Hoëveld Sinode: ‘Hoor ons net, asseblief’ pleit talle in gesprek oor Artikel 37

Kyk KOMMENTAAR onderaan.

*******

Hoëveld Sinode: ‘Hoor ons net, asseblief’ pleit talle in gesprek oor Artikel 37 | Kerkbode

Nico Smit

20 Oktober 2022

Die tweede dag van die Hoëveld Sinode het allereers gehandel om mekaar te hoor uit alle hoeke en kante.

Ds Jeanine Hepburn is verkies as die jongste en eerste vroulike aktuarius vir die Sinode Hoëveld. Ds Hannes Windell, kantoorbestuurder van Sinode Hoëveld, is ook verkies as skriba vir die moderamen.

Sinodegangers is ook bederf met ’n sessie saam met dr Graeme Codrington wat die sinode kom toespreek het oor waarom mense kerk toe wil kom. Why would people come? Dit is die vraag wat hy vir sinodegangers wou vra. En het sterk klem daarop geplaas dat ons as die kerk moet ophou bekommer of die orrel ingestem is en of die blomme vars is. Ons moet eerder vra: “Wat moet die kerk doen?” Dit is ’n vraag wat elke gemeente en elke gelowige moet vra, aldus Codrington. Dit het baie vrae by sinodegangers gelaat, veral oor wat kerke in hulle eie spesifieke gemeenskap moet doen. Hy beklemtoon ook dat God almal liefhet, dat God almal uitnooi en nie net sekeres nie. Codrington is van oortuiging dat dit die LGBTQI+-gemeenskap insluit. Hy pleit vir meer inklusiwiteit.

Uit verband tree met Algemene Sinode?

Die groot gesprek van die dag het gehandel oor die welwillende proses vir gemeentes om uit die Algemene Sinode te tree of Artikel 37 in die Kerkorde. Die kerkrade van NG Mooifontein, Evander, Charl Cilliers en die Ring van Standerton het ’n voorstel ter tafel geplaas om uit die verband te tree met die Algemene Sinode. Die voorstel bestaan uit tien aanbevelings. Dr Henk Gous meen dat hy “huil” oor die losmaking. In sy eie woorde: “Ek is hartseer hieroor.” ’n Welwillende losmaak van die liggaam van Christus is en bly steeds ’n skeiding, aldus Gous.

Dr André Bartlett meen dat sinodegangers en gemeentes na mekaar moet luister en dat daar verskille oor die saak in die kerk is, maar die imperatief van die evangelie is dat ons mekaar sal vashou. Dr Gys Loubser meen dat ons oor die sake moet praat, maar dat hy nie vandag oor die sake ter hand kan stem nie.

’n Lidmaat vanaf Standerton-Suid pleit dat hulle losgemaak word van die Algemene Sinode, want die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings het sy gemeente verwoes.

’n Amendement deur ds Jeanine Hepburn is deur die sinode goedgekeur wat voorstel dat ’n studiegroep bymekaargeroep sal word om verder te besin oor Artikel 37 en die losmaak van bande met die Algemene Sinode.

Dr Bennie Marais vra dat daar asseblief geluister moet word. Dr André Bartlett vra dat daar in die NG Kerk na alle partye geluister word. Nie net dié wat doleer nie, maar alle partye. Dié wat doleer, maar ook dié wat instem met die Algemene Sinode se besluit van 2019.

  • Dr Nico Smit is ’n leraar en Kerkbode-medewerker.

Hierdie berig is ná publikasie vir akkuraatheid aangepas.
SINODESITTING AGENDA 2022

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is amper lagwekkend dat daar steeds gevra word dat daar geluister moet word.

Oor die afgelope 15 jaar is daar etlike kere op verskillende maniere gepraat, maar dit het niks gehelp nie:

Alles is reeds gesê wat gesê kon word. Geen van hierdie gesprekke het enigiets sinvol opgelewer nie.

Is dit daarom nog enigsins sinvol om oproepe te maak dat daar geluister moet word?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui