‘n Eie sinode vir skrifgetroue NG gemeentes

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

********

‘n Eie sinode vir skrifgetroue NG gemeentes | Juig!

Deur Henriëtta Klaasing

Juig!, Februarie 2023

Die Algemene Sinode se besluite om ruimte te maak vir valse leringe het behoudende lidmate nou by ‘n beslissende punt gebring: om lidmate wat nog Skrifgetrou wil bly, bymekaar te bring in amptelike kerkvergaderings waar hulle mekaar kan ondersteun en inspireer op die pad van reformasie — sonder om weg te skeur van die NG Kerk af.

Die afgelope paar jaar het Kairos Netwerk vele vrugtelose gesprekke met die Algemene Sinodale Moderamen gevoer oor valse teologiese strominge en gepaardgaande minagting van die Here se Woord asook dwalinge by teologiese fakulteite. Die Algemene Sinode se besluite om ruimte te maak vir valse leringe het behoudende lidmate nou by ’n beslissende punt gebring: om lidmate wat nog Skrifgetrou wil bly, bymekaar te bring in amptelike kerkvergaderings waar hulle mekaar kan ondersteun en inspireer op die pad van reformasie — sonder om weg te skeur van die NG Kerk af.

Skrifgetroue lidmate van die NG Kerk

Hulle wat bly vashou aan die gereformeerde Skrifverklaring is die inwoners; dié wat vreemde dwalinge probeer invoer, is die inbrekers.

Kairos Netwerk is oortuig dat die NG Kerk verteenwoordig word deur behoudende Skrifgetroue lidmate en gemeentes en nie deur die liberale leraars en teologiese dosente wat die kerk vir hul dwaalleringe probeer kaap nie. Hulle wat bly vashou aan die gereformeerde Skrifverklaring is die inwoners; dié wat vreemde dwalinge probeer invoer, is die inbrekers.

Skep ruimte vir radikale reformasie

Kairos Netwerk is egter ook oortuig dat die Algemene Sinode in sy huidige samestelling en funksionering sai moet verdwyn om ruimte te skep vir radikale reformasie. Reformasie is wanneer die kerk opgeroep word om weer terug te keer na sy enigste bron en maatstaf: die Bybel. In radikale reformasie streef die kerk dus om weer op alle viakke terug te keer na gehoorsaamheid aan God se Woord. Dit beteken sola et tota Scriptura (alleenlik die Bybel; die hele Bybel).

Institusionele regte

Volgens die aanhef van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede het mense die inherente waardigheid, vermoë en behoefte om te glo en mag hulle volgens hul oortuigings in ooreenstemming met hulle basiese geloofstekste, leerstellings of -tradisies organiseer.

Verder bepaal artikel 9 dat elke godsdiensinstelling die institusionele reg het om:

(a) hulle eie leerstellinge en kerklike ordes vas te stel;

(b) self oor alle leerstellige en kerkordelike sake te besluit en;

(c) in ooreenstemming met die beginsels van verdraagsaamheid en billikheid, hulle eie interne sake te reël, insluitende organisatoriese strukture en prosedures, die bevestiging, diensvoorwaardes, dissiplinering en ontslag van ampsdraers en lede, die aanstelling, diensvoorwaardes en ontslag van werknemers en vrywillige werkers, en lidmaatskapvereistes.

Koinonia Sinode

Gebaseer op hierdie reg, maar veral met die oortuiging dat die Here hulle daartoe geroep het, het Kairos Netwerk ’n visie vir ‘n eie addisionele sinode met formele afvaardiging. Hierdie beplande sinode word voorlopig die Koinonia Sinode genoem.

“Koinonia” omdat hulle daarin saam wil soek na die ware gemeenskap van gelowiges. “Sinode” kom van sun hodos (Grieks vir“saam loop”), want gemeentes smag na ‘n ware sun hodos waar gemeentes weer waarlik saam op dieselfde pad is en onderweg na dieselfde einddoel.

Reformasie van binne

As volgende stap, naamlik die vorming van alternatiewe sinodes, is die doel steeds reformasie van binne. Die beplande sinode vervang dus nie bestaande kerkverbande of gemeentes se betrokkenheid daarby nie. Die visie is om van onder by gemeentes te begin, nie van bo nie. Ter voorbereiding op die Koinonia Sinode is die plan dus om tussen Januarie en Maart 2023 ‘n paar kleiner streeksinodes saam te roep wat later vanjaar op een oorkoepelende Koinonia Sinode kan uitloop waar afgevaardigdes uit elke gemeente asook erkende dissipelskapgroepe teenwoordig kan wees. Dit is ‘n amptelike
vergadering wat amptelike bindende besluite kan neem.

Vier kleiner streeksvergaderings

In die lig hiervan is kennisgewings met vorms na kerkrade van behoudende gemeentes uitgestuur. Minstens vier kleiner streeksvergaderings (naamlik in Pretoria, George, Secunda en Namibië) word beplan. Dit is ter voorbereiding vir die Koinonia Sinode wat sal poog om alle gemeentes wat wil saamwerk, in te sluit. Lidmate en belangstellendes is welkom om by enige van die streeksbyeenkomste in te skakel.

Verdere inligting kan bekom word by Kairos Netwerk se webwerf: kairosnetwerk.net

Kommentaar

Pietie Oosthuizen (Ermelo)

Skrifgetroue gemeentes (in Mei-uitgawe van JUIG!)

Met verwysing na die artikel oor Skrifgetroue gemeentes in JUIG! se Feb/Maart-uitgawe. Die meerderheid NG Kerke het by amptelike sinodesittings besluite oor homoseksuele verhoudings geneem. Tog noem dr. Klaasing húlle die “inbrekers”. Volgens haar siening is die ondersteuners van Kairos Netwerk die “inwoners”. Dit maak tog nie sin indien sy die “inwoners” gelykstel met die mense wat van die NG Kerk “wegskeur” nie. Die deel wat wegskeur, is tog minder as die deel waarvan weggeskeur word. Volgens my is die Kairos Netwerk doodgebore. Die Algemene Sinode beskerm die diensvoorwaardes, waaronder pensioene, vir die leraars. Die meeste leraars gaan nie hulle diensvoorwaardes inkort of opskort ter wille van hulle oortuigings nie, al glo hulle dat die Bybel homoseksuele verhoudings afkeur. Hierdie geslag leraars sal eers moet aftree voordat vordering gemaak gaan word. Kairos kan nie saam met die leraars wat die Algemene Sinode se besluite ondersteun om dieselfde tafel vir beraadslaging sit nie. Die Bybel is duidelik: “Gaan onder hulle uit, sonder julle af” (2 Kor 6:17). Kairos moet oppas dat sy grootste dwaling nie kompromie word nie.

Pietie Oosthuizen (Ermelo)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui