindruk na ses jaar se studies. Hierdie indrukke is natuurlik nie slegs gevorm deur die dosente self nie, maar deur talle plaaslike en oorsese ongereformeerde en vrysinnige outeurs en literatuur, wat gewoonlik ongekwalifiseerd en kritiekloos aan studente voorgeskryf en voorgehou is. Soms was outeurs en boeke darem wel in ‘n mate krities beoordeel.

1. EENSYDIGE BEÏNVLOEDING

Deur talle ongekwalifiseerde en eensydige clichés en uitlatings laat die dosente die indruk dat die Lewende God nie werklik tot ons kan spreek en duidelik kan spreek nie. Uitlatings soos –

“die Bybel is ‘n menslike boek”

“daar is geen tydlose waarhede in die Bybel nie”

“nie alle waarhede van die Bybel geld vir ons nie”

“die Bybel het nie uit die lug uit geval nie”

“niemand het die waarheid in pag nie”

“elkeen lees die Bybel deur sy eie bril” ens.

kan oor ‘n tydperk van ses jaar die gevolg hê dat alle vastigheid onder die gelowige vernietig word.

Daar steek miskien baie waarheid in sommige van hierdie clichés, maar om dit ongekwalifiseerd (tot vervelens toe), byna daagliks, te moet aanhoor, kom m.i. op niks anders neer as ‘n vorm van eensydige breinspoeling nie. Ek betwyfel dit of die dosente self in hulle studiejare (ten minste plaaslik) aan soortgelyke beïnvloeding onderwerp is.

Prof. AB du Toit sê dat om ‘n deelwaarheid te verhef tot die volle waarheid is ‘n onwaarheid (AB Du Toit, 1990:156) en dit is presies waarop bg. clichés neerkom. Selfs die verweer dat dit uit reaksie teen die sg. meganiese inspirasieleer sou wees, gaan nie werklik op nie, want wanneer ‘n geleerde reageer teen ‘n wanopvatting, behoort dit verantwoordelik en gebalanseerd gedoen te word. Eers dan beoefen hy wetenskap “objektief”.

Dit kom m.i. neer op ‘n bewuste poging om alle spore van die ou paradigma reeds vanaf die eerste jaar uit die harte van die studente te wis. Wanneer hulle dan die Fakulteit verlaat is hulle volwaardige dissipels van die nuwe paradigma (vgl hfst.I) met die oortuiging boonop dat die nuwe een “wetenskaplik” en die oue “onwetenskaplik, naïef en fundamentalisties” is.

2. DIE MENSLIKE KARAKTER VAN DIE SKRIF

2.1 INLEIDEND

Dat die Bybel óók ‘n menslike en historiese boek is, is natuurlik waar. Waarom dit hier gaan is egter die eensydige beklemtoning dáárvan ten koste van die Bybel se goddelike karakter en die betekenis wat aan die woord “menslik” geheg word.

2.2 PROF ANDRIE DU TOIT OOR DIE “MENSLIKE KARAKTER” VAN DIE SKRIF

Om ‘n stelling van prof. Andrie du Toit (Beeld 26/11/91) as voorbeeld te neem (ek dink die meeste dosente sal basies prof. Du Toit se stand punt met hom deel) : Wat is die Bybel? Die Bybel is “…’n religieuse Boek waarin God deur feilbare mense in hul bepaalde historiese situasie, en op eg-menslike wyse, sy volkome Evangeliewoord spreek.”

Hier word gepraat van

* “‘n Religieuse Boek“, wat die Koran natuurlik ook is.

* God wat spreek deur “…feilbare mense in hul bepaalde historiese situasie en op eg-menslike wyse“. Prof. Du Toit lê alleen positief klem op die eindigheid of begrensdheid (“finitude”) van die skrywers. Die NGB daarenteen lê egter klem op die afwesigheid van enigiets wat uit die wil van die mens self is, asook op God as die “Auctor Primarius” (Eerste Outeur). Die profete het “…deur die Heilige Gees gedrywe” gespreek (Art 3), en nie deur hul eie sondige wil en begeertes nie.

* “‘n Religieuse Boek waarin God… Sy volkome Evangeliewoord spreek“. Moet ons hieruit aflei dat die Woord van God in die Bybel is, of dat die Bybel die Woord van God is?

2.2.1 ‘n Bybel vol “foute”

Dat daar “…klaarblyklike historiese foute in die Bybel” is, is die gevolgtrekking waartoe prof. Du Toit se Skrif­beskouing hom lei.

Prof. Du Toit sê in dieselfde artikel: “…vir hulle (die fundamentaliste) beteken onfeilbaarheid dat daar hoegenaamd geen foute[22] in die Bybel kan wees nie“. Vir hom (prof. Du Toit) egter, beteken die “menslikheid” van die Skrif dat daar foute in moet wees.

2.2.2 Die wysgerige interpretasie van die begrip “menslik”

Prof. Du Toit heg in die proses ‘n bepaalde wysgerige interpretasie aan beide die begrippe “onfeilbaar” en “menslik”. ‘n Wysgerige interpretasie en kenteoretiese vertrekpunt wat hy klaarblyklik van Karl Barth (neo ortodoksie) oorneem. Soos Barth voor hom gedoen het, waarsku prof. Du Toit dat diegene wat “onfeilbaar” as “foutloos” interpreteer hulle skuldig maak aan “‘n soort kenteoretiese dosetisme” (Du Toit, 1990a:510).

In hierdie verband skryf Klaas Runia (1962:74) soos volg:

“he (Barth) declares: True humanity involves fallibility. Every denial of this fallibility is a derogation from true humanity. Every such denial brings us back into the shadows of Docetism.

Here we strongly disagree with Barth. In our opinion Barth is guilty of a leap of thought which has no adequate grounding. Humanity and fallibility may indeed coincide on the purely human level, as we all experience daily, but this gives us no right to draw the same conclusion with regard to the Bible. For – and this is the decisive point – we are not on a purely human level here. We have to do with the inspired Word of God, i.e., with the Word that came into being not by human activity only, but in and through this human activity by the operation of the Holy Spirit. There is therefore no ground for such a straightforward identification of humanity and fallibility.” (Klem toegevoeg).

Die hele kwessie van die parallel of analogie tussen die Woord wat vlees geword het (inkarnasie) en die Woord wat op Skrif gestel is (inskripturasie) waaraan prof. Du Toit (1990a:517) tereg wil vashou kom natuurlik hier ter sprake. Hieroor haal Runia (1962:71) dan vir Bavinck aan wat skrywe:

“Also in Holy Scripture we have to acknowledge the weak and humble, the form of a servant. But as the human nature in Christ, however weak and humble, yet was free from all sin, so also Holy Scripture is sine labe concepta (conceived without stain or blemish)”.

Runia verwys ook in ‘n voetnota na Calvyn waar lg. skryf oor die akkomodasie van God in sy openbaring (i.e. die menslikheid en beperkinge van die Bybel):

Though it is said in accommodation to the weakness of our capacity, it is not said falsely (non tamen falso)”.

Runia (1962:77) kom dan tot die gevolgtrekking dat Barth die parallel tussen die inkarnasie en die inskripturasie vernietig. Die Bybel is vir Barth bloot ‘n “purely human book which can be used by God to communicate His divine message, but which as such is not the message“.

2.2.3 Gevolgtrekking

Dit alles geld ook vir prof. Du Toit se beredenering. Terwyl “rasegte fundamentaliste”, soos hy hulle noem, d.m.v. hul meganiese inspirasieleer inderdaad skuldig is aan ‘n kenteoretiese dosetisme, maak prof. Du Toit en die neo-ortodoksie hulle m.i. weer skuldig aan kenteoretiese Ebionitisme![23] Slegs ‘n organies-verbale inspirasieleer soos wat die histories-gereformeerde teologie dit bely het, kan reg laat geskied aan die ware karakter van die Bybel as Woord van God en die bovermelde analogie tussen Christus en die Skrif handhaaf.

2.3 PROF JOHAN HEYNS SE DIALOGIESE INSPIRASIELEER

Prof. JA Heyns (1981:20-21) se dialogiese inspirasieleer lei ook tot ‘n ooraksentuering van die bloot menslike (vgl. Potgieter 1990:21 en Kamphuis 1982:18-19) ten koste van die goddelike, soos inderdaad blyk uit onlangse uitlatings van prof. Heyns oor die openbaring (sien “Godsleer”, hfst. V). Volgens hierdie siening van die inspirasie “…spreek God die Bybelskrywer aan en die antwoord wat hy onder die leiding van die Heilige Gees gee, is dan die Bybelinhoud” (Potgieter, 1990:21). Die mens is dus in ‘n sin mede-outeur van die openbaring saam met God, in plaas van ‘n instrument (orgaan) waardeur God self tot ons spreek.

Norman Shepherd (1973:57) het reeds tydens die GES konferensie van 1972 gewys op die ernstige dwaling van prof. Heyns se inspirasieleer wat o.a. daarop neerkom dat: “there cannot be any such thing as direct divine revelation in human history“.

2.4 DR JOHAN VAN SCHALKWYK OOR DIE INSPIRASIE VAN DIE SKRIF

‘n Laaste voorbeeld van hierdie eensydige beklemtoning van die “menslike” vind ons in ‘n artikel van dr. J van Schalkwyk (Voorligter 6/90) wat skrywe:

“Die Bybel het dus nie vanuit die lug geval nie. Dit is dus die skriftelike getuienis van gelowige mense aangaande God. Die feit dat Hy hulle deur sy Gees gelei het, het verseker dat hulle mekaar nêrens weerspreek nie en ook dat ons van die Bybel as ‘God se Boek’ kan praat”.

Let op

* die hokslaan van die meganiese inspirasieleer: “Die Bybel het dus nie vanuit die lug geval nie”

* die invloed van die neo-ortodoksie: “Dit is dus die skriftelike getuienis van gelowige mense aangaande God”

* die gebrekkige en verarmde begrip van die teopneustie: “dat Hy hulle deur sy Gees gelei[24] het…”

* die produk is slegs “dat hulle mekaar nêrens weerspreek[25] nie.”

* die vae konklusie dat ons van die Bybel as “God se Boek” kan praat

Hierdie is net soos prof. Du Toit se definisie geen ondersteuning van die klassieke organiese inspirasieleer nie, maar ‘n sintese van ‘n baie afgewaterde organiese Skrifbeskouing met ‘n baie sterk neo-ortodokse Skrifbeskouing. Die fokus lê vir Van Schalkwyk nie op die inspirasie van die Skrif nie maar op dié van die skrywers en kom dus neer op ‘n dinamiese inspirasieteorie (Heyns, 1981:20, Potgieter, 1990:19).

M.i. verloor proff. Du Toit en Heyns, dr Van Schalkwyk en SS (vroeër in hierdie hfst.) almal híérdie uiters belangrike en tog eenvoudige waarheid uit die oog, nl.

While Scripture does not deny the human role and frequently mentions the human authors, it does not see the human side as what needed to be stressed. When it would move us to trust Scripture, it emphasises the divine agency in Scripture production” (Weeks, 1988:72).

Laastens kan dié vraag nog gestel word. Hoe moes God dan met ons kommunikeer anders as in “menslike” taal? In engele-taal? Sou dit die probleem vir die nuwe teologie oplos? Dank God vir die menslike taal waarin Hy met ons praat, “want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham”!! (Heb.2:16)

2.5 DIE GELYKSTELING VAN VERBALE INSPIRASIE MET MEGANIESE INSPIRASIE

Prof. Du Toit (1990a:510) skryf êrens: “As die fundamentalis … sê verbale inspirasie, bedoel hy eintlik meganiese inspirasie“. Ook prof. Heyns (1981:19) stel die twee aan mekaar gelyk.

Om verbale inspirasie so klakkeloos aan meganiese inspirasie gelyk te stel, is m.i. wetenskaplik en teologies ongegrond. Sonder om verder hierop in te gaan haal ek vir prof. J Kamphuis (1982:16) aan waar hy vir prof. Heyns direk antwoord: “Het werkt verwarrend de zgn. mechanische inspiratie-theorie gelijk te stellen met de leer van de verbale inspiratie“.

Die tegniek van skuldgevoel deur assosiasie word m.i. hier baie effektief deur proff. du Toit en Heyns toegepas om die verbale inspirasieteorie te kelder.

3. DIE HISTORIESE KARAKTER VAN DIE SKRIF

In die artikel van prof. AB du Toit in “Beeld” waarna vroeër in hierdie hoofstuk verwys is, noem hy nog ‘n punt van kritiek teen die sg. fundamentalisme, nl. dat hulle die Bybelboeke sien as

“tydlose dokumente wat almal op dieselfde vlak lê en waarvan die uitsprake netso regstreeks op ons situasie toegepas moet word. Die historiese ligging, sowel die aard, en in die besonder die bepaalde literatuursoort van die Bybelboeke, word nie werklik ernstig opgeneem nie.”

Sy kritiek is dus teen die siening dat –

* Bybelboeke as “tydlose dokumente” beskou word

* die uitsprake daarvan “regstreeks” op ons situasie van vandag toegepas word

Die begronding van sy kritiek lê vir hom in die feit van die Bybelboeke se “historiese ligging, sowel as die eie aard, en in die besonder die bepaalde literatuursoort“.[26]

Sonder om te ontken dat baie sg. fundamentaliste bg. geldige eienskappe van die verskillende Bybelboeke ignoreer, is dit tog my gevoel dat prof. Du Toit ‘n bepaalde wysgerige betekenis aan die begrip “histories” heg wat radikale implikaies inhou vir sy Skrifbeskouing.

Dit wil voorkom asof prof. Du Toit se standpunt daarop neerkom dat –

* die Bybel, soos enige ander boek, tydgebonde is

* en daar daarom ‘n onoorbrugbare kloof tussen die Bybel en die mens van vandag is

3.1 DIE WYSGERIGE INTERPRETASIE VAN DIE BEGRIP “HISTORIES”

Die nuwe teologie sien die historiese altyd (bewustelik of onbewustelik) vanuit ‘n historisties-evolusionistiese vertrekpunt.

Op grond van hierdie geskiedbeskouing kan daar onmoontlik nie ware kommunikasie moontlik wees tussen die gelowiges van 2 000 jaar gelede en die kerk van vandag nie, want daar is geen direkte aansluiting moontlik by die eerste gemeentes (soos die Reformatore dit wou glo) nie, maar hoogstens ‘n mate van beïnvloeding. Daarom is daar ook geen ware kontinuïteit in geloof, leer en lewe moontlik nie, word die moontlikheid van ‘n “consensus fidei” vernietig en is die belydenis van “een heilige katolieke kerk” uitgedien. Dit is die vernietigende gevolg van ‘n historisties-evolusionistiese opvatting van die begrip “histories” vir die teologie en die kerk van die twintigste eeu.

Wanneer die nuwe teologie nog dieselfde begrippe en taal soos bv. “gelof”, “bekering”, “geregtigheid”, “eenheid”, “kerk”, “God”, “Jesus” ens. gebruik, skep dit wel die indruk van kontinuïteit (Schaeffer 1970:114). Die nuwe teologie vul egter hierdie begrippe na willekeur met ander, nuwe inhoude. Dit is verwarrend want vir die oppervlakkige ondersoeker lyk alles nog goed en gesond.

Wanneer die saak egter van naderby beskou word, vind ‘n mens gou uit dat dit alles maar net semantiese mistiek is, om Schaeffer (vgl. 1985:115) se woorde te gebruik. Mistiek, want die nuwe teologie skep die illusie dat daar kommunikasie is, wat in werklikheid nie bestaan nie. Woorde word die voertuie van allerlei uiteenlopende betekenisse, wat uiteindelik vir niemand meer iets helder en betekenisvol kan meedeel nie.

Waarin soek die nuwe teologie wel aansluiting by die Bybel? Soos ons reeds gesien het, nie in inhoud nie, want dit is vir hulle onmoontlik. Wel in ervaring. Die gelowiges van Moses se tyd het hulle ervarings gehad, dié van Jesus se tyd hulle s’n, dié van die Reformasie hulle s’n en so het ons ook ons s’n. Of ons ervarings ooreenstem is nie ter sake nie maar wel dát ons God ervaar (Schaeffer 1970:114). Ons teologie (of dogmatiek) is dan bloot ‘n beskrywing van ons ervaring van God en van ons eie menslikheid.

Hierdie siening van die geskiedenis is egter om die volgende redes in konflik met die Bybel self:

Eerstens maak dit gewoonlik geen normatiewe onderskeid tussen heilsgeskiedenis en die algemene antieke geskiedenis nie, of tussen heilsgeskiedenis en kerkgeskiedenis nie.

Tweedens word daar ook geen kulturele onderskeid getref nie. Geen normatiewe onderskeid word getref tussen die Joods-Christelike kultuur en die van die heidene rondom hulle nie.

Derdens niveleer dit die Bybelse leer oor die onveranderlikheid van: God, die gevolge van die sondeval (en daarom ook die mens se basiese lewensvrae) in hierdie lewe, en gevolglik van die waarheid en die Evangelie self.

3.2 GEVOLGTREKKING

Wanneer ons sien hoe oortuig en optimisties Paulus is oor die objektiewe openbaringskarakter van die geskiedenis van Israel, eeue voor sy eie tyd (Rom 4:23-24; 15:4, I Kor 9:9-10; 10:6,11, II Tim 3:16-17) asook die Hebreërskrywer (Heb 11) om maar net enkele voorbeelde te noem, dan staan dit in skrille kontras teenoor die pessimistiese houding wat die nuwe teologie openbaar jeens die feit dat 2 000 jaar ons skei van die Nuwe Testament en dat daarmee die verstaansmoontlikheid drasties krimp.

Daarom is my antwoord aan prof. Du Toit dat, nie net die Bybel nie, maar ook die belydenisskrifte optimisties is oor die moontlikheid (nee, noodsaaklikheid) om Bybelse waarhede direk op ons situasie toe te pas. Meer nog, hoe moet ‘n leraar elke Sondag die Wet en genadeverkondiging aan die gemeente voorlees sonder die oortuiging dat die “uitsprake” van die Bybel “goddelike waarhede” is, wat vandag nog vir elke mens geld?

Prof. Du Toit (en sy kollegas) moet weer gaan kyk na hulle aannames en kritiek. Indien hy gesê het fundamentaliste is mense wat enige Bybel teks direk op hulle eie situasie toepas, dan het ek hom gelyk gegee. Maar dan is die probleem nie soseer omdat hulle (die fundamentaliste) die eie historiese aard van die Bybel ontken nie, maar getuig dit eerder van ‘n basiese onkunde oor die aard van die Bybel as progressief ontvouende openbaring van God se heil en wil vir sy kerk.”[27]

Durand (1988:122) wys tereg daarop dat die paradigmaverskui­wing by teoloë van die Ned Geref Kerk daartoe aanleiding gegee het dat die vraag of teoloë nog enige sinvolle uitsprake o.g.v. die Skrif kan maak (a.g.v. die historiese gaping tussen die Bybelse tyd en vandag), na vore getree het.

Indien prof. Du Toit en sy kollegas (asook SS wat vroeër bespreek is) se interpretasie van die begrippe “menslik” en “histories” deur die nuwe hermeneutiek en die paradigma­verskuiwing bepaal is, sal die objektiewe openbaringskarakter van die Bybel stelselmatig vernietig word, en sal die lidmate van die Ned Geref Kerk al hoe meer uitgelewer wees aan skeptisisme.

HOOFSTUK IV

OU EN NUWE TESTAMENT

1. INLEIDEND

Wanneer ons by die Bibliologiese vakke kom, kom die hele aangeleentheid van die histories-kritiese metodologie direk ter sprake.

Is die historiese kritiek die Bybelgelowige se vriend of sy vyand? Bevestig dit die Skrifgesag of breek dit daaraan af? Die term “historiese kritiek” word net soos die term “fundamentalisme” met velerlei uiteenlopende betekenisinhoude gevul, wat die beantwoording van bg. vrae geensins vergemaklik nie.

2. DIE NED GEREF KERK SE AMPTELIKE STANDPUNT OOR DIE HISTORIESE KRITIEK

Die amptelike standpunt van die Ned Geref Kerk oor die historiese kritiek is m.i. behoudend. SS skrywe soos volg oor die historiese kritiek: “Die histories-kritiese metode van Bybelondersoek soos dit deur die afgelope drie eeue ontwikkel het, hanteer die Skrif prinsipieel op dieselfde wyse as elke ander historiese dokument, en dit plaas die belydenis aangaande die onfeilbaarheid van die Skrif onder sware druk” (2.1) en “die Skrifkritiek wat sedert die agtiende eeu voorgekom het” het die Skrif “op allerlei wyses… geweld aangedoen” (2.5).

Skrifkritiek is daardie bedrywigheid wat “die Skrifgesag vanuit ‘n rasionalistiese of ‘n ander Skrifvreemde vertrekpunt aftakel” en word daarom deur SS “ten sterkste” afgewys. (3.1). Skrifkritiek moet egter “onderskei word van wetenskaplike metodes soos literêre-, bronne-, vorm-, redaksie-, en tradisie-analise wat nie per se ‘n negatiewe voorveronderstelling bevat nie en heel vrugbaar gebruik kan word…” (3.1) Met hierdie oordeel oor die historiese kritiek van SS is myns insiens nie fout te vind nie.

Skrifkritiek word dus getipeer as daardie metodologie van Skrifondersoek wat –

* sy oorsprong gehad het in die opkoms van die verligtingsdenke vanaf die 18de eeu

* die Bybel benader vanuit ‘n rasionalistiese of ander Skrifvreemde vertrekpunt

* die Bybel net soos enige ander historiese dokument bestudeer

* daardeur die belydenis van die onfeilbaarheid van die Skrif onder swaar druk plaas en dit selfs geweld aandoen

Die sg. wetenskaplike metode (historiese kritiek) speel dus regter oor die inhoud van die Heilige Skrif en bepaal outonoom wat in die Skrif waar of vals is. Wat die Skrif oor homself sê is nie ter sprake nie. Die rede het, soos Bavinck skrywe (GD. I:260), ‘n onafhanklike posisie buite die openbaring verkry en beskik oor die reg en die mag om uitsprake te lewer oor die inhoud van die openbaring. Of in die woorde van die bekeerde Bultmanniaan, dr Eta Linnemann: “Scientific principle has come to have the status of an idol” (1990:84).

Skrifkritiek word daarom dikwels geassosieer met teologiese dwaling, aangesien nie net die Bybel nie, maar ook die leer van die kerk (wat veronderstel is om op die Bybel gegrond te wees) in die gedrang kom. Dit is in hierdie opsig opvallend dat Van Deventer en König (1989:304) nie skaam is om te erken dat daar reeds vroeg in die kerkgeskiedenis krities na die Bybel gekyk is nie – deur die ketter Marcion, en die vrysinnige teoloog Origenes[28]! Skrifkritiek en kettery was nog altyd hegte vriende.

Die gevolge van die historiese kritiek kom gewoonlik neer op die relativering of ontkenning van onder meer die volgende sake –

* die kanon

* die goddelike inspirasie van die Skrif (let wel, van die finale teks, en nie bloot van die skrywers nie)

* die eenheid van die Ou en die Nuwe Testament

* die eenheid van die leer van die Skrif

* die historiese gesag (betroubaarheid) van die Skrif

* die normatiewe gesag van die Skrif

* die voorspellende karakter van sekere Skrifgedeeltes

* die Messiaanse karakter van die Ou Testament

* die outeurskap van Bybelboeke (waar die Skrif dit uitdruklik handhaaf)

Dit is net logies dat daar van Skrifgesag in die proses weinig sal oorbly.

3. DOSENTE WAT RADIKALE HISTORIESE KRITIEK POSITIEF WAARDEER

Alhoewel sekere dosente ons studente uitdruklik teen sommige van die Skrifvreemde vertrekpunte van die historiese kritiek in Skrifondersoek gewaarsku het, waarvoor ‘n mens baie dankbaar is (vgl. Barnard, geen datum:9, Du Toit, 1990a:516, Prinsloo 1984:3,5 en 1987:64,66) – het ander dosente die studente uitgenooi na die wonderlike wêreld van die historiese kritiek.

Wanneer ‘n mens egter eers daarbinne (nl. in die wêreld van die historiese kritiek) is, vind jy dat die verwarring, chaos en gebrek aan eenstemmigheid onder hierdie teoloë erger is as op enige ander plek. Prof. Prinsloo (1990:77) merk êrens tereg op as hy verslag doen oor die IOSOT Kongres van Augustus 1989 te Leuven: “…’n kenmerk… was die totale gebrek aan eenstemmigheid en wyd uiteenlopende standpunte wat deur die toonaangewende Ou Testamentici oor die Pentateug en die Deuteronomistiese geskrif uitgespreek is. Selfs oor die basiese vrae was daar nie eenstemmigheid nie“.

In direkte teenstelling met die Ned Geref Kerk se amptelike standpunt oor die historiese kritiek, soos vervat in SS, het sommige dosente die historiese kritiek reserweloos gepropageer. Hier dink ek veral aan proff. JH le Roux en C Breytenbach.

* Prof. Jurie Le Roux skrywe bv. (1988:64) dat ‘n wetenskaplik-kritiese Skrifbenadering “nie net moontlik is nie, maar ook onontbeerlik is. ‘n Kritiese wetenskap (en daarmee word die historiese kritiek bedoel) moet beoefen word, want alleen daardeur kan ons reg laat geskied aan die historiese getuienis van mense oor die ontmoetinge en die ervaringe met God“.

Prof. Le Roux lewer dan ‘n breedvoerige lofrede oor prof. JA Loader as dié een wat “nie krampagtig… die historiese kritiek vermy en ten alle koste vir die eenheid van die teks of een enkele outeur opkom nie“. Prof. Loader “aanvaar doodgewoon die goeie argumente” van die literêr-kritiese ondersoek.[29] Kortom, die “goeie argumente” van die literêr-kritiese ondersoek staan bokant die getuienis van die Skrif self (sien ook Le Roux, 1990b:196 en 1990c:39).

* Prof. Cilliers Breytenbach skrywe êrens van I Kor. 14:34 dat dit “‘n na-Pauliniese interpolasie” (1988:61) is en dat die Pastorale briewe “deutero-Paulinies” is (1988:54).[30]

Die student se dilemma: Vir wie moet ek glo? Vir prof. Prinsloo of prof. Le Roux?

Vervolgens dui ek meer spesifiek aan hoedat die historiese kritiek direk of indirek sy tol geëis het aan die Fakulteit.

4. DIE EENHEID VAN DIE SKRIF AANGETAS

Prof. Le Roux, wat in die klas geleer het dat ‘n nuwe teologie telkens in die Ou Testamentiese tyd ontstaan het wanneer die vorige een “opgepak” het, skrywe êrens dat daar spanning was tussen die teologie van Klaagliedere en dié van die Deuteronomis.

“Hulle (die mense waarvan Klaagliedere praat) het iets verstaan van sonde en die aanleiding wat dit tot hulle ellende gegee het, maar die weg van die Deuteronomis kon nie gevolg word nie“(1990a:50).

Dit wil sê, Klaagliedere deel nie die idee van Konings dat daar ‘n direkte verband tussen Israel se sonde en die ballingskap was nie. Een teologie in die Ou Testament figureer letterlik as ‘n korreksie op ‘n ander teologie.

Prof. Breytenbach (1988:61) skrywe êrens soos volg:

“Dit is betreurenswaardig dat die invloed van die vroeg­-Joodse tradisie sowel as algemeen hellenistiese opvattinge daartoe gelei het dat hierdie aanvanklike heerskappy van die Gees (verwysende na o.a. Gal. 3:28) moes wyk ten gunste van tradisionele patriargale opvattinge in die tyd na Paulus” (verwysende na I Kor. 14:34 en II Tim. 2:11-15).

Daar is dus vir prof. Breytenbach se gevoel, botsende ‘tradisies” of teologieë in die Nuwe Testamentiese kanon.

4.1 WANNEER DIE EENHEID VAN DIE SKRIF PRYSGEGEE WORD

Die relativering of ontkenning van die eenheid van die Skrif hou ernstige gevolge vir die gesag van die Skrif in. Hierdie feit is reeds in 1963 deur die Wêreldraad van Kerke besef toe dr. Ernst Käsemann (Schrotenboer, 1977:150) sy opspraakwekkende toespraak voor die “Faith and Order Commission” gelewer het, waarin hy aangevoer het dat daar ‘n onversoenbare diversiteit van teologieë in die Nuwe Testament bestaan.

Dit het o.a. vir Visser’t Hooft laat besef dat enige ideaal om binne die WRK nog “volgens die Skrifte” te dink en te handel nou finaal verby is. Dié dilemma is egter later “opgelos” toe die WRK besef het dat teologiese pluralisme in die Bybel eintlik die beste regverdiging vir teologiese pluralisme in die WRK is!

Ek is bevrees dat die ontkenning van die eenheid van die Skrif aan die Fakulteit, onder dosente sowel as studente, tot die­selfde vernietigende konklusie aanleiding gee.

5. DIE HISTORIESE GESAG (BETROUBAARHEID) VAN DIE SKRIF AANGETAS

Die historiese betroubaarheid (waaraan SS nog wil vashou) is op verskillende wyses aan die Fakulteit aangetas.

5.1 GENESIS 1-3

As tiperend van die algemene siening aan die Fakulteit oor Genesis 1-3 haal ek prof. Julian Müller aan wat soos volg skrywe:

“Om Gen. 1 te verstaan is dit belangrik dat ons dit nie as ‘n feitelik historiese verslag van die skepping van hemel en aarde moet sien nie, maar as deel van die oergeskiedenisverhale. Die klem val nie op die wyse waarop alles tot stand gekom het nie, maar op die boodskap dat God Skepper is en ons in ‘n bepaalde verhouding tot Hom en die skepping staan. Die vertelling is meer gesentreer rondom die hede as die verlede. Dit wil ons van God se teenwoordigheid hier en nou, en van sy troue sorg verseker eerder as wat dit gegewens wil gee oor wat in die verre verlede gebeur het” (1989:2).

“Enigeen wat uit hierdie eerste hoofstukke van die Bybel die vrae oor hoe die heelal tot stand gekom het probeer antwoord, maak van die Bybel ‘n instrument vir buikspraak. Dit was nooit die bedoeling van die skrywer en/of die samesteller van Genesis om hierdie vrae te beantwoord nie. Hy probeer die boodskap dat God die skepper is, deurgee” (1989:8).

Hy skrywe ook soos volg oor die historisiteit van Adam:

“Die begrip “adam” (die mens) moet in kollektiewe sin verstaan word … Hier is ‘n nuwe kategorie onder die skepsels … Die woord hang saam met die woord vir “rooi”, “bruin” of “rooibruin” (adom) en vir die (rooibruin)”grond” (adama)… Hierdie woord wil dus verwys na die mens as ‘n aparte soort in die skepping. En teenoor die “beeld” van God wat die klem plaas op die verhewenheid en verantwoordelikheid van die mens, beklemtoon die begrip adam waarskynlik sy aardsheid” (1989:3).

Kritiek

Die volgende punte van geldige kritiek kan m.i. teen prof. Müller se standpunt ingebring word:

* Samevattend kan gesê word dat bg. standpunt van prof. die naam van die Müller die historiese ophef in kerugmatiese. Waarom?

Ek laat een van prof. Heyns se vroeër publikasies hierop antwoord (1971:33): “Waarom moet die aktuele die historiese verslind? As dit gaan om die boodskap wat Adam en Eva vir ons vandag het, waarom is dit dan noodsaaklik om te verklaar: Dáárom was Adam en Eva nie historiese figure nie. Kan die historiese nie ook ‘n aktuele boodskap hê of selfs wees nie? Word hiermee nie die historiese karakter van die heilsopenbaring aangetas nie? En wanneer gesê word dat dit meer in ooreenstemming is met ons eeu dat Genesis ‘n boodskap het sonder ‘n historiese kern, dan funksioneer hier ‘n buitebybelse outonome grootheid op so ‘n wyse dat dit die verstaan van die Skrif vanuit homself ernstig aantas. Hiermee is meteen ook die gevaar van elke vorm van eietydse teologie aangestip: dat die tydsgees die maatstaf vir die teologie en eventueel vir die openbaring word.”

Of Prof. Müller is reg, of prof. Heyns is reg oor hierdie uiters belangrike teologiese aangeleentheid. Beide kan nie reg wees nie. Een van die twee moet dwaal.

* ‘n Mens sou aan prof. Müller kon vra: Hoe weet hy dat “dit nooit die bedoeling van die skrywer was” om die hoe-vraag oor die skepping te antwoord nie? Kan hy sy bron van inligting bekendmaak sodat dit aan deeglike Bybelse wetenskaplikheid onderwerp kan word – of is dit bloot maar die mening van die meerderheid histories-kritiese teoloë wat hy geraadpleeg het? Hoekom moet ons húlle glo?

* ‘n Mens sou ook aan prof. Müller kon vra: Wie het nog ooit Genesis as ‘n “feitelik historiese verslag van die skepping” gesien? Werk prof. Müller nie hier met ‘n valse teenstelling en ‘n fiktiewe weergawe van die behoudende standpunt nie?

* Met betrekking tot die siening dat Adam kollektief verstaan moet word kan gevra word: Hoe moet ons tekste Soos Rom. 5:12 e.v. verstaan wat sê: “…Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood… Daar is ‘n ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom… Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God … wat deur … die een Mens, Jesus Christus gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk” ens.- d.w.s. wat is die implikasies van prof. Müller se siening oor Adam vir ons verstaan van die sondeval en die verlossing in Christus?

* Prof. Müller se siening van Genesis 1-3 is nog meer twyfelagtig in die lig van die bekende neo-liberalis, James Barr se woorde, wat êrens sê (Kreitzer:25) dat “no professor of Hebrew or Old Testament at any world class university doesn’t believe that the Bible teaches a literal six, 24 hour day creation, literal genealogies that can be added up to discover the age of the earth, and in a literal world-wide flood that destroyed the whole world“.

Die verskil is egter sê Barr, dat hy (en sy geesgenote) die Bybel in hierdie opsig nie glo nie! Barr is dus ten minste ‘n eerlike neo-liberalis! Daarteenoor wil prof. Müller vir ons i.v.m. Gen 1-3 wysmaak: “Daar staan nie wat daar staan nie”!

* Is daar enige twyfel dat prof. Müller se siening van Genesis 1-3 deur filosofiese evolusionisme beïnvloed is?

Dit sal goed wees as ons leer uit die fout van Augustinus wat in sy tyd probeer het om die Bybelse skeppingsleer te versoen met die gangbare “wetenskaplike” opinie van “spontane generasie”. Augustinus het toe vorendag gekom met ‘n skema wat ontleen is aan die Griekse filosofie, maar wat nie reg laat geskied het aan Gen. 1-3 nie. (Verbrugge, 1984:23)

Maar: “When the Aristotelian speculation was refuted, Augustine’s attempt to explain Genesis was shown to be both false and unbiblical… This falsity could have been expected if Augustine had realised the speculative nature of his theory. It was also unbiblical because it had no basis in the story of Genesis. . . History has amply shown that God does not need our attempts to prove that what He says is true” (Verbrugge, 1984:24-25).

5.2 DIE AARTSVADERS

Prof. Le Roux sluit aan by Von Rad wat die aartsvaderge­skiedenis in Genesis as sages beskou.

“Hierdie verhale moet eerder as sages beskou word. ‘n Sage is iets anders as geskiedenis en bied ook ‘n ander perspektief op sake: dit beskryf ‘n gebeurtenis van die anderkant, van God se kant af …” (1982:7).

“Die aartsvaderverhale word dus gekenmerk deur ernstige historiese probleme. Geensins mag hierdie verhale sonder meer as histories waar beskou of belangrike historiese afleidings daaruit gemaak word nie” (1982:13).

“Jakob se nagtelike stryd by die Jabbok moet byvoorbeeld geensins as ‘n objektiewe stukkie geskiedskrywing beskou word nie. Die sage in Gen. 32 het oorspronklik gehandel oor iemand wat met ‘n demoon stry. Elke geslag het dit weer in terme van sy eie omstandighede geïnterpreteer en dit verder uitgebou. Israel het iets van sy eie verhouding met God gesien in dit wat Jakob by Jabbok ervaar het” (1982:14).

Wat is ‘n sage?

“‘n Sage het wel ‘n historiese kern. Ten diepste is dit op ‘n historiese gebeurtenis gegrond. ‘n Ware historiese gebeurtenis het tot die ontstaan daarvan aanleiding gegee. Tog het dit nie daarby gebly nie. Iets is bygevoeg … Die historiese gebeurtenis het dus slegs as aanleiding tot die vorming van die sage gedien” (1982:16, 1990:38).

Oor die geskiedenis van Abraham of Jakob skryf hy:

“Hier is dus nie sprake van historiese betroubaarheid nie…” (1982:16).

Aldus Von Rad volgens prof. Le Roux. Prof. Le Roux sê aanvanklik dat “Sages dikwels met agterdog bejeën word” (1982:13, 1990:36) deur dié mense wat erns maak met die historiese betroubaarheid van die Skrif.

In die lig van hierdie laaste opmerking, asook vanweë prof. Le Roux se alombekende verering vir Von Rad, en die feit dat hy (volgens my beste wete) weinig kritiek uitspreek teen Von Rad, moet ‘n mens aanvaar dat bg. weergawe vane die aartvaders as sages deur prof. Le Roux aanvaar word.

Kritiek

‘n Mens sou ‘n paar vrae aan prof Le Roux kon stel nl. –

* vanuit watter Skrifvreemde vertrekpunt werk Von Rad? Het prof. Le Roux dit aan sy studente verduidelik?

* op grond van watter gesag moet ons die Bybelse getuienis i.v.m. die aartsvaders inruil vir Von Rad se spekulatiewe verbeeldingsvlugte?

* moet ons Genesis lees in die lig van Von Rad – of Von Rad in die lig van Genesis, wat êrens sê dat die versinsels wat die mens in sy hart bedink altyddeur net sleg is (vgl. Gen. 6:5)?

* is dit nie dalk Von Rad se teorieë wat ons as “sages” moet klassifiseer nie?

5.3 DIE UITTOG, JOSEF, ESTER EN DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS

Prof. Le Roux kon ook in die klas na die Bybelse getuienis i.v.m. Josef en Ester verwys as bloot “onhistoriese wysheidnovelles“, Soos reeds vroeër aangedui is, het hy van die uittog uit Egipte en die opstanding van Christus gesê:

“Wat werklik daar gebeur het, weet ons nie. Ons beskik net oor die geloofsinterpretasie daarvan“.[31]

5.4 PETRUS SE BELYDENIS EN PAULUS SE TOESPRAKE

Prof. C Beytenbach het in die klas die historiese betroubaarheid van: Paulus se toesprake in Handelinge (bv. Hand. 17), asook van die belydenis van Simon Petrus dat Jesus die Christus is (Matt. 16:16), ernstig bevraagteken.

5.5 DIE BOSE GEESTE

Prof. Jan van der Watt het in die klas beweer dat “die owerhede, magte en bose geeste in die lug” waarvan Paulus skrywe, nie noodwendig in reële terme verstaan hoef te word nie. Dit was deel van die mense in die Nuwe Testamentiese tydvak se kultuurhistoriese verbeelding[32].

Prof. Julian Müller se standpunt i.v.m. die bose in die Nuwe Testament sluit hierby aan. Wanneer ‘n mens sy preekontwerp “My enigste troos” lees en veral die gedeel te onder die hoofpunt “Die duiwel is gebind“, is daar groot onsekerheid of hy die verwysings na die bose in die Evangelies ernstig opneem. Hy skrywe (1990:111):

“… in die tyd tussen die Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese geskrifte, groei die oortuiging dat die duiwel en sy bose magte op aarde regeer. … Gevolglik het ‘n baie sterk vrees vir duiwels in die tyd van Jesus bestaan. ‘Illnesses of all kinds were attributed to demons, especially the different forms of mental illness, whose external manifestations already betrayed the fact that the victim was no longer his own master’ (Jeremias, 1971:93). Hierdie siening en veral vrees, het natuurlik die verwagting gestimuleer dat die Messias in die toekoms sy heerskappy, in die openbaar sal bewys… Jesus se optrede teen die duiwels (of wat die mense geglo het die werk van die duiwels is) is dus ‘n besliste teken van die feit dat in die persoon van Jesus die nuwe bedeling, die koninkryk van God aangebreek het.”

Kritiek

‘n Mens kan tereg vra – hoe ver is hierdie dosente van die liberale standpunt van prof. JA Loader wat eenmaal kon skrywe “Liefs na die duiwel met ou Niek” (Beeld 4/12/84)?

6. IS DIE HISTORIESE GESAG VAN DIE SKRIF REGTIG SO BELANGRIK?

Die meeste dosente wou dikwels te kenne gee dat die relativering van die historiese betroubaarheid van die Skrif nie só ‘n belangrike (en ontstellende) kwessie vir die studente hoef te wees nie, aangesien dit vir ons geloofslewe nie werklik gevaar inhou nie.

Hulle (die dosente) kon hierdie argument alleenlik gebruik in soverre as wat hulle alreeds die neo-ortodokse (Barthiaanse) onderskeiding tussen “historie” en “geschichte” oorgeneem het.

Om te glo dat gebeure in die Bybel “regtig” (histories) op aarde plaasgevind het is vir die neo-ortodoksie naïef[33], aangesien hierdie gebeure êrens in ‘n supra-historiese sfeer (wat hulle “geschichte” noem) plaasgevind het, wat nie vir die menslike sintuie waarneembaar is nie. Historie en “geschichte” is interafhanklik, maar nooit identies aan mekaar nie.

Sodoende is die Bybel nou immuun teen – wat die studente kon ervaar as – aanvalle teen sy historiese betroubaarheid.

6.1 DIE “GEWONE GELOWIGE” ANTWOORD

Die antwoord van die gelowige op bg. siening van Bybelse gebeure as “geschichte” word pragtig verwoord deur John Wilson (1980:13):

“Like every schoolboy, I take history to be facts and events that happened to real people at a particular time; anything else I would take to be fiction. Not only that, but I have a childish curiosity to know what happened, … I have the simple belief that things either happened or did not happen and, if this should sound too childish a proposition, I could restate it as a basic tenet of logic that A cannot be non-A …”

“This is why the idea that biblical history is not true is mentally disorientating to me… I cannot take it to be true and not true… If the events recorded in Scripture, were not true in real history, then I suspect to believe them is to believe a lie.” (Hierdie is basies dieselfde argument as wat die apostel Johannes in I Joh. 5:10 gebruik.)

6.2 PANNENBERG ANTWOORD

Alhoewel heelwat kritiek teen Wolfhart Pannenberg ingebring kan word, lê sy waarde vir die gereformeerde teologie daarin dat hy Bultmann en Barth se skuilplek in hulle supra-histo­riese hawe effektief aangeval en ontbloot het. Historie en geloof is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Barth en Bultmann se aanspraak op kerugma sonder historie is ‘n “meaningless noise” (vgl. Conn, 1973:67).

6.3 DIE GEREFORMEERDE TEOLOGIE ANTWOORD

Die onlosmaaklike band tussen die historiese en die normatiewe gesag van die Heilige Skrif is nog altyd deur die gereformeerde teologie gehandhaaf. Van’t Spijker (1986:11) skrywe:

“God openbaart zich in zijn daden, in de schepping van die verlossing van de door zonde verdorven wereld en al de werken van zijn handen, in de voleinding van al zijn werken“.

God se dade het plaasgevind in ons tyd en ruimte, sigbaar vir die menslike oog, hoorbaar vir die menslike oor (vgl. o.a. I Joh. 1:1-4).

God self voorspel en verduidelik ook sy dade deur sy woorde, wat Hy stuur deur die profete, deur die Seun en deur die apostels. Dit opsigself is onbegryplike genade want Hy is ver verhewe bo sy skepping en sy ewigheid transendeer ons tydelikheid.

Die Bybel se gesag moet daarom altyd tweeledig verstaan word – histories en normatief (GD.I:427-432, Van’t Spijker, 1986:9). Die historiese gesag daarvan dui op die feit dat die Skrif betroubaar is en ons daarom volkome ons geloof daarop kan bou. Die normatiewe gesag daarvan dui op die feit dat ons hele lewe gehoorsaam daaraan onderwerp moet word. Dit wil sê­-

* die Bybel se historiese gesag roep om vertroue in God

* die Bybel se normatiewe gesag roep om gehoorsaamheid aan God

So bv. het Dawid se owerspel met Batseba historiese gesag (dit het regtig gebeur) maar dit het geen normatiewe gesag nie (ons mag hom nie daarin navolg nie).

Frame (1987:148) skryf soos volg oor die Skrif se historiese gesag:

“Those who view the mighty works of God are obligated, on the basis of that experience, to believe in Him. And not only they but also those who hear or read the authoritative testimony of the witnesses to these events, are expected to respond positively. Thus both the mighty work itself and the official testimony to God’s mighty acts compel belief“.

Kortom: hoe moet ons “n geskrewe dokument gehoorsaam, waarvan ons die betroubaarheid betwyfel?

Let ook op na die noue band tussen geloof in God se dade van oordeel en verlossing in die verlede, en gehoorsaamheid aan sy bevele in die hede, in Psalm 78, veral vers 7:

“So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het …”

6.4 GEVOLGTREKKING

Die historiese gesag van die Skrif is van uiterste belang. Dit is onmoontlik om die Bybel se historiese en normatiewe gesag van mekaar te skei, of een daarvan prys te gee en nog die ander een te handhaaf. Soos hierbo duidelik gesien is, het sekere dosente wel die historiese betroubaarheid van die Bybel prysgegee (al is dit net sekere dele), maar hulle het ons altyd weer verseker:

“ons geloof is nie afhanklik van die historiese betroubaarheid van die Skrif nie“!

Dit sal goed wees indien kritiese eksegete kennis neem van prof. AB du Toit se tydige vermaning:

“Ons het vandag te veel voorbeelde van persone wat in hulle geloofslewe ernstige skade opgedoen het onder onbedagsame uitsprake van eksegete” (1990a:515-516).

7. DIE NORMATIEWE GESAG VAN DIE SKRIF AANGETAS

Die normatiewe gesag van de Skrif het te doen met ons gehoorsaamheid aan God en met die konkrete heerskappy van Christus oor sy skepping en sy kerk.

Wie en wat moet die Christen gehoorsaam? Waaraan is die Christen se gewete gebonde? Die NGB antwoord in Artikel 32:

“En daarom verwerp ons alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind of te dwing.”

Dit is net logies dat enige poging om die normatiewe gesag van die Skrif af te water en te vervang met “menslike uitdinksels” tot geen klein onrus en gewetenstryd sal lei nie.

Die normatiewe gesag van die Nuwe Testament is by tye deur dosente van die Teologiese Fakulteit gerelativeer of ontken. Ek het reeds vroeër genoem dat prof. Breytenbach beweer het dat “die Nuwe Testament geen objektiewe leerstellings bevat nie” (sien hfst. I).

* By geleentheid het ‘n student in die klas woorde van Jesus uit die Johannes-evangelie aangehaal om sy standpunt te staaf. Prof. Willem Prinsloo het toe geantwoord “Ek wil nou nie stout wees nie, maar wie sê dit was Jesus se eie woorde?”

Toegegee, selfs ‘n ortdokse Skrifbeskouing impliseer nie dat ons in die Bybel noodwendig altyd die “ipsisema verba” van Jesus van Nasaret het nie. Die vraag is egter: waarom gebruik prof. Prinsloo hierdie argument? M.i. funksioneer hierdie vraag van prof. Prinsloo as ‘n direkte ondermyning van die studente se vertroue in die Skrif, en daarom ook van die normatiewe gesag van die Skrif.

* Prof. Jan van der Watt het in die klas gesê dat die huistafels in Kolossense (3:18-4:1) nie voorskriftelike Christelike etiek vir vandag is nie. Paulus het net maar die gebruiklike Stoïsynse huistafels van sy tyd in Christelike taal aan die gemeentes voorgehou.[34]

* Dr. Cornél du Toit (1989:123) skrywe soos volg oor Rom. 13:1-7 waarin dit handel oor die Christen se verhouding tot die owerheid: “Daar is geen Christelike gronde vir die uitsprake nie, en dit kom ooreen met die tradisioneel Hellenisties-Joodse paranese“. Verder: “Daar moet aan die een kant nie te veel van dié deel gemaak word nie, en aan die ander kant kan dit ook nie as heeltemal waardeloos vir vandag beskou word nie…” (1989:126).

Hy konkludeer dan dat Rom. 13 nie regstreeks op die situasie van kerk en staat van vandag oorgedra kan word nie want “Rom 13 veronderstel nie ‘n demokraties ingestelde staat nie” (1989:126).

* Hierby kan nog gevoeg word die ontkenning, deur al die dosente, van die normatiewe gesag van Paulus se uitsprake oor die rol van die vrou in die gemeente.

Gewoonlik vind bg. relativering of ontkenning van die Skrif se normatiewe gesag plaas op grond van die sg. kultuur-historiese gebondenheid van die betrokke Skrifgedeeltes asook deur te redeneer dat die Bybelskrywers maar net kinders van hulle tyd was. Die feit is egter dat die oordeel oor watter Skrifgedeeltes nou sg. kultuur-histories gebonde is en watter nie, op ‘n hoogs subjektiewe vlak plaasvind – en byna altyd bepaal word deur óns tydsgees.

In geeneen van die bg. gevalle is daar in die onmiddellike literêre konteks enige gronde vir die ontkenning van die normatiewe gesag van die teksgedeeltes nie, inteendeel, die onmiddelike konteks versterk eerder die gesag van die betrokke Skrifuitsprake.

Gevolgtrekking

Die ontkenning van die gesag van die betrokke teksgedeeltes laat altyd ‘n lugleegte. Wie se woord moet die gelowige nou in die plek daarvan gehoorsaam? Die teologiese “experts” s’n? En sê nou die Heilige Gees dring iemand om nie aan hierdie nuwe gesag gehoor te gee nie, maar alleen aan Sy onfeilbare geïnspireerde Woord? Kan so ‘n gelowige dan vervolg word?

8. VOORSPELLING EN DIE MESSIAANSE KARAKTER VAN DIE OU TESTAMENT AANGETAS

Die profetiese element van voorspelling (hetsy dit heils- of oordeelsaankondiging is), wat so dikwels in die Ou Testament voorkom, word effektief deur die Bybelwetenskaplikes aan die Fakulteit ontken, deur die ontstaan van die betrokke tekste waarin die voorspellings voorkom, te dateer nadat die voorspellings vervul is!

Sodoende word een van die primêre kenmerke van die ware profeet in die Ou Testament deur vandag se Ou Testamentici ontken. Prof. Le Roux kon byvoorbeeld in die klas beweer dat die profeet Daniël een of ander “held uit die gryse verlede” was, dat die boek Daniël histories onbetroubaar is en dat dit geen profesieë bevat nie.

Nog ernstiger is die totale ontkenning van die heenwysings na Christus in die Ou Testament. Afgesien van die feit dat geen professor[35] in die Ou- of Nuwe Testament dit die moeite werd geag het om ons te wys op die algemene Messiasverwagting (vgl. Clowney, 1986) in die struktuur en ontwikkelingsgang van die Ou Testamentiese openbaring nie, is die spesifieke Messiaanse karakter van tekste in die Ou Testament radikaal ontken.

Let wel dat ek hier nie beweer dat baie van die Messiaanse profesieë nie ook ‘n lokale toepassing gehad het nie, of selfs dat die hele problematiek rondom die verskynsel van Messiaanse profesie eenvoudig is nie. Waaroor dit hier gaan is die blatante ontkenning deur dosente, dat Ou Testamentiese tekste Messiaans kan wees en op Christus dui.

8.1 PROF WILLEM PRINSLOO OOR PSALM 2

Prof. Prinsloo (1984:24) roep ons op om “eerlik na die inhoud van Psalm 2… te luister” in sy werkie “Van Kateder tot Kansel”. Hy kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat: “Wanneer die inhoud van Psalm 2 as sodanig bekyk word, blyk dit dat daar in Psalm 2 self geen direkte (sy klem) Christologiese voorstellings is nie” (1984:46).

Wat bedoel prof. Prinsloo as hy praat van “geen direkte Christologiese voorstellings nie“?

Dit word duidelik uit die volgende aanhaling: Psalm 2 se “universele en eskatologiese trekke” bied wel aan die Nuwe Testament die materiaal “om dit op Jesus Christus van toepassing te maak“. Die Nuwe Testament wend die Ou Testament volgens die “tradisionele eksegetiese metodes van sy tyd aan” en kan dus nie as kriterium geld vir ons uitleg van Psalm 2 nie, skrywe prof. Prinsloo (1984:46). Hierdeur wil prof. Prinsloo vir sy gevoel “onverantwoordelike eksegese” vermy.

Kritiek

Saam met Moisés Silva (1987:108) kan ‘n mens net sê:

“…it would be blatant fallacy to deduce that the apostles did not regard the prophesies as straightforward, supernatural predictions.”

Anders gestel, werp prof. Prinsloo deur sy argumentasie ‘n skadu oor die etiek van die Nuwe Testamentiese skrywers, en oor Jesus self, aangesien ‘n mens op voetspoor van prof. Prinsloo moet konkludeer dat die Nuwe Testamentiese skrywers die Ou Testament “misbruik” het, om hulle saak te bevorder.

‘n Mens sou ook kon vra: As die Nuwe Testamentiese gebruik van die Ou Testament nie as kriterium mag geld vir ons uitleg van die Ou Testament nie, wie se metode is dan nou die kriterium?

Die Nuwe Testamentiese aanhalings van Psalm 2

Een van prof. Prinsloo se belangrikste argumente in sy beredenering en gevolgtrekking is dat die Nuwe Testament Psalm 2 “nie op ‘n eenvormige of selfs ‘n eenstemmige manier” aanhaal nie. (1984:46)

Kom ons neem ‘n voorbeeld wat hy self aanteken (1984:45) naamlik vers 7b van Psalm 2 wat lui “Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee” (NAB).

Dit word soos volg deur die Nuwe Testament geïnterpreteer –

* in Hand. 13:3 3b dui dit op die opstanding van Christus

* in Heb 1:5 dui dit op die voortreflikheid van Jesus Christus bo die engele

* in Heb 5:5 dui dit op Jesus se verheerliking as Ewige Hoëpriester

‘n Mens sou kon vra: Is daar dan enige teenstrydigheid in bg. interpretasies van Ps. 2:7b deur Lukas en die Hebreërbrief­ skrywer?

8.2 PROF PRINSLOO OOR JESAJA 53

Prof. Prinsloo het in die klas en by ander geleenthede herhaaldelik gesê dat Jesaja 53 “hoegenaamd nie op Jesus Christus kan dui nie?“[36]

Op wie dui Jesaja 53 dan? Volgens prof. Prinsloo dui dit op die volk Israel.

Kritiek

Filippus se antwoord op die vraag van die Etiopiër in Handelinge 8 is dus wetenskaplik gesproke ‘n flater, want die hofdienaar het uitdruklik oor Jesaja 53 gevra: “Sê my asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

In die lig van Joh. 5:39-47 wil ek vra of ons nou deur prof. Prinsloo geleer word om die Ou Testament soos die ongelowige Jode te lees?

Myns insiens is die ernstigste vraag wat prof. Prinsloo (en dié kollegas van hom wat sy standpunt oor Jesaja 53 en die Ou Testament mag deel), moet antwoord, dié vraag wat Jesus aan sy dissipels gevra het, nl: “Wie sê julle is Ek?” Dit is vir my onmoontlik om in te sien hoedat prof. Prinsloo, met dieselfde oortuiging as Simon Petrus, sal kan antwoord: “U is die Messias..!”

‘n Mens wonder waar prof. Piet Meiring (1989:52) nog die moed vandaan kry om in sy “Ontmoet jou Moslem-bure” te kan skrywe dat, wanneer ons die Moslems wil probeer oorhaal tot ‘n regte verstaan van Jesus Christus as die Seun van God, ons

“kan begin by die term ‘Seun’ as eretitel vir die Messias in Psalm 2 …“!

Is prof. Meiring op hoogte met wat sy kollegas leer?

9. PROF JURIE LE ROUX EN J W COLENSO

Prof. Jurie Le Roux bring in sy artikel “Sending en Pentateugkritiek” (1990b) hulde aan die Biskop van Natal van die derde kwartaal van die negentiende eeu, John William Colenso (1814-1883).

Colenso, wat volgens prof. Le Roux “‘n groot passie vir die sending gekoester” het, het deur sy radikale pentateug­kritiek en sy kommentaar op Romeine hom die onguns en gramskap van die destydse Anglikaanse kerk op die hals gehaal. “Sy (Colenso se) resultate was ingrypend en het talle geskok” (1990b: 18 7). Tog konkludeer prof. Le Roux, wou Colenso “onder geen omstandighede… die geloofswaarhede van die kerk aantas nie. Dit bly ‘n tragedie dat Colenso en die kerk mekaar langs die pad verloor het” (1990b:197). Colenso sterf as ‘n “ontnugterde mens” in 1883 nadat die kerk haar “rug op hom gedraai” het. (1990b:187).

Sonder om Colenso se uitnemede begaafdheid te betwyfel wil ek net twee van prof. Le Roux se beweringe i.v.m. Colenso van naderby beskou.

9.1 COLENSO SE SOGENAAMDE PASSIE VIR DIE SENDING

Prof. Le Roux sê dat Colenso “‘n groot passie vir die sending gekoester” het. Hoe moet hierdie “groot passie” verstaan word in die lig van die feit dat, soos prof. Le Roux self skrywe: Colenso

“van oortuiging was dat alle heidene reeds die verlos­sing van Christus deelagtig was. Dit was nie die sendeling se taak om hulle tot bekering te bring nie, maar om hulle die heil te laat geniet” (Le Roux, 1990b:191)

en dat Colenso

“die plaasvervangende lyding van Christus … onderbeklemtoon het” (1990b:191).

Watter voorbeeld van sendingpassie is dit om ‘n universalisme te verkondig en boonop die plaasvervangende lyding van Christus – waarvan die heidene so dringend moet verneem – “onder te beklemtoon”? Indien prof. Le Roux geen probleme hiermee het nie (wat ek uit sy artikel moet aflei) maak hy hom skuldig aan growwe dwaallering wat hy boonop voorhou as navolgenswaardig.

9.2 COLENSO EN DIE “GELOOFSWAARHEDE VAN DIE KERK”

Volgens prof. Le Roux wou Colenso “onder geen omstandighede die geloofswaarhede van die kerk aantas nie” (sien hierbo).

Hanekom (1951:268) skrywe dat Colenso op die volgende klagpunte skuldig bevind is op 16 Desember 1863, nl. dat hy ­

* die borgtogtelike lyding van Christus ontken

* die wedergeboorte van alle mense by die geboorte (‘in their very birth-hour’) leer

* die ewige oordeel verwerp

* die beskouing toegedaan is dat die Bybel nie Gods Woord is nie, maar Gods Woord in die Bybel is

* die goddelike inspirasie van die Bybel verwerp

* die gesag en kanonisiteit van bepaalde Bybelboeke (of gedeeltes daarvan) verwerp

* beweer dat die Here Jesus onkundig was omtrent die outeurskap en ouderdom van bepaalde dele van die Pentateug

* die leer van ‘The Book of Common Prayer’ ondermyn

Hanekom skrywe voorts (1951:269) dat Colenso “op verskillende maniere bevriend was met liberale leraars en ook as vrymesselaar in nou aanraking met sommige van hulle” was.

Die vraag wat nou by ‘n mens opkom is: Wat bedoel prof. Le Roux by “die geloofswaarhede van die kerk” – aangesien bg. voldoende aantoon dat Colenso die hart van die kerk se geloof uitgeruk het, ook die Anglikaanse Kerk s’n? Hoe ver kan ‘n teoloog of predikant dan vandag gaan voordat hy volgens prof. Le Roux “die geloofswaarhede van die kerk” aantas?

10. PROF CILLIERS BREYTENBACH SE INTERPRETASIE VAN GALASIËRS 3:28

In sy artikel “Die identiteit van ‘n Christenmens” skrywe prof. Breytenbach (1988:61) n.a.v. sy eksegese oor Gal. 3:28, onder meer soos volg:

“In lyn met 1 Korintiërs 11:11 en verder word beklemtoom dat die geslagsonderskeide onbelangrik geword het en word manlikheid en vroulikheid gelykgestel …

Uit ‘n Christologiese perspektief is dit verstaanbaar dat Paulus die opstandingslewe van Christus, wat die basis van die nuwe lewe van die gemeente vorm, nie as ‘n manlike of vroulike lewe sien nie. Nóg die Gees nóg Christus is manlik of vroulik. Die manlike en vroulike gelowiges is met een Gees deurdrenk en lewe almal om gelykvormig te word aan Christus se opstanding. Die frase in Galasiërs 3:28 is bewus na analogie van die Septuaginta-teks van Genesis 1: 27 geformuleer. Die eskatologiese ‘nuwe skepping’ oortref die skepping… ‘n Christenmens se indentiteit nie in sy/haar seksualitiet nie.”

Bg. interpretasie van Gal. 3:28 deur prof. Breytenbach kan tot die volgende heretiese konklusies aanleiding gee –

* dat die skeppingswerk van God aan die begin nie volmaak was nie

* dat seks en seksualiteit per se sondig, of ten minste minder heilig is

* of andersins, dat homoseksualiteit nou geregverdig is

Hoe dit ook al sy, prof. Breytenbach se standpunt is vaag, dubbelsinnig en onduidelik.

HOOFSTUK V

DOGMATIEK

1. TER INLEIDING

In die lig van die verskuiwing in Skrifbeskouing is dit onafwendbaar dat daar ook ‘n verskuiwing in die dogmatiek moes plaasvind. Hierdie verskuiwing is m.i. die duidelikste sigbaar op die terrein van die Godsleer en gevolglik ook in die leer van die voorsienigheid en soewereiniteit van God. Aangesien dit tot dusver nog nie direk ter sprake gekom het nie, gaan ek in hierdie hoofstuk ook aandag gee aan die verskuiwing in die waarheidsbeskouing. Laastens wil ek aandag skenk aan prof. Johan Heyns se regverdiging van sy openingsgebed by Kodesa I.

2. GODSLEER

2.1 DIE “GANS ANDERE”

Wanneer sommige van ons dosente oor God gepraat het, het hulle dikwels die Barthiaanse term “die Gans Andere” gebruik (vgl. Crafford, 1992). Wat elkeen daarmee bedoel het, is nie altyd so duidelik nie, maar ten minste by sommige het dit beteken dat die Lewende God só verborge is – ten spyte van Sy openbaring – dat ons Hom nie werklik kan ken nie.

Daar is gedurig gewys op die feit dat ons God nie volkome kan begryp nie, wat natuurlik waar is, maar daar is selde gesê dat God Homself só aan ons geopenbaar het dat ons wel ware en sekere kennis (nie volledige, komprehensiewe kennis nie) van Hom kan hê. Hiermee is m.i. die kenbaarheid van God, ten minste op indirekte wyse, ernstig gerelativeer.

Om God te kan “ervaar”, was vir dié dosente oor die algemeen geen probleem nie. Hulle het dit gehad teen begripsmatige (proposisionele) kennis oor of van God. Die gevolg van hierdie neo-ortodokse Godsleer met sy eksistensialistiese herkoms, is dat geen “ervaring” van God getoets of bevraagteken mag word nie (soos wat prof. Piet Meiring dan ook op die oordenking “Kompas”, SAUK TV1, Op 18/7/1992 geïnsinueer het – tot groot ontsteltenis van Christen-kykers).

As voorbeeld haal ek vir prof. Jurie Le Roux aan wat skrywe (1988:65): “Krities-wetenskaplike studie word altyd beoefen binne konteks van die misterie van God; kan God nooit volledig vasvat nie en is bewus van sy relatiewe karakter.” Teenoor die gereformeerde ortodoksie wat “ewig absolute uitsprake oor God en sy handelinge met die mens maak, en daarom … geen kritiese wetenskap geduld” het nie, staan die Nederlandse etici (met wie prof. Le Roux homself vereenselwig) wat “alle uitsprake oor God as iets baie meer voorlopig gesien het, omdat alle teologie binne die misterie van God se grootheid en andersheid beoefen moes word“.

Let op die valse teenstelling tussen “God volledig vas te vat” enersyds (wat alle Bybelse gelowiges nog altyd verwerp), en die “misterie en andersheid” van God andersyds, wat “alle uitsprake oor God as baie meer voorlopig sien” (wat ewe onbybels is).

‘n Mens sou die volgende vrae[37] aan prof. Le Roux en sy geesgenote kon stel. As God die “Gans Andere”, of te wel ‘n “misterie” is –

* hoe weet ons dit?

* watter reg het ons om nog oor God te praat en teologie te beoefen?

* is u eie uitsprake oor God ook “voorlopig” of is dit dalk ewig en absoluut?

Die misterie van God en sy andersheid is vir prof. Le Roux só groot dat hy by geleentheid in die klas (op voetspoor van sy mentor Schleiermacher) duidelik skepties gestaan het teenoor die, deur Tertulianus geformuleerde, konsep van “Een Wese en Drie Persone”, wat deur die historiese Christendom van al die eeue bely is.

2.2 DIE “GROND VAN ONS BESTAAN”

Prof. Johan Heyns het tydens ons BD I jaar (1986) in die klas probeer aantoon dat ons nie mag sê dat God “daar” is nie, want dit maak God tot ‘n objek en bring Hom af na die vlak van ‘n skepsel. Om “die bestaan” van God te bely is net so problematies as om dit te ontken. Nee, God is nie “daar” nie, God is die “grond van ons bestaan”[38].

* Hierdie Godsbegrip wat prof. Heyns ten minste gedeeltelik van Paul Tillich en JAT Robinson (vgl. Durand, 1985:45-46,63-64) moes oorgeneem het, doen presies dit waarteen ons belydenis en Calvyn so duidelik waarsku, nl. om oor God te spekuleer op ‘n onbybelse manier (vgl. Durand, 1985:26). Artikel 13 van die NGB bely o.a. dat “Ons tevrede daarmee is dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”

Die Here Jesus het (soos die profete en die apostels) ons geleer van “ons Vader wat in die hemel is”, d.w.s. “daar” is. Daarom kan Harvie Conn (1973:91) tereg skrywe: “Tillich’s doctrine of God has no relation to the biblical doctrine“. Calvyn skrywe ook dat alle teologie moet plaasvind binne die perke wat God in sy Woord gestel het. Ons moet nie toegee aan sondige nuuskierigheid en deelneem aan ydele spekulasies oor God of sy skepping nie. Vir Calvyn beteken dit egter ook dat ons nie minder moet sê as wat die Skrif oor God sê nie (vgl. Inst 1.14.1).

* Tweedens hef dit die Bybelse onderskeid tussen Skepper en skepsel op en neig dit sterk in die rigting van ‘n panteïstiese godsleer of anders gestel na immanentisme (Durand 1985:45). Net soos die skolastiek bring dit die personaliteit van God in gedrang. “The danger of all attempts to speak of God in pure language (that is, in language purer than Scripture) is that we may reduce Him to an inert, immobile, abstraction” (Macleod, 1990:17).

Dit is ironies dat prof. Heyns by geleentheid in die klas kon sê: “Teologie is om God op die disseksietafel te plaas“. Vir my gevoel is dit ‘n radikale piëteitlose uitspraak.

2.3 DIE MANLIKHEID VAN GOD

Hieroor is in die jongste tyd heelwat geskrywe (vgl. Breytenbach, 1988:61, Ciobotea, 1988:50-57) n.a.v. die opkoms van die feministiese teologie. Vervolgens haal ek aan uit Insig-tydskrif (Oktober 1991):

“Prof. Johan Heyns, departement van teologie aan die Universiteit van Pretoria sê, omdat die “Bybel in ‘n bepaalde patriargale kultuur-historiese situasie geskryf is, het God hom as ‘vader’ openbaar. As dit byvoorbeeld ‘n matriargale situasie was, sou dit ‘moeder’ wees, en sou sy haar ‘dogter’ na die aarde gestuur het…

Dit het nie gebeur nie. God se manlikheid moet egter nie geslagtelik beskou word nie. Omdat Hy hom as Vader ge­openbaar het, glo ek bv. nie dat Hy in homself net vader en nie moeder is nie. Maar om hieroor aan die Skrif te verander, is hoogmoedig, radikaal verkeerd en heiligs­kennis. Verkeerde opvattings moet met herinterpretasie herstel word.”

Kritiek

* Hiermee word die gesag, genoegsaamheid en finaliteit van die Skrifopenbaring ernstig gerelativeer.

* Is God dan nie die insteller en outeur van die patriargale familiestruktuur nie?

* Alhoewel die Bybel vol antropomorfismes is, is daar tog ook uitsprake oor God wat letterlik geneem kan word. Ons weet almal dat die Skrif figuurlik spreek wanneer dit praat van God se “arm” of “oë”. Maar, wanneer die Skrif leer “God is nie ‘n leuenaar nie” is dit dan ook figuurlike taal? Dieselfde kan gesê word oor “God is liefde”. Frame skrywe (1987:37): “God does not ‘really’ have arms and eyes, but we cannot make a similar disclaimer about God’s love. God’s love is more than our language can grasp but surely it is not less.” As ons nou sê dat sy “liefde” figuurlike taal is – dan word die begrip liefde van alle inhoud en betekenis ontneem. Kan God dan nie ook “letterlik”, regtig Vader wees nie?

* Die kenbaarheid van God word vernietig. John Murray sê (Frame, 1987:37): “We know God by means of analogy, but what we know is not mere analogy, but the true God.”

Die bovermelde woorde van die NGB en Calvyn (2.2) is m.i. ook op hierdie spekulatiewe denke van prof. Heyns van toepassing.

2.4 “DIE GOD WAT LYDING OP HOMSELF NEEM”

Wanneer dr. C du Toit (1990:7) oor die teodisee-vraag skrywe en tereg wys op die onhoudbaarheid van die klassieke idee dat God byna apaties staan teenoor lyding, behandel hy (en dit lyk asof hy die standpunt deel aangesien hy geen korreksie daarop aanbring nie) die idees van Jürgen Moltmann e.a. wat sê dat

“Alle menslike geskiedenis word opgeneem in hierdie kruisgeskiedenis van God, in die Drie-eenheid self. Die Drie-eenheid is geen geslote sirkel nie, maar ‘n geskiedkundige proses. Die verlate mens is deur die verlate Christus in die Goddelike geskiedenis ingetrek. Daar is dus geen lyding in die geskiedenis van die mens wat nie ook deel van God se lyding is nie. So ly God in ons waar ons ook die liefde ly. Ons word ingetrek in hierdie trinitariese geskiedenisproses van God.”

In hierdie woorde lê ‘n magdom Bybelvreemde wysgerige vertrekpunte verskuil waarop ek nie nou verder ingaan nie. Dit is in elk geval taal oor God wat ligjare weg is van die Bybelse taal. Soos Macleod (1990:12) êrens sê:

“it is not the language of the Bible, nor the language of evangelism, nor the language of prayer“.

2.5 GOD EN ALLAH

Graag wil ek daarop wys dat dit hier nie gaan oor die vraag hóé daar deur Christene in persoonlike kontak met Moslems omgegaam moet word nie. Dit gaan hier oor die vraag oor wie of wat Allah van die Moslems is.

Prof. Piet Meiring (1989:53) sê in sy Bybelkor boekie “Ontmoet jou Moslem-bure“:

“Die Here het jou nie gestuur om die Islam aan te val nie. Die Here het jou gestuur om die evangelie van sy liefde te verkondig. Daarom moet ons versigtig wees wat ons van ander se geloofsoortuigings sê. Uitsprake van Christelike skrywers en predikers dat Allah van die Islam ‘n afgod is, grens aan laster. Toe die Bybel in Arabies vertaal is, het die vertalers deurgaans die woord ‘God’ met Allah vertaal.”

“… Die Bybel leer ons ook baie meer as die Koran oor die genade en die liefde van God soos in die Here Jesus geopenbaar.”

Op die opvallende flaters in sy argument reageer ek nie, aangesien dit vir almal duidelik behoort te wees. Prof. Meiring wek egter die indruk dat die God van die Bybel en Allah van die Islam dieselfde God is, of anders handhaaf hy slegs ‘n baie vae onderskeid tussen hulle.

Prof. Dionne Crafford (1992) sê dit elders sonder om te skroom:

“Die Islam en Judaïsme… is ‘n gebrekkige verstaan van die een ware God”

Hierteenoor sê Jesus vir die ongelowige Jode: “As God julle Vader was, sou julle my liefhê…” (Joh. 8:42). Hiermee ontken Hy tog duidelik dat hulle God en sy Vader dieselfde persoon is. Talle ander Skrifgedeeltes beaam dit.

Calvyn (Inst 2.6.4) skrywe oor die Moslems:

“Die Turke is vandag ‘n voorbeeld hiervan. Hoewel hulle met vol kieste verkondig dat die Skepper van die hemel en die aarde hulle God is, plaas hulle ‘n afgod in die plek van God terwyl hulle afkerig is van Christus.”

Calvyn maak hom dus volgens prof. Meiring klaarblyklik skuldig aan laster.

2.6 KONKLUSIE

Die NGB leer dat ons God waarlik kan ken (Art 2) en dat hier­ die kennis van God waar is (Art 5,7). Daarmee is nog nie gesê dat ons God volkome kan begryp nie (vgl. Art 1). Nee die Drie-Eenheid “gaan die menslike verstand ver te bowe… (en) ons verwag om die volle kennis… (eers) in die hemel te geniet” (Art9).

Die NGB weier egter om op onbybelse wyse oor God te spekuleer, of om minder oor God te wil sê as wat die Skrifopenbaring sê, of om God met sy skepping of die geskiedenis te vereenselwig, of om God en die afgode gelyk te stel. Dit is alles die innovasies van die nuwe teologie.

3. WAARHEIDSBESKOUING

Godsleer en waarheidbeskouing hang nou saam. Aan die Fakulteit is ons gereeld herinner dat “niemand die waarheid in pag het nie” maar dat ons almal “net soekers na die waarheid” is.

Die vraag is nou egter, hoe sal ons weet of ons soektog suksesvol is, al dan nie? Dit wil sê, wat is die maatstaf waaraan waarheid gemeet word? ‘n Dosent soos prof. Jurie Le Roux sê uitdruklik (1988:63): “Die waarheid kan nie in proposisies of dogmata uitgedruk word nie. Dit is iets wat ‘n mens net innerlik kan ervaar wanneer God ontmoet word“.

Dat die waarheid, in die Bybelse sin, nie bloot net in propo­sisies bestaan nie is waar, maar dat dit ook in proposisies uitgedruk kan word, is tog ook waar.

Ander skroom weer nie om te sê dat daar geen “objektiewe leerstellings” in die Nuwe Testament is nie (prof. C Breytenbach), dat die Bybel 2 000 jaar gelede geskrywe is en daarom nie net so as norm vir vandag kan geld nie (dr. C Du Toit i.v.m. die Bergpreek) en die Bybel se uitsprake “nie as tydlose goddelike waarhede op vandag toegepas kan word nie” (prof. AB du Toit). Daar is dus duidelik geen norm in ons soektog na die waarheid nie.

Die gevolge van so ‘n normlose soektog na die waarheid word duidelik in die volgende voorbeeld as een van die dosente skrywe:

“…there is no such thing as the Christian doctrine of reconciliation. There never was. Reconciliation has developed, being altered and adapted in relation to the selfunderstanding and world-view of the theologians formulating soteriological doctrine. We are invited to follow in their footsteps” (Breytenbach, 1986:18).

Oor “versoening” sal ons volgens prof. Breytenbach nooit die waarheid weet nie.

Al waarop dit hier neerkom is op dit wat die pragmatis William James (1967:145) beskou het as waarheid: “Meanwhile we have to live today by what truth we can get today, and be ready tomorrow to call it falsehood.” “Waarheid” het dus ‘n baie kortstondige bestaan, want dit is voortdurend onderworpe aan ‘n historiese veranderingsproses.

Prof. Le Roux bevorder aktief relativisme as hy in die klas vir ons sê:

“Elke student moet vir hom ‘n Ou Testament-teologie kies soos ‘n man vir hom ‘n vrou kies” (vgl. Le Roux, 1988:60).

3.1 GEVOLGTREKKING

Die antwoord op die vraag oor hoe ons sal weet as ons die waarheid oor ‘n gegewe saak in die teologie gevind het, is dat ons nie kan weet nie, aangesien daar geen maatstaf vir waarheid is nie. Die Skrif het sy eeue-oue funksie as “suprema iudex controversarium” verloor.

Die logiese vraag wat nou by ‘n mens opkom is dit: Hoekom soek ons dan nog na die waarheid terwyl ons nooit sal weet (ten minste in hierdie lewe) of ons dit gevind het nie? Is dit nie ‘n mors van tyd nie? Of het ons nou soos die antieke Ateners geword wat “hulle tyd aan niks anders bestee het as om iets nuuts te sê of te hoor nie” (Hand. 17:21)? Treffend skryf Calvyn (1982:65) oor die vrugtelose teologie van sy tyd dat –

hoe groter die duisternis is waarin iemand “n onderwerp hul, hoe meer deurmekaar hy homself en ander kan maak deur belaglike raaisels – hoe groter is sy roem vir skerpsinnigheid en geleerdheid!

Is ons nie dalk bang om die waarheid te vind nie? Sê-nou dit is te vinde en dit staan radikaal antiteties teenoor onwaarheid en die leuen? Watter implikasies sal dit vir ons teologie en ekumene inhou?

Dit is geen wonder dat ‘n belangrike teologiese dissipline soos die apologetiek binne hierdie atmosfeer so stief behandel word nie. Apologetiek en polemiek behoort tot die ou paradigma, want uiteenlopende en teenstrydige leerverskille, het prof. Heyns eenmaal gesê[39], hoef geen verleentheid vir die Ned Geref Kerk te wees nie. Nee ons moet dit eerder sien as “die rykdom van die kerk”.

Hierdie relativisme staan lynreg teenoor die letter en gees van die Nuwe Testament. Hughes (1989:318) skrywe tereg: “A major purpose of the writing of the apostolic letters of the New Testament was to establish orthodoxy and dispel heterodoxy“.

Dieselfde geld vir die konsilies van die vroeë kerk (vgl. Rushdoony, 1978). Verskeidenheid van oortuigings is nie gelate aanvaar nie. Konsilies is spesifiek byeengeroep om kettery te weerlê.

Ook die Formuliere van Eenheid uit die era van die Protestant­ se reformasie adem ‘n direk teenoorgestelde gees as die dosen­te.

Die NGB leer:

“Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël (die Skrif) ooreenkom nie…” (NGB Art 7).

“Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, …” (NGB Art 12).

“Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs …” (NGB Art 13).

“Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane …” (NGB Art 15).

33 keer staan daar geskrywe in die Dordtse leerreëls:

“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer!“!

4. DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD EN LYDING

Sonder om voor te gee dat ‘n mens al die antwoorde het op die vrae oor menslike lyding, wil ek daarop wys dat die standpunte wat deur sekere dosente gehuldig word i.v.m. lyding nie te rym is met wat ons belydenisskrifte leer oor die voorsienigheid van God nie.

4.1 “SINLOSE” LYDING

Daar word beweer dat lyding “nie God se wil is nie” (vgl. C du Toit, 1990:6). Indien hierby bedoel word dat God nie behae het in lyding nie, of dat dit nie God se morele wil vir ons lewe is nie (in die sin waarin die dekaloog God se wil vir ons lewe is), het ‘n mens geen probleem met so ‘n stelling nie. Tog lyk dit uit die konteks of dosente soos dr. Cornél du Toit en prof. Jurie le Roux dit nie so bedoel nie, veral as gesien word hoe geredelik hulle kan praat van “sinlose lyding” (vgl. C du Toit, 1990:2, Le Roux, 1990:50-51 en 56-57) en die “absurditeit van die lewe” (vgl. Le Roux, 1990:56).

Weereens gaan dit nie daaroor of ‘n mens lyding as sinloos kan ervaar nie, wat inderdaad waar is, veral by die ongelowiges, maar of lyding per se ooit sinloos kan wees.

Prof. Le Roux (1990:56) skrywe n.a.v. Psalm 13:

“Nooit kan die absurditeit van hierdie lewe ontken word nie, maar vir die gelowige is dit nooit die eindpunt nie. Deur die gebed en die geloof moet hy altyd weer tot die loflied groei”

Later in sy preekwenke sê hy (1990:57):

“Lyding en eensaamheid is deel van menswees. Die ervaring van die sinloosheid en die absurditeit van die lewe is so eie aan die lewe van die mens. Die eksistensie-filosofie kan besondere lig werp op die strukture van menswees… Gebed te midde van die lewe se sinloosheid kan nooit genoeg beklemtoon word nie“.

Gevolgtrekking: Volgens prof. Le Roux –

* is lyding in hierdie lewe “sinloos” en “absurd”, en

* moet die eksistensie-filosofie ingeroep word om die probleem van lyding vir ons op te los.

Prof. Le Roux illustreer dan self hierdie “oplossing” deur sy irrasionele sprong na gebed en lofprysing. Daar is geen redelik-Bybelse gronde vir gebed en lof nie – dit funksioneer slegs as ‘n emosionele ontsnappingsroete.

4.2 DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS ANTWOORD

Daarenteen leer die Heidelbergse Kategismus ons in Sondag 1 (in navolging van die Skrif} dat lyding nie sonder, of buite die wil van God gebeur nie.

“Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader geen haar van my kop sal val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.”

En onder die vraag “Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?“, antwoord die Kategismus soos volg:

“Die almagtige en oral teenwoordige krag, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom” (Sondag 10, Vgl NGB. Art 13).

Hoe is dit moontlik om vas te hou aan die Belydenis maar gelyktydig te leer dat “lyding nie God se wil is nie” en inderdaad “sinloos en absurd” is? Wat het dan geword van die voorsienigheid van God? Of word ons nou opgeroep om saam met prof. Adrio König van Unisa te bely dat God “nie in beheer” van ons wêreld is nie, maar wel eendag weer in beheer sal kom (SAUK TV1, Agenda (of Kruis en Kroniek), 13/9/92)?

5. DIE SOEWEREINITEIT VAN GOD EN DIE UITVERKIESING

Vir enige gelowige wat op hoogte is met die inhoud van die Dordtse Leerreëls en wat hierdie leerstellings van God se vrye uitverkiesende genade hartlik omhels, sal dit m.i. opvallend wees dat die meeste dosente aan die Fakulteit nie met dieselfde ‘vrymoedigheid of duidelikheid praat oor die soewereiniteit van God en ons uitverkiesing nie. Sommige gaan selfs so ver as om Dordt openlik te repudieër[40].

* Wanneer prof. Jan van der Watt bv. ‘n strukturele uiteensetting gee van die teologie van die Johannes evangelie (Van der Watt, 1991) is daar in sy 34 bladsy artikel nie ‘n enkele verwysing (in die Calvinistiese sin van die woord) na die soewereiniteit van God in die redding van die mens nie, nie eers wanneer hy handel oor “Die Johannese soteriologiese gestalte” (1991: 112-114) en die wedergeboorte nie.

Wat maak prof. Van der Watt met die talle tekste in Johannes wat dui op die goddelike inisiatief in ons verlossing, om maar net een te noem: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom”.(Joh. 6:37a)?

* Prof. Jurie Le Roux skrywe êrens n.a.v. lyding: “Hy (God) probeer die klaer na sy kant toe oorwen“.

Watter soort god is dit wat “probeer”? Watter soort mens is dit wat “na sy kant toe oorgewen” moet word? Is dit dieselfde God wat Jesaja (en die res van die Skrif) so triomfantelik bely in Jesaja 46:9-11? En is hierdie nie darem ‘n baie magtige en reusagtige mens nie?

* Wanneer ‘n mens ‘n onlangse artikel (1989) van prof. Cas Vos oor die uitverkiesing lees, soek jy tevergeefs na die duidelike en ondubbelsinnige taal van Dordt oor hierdie saak. Prof. Vos vertoon m.i. eerder die kleure van die latere Berkouwer (sien hfst.I).

Terwyl ‘n mens met prof. Vos kan saamstem dat die ewige raad van God “nie slegs voortydelik nie” maar ook bo-tydelik gesien moet word, lyk dit tog of prof. Vos, op voetspoor van Berkouwer en Barth, die antitese tussen tyd en ewigheid ophef, soos o.a. gesien in die lig van die woorde van Noordmans wat hy aanhaal (Vos, 1989:113), wat soos volg lui: “God neemt z’n eeuwige besluiten op het allerlaatste ogenblik“.

Dit het tot gevolg dat sy (prof. Vos se) onderskeid tussen God se besluit in die ewigheid en die uitvoering van sy besluit in die tyd so vervaag[41] dat die twee amper nie meer van mekaar onderskei kan word nie en dat daar van die heldere spreke van Dordt oor hierdie sake byna niks meer oorgebly het nie.

Ek kan met prof. Vos saamstem as hy sê (1989:114-115) dat uitverkiesing en verwerping nie op ‘n “simmetriese wyse… langs mekaar gestel kan word” nie, dat die oorsaak van die verkiesing in Christus “slegs God se barmhartigheid” is en die verwerping a.g.v. die mens se ongeloof plaasvind, en dit “God nie ten laste gelê” mag word nie. Tog antwoord prof. Vos nie die diepste vrae van die mens se hart duidelik en ondubbelsinnig nie, nl. waarom glo sommige en ander nie?

5.1 DIE DUIDELIKE SPREKE VAN DORDT

Dordt leer eerstens dat die hele menslike geslag vanweë hulle eie sonde in die ellende lê, en strafwaardig is voor God. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die totale mensheid so te laat en te straf nie (DL 1:1).

Tweedens leer Dordt uitdruklik dat God uit loutere goedheid evangelieverkondigers uitstuur “na wie Hy wil en wanneer Hy wil” (DL 1:3).

Derdens leer Dordt dat die rede waarom God aan sommige mense in die tyd die gawe van geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, alleen volg “uit sy ewige besluit… volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ookal mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly” (DL 1:6, vgl. ook 1:15).

Vierdens leer Dordt dat hierdie uitverkiesing “‘n onveranderlike voorneme van God is” (DL 1:7) en dat die getal van die uitverkorenes “nie verwerp of in getal verminder” kan word nie (DL 1:11).

Ek gee nie voor dat prof. Vos bg. duidelike standpunte van Dordt verwerp nie, maar dat hy in sy behandeling van die uitverkiesing en die raad van God m.i. wegskram van hierdie ondubbelsinnige en duidelike taal van Dordt, sodat niemand regtig weet waar hy (prof. Vos) staan nie.

6. DIE VERSOENING VAN CHRISTUS

Dit is veral wanneer daar oor die versoeningswerk van Christus aan die kruis gepraat word, dat die openlike afwyking van, en selfs antagonisme teenoor Dordt duidelik opval.

* Prof. Piet Meiring skrywe êrens in die Voorligter dat Jesus Christus vir “elke Hindoe in die wye wêreld gesterf” het.

* Ook in die “Handleiding by die Nuwe Testament” (vgl. Pelser, 1984:260) wat aan ons voorgeskryf (Vgl. AB du Toit, 1989:21) is, word op eg Arminiaanse wyse oor Christus se versoeningswerk gepraat.

* Prof. JA Heyns het herhaaldelik in verskeie klasse gesê dat hy “nie die tradisionele gereformeerde standpunt handhaaf” dat Christus effektiewelik slegs vir die uitverkorenes gesterf het nie. Jesus Christus het vir alle mense gesterwe het hy gesê, ook vir Nietzsche. Prof. Heyns verwys natuurlik na die “tradisionele gereformeerde standpunt” van die Dordtse Leerreëls (en die Skrif) wat leer dat God van ewigheid besluit het om “die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak” (DL 1:7) en dat dit die wil van God was dat “Christus deur die bloed van die kruis … uit elke volk, stam, geslag en taal húlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is” (DL 2:8).

Soos wat ons in Dogmageskiedenis by prof. Borchardt (geen datum:10) geleer het, maak die Here Jesus se soenoffer nie bloot verlossing moontlik vir die mens wat dit deur sy vrye wil vir homself wil toereken (soos die Arminiane leer) nie, maar het Hy effektief die uitverkorenes aan die kruis verlos en hulle losgekoop met sy bloed. Hierdie wete kom egter slegs na die sondaar deurdat die Gees aan hom in die tyd, ware geloof, bekering en volharding skenk.

Indien proff. Meiring en Heyns bedoel dat alle mense salig gaan word, dan is hulle skuldig aan die dwaling van universalisme. Indien hulle bedoel dat Christus se kruis slegs verlossing moontlik gemaak het vir alle mense, dan is hulle skuldig aan die dwaling van Arminianisme.

7. PROF. JOHAN HEYNS EN DIE KODESA-GEBEDE

“Lank laas het ‘n godsdienstige gebeurtenis soveel opspraak gewek en ontsteltenis veroorsaak as die opening van Kodesa met gebede deur drie Christene, ‘n Moslem, ‘n Hindoe en ‘n Jood” berig Beeld (8/4/1992) vroeër vanjaar. Tydens die opening van Kodesa I op 14 September 1991 het prof. Heyns “namens die Christene” ‘n gebed gedoen.

In die openbare polemiek wat op sy deelname aan die openingsgebede by Kodesa I gevolg het, het prof. Heyns verskeie argumente gebruik om sy optrede by Kodesa te probeer regverdig. Dit is juis hierdie argumente van prof. Heyns wat m.i. ernstige kommer oor sy teologiese vertrekpunte laat.

7.1 PROF. HEYNS SE VERDEDIGING

Om sy optrede by Kodesa I te regverdig het prof. Heyns onder meer die volgende argumente gebruik:

Eerstens lyk dit asof daar sekere organisatoriese omstan­dighede by die reëlings van Kodesa I was wat aanleiding gegee het tot sy deelname (Beeld 1/10/91).

Hiervolgens blyk dit dat die idee vir gebed eerste by die “Christene” ontstaan het – waarmee geen probleem te vind is nie. Toe kom die “ander godsdienste” ook by en sê “ons wil ook bid en daarmee ook ons mense se verbintenis tot die vredesproses illustreer en dit aan almal bekend maak” – wat te begrype is.

Moes die “Christene” hulle nou onttrek? Prof. Heyns antwoord (Die Kerkbode 24/1/92): “…watter indruk sou dit gemaak het as die verteenwoordigers van die drie nie-Christelike godsdienste gebid het en die verteenwoordigers van die Christendom was afwesig? En dit in ‘n land waar 77% van die mense sê hulle is Christene!”

Tweedens gebruik prof. Heyns ‘n argument (wat hy by Mohandas Ghandi leen!) wat lui: “Daar is nie ‘n weg na vrede nie, want vrede is die weg” (Beeld 1/10/91).

Prof. Heyns skrywe “As vrede die weg is na vrede, of beter: na groter vrede, dan beteken dit dat daar ten minste iets van die vrede of die gesindheid van vrede meteen, dit wil sê van die begin af teenwoordig moet wees.”

Derdens sê prof. Heyns dat sy gebed ‘n geleentheid tot “getuienis” was (Beeld 1/10/91, Vgl. Beeld 8/4/92 en Crafford 1992).

“Daarom lewer ek ‘n getuienis van verdraagsaamheid teenoor hom (i.e. die ander godsdienste), van eerbied vir sy oortuiginge, en hoop ek dat hy deur my bede ook bewus gemaak sal word van die bestaan van my God, die Lewende God.”

Vierdens gebruik prof. Heyns (soos vele ander) die redenasietegniek van die valse teenstelling (Beeld 1/10/91, Beeld 21/4/92, Vrye Weekblad 3-9 April 1992).

Teenoor deelname aan die Kodesa-openingsgebede staan die enigste ander alternatief vir hom om: “onder alle omstandighede nie-Christene te vermy” en om “onverdraagsaam” teenoor hulle te wees (Beeld 1/10/91), of om “agressief” teenoor hulle op te tree en dus ‘n “eiland-bestaan” te voer (Vrye Weekblad 3-9 April 1992).

Vyfdens sê prof. Heyns, is “gereformeerdes hiper-sensitief vir die beginsel dat God se eer nie aangetas mag word nie” (vgl. Vrye Weekblad 3-9 April 1992). Vandaar al die negatiewe kritiek teen sy gebed by Kodesa I.

7.2 KRITIEK

Ek gaan vervolgens slegs reageer op die eerste drie argumente van prof. Heyns, aangesien die ongeldigheid van die laaste twee argumente hopelik vir die leser baie opvallend is.

7.2.1 By wie wou prof. Heyns indruk gemaak het?

Onder die eerste argument hierbo genoem vra prof. Heyns: “Maar watter indruk sou dit gemaak het…?” ens.

My teenvraag aan prof. Heyns is dit: “Watter indruk” by WIE? By die ongeveer 300 televisiespanne (Die Kerkbode 24/1/92) van regoor die wêreld wat dekking gebied het aan die openingsgeleentheid? Of dalk by die verteenwoordigers van die “ander godsdienste”? Of by die Kodesa-afgevaardiges? Of dui die “wie” op die ware volgelinge van Jesus Christus in Suid-Afrika (wat m.i drasties minder as 77% van die bevolking uitmaak)?

‘n Laaste moontlikheid – kan die “wie” dalk die Lewende God, die Vader van Jesus Christus, wat tot ons spreek in die woorde van die Heilige Skrif, beteken? Is Sy wil ook hier van be­lang…? Indien wel, dan sou prof. Heyns veel meer substansiële (Bybelse) argumente moes gehad het om homself te verdedig.

Die antwoord op die “wie” is bepalend. Wie se goeie indruk wou prof. Heyns behou? Die antwoord hierop sou die eventuele besluit of daar voortgegaan moes word met die Christelike deelname al dan nie, m.i. ingrypend beïnvloed het.

7.2.2 Wat is die prys van prof. Heyns se “vrede”?

In die tweede argument van Prof. Heyns wat hierbo genoem is, sê hy op voetspoor van Ghandi “Vrede is die weg van vrede“. Wat impliseer dit? Dit word m.i. duidelik in ‘n ander uitlating van prof. Heyns in Beeld (8/4/92).

Wanneer prof. Heyns in lg. artikel gevra word na die formulering van ‘n gebed by die opening van die parlement in ‘n “Nuwe Suid-Afrika” berig Beeld soos volg:

“Prof. Heyns is ten gunste van een gebed wat verwys na die almagtige God, Skepper van die hemel en die aarde. Hy meen nie so ‘n amptelike gebed hoef nader uit te spel presies watter god bedoel word nie. Vir die Christen kan dit by implikasie nie anders as die Drie-Enige God wees nie.

“Oor moontlike kritiek op dié standpunt sê prof. Heyns dat ‘n mens moet onthou dat ons tans in ‘n soort kompromissituasie is. Dit is óf so ‘n gebed, of niks.

“Christene moet weet hoe om in ‘n bepaalde situasie getuienis te lewer sodat hulle nie aanstoot gee en daar later geen aanknopingspunt meer is om met iemand oor die evangelie te praat nie. Hy meen ‘n gebed moet versoenend wees en nie polariserend nie.”

Dit is heeltemal waar dat Christene onnodig en vir geen goeie rede nie, aanstoot kan gee, maar die “aanstoot” wat prof. Heyns hier bedoel, is om in ‘n parlementsgebed “nader uit te spel watter god bedoel word” (Beeld 8/4/92). Kom dit nie neer op die verloëning van die Drie-Enige God nie?

En waarom moet ons Hom eers verloën om later ‘n “aanknopingspunt” te hê om dan weer oor Hom te kan praat. Verloën Christus nou om later oor Hom te kan praat! Dit klink vir my nie net totaal irrasioneel nie, maar kom ook neer op die ontkenning van die albeskikking en soewereiniteit van God in die verlossing van sondaars (ook Moslems en Hindoes). Is dit nie ons plig om God te gehoorsaam en die harte van mense in sy sorg te laat nie? Prof. Heyns wil nou die twee omruil.

Prof. Heyns sê ook in sy onlangse toespraak (vir die volledige konteks sien hfst. VI) voor die Sinode van Suidwes-Afrika, dat die kerk in sy bediening – onder ‘n owerheid wat vyandig staan teenoor die Evangelie – sodanig sal moet aanpas dat “hy nie in botsing kom met die owerheid nie“. Hierdie “aanpassing” kan volgens prof. Heyns selfs beteken dat ‘n mens nie meer openlik getuig vir Jesus Christus nie. Hy noem dan die Russie­ se Ortodokse Kerk (onder die Kommuniste) en die Grieks Ortodok­ se Kerk in Egipte (onder die Moslems) as navolgenswaardige voorbeelde vir die kerk in Suidelike Afrika, wat moontlik in die toekoms onder ‘n vyandige owerheid sal moet voortbestaan.

En dit terwyl ons almal weet dat die Russiese Ortodokse Kerk ‘n lakei was van die Kommuniste, sodat selfs prof. Crafford (geen datum,a:15) kan opmerk dat:

“Die feit dat die ortodokse Kerke uit Kommunistiese lande in 1961 lid geword het van die WRK, het sekerlik daartoe bygedra dat daar ‘n tendens was by die liggaam (die WRK) om min kritiek uit te spreek oor Kommunistiese verkragting van menseregte. Die teenwoordigheid van aartsbiskop Nikodemus, wat deur baie as ‘n ambassadeur van die Sowjet-Unie beskou word, in die dagbestuur van ses lede van die WRK dra hiertoe by.”

Prof. Heyns se argument maak dit vir my onmoontlik om in te sien hoedat by kan ontken dat hy reeds verstrengel is in die vredesreligie van die Nuwe Era[42] – wat die ideaal nastreef van een wêreldgodsdiens, waarin die vrede en eenheid van die mensdom die hoogste doelwit is. Dit is inderdaad ook die ideaal van die “post moderne” teologie van die derde millenium – as ek Hans Küng (1991:255) reg verstaan – wat skrywe: “In the end no religion will be left standing, but the one Inexpressible (God), to whom all religions are orientated…”

Die prys wat prof. Heyns dus vra vir vrede is m.i. te hoog. Dit vra (in die lig van Skrifgedeeltes soos Mat.10:32-33) niks minder nie as die prysgawe van die mens se siel!

Ek wil dit ook kategories stel dat prof. Heyns se soort Christenskap, soos hy dit hierbo uiteensit nooit ‘n martelaar vir die geloof sal oplewer nie. Daar sal altyd ‘n goeie rede vir kompromie wees.

Ten slotte kan ook net genoem word dat prof. Heyns outomaties aanneem dat ‘n gebed (wat “nie uitspel watter god bedoel word nie“) beter is as geen gebed nie, as hy sê: “Dit is óf so ‘n gebed of niks“.

Leer die Skrif dan nie uitdruklik dat die Here níé na enige gebed (selfs ortodokse Christelike gebede) luister nie (Jes.1:15, Jer.15:1, Spr.15:8), wat nog te sê na die gebede van heidene (Mat.6:7)? Spreuke 28:9 is baie duidelik:

“Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel“.

Deel prof. Heyns die Bybelse standaarde vir gebed?

7.2.3 Die getuieniswaarde van die Kodesa-gebed.

Die derde argument van prof. Heyns wat hierbo genoem is, is dat sy gebed by Kodesa I ‘n geleentheid tot “getuienis” sou wees.

Terloops kan net gemeld word dat prof. Heyns se edele motief om die heidene “bewus te maak van die bestaan van die Lewende God” m.i. op ‘n ernstige teologiese dwaling berus. Die heidene is rééds bewus van die Lewende God (altans volgens Paulus in Romeine 1 en die NGB Art. 2)! Hulle probleem is dat hulle dit (hulle bewuswees van God) deur hulle ongeregtigheid onderdruk en hulle gewend het tot afgodediens (Rom.1:18-25). Daarom is prof. Heyns se taak nie om saam met hulle te bid nie, maar om hulle in liefde tot bekering te roep.

Matteus 5:13-16 oor die kerk se getuienis.

Voordat prof. Heyns se getuienis-argument na waarde beoordeel kan word, is dit nodig om net vlugtig te kyk na wat die Bybel oor die saak te sê het.

In die lig van Matt. 5:13-16 kan ons sê dat die hoogste doel en motief vir ons getuienis altyd die verheerliking van ons Vader in die hemel moet wees. Die effek van ware Christelike getuienis sal altyd wees soos sout (‘n heilige veranderende invloed op die wêreld), en daarom ook soos lig (hoop en antwoord bied aan die verloregaande mensdom). Die inhoud van hierdie getuienis is om ellendige sondaars op te roep tot geloofsgehoorsaamheid, deur die Evangelie van die gekruisigde en verrese Jesus.

Die reaksie wat so ‘n getuienis deur die kerk van die wêreld moet verwag is altyd tweeledig en uiteenlopend. Geloof of ongeloof. Vriendskap of vyandskap. Liefde of haat. Daarvan is die geskiedenis van die eerste getuies in Handelinge vir ons die beste voorbeeld, en trouens ook die hele kerkgeskiedenis.

Dit is ook moontlik dat die kerk se “getuienis” so kan ontaard dat dit nie meer sout en lig is nie, nie meer die Vader verheerlik nie, en dus vir niks beter werd is, as om “deur die mense vertrap te word nie” (Matt. 5:13).

Prof. Heyns se “getuienis” onder die loep.

Wat was die netto effek van prof. Heyns se getuienis by Kodesa?:

Eerstens onder die ongelowiges. Ek het van geen ongelowige waarnemer gelees wat deur hierdie gebed na Christus toe gelei is nie (daar mag wel so iemand wees, omdat God soewerein is), maar wel dat talle waarnemers geleenthede soos die Kodesa-opening beskou as “ekumeniese samewerking soos min” (vgl.Vrye Weekblad 24-30 Mei 1991).

Vrye Weekblad (3-9 April 1992) praat van hierdie soort inter-godsdienstige samekomste as ‘n “besielende gebaar van eenheid“.

Ebrahim Ismael Ebrahim, ‘n ANC afgevaardigde by Kodesa en ‘n Moslem sê n.a.v. die polemiek oor die gebede dat “godsdiens ‘n eenheidssimbool behoort te wees en nie die reeds verdeelde gemeenskap verder verdeel nie“. Jacob Zuma, ook van die ANC, sê vir hom was die gebede “die gevorderdste uitdrukking van politieke eenheid waaraan hy kan dink” (Vrye Weekblad 3-9 April 1992).

Dit was die effek van prof. Heyns se “getuienis” onder mense van ander gelowe en die ateïste.

Tweedens onder die gelowiges. Onder gelowiges van verskeie denominasies was daar diepe ontsteltenis en skok, asook ernstige onderlinge verdeeldheid. Selfs die Algemene Sinodale Kommissie van die Ned Geref Kerk was verdeeld oor die saak , sodat prof. PC Potgieter op 13 Januarie 1992 ‘n persverklaring moes uitreik waarin o.a. gesê word dat “‘n Godsdiensoefening waaraan mense van verskillende gelowe, Christelik sowel as nie-Christelik, gesamentlik deelneem, is na my oortuiging nie te rym met die unieke karakter van die Christelike geloof nie“. In ‘n faks aan ‘n prominente Christen-leier in ons land sê prof. Potgieter “I also have grave objections to inter-religion worship“.

In die lig van die Bybelse riglyne vir getuienis is die vraag: Hoe kan prof. Heyns se gebed by Kodesa I nog as Christelike getuienis in die Bybelse sin van die woord gesien word? ‘n Getuienis wat die kerk van Christus skok en verdeel en die heidene nog verder op ‘n dwaalspoor lei. Was dit nie eerder ‘n geval van nuttelose sout wat deur die mense vertrap word nie?

Dit sou goed wees indien prof. Heyns en diegene wat moontlik sy oortuiging met betrekking tot “getuienislewering” deel luister na wat Luther en sy ondersteuners onder getuienis verstaan het :

“If I profess with the loudest voice and the clearest exposition every portion of the truth of God except precisely that little point that the world and the devil are at that moment attacking, I am not confessing Christ, however boldly I may be professing Christianity. Where the battle rages, the loyalty of the soldier is proved. To be steady on all the battlefield is mere flight and disgrace to him if he flinches at that one point” (Charles, 1983:269).

HOOFSTUK VI

SENDING, EKUMENE EN GODSDIENSWETENSKAP

Onder hierdie breë opskrif wil ek nog verskeie ander fasette van die paradigmaverskuiwing aantoon, soos dit geleer word deur dosente van die Teologiese Fakulteit. Die onderskeie onderwerpe wat hier aangeraak word hou almal sodanig onderling verband met mekaar, dat dit eintlik moeilik is om hulle van mekaar te skei.

1. WAT IS ‘N CHRISTEN?

Die wortelprobleem in hierdie hoofstuk is wat verstaan word onder die begrip “Christen” (en daarmee desnoods ook ander verwante begrippe soos “Christelik” en “kerk” wat ek nie hier sal bespreek nie).

‘n Aanhaling uit ‘n artikel van prof. Piet Meiring (Beeld 6/11/90) kan ons help om die Fakulteit se antwoord op hierdie vraag te vind. Prof. Meiring skrywe soos volg m.b.t. die Rustenburg Kerkeberaad van 1990, waarin hy aansluit by Jan van Riebeeck se gebed, meer as drie eeue gelede, wat gelui het “Mag die Here God gee… dat die ware Gereformeerde en Christelike geloof onder die mense van die land sal groei” en skryf dan verder:

“…wat inderdaad ook gebeur het. Gedurende die drie eeue wat gevolg het, het die kerk … gegroei, so ver en so wyd dat goed 70% van al die inwoners van die land Jesus Christus vandag as Here bely. Wat Van Riebeeck en sy makkers waarskynlik egter nie sou kon droom nie is hoe verskeurd en verdeeld die miljoene gelowiges in Suid-Afrika daar ná al die jare sou uitsien… byna 4 000 verskillende denominasies.”

“… En nou vir die eerste keer in al die jare kom verteenwoordigers van al hierdie kerke – of minstens van byna al die kerke – in die Bosveld byeen…” sodat “…goed 90% van kerklike Suid-Afrika op dié wyse betrek” word (klem toegevoeg).

Met die Algemene Sinode van Bloemfontein (1990) en die goedkeuring van “Kerk en Samelewing” pas agter die rug

“sal die NG Kerk afvaardiging hul medegelowiges in die oë kan kyk“.

By Rustenburg, skrywe prof. Meiring voorts, sal

“die onenigheid en verskeurdheid van Christene en kerke bely moet word… met trane” ens.

Wat is ‘n Christen?

Heel korrek sê prof. Meiring: Iemand wat Jesus Christus as Here bely. Wat bedoel prof. Meiring met “om Jesus Christus as Here te bely?” Dit moet ons aflei uit die feit dat hy sê dat 70% van ons land se totale bevolking Jesus Christus as Here bely.

Ons weet almal hoe radikaal Jesus se oproep om dissipelskap was en ons weet ook hoe ewe radikaal die apostels se standaarde vir Christenskap was. (vgl. Luk. 13:22-17, 14:25-35; Hand. 2:37-47; I Kor. 5:7-13; Gal. 5:16-24; I Joh. ens.).

Wanneer ‘n mens na die beste 70% van ons land se mense kyk, dan sal selfs die grootste idealis moet erken dat hierdie 70% oneindig ver en selfs vyandig teenoor bg. Bybelse standaarde is. Daarteenoor moet ek egter uit prof. Meiring se woorde aflei dat dit, vir sy gevoel, heeltemal moontlik is om: nie jouself te verloën nie, nie jou kruis op te neem en Jesus te volg nie, op die breë weg te wandel, miskien bekend te staan as ‘n onsedelike, ‘n geldgierige, ‘n afgodsdienaar, ‘n kwaadspreker, ‘n dronkaard of ‘n bedrieër, nie die vrug van die Gees te dra nie, maar jou broer te haat, te volhard in sonde, die apostoliese leer te verwerp… en tog nog ‘n Christengelowige te wees! Anders moet die oorsaak van die sg. moraliteitskrisis in Suid-Afrika alleen by die oorblewende 30% nie-Christene gesoek word.

Vir prof. Meiring het Christenskap, of dan die belydenis van Jesus Christus as Here, vervlak tot om ‘n kruisie te trek in die regte blokkie van die sensusvorm. (Toegegee, prof. Meiring het darem 7% afgetrek van die 77% wat dit gedoen het.)

Prof. Meiring se waarde-oordeel oor die Rustenburg kerkeberaad is nog meer verdag in die lig van die feit dat dié vergadering te Rustenburg geweier het om standpunt in te neem oor belangrike etiese sake soos: aborsie, die misbruik van kinders in politieke onrus en geweld en ekonomiese sanksies. Standpuntinname oor hierdie sake sal glo die “kerk” verdeel, is daar van die voorsitterstoel af gesê! (Frontline Fellowship News ed 5. 1991).

Prof. Meiring se kollega, dr. Dons Kritzinger is nie te ver agter hom nie, as hy skrywe:

“Die oorgrote meerderheid van die mense in hierdie land deel ‘n geloofsband – moontlik 60%” (Voorligter 6/1990).

Wat verstaan dr. Kritzinger onder “geloof”? Hou dit enige verband met wat die Pauliniese briewe onder geloof verstaan in bv. Romeine 3 en 5 en Filippense 3? Of met Hebreërs 11 en die HK Sondag 7?

Indien ons Christenskap en geloof meet aan die standaard van ons Belydenisskrifte sal ons m.i. ‘n baie meer beskeie skatting moet maak m.b.t. dié deel van ons land se bevolking wat moontlik Christene kan wees, ongeag wat die sensusvorms sê.

Artikel 29 van die NGB leer vir ons dat ons die lidmate van die kerk van Jesus Christus kan uitken aan die kenmerke van die Christene nl.

“hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser, Jesus Christus, aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na links of regs afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie. Inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus …”

In die lig van ons Belydenis sou seker kwalik 70%, of selfs 60% van die lidmate van die Ned Geref Kerk as Christene deurgaan, wat nog te sê 70% van die totale bevolking!

2. OOR KERKEENHEID EN EKUMENE

Ons begrip van “geloof” of “Christenskap” sal natuurlik direk verband hou en ‘n invloed uitoefen op ons kerkbegrip en die omvang en aard van ons ekumeniese strewe. Vir dieselfde rede hanteer die NGB die kenmerke van die Christen onder die hoof “Die kenmerke van die ware en valse kerk” (Art 29).

2.1 EKUMENE BY CALVYN

Die dosente aan die Fakulteit het dikwels die moderne ekumeniese strewe en aktiwiteit geregverdig in die lig van wat hulle genoem het: “Calvyn se ekumeniese ruimhartigheid”. Calvyn se sg. ekumeniese gees is meermale aan ons voorgehou as sou dit ‘n korrektief wees op dié teologiese strominge wat nie wil deelneem aan die moderne ekumeniese beweging nie.

Dit is daarom dat dit m.i. nodig is om net enkele opmerkinge oor die siening van ekumenisiteit by Calvyn te maak.

Eerstens is dit wel so dat Calvyn, in vergelyking met bv. Luther en Zwingli, baie meer geywer het vir die eenheid van die Reformatoriese beweging in Europa.

Die eenheid van die kerk van Jesus Christus was vir die Geneefse hervormer nie maar bloot sekondêr nie – dit het sy hart in beroering gebring. Dit sien ons veral in sy omvangryke briefwisseling (vgl. Nijenhuis, 1958:6-11) met gemeentes, individuele Christene, vorste en kerkleiers oor byna die hele Europa en Brittanje.

Tweedens, met wie wou Calvyn namens die gereformeerdes in Geneve eenheid nastrewe? Afgesien natuurlik van die gereformeerde bewegings in Frankryk, Nederland, Skotland (John Knox) en elders het Calvyn gekorrespondeer met die Zwingliane, die Lutherane en die Anglikane (Nijenhuis, 1958:310 -312).

Die diep kloof wat daar tussen Wittenberg en Zürich bestaan het i.v.m. die nagmaal was vir Calvyn ‘n rede tot groot droefheid en dit was een van sy primêre motiewe om hierdie onenigheid deur bemiddeling te heel, waarvan die Consensus Tigurinus van 1529 (Nijenhuis, 1958:112,311) uitstaan as dié monument van Calvyn se versoeningspogings tussen die Zwingliane en die Lutherane. Hy het uiteindelik daarin geslaag om die drie hervormingsbewegings op die vasteland te verminder tot twee.

Calvyn was ook ten gunste van die voorstel van Thomas Cranmer (Nijenhuis 1958:20,312), die aartsbiskop van Canterbury, oor die hou van ‘n groot konsilie van evangeliese kerke, wat nooit plaasgevind het nie (Calvin 1980:130-133).

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Lutherse en Anglikaanse leiers van Calvyn se tyd, m.i. hulle eweknieë van vandag teologies en geestelik ver vooruit was, indien die Skrif ons maatstaf daarvoor is[43].

Derdens moet die grense van Calvyn se ekumeniese strewe altyd in gedagte gehou word (vgl. Nijenhuis 1958, 312-313). Calvyn het nie eenheid nagestreef met die Rooms Katolieke, die Anabaptiste[44], die Libertyne[45] en die anti-trini­tariste[46] van sy tyd nie.

Vierdens is dit uiters noodsaaklik om die rede vir die grense van sy ekumenisiteit te besef – indien ons eerlik met die geskiedenis te werk wil gaan. Vir Calvyn was eenheid altyd eenheid in die waarheid.

“This communion is held together by two chains viz. consent in sound doctrine and brotherly charity” (Inst 4.2.5).

Christelike eenheid het dus nie bloot uit strukturele eenheid bestaan nie, maar veral in eensgesindheid in leer en broederlike liefde. Calvyn se aanklag teen Rome en die Anabaptisme was dat hulle die Gees en die Woord van mekaar geskei het hulle sodoende nie aan die gesag van die Skrif onderwerp het nie – Rome deur hulle tradisie en die geesdrywers deur hulle radikale individualisme, spiritualisme en subjektiwisme.

“Well, then, does Chrysostom admonish us to reject all who, under the pretence of the Spirit, lead us away from the simple doctrine of the gospel – the Spirit having been promised not to reveal a new doctrine, but to impress the truth of the gospel on our minds… For what similitude is there in appearance between the Pope and the Anabaptists? … when they boast extravagantly of the Spirit, the tendency certainly is to sink and bury the Word of God, that they may make room for their own falsehoods” (Calvin, 1982:61).

Vyfdens. Dit is krities noodsaaklik om te besef dat Calvyn nie dieselfde openheid, wat hy gehandhaaf het tot ander Protestantse bewegings en leiers, in sy eie kerk in Geneve geopenbaar het nie. Daar was ‘n opvallende kontras, skrywe Nijenhuis (1958:296-298) wat met die eerste oogopslag na ‘n kontradiksie lyk.

“Wij hebben in de correspondentie kunnen opmerken, dat allerlei niet onbelangrijke dogmatische verschillen, die in Geneve self niet getolereerd worden, in het geheel niet tekort deden aan Calvijns gemeenschap met andere theologen en kerken.”

Waarom dan so? Dit gaan juis om die eenheid van die plaaslike gemeente. Teologiese en liturgiese pluralisme in die plaaslike gemeente kan nooit die saak van eenheid dien nie.

Gevolgtrekking: Om dus te pretendeer, soos wat ons dosente wel dikwels gedoen het, dat Calvyn die “beskermheer” van die moderne ekumeniese beweging en strewe sou wees, kom m.i. neer op growwe akademiese oneerlikheid, ‘n verdraaiing van die geskiedenis, en die skending van die ware karakter van Johannes Calvyn.

2.2 ONBEGRENSDE EKUMENE

Uit die diktaat van prof. Dionne Crafford “Een liggaam met baie lede” (geen datum) wat handel oor die ekumeniese roeping van ‘die kerk, wil ek net enkele sake uitlig en dit dan toelig met voorbeelde.

2.2.1 Vertrekpunt en definisie

In die eerste paragraaf (geen datum:i) van sy voorwoord skrywe prof. Crafford:

“Elke Sondag word ons geloof in die ‘een heilige Algemene Christelike Kerk’ bely. In die praktyk het ons egter te doen met die versplintering van die één kerk in talle denominasies wat dikwels in stryd en kompetisie met mekaar bestaan.”

Let op dat prof. Crafford eenheid klaarblyklik van meet af primêr struktureel sien. Hieruit volg gewoonlik twee foutiewe aannames, nl.­ –

* dat die bestaan van verskillende denominasies per se verskeurdheid van die liggaam van Christus beteken

* dat die eenheid van ‘n gegewe denominasie per se aanvaar word, bloot omdat daar strukturele eenheid is

Hierdie is m.i. ‘n baie wankelrige en ondeurdagte vertrekpunt vir enige bespreking van die eenheid van die kerk.

Prof. Crafford gee dan op bladsy 10 ‘n definisie van ekumene:

“Onder ekumene moet verstaan word daardie beweging waarin elke gelowige en elke kerk as deel van die liggaam van Christus op aarde, die ander, aan die anderkant van die taalgrens, kulturele grens, landsgrens, konfessionele grens, kleurgrens en ideologiese grens soek, omdat hy met hom in gesprek wil tree, met hom versoen wil wees, met hom wil saamwerk, met hom saam die waarheid van die Skrif wil verstaan en per slot van sake met hom een wil wees, omdat hy sy eie kerk-wees en lid-wees van die liggaam van Christus ook in ander as kerk erken, en deur die ekumene ‘n getuienis wil lewer aan die wêreld.”

Let op dat hier na my mening geen voorwaardes of grense vir ekumene gestel word nie, want vanuit die groter konteks lei ‘n mens af dat prof. Crafford onder “elke gelowige en elke kerk” die volgende insluit wanneer hy skrywe oor “die skeuringe wat in die verlede in die liggaam van Christus plaasgevind het” nl. die:

“Donatiste, Ariane, Monofisiete, Nestoriane, Pelagiane… Lutheranisme, Calvinisme, Anabaptisme… Anglikanisme … teologiese modernisme en liberalisme … die Wêreldraad van Kerke… fundamentalistiese, evangeliese en charismatiese groepe… Die Rooms Katolieke, die Ortodokse Kerke, die groot Protestantse denominasies… ens.” (geen datum:8-9).

“So gaan die kerk van Christus die 21ste eeu tegemoet as ‘n verdeelde en verskeurde liggaam… Elke skeuring van die verlede is niks minder nie as ‘n verwonding van die liggaam van Christus wat roep om genesing” (geen datum:9).

Dit is m.i. duidelik dat hier nie meer ‘n onderskeid tussen waarheid en onwaarheid, tussen suiwer leer en dwaling, tussen konfessie en kettery is nie. Nee, die somtotaal van hierdie “verskeurde liggaam van Christus” beskik gesamentlik oor die “veelkantigheid van die waarheid” – aldus prof. Crafford.

Prof. Crafford neem aan dat

“elke skeuring van die verlede… niks minder… as ‘n verwonding van die liggaam van Christus is nie … wat roep om genesing.”

Niemand sal betwyfel dat skeuring dikwels ‘n verwonding van die liggaam van Christus beteken nie, maar kan dit gesê word van elke skeuring? Bv. tussen Paulus en die Judaïseerders in Galasiërs, tussen Athanasius en Arius in die 4de eeu, tussen Rome en die Reformasie in die 16de eeu, ens.?

Dat dit elke slag pynlik was is seker, maar kon dit nie juis die genesing van die liggaam van Christus ten doel gehad het en inderdaad beteken het nie? Is dit nie soms nodig om ‘n siek pasiënt te verwond om hom te kan genees nie? Sou dit nie by geleentheid selfs nodig word om ‘n ledemaat van die menslike liggaam te amputeer ter wille van die behoud van die mens nie? Of vra prof. Crafford dieselfde vraag as wat Hans Küng êrens vra, as hy skrywe (1991:34):

“All in all, was the Reformation, with all the blood, sweat and tears it cost, with all the radical disruption and manifold devastation of common life it brought – was it really worth it?”

2.2.2 Wat is die oorsake van die verdeeldheid van die kerk

Prof. Crafford noem ‘n aantal faktore as oorsake vir die verdeeldheid van die kerk wat hy onderverdeel in teologiese en nie-teologiese faktore (geen datum:6). Onder lg. tel o.a. geografiese-, taal- en kulturele faktore, rasseverskille, ideologiese faktore ens. (geen datum:7).

Met betrekking tot die teologiese faktore sê prof. Crafford die volgende:

“Die teologiese faktore wat kerke van mekaar skei, het almal te doen met die hermeneutiese vraagstuk, d.w.s. die wyse waarop die Skrif verstaan en geïnterpreteer word. Omdat verskillende norme en metodes in die uitlê van die Skrif aangelê word, kom kerke by verskillende resultate en stándpunte uit wat betref leer en belydenis, kerkregeringstelsels en liturgiese vorme” (geen datum: 6).

Hy noem dan ook verder die verskynsel van verskillende voorveronderstellings “waarmee hulle na die Skrif gaan“.

Hierdie stelling is gedeeltelik waar, maar ook misleidend aangesien dit –

* geen normatiewe onderskeid tussen metodes van Skrifinterpretasie in berekening bring nie, (soos bv. die Reformatoriese “Sola Scriptura” beginsel versus die Roomse beginsel wat die kerk en sy tradisie bokant die Skrif plaas)

* dit die moontlikheid van sondige ongeloof (oor wat die Skrif sê) en sondige ongehoorsaamheid (aan wat die Skrif beveel) buite rekening laat

* dit dus geen normatiewe onderskeid tussen die verskillende voorveronderstellings van kerke wil maak nie en daarom

* verstrengel is in totale relativisme

2.2.3 Prof Crafford se Skrifhantering

Wanneer prof. Crafford handel oor die Skriftuurlike begronding van die eenheid van die kerk en hy stilstaan by Johannes 17:20-26 (geen datum:36-38) val die volgende tendense duidelik op:

Terwyl hy sê dat “die basiese kwaliteit van die Johannese kerkeenheid liefde is” (geen datum: 3 7) en gegrond is in die eenheid tussen die Vader en die Seun, is dit m.i. opvallend dat hy swyg oor die volgende heldere lyne in Johannes 17 wat verband hou met die ware eenheid van die gelowiges nl.-

* dat Judas Iskariot, die valse breeder, reeds uit is (Joh. 13:30)

* dat liefde in die Johannese geskrifte altyd gehoorsaamheid aan God se gebooie impliseer (Joh. 14:15,21; 1 Joh. 2:5, 5:1-3)

* dat die dissipels in die waarheid van die Woord geheilig is (Joh. 17:17)

* dat daar ‘n radikale antitese tussen kerk en wêreld bestaan het wat selfs daartoe gelei het dat die wêreld die dissipels en die gelowiges gehaat en vervolg het. (Joh. 17:13-16)

Die moderne ekumeniese beweging (waarby prof. Crafford m.i. ingesluit is) en by name die Wêreldraad van Kerke steur hom eenvoudig nie aan hierdie duidelike lyne van Bybelse eenheid nie, maar werk met ‘n eenheidsbegrip wat m.i. radikaal onbybels, en daarom vir die gelowige wat die Skrif wil gehoorsaam, ook onaanvaarbaar is.

2.3 VOORBEELDE VAN ONBEGRENSDE EKUMENE

Vervolgens ‘ n paar konkrete voorbeelde van die Fakulteit se onbegrensde ekumeniese ideale.

2.3.1 Die nuwe toenadering tot Rome

Let wel dat dit nie hier gaan oor die vraag of daar individuele evangeliese Christene in die Rooms Katolieke Kerk is of kan wees nie. Dit sou niemand vandag betwyfel nie, net soos wat die hervormers van die 16de eeu dit ook nie betwyfel het nie.

Dit gaan hier daaroor dat die Rooms-Katolieke Kerk as instelling nou byna ongekwalifiseerd goedgepraat word, en dat die onderlinge verskille wat daar nog tussen ons en Rome bestaan, byna heeltemal vergeet word.

Sedert my eerste jaar op die Fakulteit het dit my opgeval hoedat die meeste dosente, sonder enige duidelike teologiese begronding, ‘n toenadering tot die Rooms-Katolieke Kerk wil bevorder. Van die sterk uitgesproke Bybelse kritiek teen die Roomse Kerk, wat so algemeen voorkom in die belydenisskrifte en in die geskrifte van die reformatore, is daar byna geen spoor meer te vind aan die Fakulteit nie. Dit is eerder ‘n verleentheid.

Daarenteen, is ons telkemale verseker, dat die Rooms-Katolieke ook ware Christene is (Prof. AB du Toit), dat die pous die leier is van “miljoene Christene oor die hele wêreld” en dat die mis nie ‘n vervloekte afgodery is soos die Kategismus leer nie (Prof. JA Heyns), ens. Prof. Heyns het ook dikwels ‘n Rooms Katolieke priester-vriend van hom aan ons voorgehou as ‘n voorbeeld van toewyding aan Christus, o.a. omdat hy (die priester) bereid was om die selibaat te aanvaar.

Die dosente het soms gesuggereer dat Rome sodanig verander het (veral sedert Vaticanum II) dat toenadering nou moontlik is. Daar is bv. dikwels genoem dat Rome by die Tweede Vatikaanse Konsilie, die eerste keer sedert die Reformasie van die 16de eeu, nou die hand van vriendskap, vergifnis en eenheid na hulle Protestantse broeders uitsteek. Hoe kan ons dit dan weier?

Wat egter goedskiks verbloem word, is dat Rome na Vaticanum II, daardie selfde hand van eenheid ook uitgesteek hou na die heidense godsdienste, wat deur sekere Roomse teoloë die “anonieme Christendom” genoem word. ‘n Roomse apologeet (Martin, 1982:54) skrywe dat hierdie toedrag van sake aanleiding gegee het daartoe dat talle Roomse sendelinge deurmekaar geword het …

“… and stopped evangelizing. Many men and women have not heard the gospel because a theory of “anonymous Christianity” has convinced missionaries and ordinary Catholics that nonbelievers are probably already Christian without knowing it”

Die vraag wat ek aan die Fakulteit wil stel is dit: By watter hoofstroom in die Roomse Kerk moet ons aansluit –

* by die ortodokse stroom waarvan Pous Johannes Paulus II ‘n goeie voorbeeld is, en wat die primaat van die pouslike leeramp, die verering van Maria, die transubstansiasieleer, werkesaligheid, die ondergeskikte plek van die Skrif aan die kerk ens. onverswak handhaaf (selfs nog sterker as in die 16de eeu)?

* of by die teologies-liberale stroom waarvan teoloë soos Hans Küng, Karl Rahner en die berugte Eugen Drewermann (sien Time 24/8/92) goeie voorbeelde is, wat die deure vir die heidense godsdienste oopgegooi het (Küng, 1991:207 e.v., Scholtz, 1979) die primaat van die pouslike leeramp verruil het vir die primaat van radikaal kritiese teologie (Martin, 1982:20), die liggaamlike opstanding van Christus loën (Scholtz, 1979), en immoraliteit[47] bevorder (Martin 1982:54-55)?

Of is daar ook ‘n Bybels-evangeliese hoofstroom in die Roomse Kerk wat die leerstellinge van sola Scriptura, sola Christo, sol a gratia, sol a fide ens. ondubbelsinnig en uitgesproke handhaaf? Toe ek vir prof. Willem Prinsloo, nadat hy ‘n lansie vir die Roomse kerk in die klas gebreek het, ‘n soortgelyke vraag gevra het, was sy antwoord:

“Waar in die Ned Geref Kerk word die evangelie nog suiwer verkondig?”

Dit het net my vermoede bevestig dat die enigste gronde vir ekumeniese toenadering tot Rome geleë is in die feit dat beide hulle en ons spreekwoordelik in Babilon geëindig het.

Dit is m.i. duidelik dat die motiewe vir die nuwe toenadering tot Rome vir die Bybelgelowige Christen bedenklik en duister voorkom.

2.3.2 Prof Piet Meiring se ekumeniese ideaal

Prof. Meiring skrywe soos volg (1990a:252):

“… as we approach the twenty-first century, we still have to travel a long way on the road towards unity, to come to the point where all Christians – Catholic, Orthodox, Protestant, East and West, white and black – kneel down to confess our mutual guilt of disunity, and to reach out to one another in enjoyment of the oneness of the body of Christ.”

Dit lyk asof die enigste of ten minste die grootste sonde van die “Christendom” vir prof. Meiring die sonde van “disunity” is.

2.3.3 Prof. Carl Borchardt oor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke

Prof. Borchardt skrywe êrens (1987:17) i.v.m. die Ned Geref Kerk en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke soos volg:

“Baie van die dinge wat die kerke uitmekaar hou het nie te maak met die evangelie nie …”

“Alles in ag genome, is dit ‘n feit dat die SARK die grootste verteenwoordiger van die Kerk van Christus in Suid-Afrika is. Kan ons, die NG Kerk, ten spyte van al die hindernisse (en daar is baie want daar is ook baie onvolkomenhede in die SARK) bekostig om nie met die SARK te praat nie? Watter getuienis sal ‘n groot sterk liggaam van kerke in Suid-Afrika kan lewer teenoor die wêreld? Ek sluit af met die woorde van dr. Nicol tydens sy presidentsrede by die stigting van die Christenraad in 1936: ‘Isolation is death’“.

Let op dat baie van die verskille tussen die Ned Geref Kerk en die SARK “nie te make het met die evangelie nie” en dat daar nog “baie onvolkomenhede” in die SARK is.

Hierop kan ‘n mens antwoord dat baie van die verskille wél te make het met die evangelie en die belydenis van die kerk van Jesus Christus ingrypend raak.

Hoeveel van die lede van die SARK glo nog in die Twaalf Artikels soos dit histories deur die kerk van Christus bely is? In watter mate word die 10 Gebooie in hierdie kerke geëer en toegepas? Watter direkte aandeel het die SARK in die revolusionêre staat waarin ons land tans verkeer?

Ons weet almal dat die SARK ‘n entoesiastiese lid is van die WRK. Indien ‘n mens in ag neem wat tydens die laaste vergadering van die WRK in Australië plaasgevind het (vgl. Die Kerkblad 10/4/91) toe daar o.a. geeste van afgestorwenes opgeroep is, die afgevaardigdes ‘n Aborigines-ritueel moes bywoon as simboliese “reiniging”, heidense godsdienste tot “reisgenote” van die Christendom verklaar is, daar volgens nuusberigte selfs pornografie openlik beskikbaar was, dan lyk dit tog of die verskille tussen ons en die SARK te “make het met die evangelie”. Of het die SARK hom van die gebeure en teologie in Canberra gedistansieer?

Hierby kan ook nog genoem word die openlike betrokkenheid van die SARK en sy lede by die “Liberation Struggle” in Suid-Afrika. Van sy gemiddelde jaarlikse inkomste van R23,3 miljoen is oor die afgelope paar jaar bitter weinig bestee aan tradisionele evangelisasiewerk (Tingle, 1992:194). Baie van hierdie geld is bestee “in promoting forms of radical, contextual theology“. ‘n Geheime fonds wat jaarliks gemiddeld R3,9 miljoen beloop is volgens ‘n vorige algemene sekretaris van die SARK, biskop Tutu aangewend

“to empower the powerless in their liberation struggle” (Tingle, 1992:195).

Frank Chikane, die huidige algemene sekretaris van die SARK (sedert 1987) praat soos volg oor versoening:

“We must begin to understand that there is no possibility of unity or reconciliation between the oppressed and the oppressor, between good and evil, God and the devil… we are called to abandon the old theology of reconciliation” (Tingle, 1992: 104).

Indien bg. getuienis waar is, is prof. Borchardt se oordeel oor die SARK baie vreemd en verdag. Het die woorde “Kerk van Jesus Christus” soos prof. Borchardt dit gebruik, nog enige betekenis?

2.3.4 Prof Johan Heyns oor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke

Om sy en prof. Meiring se gesprekke met die SARK in Augustus vanjaar te verdedig, skrywe prof. Heyns ondermeer soos volg in Die Kerkbode (14/8/92):

“Ons het reeds gesê, die NG Kerk is nie lid van die SARK nie, en almal weet dat daar bepaalde, ook teologiese verskille tussen die NG Kerk en die SARK bestaan. Nogtans het die sinode van 1990 besluit om wel aansoek te doen om waarnemerstatus en dit impliseer tog seker dat saam met hulle vergader sal word en by geleentheid seker ook, waar moontlik, saamgewerk sal word…

“Die wêreld daarbuite merk dit op en waardeer dit as kerke saamwerk. Is dit nie miskien iets van dit waarvoor Jesus Christus gebid het toe Hy vir die eenheid van die kerk by sy Vader ingetree het nie? Is dit nie presies wat ons vandag in ons omstandighede nodig het, naamlik om vir die wêreld te kan wys dat ons as Christene, ten spyte van ons verskille tog ook iets van ons eenheid kan demonstreer? Sal dit in die nuwe Suid-Afrika nie dikwels die geval wees dat Christene ter wille van die saak van die Christendom en ter wille van die geloofwaardigheid van die saak van Christus self op aarde, hulle onderlinge en dikwels klein verskille opsy sit en saam kragte snoer rondom die sake waarom dit waarlik gaan nie?”

Prof. Heyns vra in die tweede paragraaf hierbo drie vrae. Ek wil graag op sy eerste twee vrae antwoord en op die derde een ‘n teenvraag stel.

In antwoord op sy eerste vraag: Nee, in die lig van wat reeds in hierdie hoofstuk gesê is, is dit nié die soort eenheid waarvoor Jesus Christus gebid het nie. As dit wel die soort eenheid is waarvoor Jesus gebid het, dan was Luther en Calvyn beslis ongehoorsaam aan die Here, omdat hulle nooit so ‘n onheilige eenheid nagestreef het nie, en kom Art 29 van die NGB neer op ernstige dwaallering.

As dit wel die soort eenheid is waarvoor Jesus gebid het, en as die verskille tussen die Ned Geref Kerk en die SARK só “klein” is as wat prof. Heyns aan die einde van die tweede paragraaf suggereer, dan leef die Ned Geref Kerk mos in sonde deur nie ‘n volle lid van die SARK te wil word nie. Waarom was die Algemene Sinode van 1990 dan so ongehoorsaam aan die Here om slegs vir “waarnemerstatus” aansoek te doen? As dit die eenheid is waarvoor Jesus gebid het, moet die Ned Geref Kerk onmiddelik aansoek doen om volle lidmaatskap van die SARK en moet hy dié denominasies wat nie by die SARK wil aansluit nie ernstig vermaan oor hulle ongehoorsaamheid aan Jesus Christus.

In antwoord op die tweede vraag: Nee, dit is nié wat ons vandag nodig het nie. Die wêreld is nie net honger om eenheid onder Christene te sien nie, maar ook ‘n lewenswandel wat Jesus Christus waardig is en om, te midde van die verwarring van ons wêreld, die kragtige en onvervalsde verkondiging van die Evangelie (sowel as die implikasies daarvan), te hoor. Dit sal die wêreld, ten minste vir die huidige, nie by die SARK sien of hoor nie.

In antwoord op die derde vraag wil ek ‘n teenvraag stel: Wat is die “saak van die Christendom”? Bloot politieke vrede, die handhawing van humanistiese menseregte en ekonomiese vooruitgang?

2.4 SLOTOPMERKING

M.i. moet proff. Crafford, Meiring, Borchardt en Heyns mooi gaan nadink oor hierdie woorde van John Owen (1983:117):

“Will any disciple of Christ esteem himself obliged to starve his own soul for the sake of communion with them who have sinfully destroyed the principal end of all church-communion? Is there any law of Christ, or any rule of the gospel, or any duty of love that requires them so to do?”

3. PROF JOHAN HEYNS OOR IKONE

Beeld (15/4/1990) het as volg berig oor proff. Heyns en PC Potgieter se besoek aan o.a. Rusland en Egipte in 1990:

“Prof. Heyns het ná sy terugkeer Vrydag gesê ekumeniese deure is besig om vir die NG Kerk oop te gaan… Weder­sydse blootstelling kan vir albei kerke van onskatbare waarde wees…”

“Die NG Kerk kan by die ortodokse kerke baie leer van die gebruik van simbole en ikone. Deur in sy eie tradisie min daarvan te maak, het die NG Kerk in die verlede ‘n aspek van die menslike psige verwaarloos. Hy was te rasioneel ingestel. By die ortodokse kerke sou die NG Kerk kon leer om meer van die belewenis van Christen-wees te maak“.

Tydens ‘n besoek aan sy huis in Mei van dieselfde jaar het ek hom oor die aangeleentheid uitgevra. Prof. Heyns het toe gesê dat hy reeds sedert die laat 1950’s die gebruik van simboliek in aanbidding propageer. Die simbool van die kruis in baie gereformeerde kerkgeboue asook prente van Jesus in kinder­bybels het reeds ‘n presedent geskep en maak dus my (CFH se) besware teen ikone ongeldig, het hy aangevoer.

In ‘n toespraak voor die Sinode van Suidwes-Afrika van 1991 het prof. Heyns ook terloops na ikone verwys. Aangesien die konteks waarbinne hy dit gedoen het bepalend is, gee ek hier ‘n substansiële deel van sy toespraak weer. Onder die hoofpunt “Die kerk mag nooit verander nie, terwyl by tog moet aanpas” het prof. Heyns verwys na ‘n ervaring wat hy gehad het in ‘n Griekse Ortodokse Kerk in Egipte. Hy het gesê dat Egipte ‘n Moslemstaat is waarin geen Christelike sendingwerk geduld word deur die owerheid nie, en waar ‘n Ortodokse priester ook “geen enkele woord oor Jesus Christus met ‘n Moslem mag praat nie“, wat die kerk dus gedwing het om aan te pas binne die ruimte wat die owerheid vir die kerk toelaat.

Prof. Heyns sê dan vervolgens dat hulle ‘n Ortodokse kerk besoek het waar die priester begin het om genesingsdienste te hou en waarin hy (die priester) ook vir besoekende Moslems begin bid het. A. g. v. hierdie genesingsbediening het die Moslems begin stroom na hierdie kerk. Prof. Heyns raak dan die aspek van ikone aan en sê:

“…ikone speel ‘n groot rol in die Ortodokse Kerke… Die priester gaan staan by die ikoon, sê maar in hierdie geval ‘n ikoon van Jesus Christus, en bid: ‘Here Jesus, U wat hier sigbaar voor ons afgetekend staan, wil U nie U oë wend tot hierdie mense wat hier staan nie – hier is siek mense – wil U hulle nie genees nie?’

Die gedagte het versprei dat daardie ikone ‘n soort van ‘n magiese uitwerking het, en terwyl ons daar staan het daar soveel Moslems gekom om voor die ikoon te kom bid – ek is nie besig om hierdie praktyk goed te praat nie – ek vertel vir u wat daardie mense, waar hulle nie mag sendingwerk doen nie, besig is om te doen binne die ruimte wat aan hulle deur die Moslemregering gegee is, – ‘as ons dan nie mag praat oor hulle siele nie, dan praat ons met God oor die siele van die wat hier is’ – en geen Moslem kan daardie priester dan gaan aangee by die regering dat hy besig is met sendingwerk nie’.

Ek is besig om vir u te sê dat die kerk van die Here Jesus so vindingryk sal moet wees om, binne die ruimte wat hy ontvang het, ‘n ander soort van bediening, wat te gelyke tyd ‘n stuk getuienis kan wees, uit te dra sodat hy nie in botsing kom met die owerheid nie” (Heyns-kassetopname, 1991).

Alhoewel prof. Heyns terloops opmerk dat hy “nie hierdie praktyk goedkeur nie“, funksioneer die ikone hier sodanig binne die konteks, dat dit moeilik anders as positief gewaardeer kan word. Soos ons kan sien is prof. Heyns ook deeglik bewus van die gevaar wat ikone inhou, dat mense dit so te sê aanbid en magiese kragte daaraan koppel – en tog kom hy en propageer dit in die Ned Geref Kerk!

Die Oosterse kerk se amptelike standpunt oor ikone lui soos volg:

“… we decide in all correctness and after a thorough examination, that, just as the holy and vivifying cross, similarly the holy and precious icons … should be placed in the holy churches of God, on vases and sacred vestments, on walls and boards, in houses and on roads, whether these are icons of our Lord God and Saviour, Jesus Christ or our spotless Sovereign Lady, the holy Mother of God, or the holy angels and holy and venerable men. For each time that we see their representation in an image, each time while gazing upon them, we are made to remember the prototypes, we grow to love them more, and we are even more induced to worship them by kissing them and by witnessing our veneration …

“For the honour rendered to the image goes to its prototype, and the person who venerates an icon, venerates the person represented on it.“[48]

Volgens Johannes van Damaskus (675-749nC.), een van die grootste kampvegters vir ikone en kerkvader van die Oosterse kerk, is ikone nie bloot “prente” vir die oningeligtes nie, maar “material laden with Divine energy and gracious power” (Niesel, 1962:158). Alhoewel die Ekumeniese Konsilie van Nicea van 787, nie hierdie ekstreme posisie van Johannes gehandhaaf het nie, het die Ortodokse Kerk in hulle liturgie nog altyd sy oortuiging oor ikone behou, wanneer daar bv. bely word:

“… from it (die ikone) we draw the grace of salvation …the Orthodox Church prays God to send down the grace of the Holy Spirit upon the icons, thereby giving them miraculous power, e.g. to heal the sick and to exorcise the demons” (Niesel, 1962:159).

Daarom bestaan daar dan ook vandag nog allerlei bygelowe oor die magiese kragte[49] van hierdie sg. “metafisiese verskynsel, die heilige ikone” (vgl. Methodios :17).

Die Duitse teoloog Wilhelm Niesel wys daarop dat die Ortodokse Kerk as belangrikste argument ter verdediging van die gebruik van ikone, die feit van die vleeswording van Christus aanvoer. As Christus waarlik mens was, dan mag ons Hom uitbeeld. Prof. Heyns het in my gesprek met hom presies hierdie selfde argument gebruik. Niesel (1962:160) konkludeer egter tereg dat ikone juis die uniekheid van die vleeswording vernietig en daarom dat

“the images themselves and the worship of them must be decisively rejected”

In die lig van hierdie getuienis is dit m.i. geregverdig om die volgende ernstige kritiek teen prof. Heyns se uitspraak oor die ikone in te bring –

* dit vernietig die uniekheid van die vleeswording van Jesus Christus

* dit is direk in stryd met Sondag 35 van die HK wat o.a. leer dat ons “God op geen enkele manier kan of mag afbeeld nie… (en) ons nie wyser as God wil wees nie, (want) Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie maar deur die lewende verkondiging van sy Woord onderrig”

* dit misken die genoegsaamheid van dié simbole wat Jesus Christus ingestel het nl. die doop en die nagmaal

* dit hou ‘n realistiese gevaar van afgodery en bygeloof vir groot getalle lidmate van die NG Kerk in

Die onverklaarbare is egter: waarom kom propageer prof. Heyns ikone in die Ned Geref Kerk? Watter opdrag het hy van God in die Skrif of van die Ned Geref Kerk daartoe ontvang? Is hy nie besig om direk teen die uitdruklike opdrag van die Skrif (Eks.20:4-5) in te gaan nie?

4. PROF DIONNE CRAFFORD OOR DIE HEIDENSE GODSDIENSTE

In sy artikel “Gebed saam met ander gelowe: mag dit?” (Die Voorligter 5/92) wat prof. Crafford geskryf het na aanleiding van die onmin wat geheers het oor die Kodesa-gebede, handel hy oor die verhouding tussen die Christendom en die “ander godsdienste”.

“Godsdiens is daardie bewussyn wat eie is aan die mens waardeur hy ‘n mag groter as hyself erken en gewillig is om homself afhanklik aan die ‘groter mag’ te verklaar… So gesien, is die soeke na afhanklikheid van ‘n ‘hoër wese’, deel van menswees. Die mens is ‘n godsdienstige wese. Ook bekende teoloë het dit so gesien… Calvyn het gepraat van ‘n ‘sensus divinitatis’ by alle mense – ‘n bewussyn van die goddelike…

“Die mens is dus van nature en na sy wese ‘n soeker … God laat die spore van sy grootheid sien in die werke wat hy gemaak het en dit roep mense tot aanbidding … Natuurlik is dit so dat die openbaring in die natuur en in die geskiedenis vaag en onvolkome is, en slegs reg verstaan kan word as ‘n mens deur die bril van die Skrif daarna kyk…

“Hulle (die verskillende godsdienste) is almal op een of ander wyse ‘n neerslag van hulle eie soektog na die ‘gans andere’…

“Natuurlik is dit sê dat ons in dié godsdienste (natuurgodsdienste) meestal te doen het met selfgemaakte beelde en konstruksies van God en met selfgemaakte verlossingsweë. Dié mense… se harte is deur sonde verduister én hulle het ‘n ‘deur sonde verduisterde’ beeld van God. Ek meen dit was Calvyn wat gesê het dat die natuurlike mens se hart ‘n fabriek van afgodediens is.

“Die Islam en Judaïsme is in ‘n sekere sin ‘n uit­sondering Hierdie godsdienste is gebaseer op ‘n verdraaide of gebrekkige kennis van die Skrif wat uitloop op ‘n gebrekkige verstaan van die een ware God…

“As dit so is dat die godsdienste gebrekkige menslike reaksies is op dit wat hulle van God se selfopenbaring verstaan, dan is die uitdaging juis dat hulle gebrekkige kennis van tot ‘n meer volkome kennis moet kom. Dit is presies wat die evangelie, die blye boodskap, vir die volkerewêreld wil doen… Die gebrekkige kennis van God moet deur die evangelie tot volledige kennis gebring word. Die ligstraal in die verte moet tot ‘n helder lig verander word wat mense tot volkome gehoorsaamheid en diens aan die een ware God bring…”

Verwysende na die ander gelowe se gebede by Kodesa skryf hy:

“Is dit dan nie só dat ook húlle soekers na die ‘gans andere’ is nie? En as hulle Hom nog nie volkome gevind het nie, moet ons nie bly wees dat hulle ten minste nog soek nie? Ten minste nog probeer om te bid nie? Sou dit nie ‘n geweldige klad op die Christelike geloof wees as Christene sou swyg omdat mense van ander gelowe bid nie?”

4.1 CALVYN ANTWOORD

Aangesien prof. Crafford gesegdes en beginsels van Calvyn (die sg. “sensus divinitatis”; die leer van die algemene openbaring; die beeld van die Skrif as “bril”; en die mens as ‘n “fabriek van afgode”) gebruik, is dit net regverdig as ek hoofsaaklik vir Calvyn self laat spreek om prof. Crafford te weerlê.

(i) Prof. Crafford sê dat die algemene openbaring (God se werke in die skepping en in die geskiedenis) “vaag en onvolkome is“.

Calvyn antwoord: God

“toon Hom elke dag daarin (die skepping) op so ‘n wyse dat die mens sy oë nie kan oopmaak sonder om gedwing te word om Hom daarin raak te sien nie… op elkeen van Sy werke het hy bepaalde tekens van sy heerlikheid ingegrif en dit weliswaar so duidelik en opvallend dat alle verontskuldiging van onkunde daardeur van ongeleerde en onverstandige mense weggeneem is … Die apostel (Rom. 1:19-20) maak dit nog duideliker wanneer hy sê dat alles wat die mensdom nodig gehad het om God te ken, aan bulle geopenbaar is, omdat elkeen die onsigbare dinge van God wat Hy van die skepping van die wêreld af kon begryp, selfs ook sy ewige krag en Goddelikheid hierin kon aanskou.” (Inst 1.5.1)

Calvyn (en die historiese gereformeerde teologie, vgl. NGB Art 2) handhaaf dus die duidelikheid van die algemene openbaring, vir die doel waarvoor dit gegee is nl. dat elke mens seker kan weet dat God bestaan en dat Hy alleen aanbid en gedank moet word. Die feit van die duidelikheid van die algemene openbaring (asook die sensus divinitatis) ontneem juis die mens van alle gronde tot verontskuldiging in die oordeelsdag.

Wat die algemene openbaring verduister is NIE die “vaagheid en onvolkomenheid” dáárvan nie, maar die SONDE in die mens se hart. Net soos wat die nuwe teologie die leer van die “inwendige getuienis van die Gees” gebruik (misbruik), kontra sy oorspronklike bedoeling (sien hfst. III), om die sg. inherente swakheid van die Bybel te oorkom, net so gebruik prof. Crafford hier die Skrifopenbaring om die sg. inherente swakheid van die algemene openbaring te oorkom.

Die nuwe teologie soek dus konsekwent die “fout” by God (Sy openbaring) in plaas van by die mens (sy bose hart). Hierdeur verraai die nuwe teologie m.i. sy bedekte opstand teen God.

(ii) Prof. Crafford leer dat die natuurlike mens in sy selfgemaakte godsdiens na die “gans andere” (God) soek, hulleself “afhanklik” aan Hom verklaar, maar Hom nog nie volkome gevind het nie. Soek die heidene werklik na God?

Calvyn antwoord:

“Hierby kom hulle (die heidene se) tweede sonde, naamlik dat hulle nooit op God ag slaan behalwe as hulle daartoe gedwing word nie. Origens nader hulle nooit tot Hom nie totdat hulle teen hulle sin na Hom gesleep word. Selfs dan is hulle nie deur die een of ander vrywillige vrees wat uit eerbied vir God se majesteit spruit, deurdrenk nie maar slegs met ‘n slaafse vrees wat die gerig van God van hulle afdwing…

“Om dus te verhoed dat die indruk orals sou bestaan dat hulle Hom minag, beoefen hulle enige soort godsdiens omdat Sy majesteit vir hulle ‘n kwelling is. Tog hou hulle intussen nie op om hulle met elke soort vergryp te besoedel en die een oortreding op die ander te begaan totdat hulle die heilige wet van die Here ten volle geskend en al Sy geregtigheid verwoes het nie…

“En tog wil hierdie huigelaars dit met kronkelpaadjies bereik om die indruk te wek dat hulle naby die God is van wie hulle wegvlug… Terwyl hulle Hom met die heiligheid van hulle lewe en die integriteit van hulle hart moes dien, bedink hulle onbenullige beuselagtighede en waardelose eerbetoon om sy guns daarmee te wen. Nee, veel eerder versink hulle met groter teuelloosheid in hulle gemors omdat hulle die vertroue koester dat hulle hulle plig teenoor Hom met belaglike versoeningsdade kan nakom.”

“In tye van rus dryf hulle lustig die spot met God… maar as die een of ander wanhoop hulle oorval, dryf dit hulle daartoe om Hom te soek” (Inst 1.4.4).

Dit is duidelik dat die “sensus divinitatis” vir Calvyn tot ‘n radikaal ander konklusie as vir prof. Crafford bring. Teenoor prof. Crafford se oorwegend optimistiese, romantiese en onbybelse siening van die natuurlike mens en die heidendom, handhaaf Calvyn die Bybelse siening van die algehele verdorwenheid daarvan, wat leer

“daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie” (Rom 3:11).

Die Kategismus (So.2) leer net so duidelik:

“… ek is van nature geneig om God en my naaste te haat“.

(iii) Prof. Crafford leer dat die Islam en Judaïsme ‘n graad beter is as die natuurgodsdienste en dat hulle die “een ware God“, alhoewel “gebrekkig“, tog “verstaan“. Is dit werklik so?

Calvyn antwoord:

“Dit skeel ook weinig… of ‘n mens een god of baie versin… As jy Hom verlaat, bly daar vir jou niks anders as ‘n vervoeilike afgod oor nie” (Inst 1.4.3).

Ook Herman Bavinck(1932:24) sê dat die “zogenaamde hogere godsdiensten“, verwysende na o.a. die Islam, geen uitsondering is nie, maar dat die wortel van afgodery nog steeds daarin aanwesig is.

(iv) Prof. Crafford sien sendingwerk as bloot ‘n aanvulling van gebrekkige kennis. Die Christendom, as ouer broer, moet die ander godsdienste, as die die jonger boeties, lei tot “‘n meer volkome kennis“.

Dit kom m.i. neer op die opheffing van die absolute antitese tussen Christus en die afgode, tussen lig en duisternis, tussen die kerk van Jesus Christus en die heidendom. Vir prof. Crafford lê die godsdienste op een graduent van 1 tot 100 met die Christendom darem heelbo.

4.2 GEVOLGTREKKING

Die gebede by Kodesa I en die openbare debat wat daarop gevolg het, het m.i. die sluier gelig oor talle teoloë in die Ned Geref Kerk se ware teologie. Dit is ‘n ontstellende openbaring, wat vir ons toon dat niks minder nie, as die uniekheid van Jesus Christus deur teoloë op die spel geplaas word. Net soos prof. Heyns se verdediging van sy gebed by Kodesa I in die vorige hoofstuk, net so is hierdie artikel van prof. Crafford die rooi sirenes wat loei vir die voortbestaan van die kerk van Jesus Christus in Suidelike Afrika.

SLOT

‘N VERSKUIWING INDERDAAD, MAAR WAT ‘N VERSKUIWING!

In hoofstuk I het ek beweer dat daar ‘n verskuiwing in die teologiese denke van talle van ons kerk se predikante en teoloë besig is om plaas te vind. In hoofstukke II tot VI het ek probeer aantoon, wat die omvang van hierdie verskuiwing in sekere teologiese dissiplines aan die Teologiese Fakulteit van Pretoria behels. Die vraag is nou: is hierdie verskuiwing sodanig dat ek enige rede gehad het om tydens die Wes-Trans­vaalse sinode van 1991 te beweer dat die teologie aan die Teologiese Fakulteit van Pretoria “nie meer gereformeerd is nie” en dat daar selfs sprake van dwaallering kan wees (sien Inleiding)?

Oorsigtelik kom die teologiese verskuiwing op die volgende sake neer:

* ‘n Baie duidelike eensydige benadering in die teologiese opleiding soos gesien in die hewige, dikwels ongegronde, en selfs onwetenskaplike kritiek teen die sg. fundamentalisme enersyds, en ‘n byna kritieklose openheid ten opsigte van die sg. nuwe teologie andersyds.

* ‘n Oorbeklemtoning van die menslike en historiese karakter van die Skrif, ten koste van die goddelike inspirasie daarvan.

* ‘n Verskraling van die Skrifgesag op grond van die Skrif se sg. religieus-etiese skopus, wat ‘n duideli­ke natuur/genade dualisme tot gevolg het.

* ‘n Verswyging van die duidelikheid en genoegsaamheid van die Skrif.

* ‘n Ontkenning van die historiese betroubaarheid van die Skrif.

* ‘n Relativering en selfs ontkenning van die normatie­we gesag van die Skrif.

* ‘n Verwerping van die Messiaanse karakter van die Ou Testament.

* ‘n Ontkenning van die eenheid van die Skrif.

* ‘n Openlike verering van teoloë wat die radikale Skrifkritiek beoefen, en die leer van die kerk ondermyn.

* ‘n Relativering van die kenbaarheid van God.

* ‘n Relativering van die personaliteit en transendensie van God.

* ‘n Relativering, en in sommige gevalle selfs die opheffing van die absolute antitese tussen die God van die Bybel en die afgode.

* ‘n Skeptisisme oor die moontlikheid om waarheid te vind.

* ‘n Relativering van die antitese tussen konfessie en kettery.

* ‘n verloëning van die absolute voorsienigheid van God.

* ‘n Subtiele verwerping van die uitverkiesingsleer van Dordt.

* ‘n Openlike verwerping van die effektiewe versoening van Christus vir die uitverkorenes.

* ‘n Propagering van politieke vrede en versoening ten koste van die openlike belydenis van Jesus Christus.

* ‘n Degradering van die Bybelse standaarde vir Christenskap.

* ‘n Propagering van kerkeenheid, ten koste van die waarheid van die Skrif en die heiligheid van die kerk.

* ‘n Subtiele relativering van die ingrypende leerverskille tussen Rome en die Reformasie.

* ‘n Versaking van die klassieke konsep van sending wat daarop neerkom dat die boodskap van radikale bekering van die duisternis tot die lig, en totale onderwerping aan die Christus van die Bybel, nie meer gehoor word nie.

Al die groot Protestantse waarhede van die Reformasie kom hierdeur direk of indirek in gedrang. Vanweë die relativering van die goddelike inspirasie van die Skrif, en die ondermyning van die gesag van die Skrif oor die hele lewe, is daar m.i. weinig oor van die klassieke sola Scriptura-beginsel. Die Skrif is weggevoer na die genadelose Babiloniese ballingskap van die kritiese teologie.

In die lig van die toenemende relativering van die antitese tussen die Christelike geloof en die heidense gelowe, en tussen die God van die Bybel en die afgode, asook in die lig van die ongekwalifiseerde propaganda vir die heling van die skisma tussen Rome (met al hulle verering van die heiliges en Maria) en die Reformasie, is dit ‘n ope vraag of die beginsel van sola Christo nog enige krag en betekenis bet.

Die sola fide-beginsel sal net so moeilik oorleef in ‘n klimaat waar daar oor byna alles in die Skrif getwyfel moet word, waar godsdienste en strominge wat ‘n werkesaligheid propageer toenemend geakkommodeer word, en waar ikone die gelowiges se aanbidding moet verryk. Die vraag wat in die hart van Karl Barth aan die einde van sy lewe geleef het, nl. of dit nie ‘n bietjie kras is om te beweer dat Jesus Christus die enigste Lig vir die wêreld is nie – of daar nie dalk ander “waar woorde” naas die “Woord” bestaan nie? (vgl. Küng,1991: 279) – kan moontlik al hoe meer na vore kom.

Die een saak waaroor al die Reformatore dit heelhartig eens was, was die genadige uitverkiesing van God (sola gratia). ‘n Mens hoef maar net hulle geskrifte te lees om uit te vind hoe lustig, vrymoedig en ondubbelsinnig hulle oor hierdie groot saak kon skryf. Dit staan in skrille kontras teenoor die verleentheid waarin ons teoloë verkeer oor die Dordtse Leer­ reëls. Geen wonder nie dat die klassieke uitverkiesingsleer so onbekend en onbemind geraak het.

Om alles te kroon is daar groot rede tot kommer oor toenemende aanduidinge dat daar in die toekoms moontlik aan die Belydenisgrondslag van ons kerk verander gaan word, en oor al hoe meer stemme wat opgaan vir volle lidmaatskap van die Ned Geref Kerk by die SARK.

Wat ‘n verskuiwing! Enigiemand met selfs ‘n geringe kennis van die Bybel en die gereformeerde konfessies sal begryp dat ons hier met ‘n totale verskuiwing (‘n wegvoering!) weg van gereformeerde teologie, en in baie opsigte selfs weg van die algemeen-protestantse teologie te doen het. Ons het hier met niks minder as ‘n waarheidskrisis te make nie.

In die lig van die legitimasie-eed (sien tweede aanhangsel) wat alle predikante van die Ned Geref Kerk moet onderteken, het ons m.i. hier, in baie gevalle, ook met ‘n morele-krisis te doen. Anders is die aflê van die eed ‘n klug.

IS DAAR HOOP VIR DIE TOEKOMS?

Voorwaar ‘n donker prentjie. Is daar hoop? Ek wil dit ondubbelsinnig stel: menslik gesproke is daar géén hoop nie. Die gety is te sterk teen die histories-gereformeerde geloof.

Ons enigste hoop is in God. Net Hy kan harte breek. Net Hy kan die redenasies wat in opstand is teen sy Woord, stukkend slaan. Net Hy kan die verdwaalde skaap terugbring na Sy kudde. Mag die Here aan die Ned Geref Kerk ware en ingrypende reformasie skenk, want as God ons nie gaan herstel nie, gaan Hy ons in sy oordeel vernietig. Die woorde van die lewende Jesus in Openb. 2:5 is daarom ‘n gepaste teks om mee af te sluit:

“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”

AL DIE HEERLIKHEID KOM TOE AAN

DIE VADER

EN DIE SEUN

EN DIE HEILIGE GEES

**************************

BYLAAG 1

MEMORANDUM RONDOM ONSEKERHEDE RAKENDE DIE LEER VAN ONS FAKULTEIT

Aan die geagte dosente van die Teologiese Fakulteit (Afd. B) aan die Universiteit van Pretoria. Dit is vir ons ‘n voorreg om ons saak aan u te stel.

A. INLEIDING

Uit liefde vir ons Here Jesus Christus en sy Kerk, gedring deur die waarheid van die Skrif, voel ons as teologiese studente, ons deur God geroepe om navraag te doen oor sekere aspekte van die leer van sommige van ons dosente.

Die doel van hierdie memorandum is ook om te getuig vir die waarheid van die Heilige Skrif én soos dit in ons kerk se belydenisskrifte neerslag gevind het.

Deur hierdie skrywe bevraagteken ons geen dosent se Christenskap of opregtheid nie. Dit gaan vir ons immers nie om die persoon nie, maar om die saak van Christus.

B. AGTERGROND

Daar was ‘n geruime tyd reeds by ons ‘n groeiende kommer oor sekere aspekte van die leer aan ons fakulteit. Na aanleiding van ‘n ernstige uitnodiging aan alle finalejaarstudente aan die begin van 1988 om hom te kom sien oor enige saak wat hinder, het ons ons besorgdheid met die dekaan gaan deel. Tydens twee ontmoetings in April en Junie het prof. Flip van der Watt ons simpatiek aangehoor. Op sy aanbeveling het ons ons saak aan prof. Johan Heyns op 29 Julie 1988 gestel. Tydens hierdie geleentheid het prof. Heyns ons versoek om ons saak in ‘n memorandum voor te lê sodat ‘n ontmoeting met die betrokke dosente gereël kon word.

C. VERTREKPUNT

Ons glo:

* dat die leer en lewe van die Kerk van Christus onlosmaaklik verbonde is;

* dat die ganse Heilige Skrif die enigste en hoogste norm vir hierdie leer en lewe is;

* dat ons kerk se drie belydenisskrifte, te wete die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls, alhoewel nie onfeilbaar of volmaak nie, ‘n suiwer uitdrukking van die leer van die Skrif is.

D. SAKE WAT KOMMER WEK

Na deeglike oorweging van die uitlatings van dosente en na vele persoonlike gespreksvoering met van ons dosente, wil ons graag die volgende sake wat by ons kommer wek, onder u aandag bring. Indien ons enige dosent verkeerd verstaan het of verkeerdelik weergee, vra ons graag om verskoning, met dien verstande dat die betrokke dosent dan aan ons sal sê wat hy werklik gesê of bedoel het.

1. AANTASTING VAN DIE SKRIFGESAG

Prof. C Breytenbach het die historisiteit van Paulus se toesprake in Handelinge ontken en die historisiteit van Petrus se belydenis in Matteus 16:16 bevraagteken.

Dr. C du Toit het gesê dat die Satan nie ‘n persoon is nie. Hy het ook beweer dat die Bybel tweeduisend jaar gelede geskryf is en daarom nie net so as norm vir vandag kan geld nie, byvoorbeeld die Bergpredikasie van Matteus 5-7.

Prof. J A Heyns het beweer dat God Homself net sowel as moeder aan ons kon openbaar en dus Sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Hierdeur bring hy na ons mening die finaliteit van die Skrifopenbaring ernstig in gedrang.

Prof. J H le Roux het onsekerheid oor sy Skrifbeskouing by ons gelaat deurdat hy die verhale van Josef en Ester as onhistoriese wysheidsnovelles, sonder enige korreksie, aan die hand van artikels deur Wessels en Loader aangebied het.

Hy het ook die historisiteit van die profeet Daniël in twyfel getrek deur te beweer dat Daniël ‘n “held uit die gryse verlede” is en dat die boek Daniël geen voorspellings bevat nie.

Hy het verder beweer dat daar verskillende teologieë in die Ou Testament is wat nie versoenbaar is nie. ‘n Nuwe teologie ontstaan telkens wanneer die vorige een “opgepak” het.

Prof. Le Roux het die waarheid van die Skrif op die volgende wyses gerelativeer: Op voetspoor van Loader het hy homself geidentifiseer met die standpunt van die Nederlandse etici wat onder meer sê: “Die waarheid kan nie in proposisies of dogmata uitgedruk word nie. Dit is iets wat ‘n mens net innerlik kan ervaar.” Verder moet elke student vir hom ‘n teologie kies soos mens ‘n vrou kies.

Ons was ongelukkig oor die lesing van dr. Van Tilburg van Nederland. Ten spyte daarvan dat hy die Bybelse evangelie geweld aangedoen het en die lewe van Jesus in die konteks van die Bevrydingsteologie geplaas het, was daar hoegenaamd geen korreksie deur drie van ons dosente, proff. AB du Toit, Jan van der Watt of PPA Kotzé, wat teenwoordig was nie. Van Tilburg is alleen maar lof toegeswaai.

2. DIE AANTASTING VAN DIE HEILIGHEID VAN DIE KERK

Prof. Heyns het herhaaldelik ‘n Roomse priester aan ons voorgehou as voorbeeld van gehoorsaamheid en toewyding aan Christus. Hy word op grond van sy ywer as voorbeeld van Christelikheid aan ons voorgehou, sonder om dit Skriftuurlik te begrond.

Tydens ons gesprek met prof. Heyns het hy, op ons vraag na die nuwe toenadering tot Rome, geantwoord dat die saak heeltemal te ernstig is om ons daar en dan ‘n antwoord te gee. Dit het onsekerheid by ons gewek oor die grondliggende motiewe vir so ‘n toenadering.

Prof. Meiring het herhaaldelik gesê dat ons die “mooi” in die Moslems en Hindoes se godsdiens moet raaksien.

***********************

Indien ons die bogenoemde uitsprake korrek verstaan en weergee, beskou ons dit in ‘n baie ernstige lig, aangesien sulke ongekwalifiseerde uitlatings die leer en lewe van ons kerk groot skade kan berokken.

Ons, die ondergetekendes, deel die besorgdheid in hierdie memorandum, alhoewel elkeen nie noodwendig by elke geleentheid teenwoordig was nie.

E Cloete BD I S Conradie BD III J de Koning BD III P de Wet M.Div C Heiberg BD III S Kleynhans BD II D Louw BD I P Nel BD III A Pienaar BD III A Schwartz BD I E Viljoen BD I

BYLAAG 2

DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK PLEGTIGE LEGITIMASIE-VERKLARING

Ek, die ondergetekende, ………… toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deur die Algemene Regskommissie wat daartoe gemagtig is, verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stu kke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Enigheid naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, deur die Sinode van Dordrecht in die jare 1618 en 1619 aangeneem – ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen dié leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goeder trou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalinge wat teen hierdie leer stry, en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my ver­moë te doen om dit uit die Kerk te weer. Ek beloof om my op die uitbreiding van die ryk van die Verlosser deur die bevordering van godsdienskennis, Christelike sedes, orde en eendrag met alle ywer toe te lê, en om my aan die verordeninge van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te hou.

En indien dit mag gebeur dat ek later enige beswaar of ander insig om­trent hierdie leer kry, so belowe ek dat ek dit nóg openlik nóg heimlik sal voorstaan, leer of verdedig deur prediking of geskrif alvorens ek dit aan die sinode sal openbaar om aldaar nader ondersoek te word.

En indien enige bevoegde kerklike liggaam te eniger tyd, ten einde die enigheid en suiwerheid van die leer te bewaar, dit goedvind om ‘n nadere verklaring van my gevoele omtrent een of meer van die voormelde artikels te eis, so belowe ek hiermee plegtig dat ek altyd daartoe gewillig en bereid sal wees.

En indien dit bevind word dat ek teen enige gedeelte van hierdie verkla­ring en belofte dienaangaande gehandel het, so belowe ek om my aan die uit­sprake van die bevoegde kerkvergaderinge te onderwerp.

Ook verklaar ek plegtig voor God dat ek, om ‘n standplaas te verkry, geen ooreenkoms aangegaan of gifte gegee het of ooit sal aangaan of gee nie; dat ek nie daarvan bewus is dat dit deur iemand van my kant af in my belang aangegaan of gegee is, of aangegaan en gegee sal word nie; dat ek ook nimmer ‘n standplaas sal soek of aanvaar waarvan ek mag vermoed dat dit deur enige voorwaarde, belofte of watter middele ook al van ‘n voorafgegane ooreenkoms aan my opgedra word nie.

Ek verbind my deur my handtekening tot al die voormelde.

Geteken te …… op …….. 19 …

Geteken in my teenwoordigheid ………………..

(Namens die Algemene Regskommissie)

LITERATUUR

Agenda vir die Sesde Sinode van die Ned Geref Kerk Wes-Transvaal. 10-15 Junie 1991. Pretoria.

[50] 1973. Septuagesimo anno. Theologische opstellen aangeboden aan prof dr GC Berkouwer ter gelegenheid van zijn afscheid als hoogleraar van de Vrije Universiteit te Amsterdam. Kampen : Kok.

Barnard, A C (geen datum). Hermeneutiek – Homiletiese toespitsing. UP.

Bavinck, H 1928. Gereformeerde dogmatiek. I. Kampen: Kok.

Bavinck, H 1932. Handleiding bij het onderwijs in den Christelijken godsdienst. Kampen: Kok.

Beeld 8/3/84. Kritiek lok beswaar uit. Pretoria.

Beeld 15/4/90. Bande tussen NG Kerk en Russiese kerk verstewig. Johannesburg

Beeld 13/6/91. Leraar pak UP-teologiedosente. Pretoria.

Beeld 26/10/91. Leraar geloop oor sy kritiek teen UP-dosente. Pretoria.

Beeld 8/4/92. Godsdiens, Kodesa en ‘n nuwe parlement. Johannesburg.

Berkhof, H 1982. Foreword. In: Here am I (A König). Grand Rapids: Eerdmans.

Berkouwer, G C (geen datum). Het probleem der Schrift­ kritiek. Kampen: Kok.

Borchardt, CF A 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke. S & K 8/1, 1-19.

[51] (datum onbekend). Dogmageskiedenis (BD III) – Die versoening. UP.

Bremmer, R H 1961. Herman Bavinck als dogmaticus. Kampen: Kok.

Breytenbach, C 1986. Reconciliation and construction. In: Creative options for a rapidly changing South Africa (ed Vorster W S). Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Breytenbach, C 1988. Die identiteit van ‘n Christenmens. In: Church in context/Kerk in konteks (red Breytenbach C). Pretoria: NGKB.

Calvin, J 1972. New Testament commentaries. A harmony of the Gospels – Matthew, Mark & Luke. Grand Rapids: Eerdmans.

Calvin, J 1975. Institutes of the Christian religion. II. Grand Rapids: Eerdmans.

Calvin, J 1979. Commentaries vol 21. II Timothy. Grand Rapids: Baker.

Calvin, J 1980. Letters of John Calvin. Edinburgh: Banner of Truth.

Calvin, J 1982. Calvin’s reply to Sadoleto. In: A Reformation debate (ed Olin J C). Grand Rapids: Baker.

Calvyn, J 1986. Institusie van die Christelike godsdiens (1559). I. Potchefstroom: CJBF.

Charles, ER 1983. Luther by those who knew him. Chicago: Moody Press.

Ciobotea, D-I 1988. We believe in One God, Father Almighty, Maker of heaven and earth. In: One God, One Lord, One Spirit (ed H-G Link). Geneva: WCC Publications.

Clowney, E P 1986. Preaching Christ from all the Scriptures. In: The preacher and preaching (ed Logan S T). Phillipsburg: P & R.

Combrick, H J B 1990. Die krisis van die Skrifgesag in die gereformeerde eksege as ‘n geleentheid. NGTT vol 31.

Conn, H M 1973. Contemporary world theology. Phillipsburg: P & R.

Crafford, D 1992. Gebed saam met ander gelowe: mag dit? Voorligter Mei.

Crafford, D (geen datum). Een liggaam met baie lede! Die ekumeniese roeping van die kerk met besondere verwysing na Suid-Afrika. ISWEN.

Crafford, D (geen datum,a). Ekumenika. Leerplan en kernaantekeninge. UP.

Deist, F E 1991. Objektiewe Skrifuitleg? Kantaantekininge by Skrifuitleg in die Ned Geref Kerk 1930 – 1990. HTS 47/2, 367-385.

Die Kerkblad 10/4/91. Hoe ver sal Wêreldraad nog gaan? Potchefstroom.

Die Kerkbode 24/1/92. Saambid by Kodesa maak tonge los. Kaapstad.

Durand, J J F 1985. Die Lewende God. Pretoria: NGKB.

Durand, J J F 1988. Church and state in South Africa: Karl Barth vs. Abraham Kuyper. In: On reading Karl Barth in South Africa (ed Villa Vicencio C). Grand Rapids: Eerdmans.

Du Toit, A B 1988. Teologiese weerbaarheid as kerklike vereiste. Ons teologiese opleiding onder die loep. S & K 9/1, 10-21.

Du Toit, A B 1989. Regverdiging uit geloof: Romeine 1:16-17. In: Uit genade alleen (red Vorster W S & A S Engelbrecht). Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Du Toit, A B 1990. Analise van die opbou, argumentasiegang en pragmatiek van die Galatebrief: ‘n Eerste oriëntering. S & K 11/2, 155-165.

Du Toit, A B 1990a. Die toekoms van die Skrifgesag in die moderne eksegese. ‘n Hoofsaaklik Nuwe Testamentiese perspektief. NGTT vol 31, 509-519.

Du Toit, A B 1991. Fundamentalisme. Beeld 26/11/1991.

Du Toit, C 1989. Etiese dimensies van Romeine 12-16. In: Uit genade alleen (red Vorster W S & A S Engelbrecht). Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Du Toit, C 1990. ‘n Teologiese perspektief. In: God in ons lyding (red Vos C J A & J C Müller). Pretoria: Orion.

Frame, J M 1987. The doctrine of the knowledge of God. Phillipsburg: P & R.

Frontline Fellowship News 5/1991. The myth of neutrality. Newlands.

Gaffin, R B 1980. Redemptive history and Biblical interpretation. The shorter writings of Geerhardus Vos. Phillipsburg: P & R.

George, T 1988. Theology of the reformers. Leicester: Apollos.

Groenewald, E P 1978. Handboek Bybelse geskiedenis. Die Nuwe Testament. Pretoria: Interkerklike Uitgewers Trust.

Hanekom, T N 1951. Die liberale rigting in Suid-Afrika. Stellenbosch: Die C.S.V. Boekhandel.

Heyns, J A 1971. Die huidige stand van die gereformeerde teologie in Nederland en ons verantwoordelikheid. Pretoria: UP

Heyns, J A 1981. Dogmatiek. Pretoria: NGKB

Heyns, J A 1991. Ek bid nie met hulle. Beeld 1/10/91. Johannesburg.

Heyns, J A 199la. Die roeping van die kerk in veranderde tye (SWA Sinode van die Ned Geref Kerk, 1991). Kassetopname. Windhoek: Mema (SWA).

Heyns, J A 1992. Gesprekke met die SARK – só het dit gebeur. Die Kerkbode 14/8/92.

Heyns, L 1991. Teoloë moet met praktyk rekening hou. Die Kerkbode 29/11/1991.

Hughes, P E 1989. The true image. The origin and destiny of man in Christ. Leicester: IVP.

Insig Okt/1991. God en die vrou. Johannesburg.

James, W 1967. Pragmatism and other essays. New York: Washington Square Press.

Jonker, W D 1977. In: Heyns J A en W D Jonker. Op weg met die teologie. Pretoria: NGKB.

Kamphuis, B 1988. Klare taal. Barneveld: De Vuurbraak.

Kamphuis, J 1968. Onderweg aangesproken. Groningen: De Vuurbraak.

Kamphuis, J 1982. Aantekeningen bij J.A. Heyns Dogmatiek. Kampen: Copieerinrigting van den Berg.

Kuhn, T S 1973. The structure of scientific revolutions. 2nd enlarged ed. Chicago: University Press.

Küng, H 1991. Theology for the third millenium. Londen: Harper & Collins.

Krabbendam, H 1980. BB Warfield versus GC Berkouwer on Scripture. In: Inerracy (ed Geisler N L). Grand Rapids: Academie.

Kreitzer, M (forthcoming). The new directions in South African Dutch Reformed theology – A theological and philosophical analysis of “Church and Society” 1990.

Kritzinger, J J 1990. Christene net waar jy kyk – is dit eg? Voorligter Junie.

Laubscher, J A 1987. Vastheid en variasie – Die liturgiese ordes binne die Ned Geref Kerk. Pretoria: UP, DD.

Le Roux, J H 1982. ‘n Onvoltooide gesprek oor die aartsvaders. Theologia Evangelica 15/1, 7-18.

Le Roux, J H 1988. Ou Testament. Die geskrifte. UP.

Le Roux, J H 1990. Teologie van die Ou Testament – Inleiding tot Von Rad. UP.

Le Roux, J H 1990a. Eensaamheid in lyding. In: God in ons lyding (red Vos C J A & J C Müller). Pretoria: Orion.

Le Roux, J H 1990b. Sending en pentateugkritiek. S & K 11/2, 187-198.

Le Roux, J H 1990c. Historiography: The widest horizon. Old Testament Essays 3(1990).

Linnemann, E 1990. Historical criticism of the Bible. Methodology or ideology. Grand Rapids: Baker.

Luther, M 1982. Commentary on Romans. Grand Rapids: Kregel.

Macleod, D 1990. Behold your God. Christian Focus Publications.

Martin, R 1982. A crisis of truth. Ann Arbor: Servant Books.

[52] 1989. Ontmoet jou Moslem-bure. Wellington: Bybelkor.

Meiring, PG J 1990. Dis Kersfees … maar waar’s die vrede op aarde? Voorligter Des.

Meiring, PG J 1990a. Your will be done: Mission in Christ’s way. Discerning God’s will for mission in South Africa. Missionalia 18/1, 248-258.

Meiring, PG J 1990b. Die groot beraad. Beeld 6/11/90.

Methodios, Aartsbiskop van Tiatire en Groot Brittanje 1988. Icons in Patristic theology and spirituality Eastern and Western. In: The Patristic and Byzantine Review vol 7. 1988 nr 1.

Müller, J C 1989. God se beeld en verteenwoordiger. In: Geboorte en kind wees (red Vos C J A & J C Müller). Pretoria: Orion.

Müller, J C 1990. My enigste troos (Heidelbergse Kategismus Sondag 1). In: God in ons lyding (red Vos CJ A & J C Müller). Pretoria:orion.

Müller, J C 1991. Is Vigs straf op sonde? Voorligter Sept.

Murray, J 1979. Calvin on Scripture and Divine sovereignty. Welwyn: Evangelical Press.

Nel, M 1987. Gemeentebediening en evangeliesasieperspektief. S & K 8/1, 52-61.

Niesel, W 1962. Reformed symbolics. Edinburgh: Oliver & Boyd.

Nijenhuis, W 1958. Calvinus Oecumenicus. Calvijn en de eenheid der kerk in het ligt van zijn briefwisseling. Den Haag: Martinus Nijhoff.

Owen, J 1983. Works vol 15. Edinburgh: Banner of Truth.

Pelser, G M M 1984. Die Pauliniese soteriologie. In: Handleiding by die Nuwe Twestament. V. Pretoria: NGKB.

Potgieter, PC 1990. Skrif, dogma en verkondiging. Kaapstad: Lux Verbi.

Prinsloo, W s 1984. Van kateder tot kansel. Pretoria: NGKB.

Prinsloo, W S 1987. Die twaalfde kongres van die “International Organization for the study of the Old Testament” (IOSOT), 24-29 Augustus 1986 in Jerusalem. S & K 8/1, 62-67.

Prinsloo, WS 1987a. Ou Testament teologie vandag. In: Ou Testament teologie gister, vandag en more. (reds Prinsloo W S & W Vosloo) Pretoria: NGKB.

Prinsloo, W S 1990. Verslag: “Society of Biblical literature (SBL) 1989 International Meeting”, 6 tot 8 Augustus 1989 te Kopenhagen, Denemarke; en “The XIII Congress of International Organization for the study of the Old Testament (IOSOT)”, 27 Augustus tot 1 September 1989 te Leuven, België. S & K 11/1, 74-81.

Poythress, Vs 1988. Science and hermeneutics. Leicester: Apollos.

Rossouw, H W 1981. Wetenskap, interpretasie, wysheid. UPE.

Runia, K 1962. Karl Barth’s doctrine of Holy Scripture. Grand Rapids: Eerdmans.

Runia, K 1969. De practijk (toepassing) van het Calvinisme in een geseculariseerde wereld. In: Besinning en uitsig. Potchefstroom: PU vir CHO.

Runia, K 1988. Wat is ketterij? In: ‘n Woord op sy tyd (red Wethmar C J & CJ A Vos). Pretoria: NGKB.

Rushdoony, R J 1978. The foundations of social order. Fairfax: Thoburn Press.

Schaeffer, F A 1970. The God who is there. Londen: Hodder.

Schaeffer, FA 1985. The church at the end of the twentieth century. Westchester: Crossway Books.

Scholtz, D A 1979. Hans Küng – ‘n Rooms Katoliek met Protestantse idees. Die Kerkbode 24/1.

Schrotenboer, P G 1977. The Bible in the World Council of Churches. CTJ vol 12, 144-163.

Shepherd, N 1973. Response to professor J.A. Heyns. In: Scripture and its authority. Sydney: RES.

Silva, M 1987. Has the church misread the Bible? Leicester: Apollos.

Silva, M 1988. Old Princeton, Westminster, and inerrancy. WTJ 50, 65-80.

Skrifgebruik en Skrifgesag. Beleidstuk van die Ned Geref Kerk soos goedgekeur deur die Algemene Sinode, 1986.

Stoker, H G 1941. Iets oor ‘n Calvinistiese wysbegeerte. In: Koers in krisis.III. Stellenbosch: Pro Ecclesia. The doctrine (horos) of the veneration of icons as formulated by the Seventh Ecumenical Councel – 787. In. The Patristic and Byzantine Review vol 7, no 1.

Time 8/6/92. The shock of the new. New York.

Time 24/8/92. A latter-day Martin Luther. New York.

Tingle, R 1992. Revolution or reconciliation. The struggle in the church in South Africa. Londen: Christian Studies Centre.

Trimp, C 1970. Betwist Schriftgezag. Groningen: De Vuurbraak.

Van Bruggen, J 1987. Christus op aarde. Zijn levensbeschrijving door leerlingen en tijdgenoten. Kampen: Kok.

Van der Watt, J G 1991. Die Woord het mens geword: ‘n Strukturele uiteensetting van die teologie van die Johannesevangelie. In: Teologie in konteks (reds Roberts J H et al). Pretoria: Orion.

Van Deventer, L 1990. Die vrou as leraar, ouderling … wat sê die Bybel regtig? Die Kerkbode 19/1.

Van Deventer, L & A König 1989. Skrifbeskouing en Skrifgebruik. Verskuiwinge soos gereflekteer in die diskussie oor die plek van die vrou in die gereformeerde kerke. NGTT vol 30, 300-311.

Van Til, C 1967. The defense of the faith. Phillipsburg: P & R.

Van Til, C 1977. The “umkehr” at Amsterdam. In: The law and the prophets (eds Skilton J H et al). Phillipsburg: P & R.

Van Til, C 1982. An introduction to systematic theology. Phillipsburg: P & R.

Van’t Spijker, W 1977. Reformatie en geschiedenis. Goes: Oosterbaan & Le Cointre.

Veling, K 1988. Geen eigenmachtige uitlegging. Barneveld: De Vuurbraak.

Verbrugge, M 1984. Alive. An enquiry into the origin and meaning of life. Vallecito: Ross House Books.

Vos, CJ A 1989. Uitverkiesing: God en/of mens? In: Uit genade alleen (red Vorster W S & A S Engelbrecht). Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Vrye Weekblad 24-30 Mei 1991. Ekumeniese samewerking soos min. Johannesburg.

Vrye Weekblad 3-9 April 1992. Om saam te bid of nie. Johannesburg.

Walker, W 1980. A history of the Christian Church. Edinburgh: T & T Clark.

Weeks, N 1988. The sufficiency of Scripture. Edinburgh: Banner of Truth.

Wilson, J 1980. Pity my simplicity. Welwyn: Evagelical Press.

Voetnotas

[53] Ironies genoeg is dieselfde beskuldiging in 1984 deur dr. Dirk Fourie en ds. Kobus Potgieter teen proff. Attie Barnard, AB du Toit en JA Heyns gemaak toe lg. drie na ‘n ondersoek bevind het dat die Ned Geref Kerk “kaduks en op die krukkelys” is (Beeld 8/3/84).

[1]Vandaar die algemene gebruik vandag, reeds op straat, om wesenlike kritiek teen jou eie oortuigings gerieflik af te maak as “dit is jóú interpretasie”.

[2] Hierdie woorde is in werklikheid ‘n opsomming van Berkhof se voorwoord, agter op die stofomslag.

[3] Pragtig stel Martin Luther dit: “The old Adam must die before he can endure this subject and drink the strong wine of it. Therefore beware not to drink wine while you are still a suckling.”

[4] Sulke argumente is selfs gevoer tydens die debat oor die toelating van die vrou tot die amp van ouderling en leraar, van die Algemene Sinode van 1990 in Bloemfontein.

[5] Behalwe waar prof. Jurie Le Roux ‘n bladsy uit Calvyn se Genesis- kommentaar aanhaal, waarvolgens Calvyn volgens hom as ‘n voorloper van die tradisie-historiese benadering gesien word (vgl. Le Roux 1990:9-12).

[6] Bedoelende die Drie Formuliere van Eenheid en die drie Ekumeniese Belydenisskrifte.

[7] Geerhardus Vos is selfs ‘n leerstoel aan die VU aangebied wat hy om persoonlike redes bedank het (Sien Gaffin 1980:X).

[8] Calvyn skrywe: ” … want dit is nie sonder rede dat Hy die skepping van die wêreld oor ses dae versprei het nie, hoewel dit vir Hom geen moeite gewees het om sy hele werk in ‘n oogwink in alle opsigte te volbring… nie.” (Inst 1.14.22, vgl. ook sy Genesis kommentaar p.78)

[9] sowel hierdie argument as die vorige een van prof. Barnard sou dan impliseer dat almal wat teen die vrou in die amp gekant is, haar ook die roeping en reg tot persoonlike getuienis ontsê.

[10] Beleidstuk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat goedgekeur is deur die Algemene Sinode van 1986 (hierna genoem SS).

[11] Die wysgerige waarheidsbeskouing van die Gereformeerde Kerken Nederland se verslag “God met ons”

[12]Herman Bavinck was die oorspronklike formuleerder van die organiese inspirasieleer.

[13] John Murray wys heeltemal tereg daarop dat, vir Calvyn se gevoel, die Skrif se gesag inherent daaraan is, waarvan die sg. “indiciae” die genoegsame bewys is. Die doel van die “inwendige getuienis” is om die gesag wat die Skrif reeds inherent het, in ons harte te registreer.

[14] Die Bybel is in elk geval nie eers ‘n soteriologiese handboek nie, want dit is nie so geskrywe nie.

[15] Prof. Combrinck van Stellenbosch (1990:325) begaan ‘n ooglopende flater as hy skrywe : “Van Bavinck is dan reeds die bekende opmerking dat die Skrif ‘n duidelike religieus-etiese bestemming het…(1928:428).”

[16] Let wel, hiermee word nie gesê dat hierdie metodes van Skrifontleding verkeerd is nie (vgl hfst. IV) maar dat dit so ‘n prominente plek kan inneem dat dit die geloof in die duidelikheid van die Skrif vernietig, terwyl die verkeerde aanwending van hierdie metodes juis die betekenis van die teks kan verduister.

[17] En tog moet ons waak teen ‘n oormatige begrensing van die duidelikheid van die Skrif, wat in die na-reformatoriese gereformeerde teologie algaande toegeneem het vanweë verskeie onaanvaarbare redes (Kamphuis, 1988:15-21).

[18] Teologiese wetenskap behoort ons vertroue in die duidelikheid van die Skrif te versterk en nie te vernietig nie (Silva, 1987:85).

[19] Tydens ‘n besoek aan sy huis in 1987.

[20] Aan my meegedeel deur ‘n student.

[21] Is prof. Du Toit volledig ingelig oor die korrekte inhoud van die “inerrancy”-konsep, soos dit oorspronklik deur Warfield geformuleer is? Dit blyk m.i. uit bg. artikel van prof. Du Toit dat dit nie die geval is nie en dat hy eerder werk met ‘n fiktiewe weergawe van die konsep. Silva (1988:65-66) skrywe: “The contemporary debate regarding inerrancy appears hopelessly vitiated by the failure – in both conservative and non-conservative camps – to mark how carefully nuanced were Warfields formulations… The unfortunate result is that large numbers of writers… assume, quite incorrectly, that their ideas about; inerrancy correspond with the classic conception.”

[22] Die Ebionitisme was ‘n tweede-eeuse kettery wat die godheid van Jesus van Nasaret geloën het.

[23] Vgl. Herman Bavinck (1932:44) oor die belangrike verskil tussen “deur die Gees gelei” en “deur die Gees gedrywe”.

[24] Hierdie is slegs één van die sg. “indiciae” wat vir Calvyn die genoegsame bewys van die inherente gesag van die Skrif is.

[25] Ek beperk my tot die bespreking van die historisiteitsbegrip. Vir ‘n gereformeerde begrip van die verskynsel van literatuursoorte in die Bybel, sien John Frame (1987:202-203).

[26] As iemand dus op grond van ‘n Bybelteks die eet van varkvleis wil verbied (Du Toit Beeld 26/11/91), dan sal ek nie vir hom daarop wys dat daardie Bybelboek 2 000+ jaar gelede geskrywe is nie – maar op die feit dat hy juis die Bybel nie reg gelees het nie.

[27] Marcion se gnostisisme en verwerping van die Ou Testament is algemeen bekend (vgl. Walker 1980:54-55). Origenes, wat o.a. die eventuele verlossing van alle mense, asook van die duiwel geleer het, is deur die sinode van Alexandrië in 399 nC tot ketter verklaar (Walker 1980:77).

[28] Dit gaan hier oor die boek Job.

[29] Omdat hierdie betrokke teksgedeeltes natuurlik prof. Breytenbach se argumentasie oor die rol van die vrou in die gemeente in die wiele ry, kry hy gerieflik vir homself – soos die histories-kritiese teologie maar geneig is om te doen – ‘n kanon binne die kanon.

[30] Volgens mededeling deur ‘n student.

[31] Volgens mededeling deur ‘n student.

[32] Op ‘n dag het een van Hans Küng se studente (dr. J Gerstner van Kanada) aan hom gevra of Jesus van Nasaret se liggaam (oorskot) nog in ‘n graf in Palestina is? Küng was skoon verbaas oor die vraag en het gevra wat dit met ons geloof in die opstanding van Christus te doen het!

[33] Volgens mededeling deur ‘n student

[34] Behalwe miskien prof. AH van Zyl voor sy aftrede.

[35] Tydens ‘n gesprek met leraars oor dié aangeleentheid te Brakpan vroeër vanjaar (volgens mededeling deur ‘n N.G. leraar), het iemand aan prof. Prinsloo gevra hoe I Pet. 1:10-12 dan verstaan moet word? Prof. Prinsloo het geantwoord dat hy geen uitspraak oor I Petrus kan maak nie, aangesien dit buite sy vakgebied val!

[36] Hierdie vrae is ontleen aan John Frame (1987:14).

[37] Volgens mededeling deur ‘n student het prof. Heyns iets soortgelyks in ‘n ander klas geleer.

[38]Tydens ‘n bespreking van die buitengewone Sinode van die Ned Geref Kerk Noord-Transvaal in 1988.

[39] Volgens mededeling deur ‘n NG-leraar het prof. Flip Theron van Stellenbosch (tot onsteltenis van ten minste sommige leraars teenwoordig) homself onlangs tydens ‘n Ringsvergadering in Namibië oenlik gedistansieer van die Dortse uitverkiesingsleer.

[40] Bavinck skrywe (GD.II:334) “Tog is er tusschen het besluit en de uitvoering onderscheid, evenals tusschen Gods wezen en zijne werken naar buiten”.

[41] Vergelyk prof. SA Strauss se kommentaar oor die Kodesa-gebede in Die Kerkbode van 24/1/1992.

[42] Thomas Cranmer (1489-1556) wat op ‘n stadium onder druk van die Katolieke die evangeliese geloof verloën het, is uiteindelik tot die brandstapel gevonnis. “… on the day of his execution in Oxford, March 21, 1556, his courage returned. He repudiated his retractions absolutely, declared his Protestant faith, and held the offending hand (waarmee hy vroeër sy evangeliese geloof deur ‘n handtekening teruggetrek het) … in the flame till it was consumed. His dying day was the noblest of his life” (Walker, 1980:366).

[43] Die Anabaptisme van Calvyn se tyd kan in vele opsigte vergelyk word met die pentakostalisme van ons tyd.

[44] Die Libertyne van Calvyn se tyd kan vergelyk word met die antinomiaanse strominge in die kerk van vandag.

[45] Die anti-trinitariste van Calvyn se tyd sou in sekere opsigte vergelyk kon word met die teologiese liberalisme van ons tyd.

[46] waarvan die nuwe vlaag van morele skandes onder Roomse geestelikes in die jongste tyd so sprekend is, bv. die geval van biskop Eamonn Casey in Ierland (sien Time 8/6/92).

[47] “The Doctrine (Horos) of the veneration of Icons as formulated by the Seventh Ecumenical Council (787)” in: The Patristic and Byzantine Review :16.

[48] Bv. kragte van genesing en die vermoë van ‘n ikoon om te kan huil of glimlag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui