Sinode Noord-Kaapland 2022

Die 2022 Sinode van Noord-Kaapland (SNK) het plaasgevind van 9-13 Mei 2022. In ’n herderlike brief, uitgereik op 13 Mei 2022 (kyk hieronder), is dit baie duidelik dat kerkeenheid vir hierdie sinode baie belangriker as die suiwer Evangelie is. Let op die volgende woorde:

  • “…belewenis van deernis, verdraagsaamheid en gewilligheid om met mekaar op weg te bly…”
  • “…weiering om toe te laat dat daar verwydering tussen ons ontstaan…”
  • “…ons onsself as kerk nie vasgeloop ervaar nie…”
  • “…erken dat ons nie alle kennis in pag het nie…”
  • “…dat ons nie … mekaar in kampe van reg of verkeerd mag plaas nie…”

Dit is uiters teleurstellend. ’n Mens het meer van Noord-Kaapland verwag.

Dit is interessant dat daar sprake was dat die Sinode van Noord-Kaapland in 2007 van die algemene sinode wou wegbreek – kyk Sinode wil wegbreek van NG Kerk (3 Mei 2007). Dit het egter oor heeltemal ander redes gegaan as Skrifgesag.

Kyk ook:

*******

Sinodesitting Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland

HERDERLIKE BRIEF

13 Mei 2022

Geliefde Gemeente van ons Here Jesus Christus.

Broers en susters in die Here – ons groet julle in die Naam ons Here en Hoof, Jesus Christus.

Met dankbaarheid kan ons as sinode terugkyk op ’n vergadering wat uit ’n aanvanklike gevoel van onsekerheid en beklemming by afgevaardigdes oor wat die uitkoms van die vergadering kon wees, gegroei het tot ’n belewenis van deernis, verdraagsaamheid en gewilligheid om met mekaar op weg te bly en ook saam te soek na wat God vir ons en deur ons wil sê.

’n Belewenis wat bevestig is deur ’n gewilligheid om eerlik na mekaar te luister en ’n weiering om toe te laat dat daar verwydering tussen ons ontstaan, omdat ons roeping as getuies van God en Sy Koninkryk ons dring om uit een mond ons belydenis te laat hoor. Ons temalied Flam 387 “Hier is die Kerk”, wat daagliks tydens die vergadering gesing is, het hierdie ervaring dat ons as kerk hier is ter wille van Christus, verder versterk.

Reeds vroeg in die vergadering het ons as Sinode in Noord-Kaapland vir mekaar duidelik uitgespel dat ons ten opsigte van kwelvrae wat tans in die kerk gevra word,

  • ons onsself as kerk nie vasgeloop ervaar nie;
  • ons, ons verbintenis tot die Bybel as God se Woord en as bron van bestaan bevestig;
  • dat ons in ons Skrifverstaan erken dat ons nie alle kennis in pag het nie en daarom saam soekend op weg wil wees om die Skrif duideliker te verstaan.
  • ons aanvaar dat plaaslike kerke/gemeentes steeds met dwingende kwelvrae worstel en hulle waar nodig vir bystand tot die ring of sinode wend;
  • ons, ons band met gemeentes en ringe bevestig en versterk;
  • met die algemene sinode in gesprek wil bly oor sake wat kwelling by lidmate veroorsaak.

Ook wil ons duidelik sê:

1. Die NG Kerk in Noord-Kaapland is hartseer en ontstig oor die spanning en wantroue wat tussen die Algemene Sinode en die sinodes en gemeentes van ons Ned. Geref. Kerk die afgelope tyd ontstaan het. Ons treur oor die moontlike oneer wat dit aan die Here se Naam kon bring. Ons treur oor die seer en ontsteltenis van sommige kerkrade, ampsdraers en lidmate. (“As een lid ly, ly al die lede saam…1 Korintiërs 12:26)

2. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland versoek die Algemene Sinode om met hulle volgende sitting oor hierdie spanning en wantroue te besin en ernstig na die wil van die Here te soek met die doel om hierdie spanning en wantroue wat ontstaan het, aan te spreek. Die oorsake wat hierdie hartseer en verdeeldheid veroorsaak het, moet geïdentifiseer en aangespreek word. Die wyse waarop hierdie aangeleentheid hanteer word, moet ‘n getuienis wees van hoe die kerk van Christus moeilike vraagstukke in die lig van die evangelie hanteer.

3. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland wil met die ander sinodes wat deel van die Algemene Sinode is, hande vat en saam met toewyding en in nederigheid na die leiding van Christus, die Hoof van die kerk, soek en saam in gehoorsaamheid voor die gesag van die Woord buig en die leiding van die Gees volg.

4. Die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland wil haar gemeentes in staat stel om deel van hierdie proses te wees. Die sinode besluit dus om ons gemeentes te help om self ook in ’n proses van geloofsonderskeiding na die wil van die Here te soek.

As Sinode in Noord-Kaapland het die hartseer en trauma wat ons lidmate en gemeentes oor die afgelope jare ervaar het as gevolg van jarelange droogte en die Covid pandemie, ons weer diep onder die indruk gebring van ons eie gebrokenheid en weerloosheid. Eweneens het ons ook baie bewus geword van die feit dat God ons in hierdie krisisse nooit los nie, maar juis in die nood geleenthede geskep het waar ons lidmate en gemeentes met dade van liefde en omgee, God se liefde duidelik sigbaar gemaak het. (Oepke Noordmans: God buig ons ellendes om ten goede.) Die bydraes van ondersteuningsdienste soos Caritas, die Droogtehulp projek, professionele medewerkers en gemeentes van buite ons sinodale gebied was in hierdie uitreike van onskatbare waarde.

Die Sinode in Noord-Kaapland het met dankbaarheid kennis geneem dat daar met groot kerklike verantwoordelikheid toesig gehou word oor die opleiding van bedienaars van die Woord.

Die Sinode in Noord-Kaapland het besef dat ons as gelowiges wat almal eerlik God se stem wil hoor, moet erken dat ons nie sommer goedsmoeds mekaar in kampe van reg of verkeerd mag plaas nie. Daarom moet ons steeds in ’n gees van liefde en begrip bereid wees om, terwyl ons na God luister, ook na mekaar te luister, asook na ander kerke en ook met húlle waar die gesprek in die verlede doodgeloop het.

Verandering, vernuwing en herstel is nie iets wat onmiddellik kan gebeur nie, maar is ’n proses wat soms tyd neem om plaas te vind. In die lig hiervan moet ons as kerk ook bereid wees om met groot geduld te wag terwyl Christus Sy kerk op Sy manier lei.

Mag die besluite van hierdie Sinode u as lidmate en gemeentes stem tot vrede en opnuut bewus maak van ons groot roeping as navolgers van Christus. Mag die visioen van Jesaja in Jesaja 6 van God op die troon, ons inspirasie wees om te antwoord: “Hier is ek! Stuur my!

Seënwense

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui