Die Bybel oor onrein kos

Daar is dinge wat in die Ou Testament aan die volk voorgehou is om te onderhou, maar wat in die Nuwe Testament opgehef is, bv die besnydenis en bring van offers. Nog so iets is die eet van onrein diere.

“Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein.” ~ Jesus

Die volgende is verse in die Nuwe Testament wat wys dat die verbod op die eet van onrein diere (soos varkvleis) opgehef is in die Nuwe Testament:

Markus 7:14-23

(14)Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: (15)Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein.” (17)Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. (18)Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ’n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, (19)omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?” Daarmee het Hy alle kos rein verklaar. (20)“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ’n mens kom, dít maak ’n mens onrein. (21)Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, (22)owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. (23)Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ’n mens onrein.”

As ’n mens na Petrus se reaksie in Handelinge 10 hieronder kyk, het die dissipels waarskynlik nie die volle implikasie verstaan van wat Jesus in Markus gesê het nie. Na wat met Petrus gebeur het, het hulle waarskynlik vir die eerste keer verstaan dat Jesus ook bedoel het dat mense ook onrein diere kon eet.

Handelinge 10:11-­16

(11)Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. (12)Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. (13)Hy hoor toe ’n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” (14)Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” (15)Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” (16)Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

Romeine 14:2-3,6,20

(2)Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. (3)Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. … (6)Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. … (20)Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee.

Dit is onseker of hierdie gedeelte slegs gaan oor die eet van vleis aldan nie. Hierdie gedeelte is egter baie duidelik dat ’n mens nie ’n vegatariër hoef te wees om ’n toegewyde Christen te wees nie. Kyk ook Genesis 9:3-4.

1 Korintiërs 8:1-13

(8)Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. (9)Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. (10)As jy wat hierdie kennis het, in ’n afgodstempel gaan eet en iemand met ’n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie?

Dit sal baie vreemd wees as Paulus so toegeeflik is ten opsigte van vleis wat aan ’n afgod geoffer is, maar vir mense sal sê dat hulle nie onrein diere mag eet nie.

1 Korintiërs 10:24-33

(24)’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. (25)Alles wat in ’n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen, (26)“want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here.” (27)As ’n ongelowige julle uitnooi en julle besluit om te gaan, kan julle alles eet wat vir julle voorgesit word, sonder om ter wille van die gewete navraag te doen. (28)Maar as iemand vir julle sê: “Die vleis is ’n afgodsoffer,” moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit gesê het en ter wille van die gewete. (29)Ek bedoel nou nie jou eie gewete nie, maar dié van die ander man.“Waarom,” sou jy vra, “moet my vryheid beperk word deur ’n ander man se gewete? (30)As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my kwaad gepraat oor iets waarvoor ek God dank?” (31)Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. (32)Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. (33)Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.

Dieselfde argument genoem onder 1 Korintiërs 8 hierbo geld.

Dit is duidelik dat Paulus hier meer toegeeflik is as in Handelinge 15:19-21 en Handelinge 21:25.

Galasiërs 2:14

(14)Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is ’n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ’n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”

Hier word duidelik gewys dat van die Joodse gebruike tot niet verklaar is. Hierdie gedeelte is nie duidelik watter Joodse gebruike dit is nie, maar mens kan sekerlik aflei dat dit meer as net die offer van diere en die besnydenis was.

Kolossense 2

(16)Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. … (20)Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte (21)soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”? (22)Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. (23)Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie.

1 Timoteus 4:1-5

(1)Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. (2)Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. (3)Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. (4)Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, (5)want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig.

Hebreërs 9:1,10

(1)Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens gehad, en ook ’n aardse heiligdom. … (10)Dit het net betrekking op voedsel, drank en ’n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God ’n beter orde sou instel.

Hebreërs 7:12

(12)As daar ’n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook ’n verandering van die wet.

Hebreërs 13:9

(9)Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

In die Amplified Bybel (AMP) word die volgende in hakies bygevoeg: “[rules of diet and ritualistic meals]

**********

Sommige mense sê dat indien God een keer iets gesê het Hy nie teruggaan op Sy Woord nie. Dus sal Hy nie afsien van Sy voorskrif oor die eet van onrein diere nie.

God het egter afgesien van Sy voorskrif oor die besnydenis én die offer van diere.

Ook oor die onderhouding van die sabbat:

In die Ou Testament was dit baie duidelik dat die ouderhouding van die sabbat uiters belangrik was:

In die 10 gebooie in Eksodus 20 staan daar:

(8)“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. (9)Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, (10)maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. (11)Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

In Eksodus 16 word daar geimpliseer dat God nie wou hê die Israeliete moes manna op die sabbat optel nie:

(22)Op die sesde dag het hulle ’n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel, (23)sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is ’n rusdag, ’n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.” (24)Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie. (25)Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie. (26)Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”

In Numeri 15 word vertel van ’n man wat doodgemaak is omdat hy hout opgetel het op ’n sabbat:

(32)Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle ’n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak. (33)Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring. (34)Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie. (35)Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.” (36)Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het.

Tog word daar in Matteus 12 vertel dat Jesus koringare op die sabbat opgetel het en ’n man se gebreklike hand gesond gemaak het. Die Fariseërs wou Hom daaroor doodmaak:

(1)In dié tyd het Jesus op ’n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. (2)Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.” … (9)Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom. (10)Daar was juis ’n man met ’n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?” Hulle bedoeling daarmee was om ’n klag teen Hom te kry. … (14)Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

Dit is dus baie duidelik dat sekere voorskrifte in die Ou Testament tot niet gemaak is in die Nuwe Testament.

4 thoughts on “Die Bybel oor onrein kos”

  1. Die oorhoofse bestanddele van die gevolgtrekking wat gemaak word is verseker nie korrek nie. Die heel eerste fout is dat die Ou Testament tot niet gemaak is. Maw, die boeke moet van die Bybel geskraap word? Die gebooie bestaan dus ook nie meer nie? Mense het nie skrifte verander later van tyd nie? Glo jy nie eerder dat die Ou Testament se geskrifte meer eerbaar was nie?

    1. Wayne, ek weet nie hoe jy tot hierdie gevolgtrekking kom nie. Dit is glad nie wat in hierdie plasing gesê of geïmpliseer word nie.
      In Matteus 5:17 sê Jesus: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Dit glo ek.
      Jy kan egter nie ontken dat sekere Ou Testamentiese wette en gebruike in die Nuwe Testament verval het nie. Dit beteken nie dat die Ou Testament tot niet gemaak kan word nie.
      Ander dele in hierdie webblad oor die Ou Testament, byvoorbeeld oor die skepping, bevestig my siening oor die Ou Testament. Kyk byvoorbeeld Genesis skipperaar.

  2. My vraag gaan oor 2 Korintiërs 6 vers 17. Ek wil weet wat word bedoel met “en moenie wat onrein is, aanraak nie”.
    Watter onrein goed word hiervan gepraat en wat is dit wat onrein is?

  3. Nie een enkele vers hierbo is reg geinterpreteer nie. Dis nogal skokkend, ook die rede hoekom die Christinne se lering so verdraaid is en hulle die leuen glo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui