Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding

(For the English for B.7, click here.)

Die volgende beswaarskrifte is ingedien na die 2013 Algemene Sinode nav die 2011 AS besluit oor die bediening van bevryding.

Kyk ook:

Inhoudsopgawe

*************


B.7 (Sinode Hoëveld)
BESWAARSKRIF

Die volgende beswaarskrif is deur die Hoëveld Sinode ingedien nav die 2011 Algemene Sinode se besluit oor die bediening van bevryding.

BESWAARSKRIF TEEN ’n BESLUIT VAN DIE ALGEMENE SINODE VAN 2011 AANGAANDE DIE BEDIENING VAN BEVRYDING

Aanbeveling aan die Sinodale Dienskommissie van Hoëveld Sinode:

Die Sinodale Dienskommissie van die Hoëveld Sinode aanvaar die beswaarskrif en beskrywingspunt hieronder en stuur dit ooreenkomstig KO Art 23b 5.3[1] deur na die skriba van die Algemene Sinode.

===================================

Beskrywingspunt en beswaarskrif teen Besluit 7 van die Algemene Sinode van 2011 oor die Bediening van Bevryding.

Aanbeveling:

Die Algemene Sinode besluit om die volgende paragraaf (punt 7) in sy besluite oor die Bediening van Bevryding te skrap:

“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer”.

Gronde vir die beswaar

1. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die Bybel.

Die Sinode wil ruimte maak vir mense in die kerk wat oor die werklike en persoonlike aard van die duiwel ander standpunte huldig. Die woord “werklik” impliseer dat daar ruimte gemaak word vir mense wat glo dat die duiwel en demone nie “werklik” bestaan nie. Uit die woorde “persoonlike aard”, moet die afleiding gemaak word dat die Sinode ruimte maak vir mense wat nie glo dat die duiwel en bose geeste persoonlike wesens is nie.

Die gedagte dat die duiwel nie werklik bestaan nie en ook nie ’n persoonlike wese is nie, is pertinent in stryd met die duidelike en deurlopende getuienisse in die Bybel. Die Evangeliste berig dat Jesus met die duiwel in gesprek was in die woestyn en dat die duiwel Hom daar versoek het. Jesus praat self verskeie kere direk met die duiwel en met bose geeste. Mens wil nie eens die lasterlike gedagte te berde bring dat Jesus met sy “innerlike boosheid” in gesprek sou wees nie. Vir die apostels was die duiwel en bose geeste sonder twyfel ook werklike persoonlike wesens wat ons grootste vyand is, en met wie ons deeglik rekening moet hou. As Paulus in bv Rom 8:38; 1 Kor 15:24; Ef 1:21; Ef 3:10; Kol 2:10,15, herhaaldelik terme soos “mag”, “krag” en “gesag” gebruik, bedoel hy sekerlik dieselfde demoniese kragte, waarmee hy te doene gehad het in Hand 16:16-18 (waarsêersgees) en Hand 19:11-16 (bose geeste). Petrus (2 Pet 2:4) en Judas (vers 6 en 9) is albei baie duidelik in hulle verstaan van die duiwels as werklike persoonlike wesens in die geesteswêreld. Johannes praat in Openbaring 20:2 van “die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is”. Dit is duidelik dat Johannes in die metafore wat hy vir die bose gebruik, die karakter van ’n persoon of persone aandui.

Die Bybelskrywers het die duiwels waarvan hulle geskryf het, dus onteenseglik as persoonlike wesens beskou. Die skrywers van die verslag aan die Algemene Sinode het in gebreke gebly om te wys hoe die betrokke Skrifgedeeltes hermeneuties anders verklaar kan word as die ooglopende en algemeen erkende verstaan van die Bybel.

2. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met ons belydenisskrifte

In Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis

bely ons baie duidelik as volg oor die werklike bestaan en ook die persoonlike aard van die duiwels en bose geeste:

Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval,… Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk—ook op elke lidmaat—om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie”.

Sien ook:

3. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die eeue oue gereformeerde uitleg van die Skrif.

In Johannes Calvyn se bekende “Institusie van die Christelike Godsdiens

vind ons ’n goeie samevatting van wat die gereformeerde kerke deur die eeue oor die Satan, duiwels en bose geeste geglo en bely het. Die paragraaf hieronder gaan spesifiek oor die verwerping van die dwalinge wat die werklike en persoonlike aard van die Satan en duiwels ontken. (Soortgelyke bewyse sou uit vele ander standaard gereformeerde werke aangehaal kon word).

“Die opvatting dat die duiwels bose gevoelens of emosies is, het geen Skriftuurlike gronde nie

Maar soos ons vroeër126 die sinlose filosofie in verband met die heilige engele weerlê het omdat die leer dat die engele niks anders as ingewings of goeie vermanings is wat God in die verstand van die mens verwek nie, en so moet ons die mense nou weerlê wat die onsin kwytraak dat duiwels niks anders as bose gevoelens of emosies, wat deur ons eie vlees in ons teweeggebring word, is nie.127 Dit kan ons egter baie bondig doen, omdat daar baie en genoegsaam duidelike getuienis (OC 131) hieroor in die Skrif bestaan.

In die eerste plek, wanneer hulle onrein geeste en afvallige engele genoem word wat van hulle oorsprong af ontaard het,128 dan druk hierdie woord al genoegsaam uit dat hulle nie gemoedsteurnisse of emosies is nie maar dat hulle in werklikheid eerder, soos gesê word, verstande of geeste is wat met gevoel en intelligensie bedeel is.

Net so is dit wanneer die kinders van God deur Christus sowel as Johannes met die kinders van die duiwel vergelyk word.129 Sou dit dan nie ’n sinnelose vergelyking gewees het as die woord duiwel niks anders as bose ingewings sou aandui nie? Johannes voeg selfs nog ietwat duideliker daaraan toe dat die duiwel van die begin af sondig.130

Net so is dit wanneer Judas die aartsengel Migael in sy stryd met die duiwel voorstel.131 Hy stel ’n bose afvallige engel teenoor ’n goeie engel. Dit (OS 170) wat ons in die geskiedenis van Job lees, stem ook hiermee ooreen, naamlik dat die Satan saam met die heilige engele voor die aangesig van God verskyn het.132 Die duidelikste van al die verwysings is egter dié wat melding maak van die straf wat hulle deur die oordeel van God begin ervaar en wat hulle in besonder in die opstanding sal ervaar: “Seun van Dawid, waarom het U gekom om ons voor die tyd te pynig?133 En net so: “Gaan weg van my, julle vervloektes, in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is.”134 Verder: “As Hy sy eie engele nie gespaar het nie maar hulle in kettings geboei en in die duisternis gewerp het om hulle vir die ewige verdoemenis te bewaar”, ensovoorts.135

Hoe dwaas sou die uitsprake dan nie wees dat die duiwels vir die ewige oordeel bestem is, dat ’n vuur vir hulle berei is en dat hulle nou alreeds deur die heerlikheid van Christus gefolter en gepynig word, as daar dan glad geen duiwels was nie? Maar omdat die onderwerp geen bespreking nodig het onder die mense wat in die Woord van die Here glo nie, en omdat die getuienis van die Skrif weinig voordeel inhou onder mense wat ydel daaroor spekuleer omdat niks anders as nuwighede hulle vermaak nie, lyk dit tog vir my asof ek gedoen het wat ek wou, naamlik om godvrugtige verstande teen sulke waansinnighede waarmee onrustige mense hulleself en ook sommige eenvoudiges versteur, toe te rus. Dit was ook die moeite werd om hierdie onderwerp aan te roer om te verhoed dat mense wat in hierdie dwaling verstrik is, traer en onverskilliger word om teen hom weerstand te bied wanneer hulle dink dat hulle geen vyande in hom het nie”.

4. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is in stryd met die Sinode se eie besluite

Sien bv: besluit 1 in dieselfde verslag: “Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld. En ookBesluit 4, waar daar staan dat: die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig”. Kan hierdie woorde hoegenaamd ernstig opgeneem word, as die Sinode net daarna ruimte maak vir mense wat die saak anders sien?

5. Hierdie besluit van die Algemene Sinode minag ons lidmaatbelofte en ander formuliere

Die Sinode minag met hierdie besluit die belydenis, wat ons herhaaldelik van lidmate verwag om af te lê: “Glo jy dat die leer, soos in die Ou en Nuwe Testament en in die belydenisskrifte van ons kerk vervat is, en in die gemeente hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?” Dit gebeur by belydenis van geloof en die doop. By bevestiging van leraars, proponente, kerkraadslede en gemeenteleiers, kom ook nog die woorde voor: Verwerp jy alle leringe wat daarmee in stryd is? Die besluit druis ook in teen die plegtige legitimasie-verklaring van leraars waar van leraars verwag word om te onderneem: “dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die kerk te weer”.

6. Hierdie besluit van die Algemene Sinode skep ruimte vir ernstige dwaalleer

Die Sinode het met sy besluit om ruimte te maak vir ’n siening dat die duiwel nie werklik en persoonlik is nie, die deur oopgemaak vir ’n dwaalleer in die kerk. Dit is nie ’n ligtelike saak nie. Leraars wat die Bybel op eiesinnige wyse interpreteer kry met hierdie besluit kerklike sanksie om verkeerde leringe in die prediking te verkondig. Die bestaan van die duiwel as die teenstander van God en mens, het groot implikasies vir die Christen se uitkyk op die lewe. Dit raak ons persoonlike geloofslewe. Dit raak ons verstaan van die kerk se stryd in die wêreld ( Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie – Ef 6:12).

Moet ons aflei dat die Sinode hiermee ook ruimte maak vir mense met ’n Oosterse Yin-Yang beskouïng? Volgens hierdie beskouing is donker en lig twee onpersoonlike kragte wat altyd teenoor en naas mekaar bestaan. As die duiwel nie ’n “persoonlike aard” het nie, is hy nie meer “iemand” nie, maar “iets”. Ons vra nie meer na “wie” nie, maar na “wat”. As die kerk sy vyand nie meer ken nie, het ons die stryd van die begin af verloor.

7. Hierdie besluit van die Algemene Sinode is kerkregtelik en juridies ongeldig

Die Sinode het juridies en kerkregtelik nie die bevoegdheid om sonder ’n tweederde meerderheid plus tweederde instemming van alle kerkrade en streeksinodes, besluite te neem wat in stryd is met sy eie belydenis nie (KO art 44.1). Hierdie besluit is dus ultra vires en daarom kerkregtelik en juridies ongeldig.

Indieners van die Beswaarskrif:

  1. Ds JD Louw (Secunda)
  2. Ds T Danzfuss (Witfield)

Voetnotas

[1]KO Art 23b 5.3: Teen ’n besluit van die Algemene Sinode kan ook ’n gravamen/beswaarskrif ingedien word by die skriba van die beswaarde se sinode vir deursending na die Algemene Sinode, indien dit deur die betrokke sinode, sinodale kommissie of moderamen aanvaar word.

126Inst. 1.14.9.

127Calvyn, Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins 12, 23 (OC 7:181, 228).

128(Jud. :6). Afr. vert.: “… die engele wat hulle eie beginsels nie bewaar het nie …”.

129Marg. Iohan. 7.f.44. Iohan. 3.b.10. Vgl. ook 1 Joh. 8:44, 3:10

130Marg. 1. Iohan. 3.b.8. Vgl. ook 1 Joh. 3:9–10.

131Marg. Iudae. b.9.

132Marg. Iob. 1.b.6, & 2.a.1.

133Marg. Matt. 8.d.29.

134Marg. Ibidem. 25.d.41. Matt. 25:41.

135Marg. 2. Pet. 2.a.4.

Hier volg die ander beswaarskrifte

B.3 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(GEMEENTE WONDERBOOM-SUID)
BESWAARSKRIF

Die Algemene Sinode het onder andere soos volg besluit by sy pasafgelope sitting (2011):

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

VOORSTEL:

Dat hierdie besluit geskrap word.

MOTIVERING:

Die Algemene Sinode skep hiermee ruimte vir persone wat die bestaan van die duiwel ontken en verwerp en:

1. dit bring die akkuraatheid en waarheid van die Bybel in die gedrang.

2. dit is godslasterlik en bring die persoon en goddelikheid van Jesus Christus in die gedrang.

3. dit plaas ons Belydenisskrifte in die gedrang.

4. dit laat die vraag ontstaan waarom dieselfde (nog) nie ook met die bestaan van God en die engele gedoen moet word nie.

Hiermee kan die kerkraad hom glad nie vereenselwig nie. Die gegewens hieronder toon aan dat die kerk nie bestaansruimte aan hierdie afwykende siening ivm die duiwel en demone/bose geeste durf gee nie:

1. Die geloofwaardigheid van die Bybel:

Om die bestaan van die duiwel te ontken, is ’n direkte aanslag op die geloofwaardigheid van die Bybel aangesien die Bybel van die boek Genesis tot Openbaring getuig dat die duiwel ’n persoon is. Voorbeelde hiervan is:

1.1 Gen. 3: Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra:

“Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

1.2 Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.

1.3 Ef. 6:7: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

1.4 Op. 20:2: Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.

Die duiwel het al die kenmerke van ’n persoon:

* Hy het intellek (is listig, mislei en versoek).

* Hy kan (im)morele besluite neem.

* Hy is ’n moordenaar en lieg.

* Hy het ’n wil.

2. Godslasterlik:

Om die bestaan van die duiwel te ontken, is godslasterlik om die volgende redes:

2.1 Jesus het aan sy dissipels vertel dat die duiwel in die woestyn met hom in gesprek gegaan het. Dit is opgeteken in die Woord van God in die drie sinoptiese Evangelies.

2.2 Jesus beskryf die duiwel as ’n leuenaar en ’n moordenaar:

Joh.8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.

2.3 Indien die duiwel nie sou bestaan nie, beteken dit dat Jesus óf ’n leuenaar is óf geestelik versteurd is. Sy ontmoeting in die woestyn met die duiwel was dus bloot ’n hallusinasie.

2.4 Aangesien ons bely dat Jesus God is, sal die ontkenning van die duiwel as reële persoonlike wese ’n weerspreking van Christus wees – en dus godslasterlik in die ergste graad.

3. Om die bestaan van die duiwel te ontken, is ’n verwerping van die geloofsbelydenisse waarop ons

kerk gebou is.

Die Heidelbergse Kategismus

1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos(e). Hy bewaar (f) my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

9 Vraag: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen

nie?

Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

32 Vraag: Waarom word jy ’n Christen genoem (a)?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is (b) en daardeur deel aan sy salwing het (c) sodat ek sy Naam kan bely (d), myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (e) en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (f) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (g).

34 Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).

112 Vraag: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie ’n

kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

123 Vraag: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).

127 Vraag: Wat is die sesde bede?

Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).

Die Nederlandse geloofsbelydenis

Artikel 12

Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.

Die dwaalleer dat die duiwel nie bestaan nie is godslasterlik, destruktief en vernietig geloof. As Jesus ’n leuenaar of misleide was soos hierdie dwaalleraars by implikasie beweer, waarom kom ons dan nog kerk toe? Hoe kan ons dan glo dat Hy vir ons sondes gesterf het? Wat bly oor van ons geloof en verlossing as ons die Bybel na willekeur interpreteer?

4. Moet God en die engele ook tot nie-reële, onpersoonlike (non)entiteite ontmitologiseer word?

Indien die duiwel en sy demone se reële, persoonlike bestaan ontken word of ontmitologiseer moet word om slegs maar onpersoonlike en blinde metafisiese afbrekende kragte wat in die menslike wêreld invloed uitoefen, voor te stel, ontstaan die vraag dadelik: Waarom word dieselfde nie ook met God en sy engele gedoen nie? Waarom moet God en sy engele anders verstaan en eksegeties hanteer word as die Bybel se gegewens oor die duiwel en sy demone? Dit is immers nie konsekwente hermeneutiek nie!

Die kerkraad vermoed dat die voorstaanders van die gedagte dat die duiwel en sy engele nie regtig bestaan as persoonlike wesens in opposisie teenoor God en sy engele nie, graag net eers hierdie standpunt erken wil kry sodat daar later die volgende logiese tree gegee kan word, naamlik om dieselfde met God en sy engele te doen. Uiteindelik sal die Christelike geloof dan verander word in ’n mooi stukkie moraliteit waarin heilsame, menslike lewenswaardes en gesonde menseverhoudinge aangeleer word as deel van die sogenaamde ware lewenskuns – sonder dat die plaasvervangende versoeningswerk van Jesus Christus aan die kruis nog enigsins as relevant beleef sal word. Jesus sal ons die ware lewenskuns leer – en alles sal oor liefde, deernis, diens en medemenslikheid gaan. Die ewige lewe in die hiernamaals sal ook vergeestelik word en vervang word met die enigste werklikheid in die hiernoumaals. Hierdie moontlikheid is nie net ’n teoretiese moontlikheid nie – daar funksioneer al net in Pretoria meer as een “gemeente” onder leiding van voormalige leraars wat hierdie roete gevolg het! (Dank die Here – dis nie gemeentes van die NG Kerk nie!).

Hierdie kerkraad kan hom beslis nie versoen met die gedagte dat daar doelbewus of by wyse van onkunde ruimte geskep mag word vir sulke afwykende standpunte omtrent die duiwel en sy demone as nie-reële, onpersoonlike invloede nie aangesien dit geleentheid bied vir ’n geestelike en teologiese kanker om rustig – met die seën van die Algemene Sinode – voort te vreet aan die gesonde Bybelse geloofsoortuigings van ons lidmate. Die tolerering van hierdie onbybelse siening oor die duiwel en demone sal uiteindelik ’n dominoeffek hê waardeur meer en meer lidmate in verwarring en geloofsvertwyfeling selfs oor die realiteit van God gebring sal word. Daar was destyds baie goeie redes waarom die ontmitologisering van die Bybel – soos voorgestaan deur Rudolf Bultmann en kie – baie sterk afgewys is deur ons kerk. Wat het verander dat hierdie ou dwalinge nou asiel in ons hoogste kerklike vergaderings mag kry? As die kerk sy stem nie teen hierdie dwaalrigting gaan laat hoor nie, is die dood in die pot!

VERSOEKE:

1. Hiermee versoek die Sentrale Kerkraad van die NG Gemeente Wonderboom-Suid dus dat bogenoemde sinodebesluite geskrap sal word omdat dit duidelik ruimte skep vir standpunte wat nie op die Skrif gefundeer is nie en die eer van God aantas.

2. Voorts versoek die Sentrale Kerkraad u ook om ’n skriftelike antwoord op hierdie appél te ontvang, sodat die kerkraad aan ons lidmate kan kennis gee van die Algemene Sinode se gewilligheid (al dan nie) om konsekwente Bybelse leiding te gee aan sy lidmate oor reg en verkeerd in ’n wêreld wat toenemend besig is om in relatiwisme weg te sink.

B.4 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(NOORD-KAAPLAND)
BESKRYWINGSPUNT

Die Ned Geref Kerk in Noord-Kaapland het tydens haar sitting van 15 tot 18 Oktober 2012 besluit dat die volgende beskrywingspunt na die algemene sinode gestuur word met die versoek om die formulering van die Algemene Sinode se besluit dienooreenkomstig te wysig:

Die Sinode besluit om die laatbeskrywingspunt soos gewysig, te bespreek.

Die Sinode besluit dat die bestaande formulering (Sien Handelinge Algemene Sinode, punt 18 Bediening van bevryding, A.10 Leer en Aktuele Sake, Bylaag 2, bladsy 187, punt 14) wat as volg lui:

“14.7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassings van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

gewysig word om te lees:

“Die Algemene Sinode is bewus van die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassings van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Om die werklike en wesenlik persoonlike aard van die duiwel te aanvaar, sonder om daardeur die boosheid in die mens self, in owerhede, strukture, magte ensovoorts te ontken, is die Bybelse posisie en word ook so in die belydenisskrifte voorgehou en deur die NG Kerk aanvaar.”

B.5 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(OOSTELIKE SINODE)
BESKRYWINGSPUNT

VERBETERINGSVOORSTEL IN VERBAND MET DIE 2011-BESLUIT 28 OOR DIE BEDIENING VAN BEVRYDING

FORMULERING

Die Sinodale Diensraad versoek die Algemene Sinode om punt 28.7 van die besluit oor die bediening van bevryding soos volg te wysig:
Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

MOTIVERING

1. Die besluit van die Algemene Sinode het die bedoeling van die verslag weerspieël, naamlik om praktiese riglyne oor die Bediening van bevryding te gee.

2. Saam met die praktiese riglyne oor die bediening van bevryding word bely dat Jesus Christus die

oorwinnaar oor die bose in al sy vorme is, vergelyk besluit 28.1.

3. Die Algemene Sinode het dus nie ’n standpunt oor die persoon van die duiwel en die bose gestel nie. Daar word praktiese riglyne gegee oor die bediening van bevryding in mense se lewens.

4. Punt 28.7 van die besluit noem slegs die wye diversiteit van interpretasies van die lidmate, sonder om elke interpretasie te ondersoek en ’n bevinding daaroor te maak. Indien ruimte vir bygevoeg word, word ’n uitspraak gemaak dat die sieninge in orde is. Dit is meer as wat die bedoeling van die verslag is en kan lei tot teenstrydige interpretasies van die besluit van die Algemene Sinode.

B.6 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(DOORNKLOOF FAMILIEKERK)
BESWAARSKRIF

Punt 7 van die 2011-verklaring oor bevryding en demone bevat woorde van onduidelikheid omrede dit twee gelyke posisies bevat. Ons stel voor dat daar ’n klemverandering moet kom en ’n besliste voorkeurkeuse gemaak word. Daar is ruimte vir verbetering. Die Kerkraad van Doornkloof Familiekerk stel die volgende bewoording voor:

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is beslis ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is tog ook ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer, maar eersgenoemde is die NG Kerk se standpunt gegewe die inligting in die Bybel en die belydenisskrifte.

B.8 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(OOS-LONDEN-WESHEUWELS)
BESWAARSKRIF

BESWAAR teen PUNT 7 van die BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING: ALGEMENE SINODE 2011

Die NG Gemeente Oos-Londen-Wesheuwels is oortuig dat die besluit eerstens teenstrydig is met die Bybel, die Woord van God, en tweedens met Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

1. DIE BYBEL

Die Bybel leer ons van die bestaan van die Duiwel en van bose geeste net soos van die bestaan van die engel Gabriël en engele. Die Bybel is die Woord van God en ons, as belydende lidmate van die NG Kerk, het nie ruimte om te kies of ons in een of die ander kan glo nie.
(Matt 4; Matt 25:41; Joh 8:44; Op 4:11; Kol 1:16; Hand 5:3; Jes 40:26; Luk 1:19; Luk 1:26; Matt 12:24; Luk 11:18; Matt 25.31.)

2. NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

2.1 Volgens Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis glo en bely die NG Kerk en al sy lidmate dat God in die Skepping elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms gegee het.

2.2 In punt 7 van besluite rondom die bediening van bevryding verklaar die Algemene Sinode 2011 dat “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, (soos ons glo en bely volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis) en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

2.3 Die Algemene Sinode 2011 verklaar dus dat die lidmate (ongespesifiseerd) wat nie glo in “die duiwel en demone” nie, maar in “die bose en duiwels” wat by interpretasie dus sonder wese, gestalte of voorkoms is, ruimte het om ’n voorwaarde aan hul belydenis in die Nederlandse Geloofsbelydenis te stel.

2.4 Die Aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode, dr Quintus Heine, skryf die volgende soos aangehaal deur ds Danie Mouton in ’n epos op 30 Oktober 2011:
“1. Die NG Kerk het nooit gesê daar is nie ’n duiwel nie.
Inteendeel, die kerk het die bestaan van die duiwel en bose magte duidelik erken. In die eerste sin van die besluit bely die kerk duidelik “met blydskap, die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld.” Die kerk maak juis ruimte vir die bediening van bevryding (onder toesig van die ring) wat hy nie voorheen so duidelik gestel het nie. Wat die NG Kerk betref, is daar ’n duiwel en ’n bose mag – en Jesus het ons daarvan verlos!
2. Die kerk het met een sin melding gemaak dat ons nie mense se gewetens wil bind nie. Daar is ruimte vir mense wat wil kies of hulle die duiwel as ’n persoon sien en of hulle dit as ’n bose mag beskou. Daar was mense wat verkies om te praat van die bose en daar is mense wat verkies om te praat van die duiwel.”

2.5 Dit blyk dus dat die Algemene Sinode 2011 standpunt hou by die Nederlandse Geloofsbelydenis, maar dat hulle namens die NG Kerk nie mense se gewetens wil bind nie en daar dus ruimte gegee word dat lidmate binne die NG Kerk hul eie voorwaardes kan stel vir dit wat hul wil glo.

3. In die skrywe van dr Heine, soos hierbo aangehaal, sê hy baie duidelik dat die NG Kerk nooit die bestaan van die duiwel ontken het nie en dan gaan hy voort om die NG Kerk se erkenning van die duiwel en bose magte se bestaan te bevestig.

4. Verder, op die amptelike webwerf van die Algemene Sinode is die Belydenisgrondslag van die NG Kerk daar vir almal om te sien. Onder andere bely die Kerk sy verbintenis tot die Drie Formuliere van Enigheid (wat die Nederlandse Geloofsbelydenis insluit) en verklaar “Dit vorm ook die belydenisgrondslag van die NG Kerk, omdat dit in ooreenstemming met die Bybel is. Daarin word ons gereformeerde verstaan van die Christelike geloof geformuleer.” En: “Die Kerk verklaar dus sy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die wil van God soos dit in sy Woord geopenbaar is.”

5. In Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk word verklaar “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreels.”

6. In Reglement AS 10 (5.3) van die Kerkorde moet teologiese studente die volgende onderneming onderteken voordat hulle praktiese werk in gemeentes mag doen: “Ek, die ondergetekende, onderskryf hiermee opreg en as voor die Here die leer soos vervat in die Formuliere van Eenheid van die gereformeerde kerke, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis” en wat daarop volg.

7. In Reglement AS 10 (8.4) van die Kerkorde is daar die voorbeeld van die Legitimasieverklaring wat onderteken moet word en waarvan paragraaf 1 soortgelyk is aan die van die onderneming hierbo genoem.

Dit is dus vir die NG Gemeente Oos-Londen-Wesheuwels onverstaanbaar hoe in die BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING, punt 7, ruimte (volgens gewete – dr Heine) aan lidmate van die NG Kerk gegee kan word in direkte teenstryd met die NG Kerk en Algemene Sinode 2011 se amptelike en onvoorwaardelike belydenis.

Die NG Gemeente Oos-Londen-Wesheuwels se oortuiging is dat lidmate van die NG Kerk nie voorwaardes kan stel of hê aan die drie Ekumeniese Geloofsbelydenisse en/of drie Formuliere van Enigheid nie.

Die NG Gemeente Oos-Londen-Wesheuwels versoek dat punt 7 van die BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING in revisie geneem word aangesien dit nie in ooreenstemming is met die amptelike belydenis van die NG Kerk nie.

B.9 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(RING VAN GEORGE)
BESWAARSKRIF

Prof D Thom het ’n beswaarskrif by die kerkraad van George Moedergemeente ingedien teen pt 7 van die besluit van die Algemene Sinode 2011 oor die Bediening van Bevryding. Die kerkraad het dit na die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland verwys wat prof Thom geantwoord het. Hy was nie tevrede met die antwoord nie. Die kerkraad het die saak weer ter tafel geneem en besluit om dit na die Ring van George te verwys. Die Ring het geoordeel dat hulle nie oor dioe bevoegdheid beskik om prof Thom te antwoord nie en het die beswaarskrif na die Algemene Sinode verwys.

INHOUD VAN PROF THOM SE BESWAAR

Prof Thom se oorspronlike beswaar

Terwyl daar sekeres (besluite van die Algemene Sinode JJG) is waarmee ek my geheel kan vereenselwig, is daar veral een besluit waarmee ek geen vrede kan maak nie. Ek verwys na punt 7 van die besluite rakende die “Bediening van Bevryding” wat so lui:
“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasie en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Twee aspekte van hierdie besluit is uiters verontrustend:
(a) Die “ruimte” wat aan lidmate gegee word om die “Bybelse spreke oor die bose anders te interpreteer”, word glad nie omskryf, beperk of gedefinieer nie. Teoreties kan lidmate en leraars dus enigiets, hoe vreemd en on-Bybels ookal, oor die duiwel glo en van die kansels verkondig.
(b) Daar is geen daadwerklike poging aangewend om hierdie revolusionêre besluit op die Bybel te baseer nie.

Toe ek die oorspronklike verslag wat voor die Sinode gedien het, nagegaan het, het die onrus in my hart nog groter geword. Ek noem net enkele vreemde aspekte van die verslag in die lig van die uiteindelike omstrede besluit (punt 7):
1. Afdeling 5 van die verslag behandel die Nuwe Testamentiese leer oor die duiwel en demone. In hierdie goeie gedeelte word geen rede gegee om “die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone” te betwyfel of “anders te interpreteer” nie. Paragraaf 5.3 is ’n uitsondering. Dit sê kortliks dat die briewe van Paulus soms verwys na “bonatuurlike, onpersoonlike magte”, maar dit word hoegenaarnd nie in diepte bespreek nie. In elk geval is dit nie ’n uitgemaakte saak dat Paulus na “onpersoonlike” magte verwys het nie.
2. In afdelings 7 en 8 verwys die verslag na ’n verskeidenheid sienings van verskillende teoloë, maar geen Skriftuurlike gronde word vir afwykende standpunte gegee nie – die argumente is oor die algemeen filosofies van aard.
3. Afdelings 9 en 10 word gewy aan die vraag of die duiwel ’n “persoon” is. Die meerderheid van teoloë wat aangehaal word, sê baie duidelik dat die duiwel ’n “intelligente persoonlike mag” is. Ten spyte daarvan kom die Kommissie tot die verstommende gevolgtrekking dat dit verwarrend is om te praat van die duiwel as persoon: “Christene glo wel dat die Bose ’n werklikheid is, maar dit is verwarrend om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie.” (10.3).
Met alle respek, maar, soos ek die verslag verstaan, Iê die verwarring nie by die lidmate nie, maar by die opsteller(s) van die verslag:

3.1 Die begrip “persoon” word nie gedefinieer nie, maar Michael Green se definisie word aangehaal: “What most people mean by [saying that Satan is a personal devil] is to claim that Satan is an organising intellect, a single focus and fount of evil inspiration. That seems to me to be a very proper inference to draw from the teaching of the Bible. But it is doubtful if we can call him ‘personal’ in any other sense” (9.5). Green is een van enkele teoloë (in die verslag) wat die duiwel nie as ’n persoon wil beskryf nie. Tog gee hy toe dat die Bybel duidelik leer dat die duiwel “an organizing intellect, a single focus and a font of evil inspiration” verteenwoordig, en dat ons in hierdie sin wel van die duiwel as a persoon kan praat. Dit was ook die posisie in die NG Kerk tot en met die laaste Sinodesitting. Ten spyte hiervan word die definisie van Green glad nie by die uiteindelike besluit van die Sinode in ag geneem nie. Maar hoe verstaan die Kommissie dan die begrip “persoon”?

3.2 In paragraaf 10:3 maak die Kommissie skynbaar ’n belangrike ontdekking: “Dit is belangrik om te onthou dat Christene … nie bely dat die duiwel mens geword het nie … daar is nie ’n geloofsartikel oor die Bose se vleeswording nie”. Nadat dieselfde gedagte ’n paar keer in effens ander woorde herhaal is, kom die verslag tot die gevolgtrekking dat dit “verwarrend (is) om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie.”

Dit Iyk dus of die Kommissie die term “persoon” of ’n “persoonlike wese” verstaan as gelyk aan ’n mens. Met ander woorde, sonder enige bewys, getuienis of voorbeeld verkondig die Kommissie dit dat, wanneer ’n lidmaat van die NG Kerk glo die duiwel is ’n persoon, hy of sy eintlik daarmee wil sê dat die duiwel homself “manifesteer as ’n menslike figuur”.

Hierdie aanname Iyk totaal ongegrond. Deur Gods genade is ek die afgelope 62 iaar ’n lidmaat van die NG Kerk. Nog nooit het ek ’n lidmaat teëgekom wat glo dat die duiwel ’n mens is nie. Blykbaar het die Kommissie besef dat hulle argument swak is, want hulle sê “dit klink asof dit vir ons ’n wesenlike geloofsartikel is …. die geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer” (9.5).

3.3 In paragraaf 9.6 gee die Kommissie verder die volgende rede waarom dit dan verwarrend sou wees om te praat van die duiwel as persoon: “Die probleem met die begrip ‘die duiwel as persoon’ is dat dit ’n mens byna onwillekeurig daartoe bring om te dink aan ’n rooi wese met ’n mens se Iyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert wat sy slagoffers in ’n poel van vuur gooi” (9.6). Dit is verstommend dat ’n Kommissie van die Algemene Sinode op so ’n “kindertuin”-vlak kon redeneer. Moet ons werklik glo dat, wanneer lidmate van die NG Kerk van die duiwel as “persoon” praat, hulle “byna onwillekeurig dink aan ’n rooi wese met ’n mens se lyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert?” Dit is uiters vreemd dat die Algemene Sinode hierdie aanvegbare stellings skynbaar sonder meer aanvaar het.

3.4 In paragraaf 10.4 kom die verslag, na heelwat herhaling, tot die slolsom dat dit beter sal wees “om nie aan te dring” op die term ’n ‘persoonlike duiwel’ nie, maar eerder te beklemtoon “dat ons hier praat van ’n selfstandige wese wat werklik bestaan”. Uiteindelik het ons dus tog ’n definisie van ’n “persoon” – ’n “selfstandige wese wat werklik bestaan”! Maar waarom word die term “persoon” dan so knaend bestry? ’n “Persoon” is mos ’n selfstandige wese wat werklik bestaan? En dan die verdere vraag: Waarom is hierdie definisie (in par 10.4) nie aangehaal in punt 7 van die besluite van die Sinode nie? En waarom staan daar in die besluit “dat daar ruimte [is) vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo” en dat daar ook ruimte is “vir Iidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer?” Met ander woorde, daar is ruimte vir hulle wat nie aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo nie. Dit is nie in Iyn met wat die verslag in par 10.4 sê nie (naamlik dat die duiwel ’n “selfstandige wese is wat werklik bestaan”).

3.5 Na afloop van die Sinode het die moderator, professor Nelus Niemandt, verklaar dat hy dit betwyfel of “die bose ’n persoonlike karakter kan aanneem”. Hy gaan dus ook verder as wat die verslag voorgestel het, in Iyn met die betrokke besluit van die Sinode. Hy verduidelik dat hy “baie huiwerig (is) om aan die duiwel ’n identiteit te gee wat op ’n soort goddelike mag neerkom” (Die Kerbode, 4.11.2011). Dit is ’n baie eienaardige afleiding. Mense en engele is ook almal “persone”, en tog gee dit ons nie “‘n soort goddelike mag” nie. Aan die ander kant noem Jesus die duiwel “die owerste van hierdie wêreld” (Joh 12:31; 16:11). Met ander woorde, die duiwel het wel baie mag in hierdie wêreld, soos die verslag ook self aandui (vgl 10.1), maar sy mag is aan die kruis oorwin en word nog steeds oorwin deur Jesus se Woord en Gees. Maar waarom sou professor Niemandt dan huiwer om ’n term vir die duiwel te gebruik wat in Iyn is met Jesus se beskrywing van die duiwel as “die owerste van hierdie wereld?” ’n “Owerste” is tog ’n soort persoon.

Dit is baie duidelik dat die Sinodale besluit die verwarring rondom die begrip “die duiwel as persoon”

allermins opgeklaar het. Die verslag het na my mening ook nog etlike ander leemtes, maar ek volstaan met ’n laaste punt.

4. Die belangrikste en mees onverskoonbare leemte in die verslag is dat daar geen aandag gegee is aan dit wat Jesus self oor die Bose geglo en geleer het nie. In paragraaf 9.7 word daar weI verwys na Jesus se versoeking in die woestyn (Lk 4:5-9). Die verslag redeneer dat die versoeking moontlik in ’n droom of visioen tot Jesus gekom het. Dit bewys dan dat die duiwel nie ’n mens is nie! Die oppervlakkige wyse waarop hierdie sleutelgebeurtenis in Jesus se lewe en bediening hiermee afgemaak word, is om van te sidder. Dat daar verder in die verslag geen bespreking van Jesus se leer oor die Bose is nie, is totaal onaanvaarbaar.

Gesien vanuit laasgenoemde perspektief verteenwoordig hierdie Sinodale besluit waarskynlik ’n ongekende historiese laagtepunt in die geskiedenis van die NG Kerk. ’n Revolusionêre siening oor die duiwel word hiermee in die Kerk ingedra sonder om hierdie nuwe leer op die Skrif te baseer. Dit is, inteendeel, duidelik in stryd met die leer van die Bybel en met die geloof van die gemeente.

Daarom wil ek die Kerkraad beleefd versoek om langs die gebruiklike kerklike weg ten sterkste beswaar aan te teken teen hierdie besluit (punt 7 van die verslag insake die “Bediening van Bevryding”) van die Algemene Sinode van 2011.

DIE REAKSIE VAN WES- EN SUID-KAAPLAND SE SINODALE TAAKSPAN VIR LEER EN AKTUELE SAKE

1. Inleiding – Gewig van verslag en besluit

In prof Thom se skrywe word kritiek gelewer op die verslag en die besluit van die Algemene Sinode. Miskien is dit goed om net weer te onthou wat die gewig van elk is.

Die besluit is die belangrikste. Die besluit verteenwoordig op ’n direkte en presiese manier die standpunt van die sinode. Lidmate en lesers van die besluit (aanbevelings wat aanvaar is) mag aanvaar dat die sinode elke paragraaf, sin en frase van die besluit goed deurdink en goedgekeur het.

Die verslag is die motivering vir die besluit. Die verslag verteenwoordig nie op ’n direkte en presiese manier die standpunt van die sinode nie, want die sinode het nie elke afdeling, paragraaf en sin goedgekeur nie. Dit is heeltemal moontlik dat ’n sinodeganger vir die besluit gestem het, maar met sekere dele van die motivering in die verslag nie saamstem nie.

Maar – dit beteken nie dat die verslag nie op ’n algemene manier tog wel die denkwyse van die sinode verteenwoordig nie. Die Algemene Sinode van 2007 het juis die vorige verslag van AKLAS oor die Bediening van Bevryding terugverwys op grond van wat in die verslag gestaan het. Dus is die verslag nie onbelangrik nie. ’n Mens sou dus tereg uit die feit dat die Algemene Sinode van 2011 nie die verslag terug- of afgewys het nie, kon aflei dat die Sinode ten minste met die breë argumentering van die verslag saamgestem het, hoewel moontlik nie met elke besonderheid nie.

Die besluit en die verslag vra dus elk vir ’n eie beoordeling – daarom word die kritiek op die besluit en verslag hieronder afsonderlik hanteer.

2. Besluit van die Algemene Sinode 2011 oor die Bediening van Bevryding

Die deel van die besluit wat prof Thom kritiseer, is punt 7: “Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasie en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Die eerste punt van kritiek is: Dat die “ruimte” wat vir lidmate gegee word nie nader omskryf word nie. Hy lei uit die besluit af: “teoreties kan lidmate en leraars dus enigiets, hoe vreemd en on-Bybels ook al, oor die duiwel glo en van die kansels verkondig”.

STLAS-respons:

2.1 Prof Thom is reg: Die ruimte word nie nader omskryf nie. Maar daar is ’n goeie rede hiervoor: Die uitdrukking “daar is ruimte” is hier ’n riglyn vir respons teenoor lidmate wat “anders dink”. Met “ruimte” gee word nie bedoel “saamstem” nie. Daarmee word bedoel dat die feit erken word dat daar lidmate is wat oor die saak van die duiwel, demone en die bediening van bevryding anders as die kerk dink – dat die kerk dit as ’n feit erken en dat die Sinode meen die kerk oor hierdie saak nie te vinnig en hard behoort op te tree nie.

Die sinode se besluit is nie ’n goedkeuring van die standpunt wat die “werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone” ontken nie. Dit konstateer slegs dat dit ’n feit is dat sommige lidmate “anders dink” en beveel aan dat die kerk aan hierdie lidmate beweegruimte gee.

Dit word nog duideliker as punt 7 saam met die res van die besluit en die verslag gelees word. Die hoofsaak van die besluit is dat ’n bediening van bevryding weI in die kerk toegelaat sal word met sekere voorwaardes om misbruik te voorkom. Die kerk kan net besluit om ’n bediening van bevryding van die mag van die duiwel en demone toe te laat as die kerk glo die duiwel bestaan. Die tweede deel van punt 7 verwoord dus nie die kerk se standpunt oor die duiwel nie, maar stel ’n riglyn vir respons teenoor “lidmate” wat oor hierdie saak “anders dink”.

Miskien help dit om die toepassing van die besluit prakties voor te stel. ’n Psigiater (prof) wat die kommissie wat die verslag opgestel het, toegespreek het, is self ’n gelowige lidmaat van die NG Kerk. By sy voorlegging het hy gesê dat hy nie ’n persoonlike duiwel vir homself kan voorstel nie. Punt 7 van die besluit sê nie dat die standpunt van die psigiater – en ander lidmate soos hy – goedgekeur moet word nie, wel dat daar vir hulle ruimte gemaak word. Dit is dus waar wat prof Thom sê, naamlik dat die frase “daar is ruimte” nie verder omskryf word nie – juis omdat dit net ’n riglyn vir respons wil gee, en die spesifieke optrede oorlaat aan diegene in die spesifieke situasie.

Die tweede punt van kritiek is: Dat daar geen “poging aangewend ” is om “die revolusionêre besluit (punt 7) op die Bybel te baseer nie”.

2.2 STLAS se respons daarop:

Na die mening van STLAS is dit nie ’n “revolusionêre besluit” nie, maar wel ’n gematigde besluit wat kennis neem van die diversiteit onder sy lidmate en wat, onder sulke omstandighede, ’n riglyn gee wat onderskei tussen die meer en die minder belangrike sake. Die besluit om “ruimte” te gee aan lidmate wat oor die saak van die duiwel, demone en bevryding “anders dink”, beteken nie om hulle standpunt goed te keur nie, maar wel dat hierdie saak nie ’n saak is wat op die spits gedryf moet word nie.
Hiervoor het die skrywers van die besluit wel geen Bybelgegewens aangehaal nie, maar ’n mens sou wel op grond van die Bybel kon betoog dat Christene met verskillende intensiteit behoort te reageer op lidmate wat anders dink oor meer belangrike sake (bv die opstanding van Christus) en minder belangrike sake (die presiese aard van die Bose).

3. Die verslag ter ondersteuning van die voorgestelde besluit

Die eerste punt van kritiek: Hier gaan dit oor prof Thom se waarneming dat die verslag wel argumenteer die duiwel is ” ’n selfstandige wese wat werklik bestaan” (par 11), maar dat Christene nie moet aandring op die term “persoonlike duiwel” nie (par 11). Dit is, volgens prof Thom, ’n verwarrende manier van praat.

3.1 STLAS-respons:

‘n Mens moet prof Thom toegee dat die onderskeid tussen ’n “selfstandige wese wat werklik bestaan” en “persoon” nie sonder meer duidelik is nie. Dit is waarskynlik so dat die twee terme vir meeste mense dieselfde beteken. .Aan die ander kant is dit tog ’n onderskeid wat gemaak word deur sommige teoloë, soos byvoorbeeld Michael Green, ’n evangeliese Britse Anglikaan. Die rede hiervoor is dat Green en ander oortuig is dat die woord “persoonlik” onmiddellik die beeld by ons oproep van iets of iemand wat soos ’n mens Iyk.

Daarmee word nie bedoel almal wat die woord “persoonlike duiwel” gebruik, dink aan die duiwel as ’n menslike figuur of ’n rooi wese met ’n pylstert nie. Daar word slegs bedoel dat die term “persoonlike duiwel” by baie (nie alle) mense wel beeIde oproep van ’n menslike wese. As aangedring word dat hulle in ’n “persoonlike duiwel” moet glo, klink dit vir hulle dat aangedring word dat, soos hulle glo in God wat in Jesus mens geword het, hulle ook so moet glo in die Bose wat ’n gestalte het soos ’n menslike wese. Dit kan tog nie wees nie – aan die menswording van God in Jesus Christus moet ’n Christen glo – maar dit is nie so met die Bose nie. Die Christelike tradisie glo wel dat die Bose ’n “selfstandige wese is wat werklik bestaan”, maar wanneer aangedring word dat die enigste ortodokse geloof oor die Bose is dat Christene moet glo in “‘n persoonlike duiwel” word verder gegaan as die inligting wat die Bybelse gegewens oor die Bose aan ons gee.

Prof Thom is nie oortuig dat die term “persoonlike duiwel” wel tot misverstand kan lei nie. Die opstellers van die verslag het anders hieroor geoordeel, naamlik dat ’n aandrang op die term “persoonlike bestaan van die duiwel” ten minste deur sommige misverstaan kan word as ’n aandrang dat Christene moet glo in ’n persoon-agtige duiwel, dit wil sê ’n duiwel wat die gestalte het van ’n menslike figuur.

Verder is dit belangrik om te hoor wat die verslag regtig sê oor ’n “persoonlike duiwel”. Die verslag sê nie dat Christene nie mag glo daar is ’n persoonlike duiwel nie. Dit sê slegs dat dit verkeerd is om aan te dring op die gebruik van die term “persoonlike duiwel” as die enigste ortodokse wyse om na die Bose te verwys. Die verslag waarsku daarteen om die term “persoonlike duiwel” as verpligte taalgebruik vir Christene voor te skryf. Die verslag gee die waarskuwing gedagtig aan Karl Barth se waarskuwing dat ’n gelowige nie te veel en in te groot detail oor die duiwel behoort te praat nie (CD 111.3, bI 519). Hoewel nog nie finaal uitgewis nie, is hy oorwin en verdien nie te veel aandag nie.

Die tweede punt van kritiek: Die verslag gee “geen aandag aan dit wat Jesus self oor die Bose geglo het en geleer het nie”.

3.2 STLAS-respons:

Dit is nie die geval nie. Die Nuwe-Testamentiese gegewens oor die duiwel en demone word in afdelings 6-7 behandel. Daar kan wel van die uitleg verskil word, maar daar kan nie gesê word dat “geen aandag” gegee is aan dit wat Jesus oor die Bose geleer het nie. In geval die gedeeltes misgelees is, word die argument kortliks hier herhaal.

Die Nuwe Testament vertel dikwels hoe Jesus, as deel van sy genesings, demone uit mense “uitgedryf” het. Soms is die beskrywings van demoon-uitdrywing klaarblyklik niks anders as genesings van siektes nie. Dit word egter deur die omstanders beskryf as ’n uitdrywing van ’n demoon omdat hulle, by gebrek aan tegniese taal, geen ander woorde gehad het om die genesing te beskryf nie. ’n Goeie voorbeeld is Jesus se genesing van iemand wat klaarblyklik aan epilepsie gely het (Matt 17:14-20). Dieselfde kan ’n mens van baie Nuwe-Testamentiese uitdrywings van demone sê – dit is die enigste manier hoe die omstanders die genesings van Jesus kon beskryf.

Maar – dit is ook so dat daar genesings in die Nuwe Testament is wat nie sonder meer genesings deur Jesus was nie, byvoorbeeld in die gebeure insake die besetene van Gerasa (Mk 5:1) waar Jesus die bose geeste in die varke dryf. Hier is dit klaarblyklik ’n geval dat Jesus die bose geeste uitdryf omdat hy sterker is as die Bose, en omdat Sy ryk groter is as die mag van die bose.

Laasgenoemde (en soortgelyke) gebeure, sê die verslag, onderstreep die feit dat die Bose ’n werklikheid is. Dit moet erken word – maar die beste manier om die punt te maak, is nie om aan te dring dat Christene in ’n “persoonlike duiwel” moet glo nie. Dit is beter om aan te dring dat Christene sal erken dat “die Bose ’n selfstandige wese is wat werklik bestaan”.

3.3 Ten slotte:

Dit is ons mening dat prof Thom, in sy lees van die verslag, ongelukkig te sterk fokus op die verslag se kritiek ten opsigte van die term “persoonlike duiwel”. Deur sy oormatige klem op hierdie aspek mis prof Thom die hoofpunt van die verslag, naamlik dat die bestaan van die Bose “‘n selfstandige wese is wat werklik bestaan”. Gevolglik mis hy ook die punt dat daar volgens die verslag dus wel iets soos ’n bediening van bevryding is, en dat die bediening wel deur die NG Kerk toegelaat behoort te word, maar onder streng toesig.

Deur sy oormatige klem op ’n “persoonlike duiwel” sien prof Thom ongelukkig nie in nie dat juis dit wat vir hom belangrik is – dat die werklikheid en die mag van die Bose erken moet word – ook vir die opstellers van die verslag ’n ernstige saak is. Die gevolg van ’n oormatige klem op die begrip “persoonlike duiwel” is dat hy sy teologiese vriende vir teëstanders aansien.

PROF THOM SE REAKSIE OP WES- EN SUID-KAAPLAND SE VERSLAG

Met stygende verbasing het ek kennis geneem van die brief van die dagbestuur van die Wes-Kaapse Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS), gedateer Mei 2012. Soos u weet, gaan dit oor die verstaan van paragraaf 7 van die besluite van die 2011 Algemene Sinode (AS) insake die “Bediening van Bevryding”, veral van die volgende woorde: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” Ek maak net enkele opmerkings.

1.’n Vreemde lnterpretasie van paragraaf 7

Die brief verseker ons dat die uitdrukking “ruimte gee” nie beteken dat die Sinode saamstem met daardie lidmate wat “nie aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone” glo nie. Die besluit was nie ’n goedkeuring van hulle standpunt nie, die Sinode wou net nie “te vinnig en te hard” teen hulle optree nie (par 2.1). Effens later word presies dieselfde gedagte herhaal, naamlik dat die “ruimte” wat aan daardie lidmate gegee is nie goedkeuring beteken nie, “maar dat hierdie saak nie op die spits gedryf moet word nie” (par 2.2).

Die broers impliseer dus dat die “ruimte” wat gegee is net ’n vergunning is aan “swakker broers” ten einde hulle die geleentheid te gee om hulle siening oor die “werklike en persoonlike aard van die bose en demone” in heroorweging te neem in die lig van die duidelike lering van die Nuwe Testament. Indien dit die regte interpretasie van die betrokke besluit is, sou ek – en sekerlik ook die Kerkraad – geen probleem daarmee gehad het nie. Ongelukkig weerspreek die ondubbelsinnige formulering van die besluit hierdie vindingryke interpretasie. Uit die bewoording van die besluit is dit baie duidelik dat aan hierdie lidmate volledige vryheid gee word om die “werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone” te bevraagteken en selfs te ontken. Daar is geen aanduiding dat “ruimte gee” nie inderdaad ook “goedkeur” beteken nie.

Hierdie interpretasie word ook weerspreek deur die voorbeeld wat in paragraaf 2.1 genoem word. ’n Professor in Psigiatrie sê dat “hy nie ’n persoonlike duiwel vir himself kan voorstel nie”. Hy aanvaar dus nie die “werklike en persoonlike aard” van die duiwel of ander bose geeste nie. Ten spyte daarvan bevat die Sinodale besluit geen broederlike vermaning om hom op hierdie punt aan die leergesag van Christus en die Skrifte te onderwerp nie.

Ongelukkig is hierdie siening ’n tipiese voorbeeld van ’n uitgediende Eurosentriese denke. Verskeie studies oor die godsdienste en kulture van Afrika toon dat die verskynsel van geestesbesetenheid (“spirit possession”) baie wyd voorkom. Ook die sending- en godsdiensgeskiedenis getuig dat hierdie soort verskynsels binne ’n groot verskeidenheid godsdienstige kontekste voorkom. Otto Borchert beweer byvoorbeeld die tradisionele Batak van Indonesië “differentiate sharply between epileptics and those possessed by evil spirits”. Om ’n verskynsel soos geestesbesetenheid uitsluitlik vanuit ’n modernistiese Westerse perspektief te beoordeel, moet noodwendig eensydig wees.

Die dagbestuur se interpretasie van die besluit word verder weerspreek deur die standpunt van leiersfigure soos prof Julian Müller en dr Ben du Toit wat dit openlik betwyfel of die duiwel ’n “selfstandige wese is wat werklik bestaan”. In sy boek oor die post-modernisme sê Du Toit byvoorbeeld dat Jesus wel geglo het dat Hy “deur die duiwel versoek” is, maar dat die moderne wetenskap die geloof in die bestaan van die duiwel en demone onmoontlik gemaak het (2000:124-127). Skynbaar pIa dit hom glad nie dat Jesus deur hierdie siening tot ’n dwaalleraar verklaar word nie. Inteendeel: sy boek het onlangs ’n suksesvolle herdruk beleef –en geen enkele Sinodale haan het nog ooit daaroor gekraai nie.

2. Siektes en besetenheid in die Nuwe Testament

Ivm die Nuwe Testamentiese berigte oor die uitdryf van duiwels maak die broers die volgende wydlopende stelling: “Soms is die beskrywings van demoonuitdrywings klaarblyklik niks anders as genesings van siektes nie. Dit word egter deur die omstanders beskryf as ’n uitdrywing van ’n demoon omdat hulle, by gebrek aan tegniese taal, geen ander woorde gehad het om die genesing te beskryf nie. ’n Goeie voorbeeld is Jesus se genesing van iemand wat klaarblyklik aan epilepsie gely het (Matt 17: 14-20)”.

Hierteenoor kan opgemerk word dat dit nie net “die omstanders” was wat die demoonuitdrywing so beskryf het nie, maar die evangelie-skrywers en ook Jesus self. Juis in die geval van die “epileptiese seun” is dit Jesus self wat daarop wys dat sy toestand so sleg was omdat hy ook deur ’n bose gees geteister is (Mark 9:29).

Dieselfde geld vir die bevryding van ’n man wat beide stom en blind was (Mat 12:22; Luk 11:14; vgl Mark 3:22). Hierdie genesing word gevolg deur die berugte beskuldiging dat Jesus die duiwels uitdryf met behulp van Beëlsebul. Hierop antwoord Jesus: “Aangesien Ek dus deur die vinger van God duiwels uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.” (Luk 11 :20). Dit was duidelik ’n werklike duiweluitdrywing en nie net ’n “gewone” genesing nie. Beide genesings en uitdrywings was tekens van die koms van die koninkryk van God, in die waaragtig-menslike lewe van Jesus – wat gekulmineer het in sy offerdood en opstanding (vgI Luk 10:18; Openb 12:10).

In die algemene berigte oor Jesus se bediening word daar gewoonweg onderskei tussen “gewone” genesings en die uitdryf van duiwels (Mat 4:23- 24; 8:14-17; Mark 1 :32-34; Luk 4:40-41; 6:18). Dit geld ook vir die genesings wat die dissipels in Sy Naam gedoen het (Mat 10:7-8). Dit is dus totaal misleidend om te se: “Soms is die beskrywings van demoonuitdrywings klaarblyklik niks anders as genesings van siektes nie.” Of moet ons nou glo dat Jesus, die Groot Geneesheer, nie kon onderskei tussen gewone siektes en duiwelbesetenheid nie?

Ewe misIeidend is die voorstelling dat die NT berigte oor die uitdrywing van demone gebaseer is op die feit dat die omstanders dit as sulks verstaan het omdat hulle nie van beter geweet het nie. Die Nuwe Testament berus nie op die opinie van omstanders nie, maar op die herinneringe van mense wat Jesus gevolg het.

3. Beide “speler” en “skeidsregter”

Dit is vreemd dat my vorige brief na hierdie kommissie verwys is – die opstellers van die verslag wat voor die AS gedien het. Die gevolg is dat hulle nou beide “speIer” en “skeidsregter” geword het tov die interpretasie van die besluit wat uit hulle verslag voortgespruit het. Teen die einde van die brief is die broers skynbaar so gretig om hulle oorspronklike verslag te verdedig dat hulle vergeet van die ernstige besware teen paragraaf 7 van die Sinodale besluit, naamlik dat daar ”ruimte gegee word vir Iidmate wat ….. die (Bybelse spreke oor die) werklike en persoonlike aard van die duiweI en demone …. anders interpreteer.” Gevolglik vind hulle dit nodig om my te betig omdat ek “te sterk fokus” op die term ’n “persoonlike duiwel”. Deur my “oormatige klem” hierop mis ek die hoofpunt van die verslag, naamlik “dat die Bose ’n selfstandige wese is wat werklik bestaan” (par 3.3).

Met alle respek moet ek daarop wys dat ek volmondig met die “hoofpunt” van die verslag saamstem, naamlik “dat die Bose ’n selfstandige wese is wat werklik bestaan”. Ek het geen beswaar teen hierdie formulering nie. Maar waarom weier die broers om te erken dat paragraaf 7 van die Sinodale besluit teenstrydig is met die hoofpunt van hulle eie verslag? Is hulle so blindweg lojaal teenoor die Sinodale besluit dat hulle dít nie kan insien nie? Dit is tog glashelder dat die besluit “ruimte gee” aan enige lidmaat, leraar of dosent van die NG Kerk om te ontken “dat die Bose ’n selfstandige wese is wat werklik bestaan”?

4. Die “verbod” op die term “persoonlike duiwel”

Die broers het dit veral teen my “oormatige klem” en “te sterk fokus” op die term ’n “persoonlike duiwel”. Die eenvoudige feit is egter dat dit juis hierdie kommisie is wat die gebruik van die term “‘n persoonlike duiwel” op die spits gedryf het. Die opskrif in die STLAS-verslag spreek boekdele:

“GLO JY AAN ‘N PERSOONLIKE DUIWEL?” IS NIE DIE REGTE VRAAG NIE (par 10). Dit is dus hierdie kommissie self wat die fokus so sterk op die term “‘n persoonlike duiwel” geplaas het. En nou, omdat ek hulle redes daarvoor bevraagteken, is ek die skuldige. Hier is dit waarskynlik weer ’n geval waar die rol van “speler” en “skeidsregter” nie mooi van mekaar onderskei is nie.

In die lig van die onbevredigende antwoord wat ons ontvang het, wil ek graag my versoek aan die Kerkraad herhaal, naamlik om langs die korrekte kerklike weg beswaar aan te teken teen paragraaf 7 van die besluite van die Algemene Sinode van 2011 met betrekkking tot die “Bediening van Bevryding”. Ter inligting heg ek hierby aan ’n afskrif van ’n beswaarskrif teen hierdie besluit wat onlangs met ’n groot meerderheid deur die Hoëveldse Sinode aanvaar is.

B.10 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(NG KERK VRYHEID-WES)
BESWAARSKRIF

Die besluit van die Algemene Sinode dat ’n duiweluitdrywing-bediening in die NG Kerk tot stand kom én dat terselfdertyd ruimte gemaak word vir lidmate wat na hulle eie oordeel wel die bestaan van die bose as mag aanvaar, maar nie aan die persoonlike bestaan van duiwels (gevalle engele) glo nie.

Dis die eerste keer in die NG Kerk se bestaan dat duiweluitdrywing deel van die amptelike bediening van die NG Kerk word. Voorheen, vir honderde jare, was dit die NG Kerk se standpunt dat die bediening van die evangelie, dit is, die verkondiging van Christus, bevryding bring.

Volgens die Algemene Sinode is die bediening van die evangelie nou nie net meer die verkondiging van Christus nie, dit is nou ook om gesagsvolle spreuke te sien as magsmiddele (net soos Jesus) wat mense kan gebruik waardeur God sal werk. Die hele geestelike bedryf hoe om ’n demoon of duiwel te identifiseer, watter soort duiwel dit is, wat die naam van hierdie duiwel is en hoe om duiwelbesete lidmate en mense te hanteer, is nou deel van die “bediening” van die NG Kerk en behoort daarom ook nou deel van die opleiding van predikante te word.

In dieselfde besluit wat duiweluitdrywing as bedieningshandeling van predikante goedkeur, stel die Algemene Sinode: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose anders interpreteer.” “Anders interpreteer” beteken in hierdie besluit niks anders as dat daar nou ruimte in die NG Kerk is om NIE te glo dat die duiwel/s gevalle engele is wat werklik bestaan NIE. Daar is nou ruimte in die NG Kerk gemaak vir lidmate om die werklike en persoonlike bestaan van die duiwels te verwerp.

Hierteenoor stel die Geloofsbelydenis van die NG Kerk in Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “Die skepping van alle dinge, veral die van die engele.

“Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte, voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag, om die mens te dien, sodat die mens sy Skepper kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs wat ontken dat daar geeste en engele is; ..”

Volgens die Algemene Sinode is daar wel nou ruimte gemaak vir “dwaling van die Sadduseërs” in die NG Kerk. Die absurditeit van hierdie innerlike teenstrydige besluit is nou werklik so dat in die NG Kerk predikante duiwels kan uitdryf wat nie werklik bestaan nie.

Die Kerkraad van Vryheid-Wes versoek die Ring van Vryheid om die Sinode van Natal te versoek om die Algemene Sinode te versoek om die besluit dat daar
a. ’n Duiweluitdryfbediening met gesagvolle slagspreuke soos Jesus in die NG Kerk ingestel word te herroep en dat die kerk terugkeer om die Evangelie van Jesus Christus wat Here is wat Self bevry te verkondig;
b. ruimte in die NG Kerk vir lidmate is om nie in die bestaan van duiwels te glo nie te herroep aangesien dit teen die belydenis van ons kerk is. In ons kerk – in terme van sy belydenisgrondslag – is daar nie ruimte vir lidmate om die persoonlike bestaan van duiwels te ontken nie. Om dit te doen, moet die belydenisse eers verander word.

B.11 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(VRYSTAAT)
BESWAARSKRIF

Die Sinode van die NG Kerk in die Vrystaat versoek die Algemene Sinode om punt 7 van die besluit oor die Bediening van Bevryding (2011) te wysig: Die besluit van die Algemene Sinode lui soos volg:
7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

AANBEVELING:

“Die Algemene Sinode herroep sy besluit (punt 7) oor die persoonlike aard van Satan en volstaan met die formulerings van die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 12”.

GRONDE VIR DIE BESWAAR:

1. Dit is ’n gevestigde regsbeginsel dat ’n regspersoon nie teenstrydig met sy/haar eie grondwet of gondbeginsels mag optree nie. Die besluit van die Algemene Sinode, wat ruimte laat vir mense om in die persoonlike aard van die duiwel te glo of nie, is onteenseglik teenstrydig met die NGB Artikel 12 wat op grond van die Skrif na die persoonlike aard van Satan verwys. Enige meningsverskil hieroor word met die daaropvolgende formulering van die hand gewys: “Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is. Ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg was en nie sleg geword het nie”.

2. Die formulering van die Algemene Sinode (2011) kom duidelik neer op ’n wysiging van Artikel 12 van die NGB. So ’n wysiging van die belydenis van die kerk moet egter op die voorgeskrewe kerkordelike wyse geskied wat in Artikel 44 van die Kerkorde voorgeskryf word. Hierdie prosedure is egter nie gevolg nie en die besluit van die Algemene Sinode is dus met die Kerkorde in stryd.

3. Die formulering van die Algemene Sinode is verder teenstrydig met die wyse waarop die Bybel oor Satan praat. As mense nie aan die persoonlike aard van die duiwel glo nie, word die hermeneutiese verklaring van die Nuwe Testament onder groot druk geplaas. Die talle teksverse hieroor spreek vanself, maar die volgende vrae illustreer die hermeneutiese probleem:
3.1 Het Jesus Hom misgis toe Hy duiwels aangespreek het, duiwels uitgedryf het en die sewentig uitgestuur het om duiwels uit te dryf? Wie dit beweer, kom in teenstrydigheid met Artikel 10 van die NGB wat verduidelik dat Jesus se godheid gedurende sy hele aardse bestaan met sy mensheid verenig was. Daarbenewens verduidelik Artikel 19 van die NGB dat Jesus se menslike natuur met sy goddellike natuur in een Persoon verenig is sodat hulle selfs nie deur sy dood van mekaar geskei was nie. Hoe kon Jesus Hom dan oor die bestaan van Satan en demone “misgis” het?
3.2 Was die sewentig onder ’n waan dat die demone hulle gehoorsaam het?
3.3 Was Paulus en Petrus met hulle talle verwysings na die persoonlike aard van die duiwel besig om die lesers te mislei?
3.4 Die ATLAS maak in hulle verslag ’n sterk punt daarvan dat die Bybel in pre-moderne taal geskryf is. Demone en engele is nie deel van ’n postmoderne wêreldbeeld nie en moet daarom nie letterlik verstaan word nie. Dit is egter nie slegs die duiwel wat per definisie pre-modern is nie, maar ook die maagdelike geboorte, die godheid van Christus, die opstanding, ensovoorts. Die wegverklaring van die duiwel op grond van ’n postmoderne wêreldbeeld laat dus ’n enorme eksegetiese probleem. Is die NG Kerk nou dáár waar Rudolf Bultmann dekades gelede met sy ontmitologiseringsteologie vasgesteek het? Moet ons nou verstaan dat die grootste deel van die evangelies en die briewe van Paulus en Petrus, plus die verhale in Handelinge, metafories gelees moet word?

B.12 DIE BEDIENING VAN BEVRYDING
(GEMEENTE GEORGE)
BESWAARSKRIF/ GRAVAMEN

Voorgestelde beskrywingspunt vir die eerskomende vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk:
Die Sinode besluit om paragraaf 7 van die besluite van die Sinode van 2011 insake die Bediening van Bevryding in sy geheel te skrap. Die besluit lui as volg:
“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasie en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

MOTIVERING:

1. Hierdie besluit is in stryd met die getuienis van die Skrif en van ons belydenisskrifte. Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat byvoorbeeld van “die duiwel en sy engele” (Artikel 37) en die Heidelbergse Kategismus onderskei duidelik tussen “die duiwel, die wêreld en ons eie [sondige] vlees” (Sondag 52).

2. Die besluit gee lidmate en ampsdraers die reg om die Bybelse leer ivm “die werklike en persoonlike aard van die duiwel” op enige denkbare manier te interpreteer – die “ruimte” word nêrens op enige manier omskryf of beperk nie. Dit staan lidmate en ampsraers dus ook vry om “die werklike en persoonlike aard” van die duiwel en bose geeste in sy geheel te ontken.

3. Die vryheid van interpretasie wat hiermee gegee word, is in stryd met die volgende besluite wat by dieselfde geleentheid deur die Algemene Sinode aanvaar is waar die werklike en persoonlike aard van die bose magte erken word:
Paragraaf 1: “Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld”.
Paragraaf 4: “Die Algemene Sinode bevestig weereens dat dit van uiterste belang is dat die Kerk sal leef vanuit die geloofsperspektief dat, hoewel die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig, die bose deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van God se Gees oorwin en aan bande gelê is”.
Paragraaf 9: In paragraaf 9 word ’n bediening van bevryding van bose geeste (demone), met sekere voorbehoude, deur die Algemene Sinode goedgekeur. Die werklike en persoonlike aard van bose magte word dus duidelik daardeur erken.
Paragraaf 10: Die Sinode sê hier dat baie Suid-Afrikaners se lewens oorheers word deur “’n werklike vrees vir eksterne bose magte” en vra lidmate en ampsdraers om besondere aandag daaraan te gee. Daarteenoor keur die Sinode egter, in paragraaf 7, ’n Eurosentriese denkpatroon goed wat ons heeltemal uit pas maak met die nood van die mense van Afrika.

4. Die vryheid wat gegee word om “die werklike en persoonlike aard van die duiwel” te ontken, is in stryd met die geloof van die oorgrote meerderheid Christene reg oor wêreld. Reeds vir byna 2000 jaar aanvaar al die hoofstroom denominasies van die Kerk van Christus die werklike en persoonlike aard van die duiwel en bose geeste. Die besluit is dus ’n radikale afwyking van die algemeen-aanvaarde geloof van die historiese Christelike Kerk van alle tye en in alle wêrelddele.

5. Die besluit berus gedeeltelik op ’n onbewese veronderstelling naamlik dat, wanneer na die duiwel verwys word as ’n persoon, die indruk daarmee geskep word dat die duiwel ’n mens is (sien afdelings 9 en 10 van die ATLAS-verslag van 2011). Hierdie andersins baie deeglike verslag lewer egter geen enkele bewys dat lidmate van die NG Kerk, wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel glo, dink dat die duiwel ’n mens is nie.

6. Die betrokke besluit misken dit wat Jesus ivm die werklike en persoonlike aard van die duiwel geglo en geleer het. In Matteus verwys Hy na “die duiwel en sy engele” (25:41) en in Johannes noem Hy die duiwel “’n moordenaar”, “die vader van die leuen” (8:44) en “die owerste van hierdie wêreld” (14:30; 16:11), wat alleen deur Sy volmaakte Middelaarswerk oorwin kon word (12:23-32). Reeds aan die begin van Sy bediening, in die woestyn, het Jesus ondervind dat die duiwel geen onpersoonlike mag is nie, maar ’n aartsverleier wat homself voordoen as ’n “engel van die lig” (Mat 4:1-11; Luk 4:1-13).

7. ’n Mens huiwer om die skrikwekkende gevolge van hierdie besluit uit te spel, maar, as die duiwel nie ’n persoonlike mag is nie, dan is Jesus in die woestyn versoek deur “die kwaad wat in elke mens skuil”. En dan was Jesus nie die Mens-geworde Ewige Seun van God nie, maar ’n sondaar wat self verlossing nodig gehad het.

8. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die Algemene Sinode – wat die regeeramp in die NG Kerk in die Naam van Christus moet beoefen – aan ampsdraers van die Kerk van Christus die reg kan gee om leerstellings te verkondig wat duidelik in stryd is met dit wat Jesus en die apostels geleer het.

*****************

Petition of Protest: AS decide ministry of deliverance

Written by Jan Louw

The following petition was submitted by the Highveld Synod with reference to the 2011 General Synod decision on the ministry of deliverance. For other petitions, click here . See also The DRC called his love for the truth goodbye .

*************

OBJECTION LETTERS TO A DECISION OF THE GENERAL SYNOD OF 2011 REGARDING THE MINISTRY OF DELIVERANCE

Recommendation the Synod Service Commission of Highveld Synod :

The Synod Service Commission of the Highveld Synod accepted the petition and motion below and return it in accordance with CO Art 23b 5.3 [1] to the secretary of the General Synod.

===================================

Description Point and petition against Resolution 7 of the General Synod of 2011 the Ministry of Deliverance.

  1. Recommendation :

The General Synod decided the following paragraph (point 7) in its decisions regarding the Ministry of Deliverance deletion:

“The General Synod accepts the reality that there is a wide diversity of interpretations and application of the biblical message about the evil and demons within the DRC is. , there is room for members to the real and personal nature of the devil and demons believe , and there is room for members who interpret biblical speech about the evil and demons else “.

Grounds for objection

  1. This decision of the General Synod is contrary to the Bible .

Synod to make room for people in the church about the real and personal nature of the devil other statements hold. The word ” real “implies that there is room for people who believe that the devil and demons are not”really “exist. The words ” personal nature “, it must be concluded that the Synod make room for people who do not believe the devil and evil spirits personal beings.

The idea that the devil is real and not a personal being, is specifically contrary to the clear and consistent testimonies in the Bible. Evangelicalsreported that Jesus had a conversation with the devil in the desert and the devil asked him. Jesus speaks itself several times directly with the devil and evil spirits. You do not even want the blasphemous thought-table brings Jesus with his “inner wickedness” in conversation would be. For the apostles was the devil and evil spirits undoubtedly real personal beings our greatest enemy, and with whom we thoroughly be taken into account. If Paul eg Rom 8:38; 1 Cor 15:24; Eph 1:21; Eph 3:10; Col 2:10,15, repeatedly terms such as “may”, “power” and “authority” mean he certainly use the same demonic forces, which he had to do Acts 16:16-18 (waarsêersgees) and Acts 19:11-16 (demons). Peter (2 Peter 2:4) andJude (verse 6 and 9) are both very clear in their understanding of the demons are real personal beings in the spirit world. John in Revelation 20:2 speaks of “the dragon, that ancient serpent, who is the Devil and Satan.” It is clear that John in the metaphors that he uses for evil, indicate the character of a person or persons.

The Bible writers wrote the demons which, therefore indisputably regarded as personal beings. The authors of the report to the General Synod has failed to show how the Scriptures hermeneutic else can be explained as the obvious and generally accepted understanding of the Bible.

  1. This decision General Synod is contrary to our confessions

In Section 12 of the Belgic Confession

confession is made clear as follows about the real and the personal nature of demons and evil spirits: ”

Some of the fallen from the high position which God created them into eternal perdition, … The devils and evil spirits are so depraved that they are enemies of God and of all that is good. As killers lurking in the church on every member to dump it with all his might in the destruction and to destroy all their deceit. Therefore, by their own wickedness condemned to eternal damnation, daily expecting their horrible torments. Therefore despise us the error of the Sadducees, who deny that there spirits and angels; also we reject the error of the Manigeërs, who says that the devils originated from themselves and have naturally bad and not bad happened to him “.

See also: Dutch Creed Articles 12; 13; 14; 34; 37; Heidelberg Catechism questions: 1,9,31,34,112,123,127 and Canons of Dordt Chapters 1.7; 3.1; 4.7; 5.3; 5.4 and 5.15.

  1. This decision of the General Synod is contrary to the age-old reformed interpretation of Scripture .
  2. John Calvin ‘s famous ” Institutes of the Christian Religion

we find a good summary of what the Reformed churches over the centuries about Satan, demons and evil spirits believed and confessed.The paragraph below is specifically about the rejection of the errors that the real and personal nature of Satan and demons denied. (Similar evidence would have reformed many other standard works could be cited).

“The belief that the devils evil feelings or emotions, have no Scriptural grounds

But as we earlier 126 the senseless philosophy in connection with the holy angels convinced that the doctrine that the angels nothing but thoughts or good admonitions that God in the mind of man conceived it, and so we need people now refute that the nonsense rid that cast nothing but evil feelings or emotions, by our own flesh in us is brought about, is not. 127We can very concisely do because there are many and sufficiently clear evidence (OC 131) about this in the Scriptures existence .

In the first place, when evil spirits and fallen angels are called from their origin degenerated, 128 then push this thing all sufficiently that they are not affective disorder or emotions, but that in fact they rather like being said, understanding or spirits endowed with sense and intelligence.

Similarly, when the sons of God through Christ and John compared to the children of the devil. 129 Would it not have been a meaningless comparison as the word devil nothing but evil thoughts would indicate?John adds even somewhat clearer to that the devil sin from the beginning. 130

Likewise it is when Judas the archangel Michael in his fight with the devil proposal. 131 He is an evil renegade angel to a good angel. (OS 170) we read in the history of Job, this same, and that Satan with the holy angels appeared before God. 132 The clearest of all references, however, is the mention of the punishment they begin to experience the judgment of God and that they will experience in particular in the resurrection: ” Son of David, why have you come to torment us before the time? ” 133 as: “Depart from me , you cursed, into the eternal fire prepared for the devil and his angels. ” 134 And again: “If he saved his angels, but they bound in chains and cast them in darkness for eternal damnation preserved “, and so on.135

How foolish then would not the statements that cast destined for eternal judgment, that a fire for them and that they’re already tormented by the glory of Christ crucified and, if there is no demons? But because the subject needs no discussion among people who believe in the Word of God , and because the testimony of Scripture is little benefit in people who are vain about speculating because nothing but entertainment innovations, it seems me as if I did what I wanted, and godly understanding against such insane of that troubled people themselves and also disturb some simple , and more. It was also worth to broach the subject to avoid people who are entangled in this error, slower and onverskilliger to resist against him when they think that they do not hate him. “

  1. This decision General Synod is contrary to the Synod’s own decisions

See for example: resolution 1 in the same report: ” The General Synod confess with joy the victory of Jesus Christ over all the manifestations of the devil, evil spirits, evil and evil in this world. Moreover Dec. 4, where it says that: Evil still threatened as a roaring lion, believers request as an angel of light. “ Can these words be taken seriously at all, the Synod only then make room for people who see the matter differently?

  1. This decision of the General Synod promise we despise member and other formularies

The Synod despise this decision confession, we repeatedly members are expected to lay off: ” Do you believe that the learning, as in the Old and New Testament and is contained in the confessions of our church, and taught in the church here , the true and complete doctrine of salvation? “It happened at the profession of faith and baptism. Upon confirmation of teachers, proponents, council members and community leaders, are also the words: Cast you all teachings that is in conflict ? The decision goes in at the solemn ordination Declaration of teachers where teachers are expected to undertake: ” I all errors associated with this doctrine, refuted and will do everything in my power to make it out of the church. “

  1. This decision of the General Synod create space for serious heresy

The Synod with his decision to make room for the view that the devil is not real and personal, opened the door for a heresy in the church. It is not an easy matter. Teachers who interpret the Bible in wayward manner with this decision ecclesiastical sanction to preach erroneous doctrines in preaching. The existence of the devil as the adversary of God and man, has major implications for the Christian view of life. It affects our personal faith. It affects our understanding of the church’s struggle in the world (we do not wrestle against flesh and blood – Ephesians 6:12).

We must conclude that the Synod hereby make room for people with Eastern Yin-Yang view? According to this view is dark and light two impersonal forces that are always against and coexist. If the devil is not a “personal nature”, he is not “one” but “something”. We do not “who” but “what”. If the church no longer know his enemy, we lost the battle from the beginning.

  1. This decision of the General Synod ecclesiastical and legally invalid

The Synod legal and ecclesiastical power without a two-thirds majority and two-thirds approval of all church councils and regional decisions that are contrary to his own confession (CO art 44.1). This decision is ultra vires and therefore ecclesiastical and legally invalid.

Authors of the Petition of Protest :

  1. Rev. JD Louw (Secunda)
  2. Rev. T Danzfuss (Witfield)

Footnotes

[1] CO Art 23b 5.3: By a decision of the General Synod can also be a GRAVAMEN / petition submitted to the secretary of the mortgaged’s Synod for forwarding to the General Synod, if the synod, synod committee or moderamen accepted.

  1. 126 Inst. 1.14.9.
  2. 127 Calvin, Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins 12, 23 (OC 7:181, 228).
  3. 128 (Jude: 6).Vert.: “… the angels who kept their own principles …”.
  4. 129Iohan. 7.f.44. Iohan. 3.b.10. Cf. 1 John. 8:44, 3:10
  5. 1301. Iohan. 3.b.8. Cf. 1 John. 3:9-10.
  6. 131Iudae. B.9.
  7. 132IOB. 1.b.6 & 2.a.1.
  8. 133Matt. 8.d.29.
  9. 134Ibid. 25.d.41. Matt. 25:41.
  10. 1352. Pet. 2.a.4.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui