Die Bybel oor tatoeëermerke

Daar is mense wat tatoeëermerke veroordeel op grond van wat in Levitikus 19:27 staan:

Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

(Kyk ook Levitikus 21:5.)

Daar is egter ’n paar dinge wat hieroor gesê moet word:

’n Groot deel van die wet in Levitikus het verval met die koms van Jesus. Alhoewel daar ’n hele rits van dinge in Levitikus 18 en 19 is wat steeds baie sterk op Christene vandag van toepassing is, beteken dit nie dat alles daarvan steeds op ons van toepassing is nie. Dit sluit byvoorbeeld dinge in soos:

  • Mans mag nie hulle wangbaard afskeer nie (wat saam met die verbod op tatoeëermerke staan in Lev 19:27).
  • Eet van onrein kos.
  • Bring van offers.
  • Besnydenis.
  • Verskillende soorte diere kruis, verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra.
  • Onderhouding van die Sabbat.

Die verbod op tatoeëermerke word ook nêrens in die Nuwe Testament bevestig, soos byvoorbeeld homoseksualiteit nie.

Markus 7:15“Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dít maak hom onrein.”

Die vraag is of ’n mens kan byvoeg: “Dit is nie hoe jy lyk wat jou onrein maak nie, maar jou woorde en dade wat jou onrein maak.”

Moontlik. Ek is egter ’n sterk voorstaander daarvan dat ’n Christen goed versorg moet wees en nie verslons moet wees nie. Slordigheid pas nie by ’n Christen nie – dit sal jou getuienis belemmer. Jesus het immers die doek wat om sy kop was toe Hy in die graf was netjies opgerol voor Hy die graf verlaat het (Johannes 20:7).

Alhoewel ’n tatoeëermerk nie sleg hoef te lyk nie, is ek hoegenaamd nie ’n voorstaander van tatoeëermerke nie vir die volgende redes:

  • Dit is duidelik dat tatoeëermerke nie ’n goeie afkoms het nie – dit was aanvanklik ’n bose, heidense gebruik.
  • Ek dink in 99% van gevalle word dit vandag gedoen weens verkeerde (rebelse) redes.
  • Daar is mense wat getuig daarvan dat hulle tatoeëermerke ’n tydelike brand sensasie veroorsaak het nadat hulle tot bekering gekom net.
  • Daar is mense vir wie dit aanstoot gee. Romeine 14:13-23 sê ons moenie ander tot struikeling bring deur ons optrede nie.
  • Die Bybel sê dat jou liggaam ’n tempel van God is (1 Korintiërs 3:16-17) en dit lyk of die Bybel ’n onderskeid tref tussen seksuele sondes en ander sondes op grond van die feit dat seksuele sondes deel van jou liggaam is (1 Korintiërs 6:18-20). Dit gee tog die idee dat ons versigtig met ons liggame tewerk moet gaan en dat dit nie sommer net ’n dop is met ’n siel en gees binne-in nie.
  • Dit is baie permanent. Ek wonder hoeveel mense wat vroeër in hulle lewe ’n tatoeëermerk aangebring het dit weer sou doen indien hulle dit oor kon doen.

’n Mens kan tatoeëermerke vergelyk met iemand wat ’n splinter nuwe Ferrari koop en ’n plakker daarop plak. ’n Mens doen dit nie. Dit bederf die Ferrari.

Of ’n klassieke gebou waarin ure gegaan het om dit ’n mooi voorkoms te gee. As ’n graffitikunstenaar iets op daardie gebou verf, sal dit die gebou bederf, ongeag hoe mooi die graffiti is.

Wat van ’n Christelike tatoeëermerk?

‘n Christelike tatoeëermerk is nie die effektiefse manier om ’n getuie vir God te wees nie. Jou optrede is beter of om die Evangelie aan mense te vertel. As jy egter werklik ’n behoefte het om dit aan te bring as ’n ewige teken van jou verhouding met God, sou ek sê: hou dit redelik onopsigtelik – dit is iets tussen jou en God.

6 thoughts on “Die Bybel oor tatoeëermerke”

  1. “’n Mens kan tatoeëermerke vergelyk met iemand wat ’n splinter nuwe Ferrari koop en ’n plakker daarop plak. ’n Mens doen dit nie. Dit bederf die Ferrari.”
    Ek het lekker gelag toe ek dit gelees het. Dankie Daniel!

  2. Baie interesante opmerking wat ek self nie geweet het nie. Levitikus 19:28 stel dit duidelik. Ek het dit aan myself laat doen 20 jaar gelede. Nie geweet dat dit so duidelik gestel was nie. Nou te laat om dit af te haal. Glo maar die stelling van niks wat jou in gaan sal jou onrein maak nie en dit nie weer te doen nie.

  3. Dit is elkeen se eie besluit. Dit grief my absoluut want dit is soort gelyk aan skending van jou liggaam en asof die persoon aandag soek. Het eenkeer ‘n bruid met ‘n pragtige trourok gesien met die aaklige tatoeeermerke. Dadelik het die pragtige prentjie verander.

    1. Kom antwoord my gou asseblief want jy sê nou tattos is sonde. Vrouens wat laat oorbelle insit is dit sonde ?? Hulle is nie met dit gebore nie, hulle skend ook hulle liggame. Oorgewig mense wat teveel eet, gaskoeldrank drink is dit ook sonde ?? Hulle skend wetend ook hulle liggame.

      Hou asseblief op om met die Bybel onder jou arm rond te loop net om jou opinie te probeer bekend maak. Gasn lees weer en ek sê lees Hom baie mooi daar staan geskryf die een wat oordeel oor hom sal daar ge-oordeelbword daar staan ook laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi, gaan lees asseblief baie mooi Matteus 6.

      Ken jy die persoon kom ek sê so ken jy my wat 11 tattoos het se storie ? Ken jy my verlede wil jy nou sê God het my nie vergewe toe ek my jart vir Hom gegee het nie ? Wil jy vir my sê God het my nie gered met tattoos en al nie ? omdat my liggaam geskend is ??

      Lees weer jou Bybel en vra jou Ds om jou te wys hoeveel keer in die Bybel word daar genoem dat mense (Israeliete, God se mense)merke op mekaar gemaak het voor oorlog.

      Ek vra weer lewe eerder soos n Christen moet en hou op om God te speel en mense te oordeel want as dit gaan oor liggaam skend kan ek jou verseker 99% van die aarde gaan dan oordeels dag baie hard huil.

      1. So true… Jesus is met wonde (letsels) die Hemel in. Dis nie die letsels wat na gekyk moet word nie. Om in die Hemel in te gaan, moet jy ‘n verheerlikte liggaam deur God ontvang… (Die verheerliking op die berg… In die aanskouing van Sy volgers)

  4. 28Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.
    Lees ek my bybel verkeerd, ter wille van ń dooie. Die twee opdragte is in dieselfde sin, dws altwee mag jy nie doen ter wille van ń dooie nie. My opinie is dan solank jy dit nie ter wille van ń dooie maak nie dan is dit jou keuse. Ek stem saam ons moet Rom 14 onthou, ons moenie diskrimineer teenoor iemand anders indien ons dink ons geloof is sterker. Onthou ook Jer 17:9 ons ken nie mekaar se harte nie. My punt is wees baie versigtig voordat jy oordeel. Jy kan miskien net ń baie spesiale kind van God oordeel. Geseënde dag vir almal.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui