NG Kerk: ‘As daar geloop word, wie moet loop?’

************

NG Kerk: ‘As daar geloop word, wie moet loop?’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

18 April 2021

Die 71 dolerende gemeentes van die NG Kerk wil nuwe strukture tussen behoudende gemeentes skep om hulle los te maak van die algemene sinode se “dwalinge” oor selfdegeslagverhoudings.

Predikante en lidmate van dié gemeentes het Vrydag by ’n nasionale konferensie vir behoudende gemeentes by die Bethal-moedergemeente in Mpumalanga besluit om ’n spesiale vergadering te hou waar “wettige besluite” geneem sal word om te verseker dat hulle “loskom van die binding en dwalinge van die algemene sinode”.

Dr. Bennie Marais en drie van sy ouderlinge by die Charl Cilliers-gemeente asook ds. Jurie Blom van die Bethal-moedergemeente het Vrydag se konferensie gereël.

Hulle sê in ’n verklaring dat die deelnemers aangedui het hulle wil “op die kerklike pad bly” en dit “langs die weg van reformasie” wil doen.

“Reformasie wil nie die kerk skeur nie, uit die kerk bedank of die kerk versplinter nie. Reformasie wil die kerk terugbring na die Woord en eenheid in waarheid herstel,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring het sprekers gesê daar is geen planne om die kerk te verlaat of verder te skeur nie en word daar vir “ware reformasie van die NG Kerk” gesoek en gebid.

Die verklaring lui: “Ons is die NG Kerk en ons gaan nie toelaat dat die kerk deur dwaalleerders gekaap word nie. Die vraag is gevra: Wie is die voortsetting van die NG Kerk? Ons wat bly by die Woord en belydenis of die dwaalleraars? As daar geloop word, wie moet loop? Die wettige inwoner of die onwettige inbreker?”

Volgens die verklaring word verskeie moontlikhede ondersoek om onafhanklik van die algemene sinode te staan.

Dit sluit in die uittrede van sinodes kragtens art. 37 van die kerkorde – ’n artikel waarvolgens ’n streeksinode glo volledig kan wegbreek én sy status as NG Kerk, voorregte, regte, besittings en naam behou.

Die ander moontlikheid is om die algemene sinode in sy huidige formaat te ontbind en dat daar teruggekeer word na die situasie voor 1962 na ’n federale raad van kerke.

“Terwyl die algemene sinode tans as vergadering van sinodes leerstellige en ander besluite neem wat vir gemeentes bindend is, terwyl gemeentes nie verteenwoordiging op die algemene sinode het nie, moet daar gesoek word na wyses en strukture waar gemeentes kan loskom van die binding deur en dwalinge van die algemene sinode.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui