Gaan die NGK skeur?

Gaan die NGK skeur?

23 November 2019

Johannes de Koning

Gaan die NGK skeur oor die gruwelbesluit van die AS 2019? Ek dink : “NEE!” Hoekom sê ek so? Die NGK het eintlik lankal reeds geskeur, ons is net nie eerlik en mans genoeg om dit te erken nie. Kom ek verduidelik… Die NGK het teologies geskeur, maar probeer bloot nog ’n administratiewe eenheid handhaaf.

Wat behels hierdie teologiese skeuring wat reeds plaasgevind het?

Sommer net ’n paar vinnige voorbeelde. Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus liggaamlik en histories opgestaan het uit die dood nie, ander glo dit nog… (Gaan lees maar die verhaal van Ferdie Mulder in OPGESTAAN as jy dit nie weet nie) Een deel van die NGK glo nie meer dat Jesus die unieke enigste middelaar tussen God en mens is nie, ander glo dit nog… Een deel van die NGK glo nie daar bestaan iets soos ’n persoonlike duiwel nie, ander wel… (Hy is immers ’n springlewendige lid van die Algemene Sinode!!) Een deel van die NGK glo nie meer dat ’n huwelik net uit een man en een vrou bestaan nie, ander glo dit nog… Kortom. Een deel van die NGK glo nie meer die Skrif en belydenisskrifte nie, die ander hou steeds vas aan die waarheid van die Woord en belydenis…

Die liberaliste in die NGK het die NGK gekaap via die Algemene Sinode.

Baie slim en slu. Die Guptas kan gerus by hulle kom leer. Die minderheid lei die meerderheid aan die neus rond.

Maar ongelukkig word die ongelowige deel van die NGK al groter en die gelowige deel al kleiner, want die meerderheid van nuwe predikante wat deur die fakulteite geproduseer word glo nie meer die Woord nie, want dis wat hulle geleer word. Verder verlaat baie van ons getrouste en vroomste lidmate die NGK omdat hulle dit net nie meer kan uithou nie. En uiteindelik is dit die vrot appels wat die goeies ook vrot maak en nie andersom nie!

Die standpunte oor kernsake binne die NGK is onversoenbaar teenstrydig en uiteenlopend! Hoekom bly ons dan nog bymekaar? Hoekom tyd mors met onlogiese kompromisbesluite? Hoekom was daar nie lankal ook ’n sigbare skeuring nie? Hoekom byt baie leraars en lidmate tog maar vas?

Hoofsaaklik ter wille van administratiewe, finansiële en praktiese redes. Die administrasie van pensioen en mediese fondse, die behoud van kerkgeboue en predikantstatus… Maar daar is moontlik ook ’n groot aantal leraars wat binne die NGK strukture bly omdat daar net nie ’n ander opsie op hierdie stadium is nie. Daar is net nie alternatiewe geestelike versorging vir hulle gemeentelede nie. Waar moet God se kosbare skape kos kry? En ja, daar is ook fundamentele teologiese oorwegings. Die getroue gemeentelede in die sewe gemeentes van Openbaring word immers nêrens opgeroep tot afskeiding nie, maar eerder om broers en susters wat nog vashou aan die waarheid te versterk. Ja, die gemeentes word ook telkens opgeroep tot bekering! Daarom mag ons in hierdie dae wat ons besluite ook al uiteindelik mag wees, ten minste nie stilbly nie en verstom ek my oor hoe broers wat die waarheid liefhet, so ’n oorverdowende stilte kan handhaaf! Hoe werk dit?

Waarom bly baie getroue gelowiges nog steeds in die NGK? Die eerlikste antwoord is seker om te sê dat daar ’n mengsel van die bogenoemde redes ter sake is. En, ja die AS besluit is immers nie ons gemeentelede se opinie of hulle skuld nie! Mag die Here vir sy kosbare kinders binne die NGK duidelik die pad vorentoe wys! Mag elke plaaslike NGK wat nog vashou aan die Woord duidelik deur die Gees en Woord gelei word binne ons huidige omstandighede!

Wanneer is genoeg, genoeg? Wanneer moet die padda maar uit die pot spring, voordat dit te laat is? Wanneer moet ons ons profetiese stem met radikale dade demonstreer? Kom ons help mekaar om die tye te verstaan!

1 thought on “Gaan die NGK skeur?”

  1. Aan ds Johannes de Koning
    Jy slaan die spyker presies op sy kop!
    En dit is met leedwese dat ons moet sê die NGK het lankal geskeur alhoewel dit uiterlik nog een kerk is.
    Ai, dit is hartseer om te dink die vrysinnigheid is só diep ingewortel dat herstel, menslik gesproke, nie moontlik is nie.
    Slegs die Here kan ware bekering gee, in ons kerk en ook in ons volk.
    Kom, ons bid dit van Hom af en on werk daarvoor.

    B. Wentink

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui