Die NG skip is aan die draai

Oorspronklik geplaas in Die Burger van 14 Oktober 2013.

*************

Die NG skip is aan die draai | Die Burger

14 Oktober 2013

Neels Jackson

DIT duur lank om ’n groot skip te draai – maar as hy eers begin draai, kan jy hom nie keer nie.

Op ’n manier is dit die storie van die NG Kerk oor die afgelope 20 jaar – ’n storie waarvan ’n volgende episode hom verlede week in Port Elizabeth op die algemene sinode uitgespeel het.

In die ou Suid-Afrika was die NG Kerk ’n magtige organisasie met wye invloed. Of dit nou politiek was of kultuur, moraliteit of godsdiens, die kerk het sy aansienlike gewig rondgegooi.

Die kentering het in die 1980’s begin.

In 1986 het die algemene sinode besluit die NG Kerk is oop.

Die proses om finaal afskeid te neem van apartheid sou egter nog lank duur. Die kerk is immers nie ’n maatskappy waar ’n klein direksie vinnig groot besluite kan neem nie.

Sodat ’n kerk ’n nuwe koers kan inslaan, is daar breë instemming nodig.

Eers in die 1990’s het die algemene sinode apartheid op so ’n manier in ’n besluit verwerp dat die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke bereid was om hom weer as lid te aanvaar.

Vroeg in daardie dekade is gesê die lakmoestoets vir die NG Kerk se verwerping van apartheid sou sy aanvaarding van die Belydenis van Belhar wees.

Die afgelope algemene sinode het ’n belangrike stap in daardie rigting geneem, maar dit sal nog ’n paar jaar duur voordat dié proses afgehandel is.

Maar daar is ’n diepliggender omkeer by die NG Kerk aan die gebeur.

Vanuit sy magsposisie was die NG Kerk vroeër gewoond om van bo af na die samelewing te kyk, uit ’n posisie waar hy kon beheer en bestuur.

Toe die kerk sy invloedryke plek langs die regering in 1994 verloor het, was daar ’n soort ontreddering.

Daar was nie fokus nie. Die kerk moes sy eie identiteit weer ontdek.

Dit is iets wat geleidelik gebeur het. Hy kon nie meer van bo af beheer nie, maar vanuit die evangelie het ’n ander motief die kerk begin deursuur: diens. Pleks van ’n benadering van bo af, het die kerk geleer om al hoe meer van onder af ’n betekenisvolle rol in die samelewing te vertolk. Soos Jesus wat gekniel het om die voete van sy dissipels te was.

Dit is te danke daaraan dat ’n Nigeriër wat vroeër op Port Elizabeth se strate dwelms verkoop het, die afgelope week kon vertel hoe sy lewe danksy die NG Kerk omgekeer het:

“Dié kerk het my van niks af opgetel. Hulle het my die man gemaak wat ek nou is.”

Sulke verhale, wat eens ondenkbaar sou wees, word al hoe meer in die NG Kerk gehoor.

Verhale van wit Afrikaners wat tot die oortuiging gekom het dat hulle moet uitreik na mense wat nie soos hulle is nie.

Verhale van mense sonder hoop en sonder uitsig vir wie ’n nuwe toekoms geskep word.

Nie om politieke of ander opportunistiese redes nie, maar omdat die evangelie hulle daarvan oortuig het.

Vandeesweek is die punt bereik dat die algemene sinode sy steun toegesê het aan dié missionale beweging waarin die kerk homself wil “weggee”.

Dit sal nog lank wees voordat die hele skip op hierdie koers is.

Boonop is daar aspekte waarmee die kerk nog baie sukkel, soos in sy standpunte oor homoseksualiteit.

Die NG Kerk praat deesdae graag oor menswaardigheid, maar solank kerkmense gays stereotipeer en byvoorbeeld die reg op ’n huwelik wil ontsê, sal dit hol woorde bly.

Maar ook wat dit betref, is die skip aan die draai.

Baie mense sal voel die groot draai van die skip gaan te stadig. Vir ander is dit ontstellend vinnig. Maar vir almal is dit waarskynlik onomkeerbaar.

  • Neels Jackson is die kerksakeverslaggewer van Beeld, ’n susterskoerant van Die Burger.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui