Wie is Ferdie Mulder?

Webblad: evangelicalplatform.com
Youtube kanaal: Evangelical Platform
Boek: Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006

Ferdie Mulder was van 2001 tot 2006 ’n teologiese student by die Universiteit van Pretoria. Hy is bekend daarvoor dat hy in 2006 as teologiese student lewenslank geskors is uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria omdat hy drie van sy dosente, Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human van teologiese dwaalleer wou aankla omdat hulle Jesus se liggaamlike opstanding verwerp het. Hy het ander studente se ondersteuning gewerf en hulle het selfs ‘n verklaring onderteken, maar almal het hulle ondersteuning onttrek nadat hulle deur Flip du Toit met regstappe gedreig is. (Flip du Toit was ‘n predikant wat deur die kuratorium en kerk aangestel is om die skakelpersoon te wees tussen die studente, dosente, kuratorium en die kerk.)

Louis Scheepers, een van die studente in daardie tyd, het jare daarna gesê: “Ek … was een van die wat destyds Ferdie Mulder se verklaring onderteken het (en ONGELUKKIG daarvan onttrek het uit onkunde, nadat ons met regstappe gedreig is).”

Ferdie het egter voortgegaan asof hy die studente se ondersteuning gehad het (hy het immers hulle handtekeninge gehad en hy het geweet wat die redes was waarom hulle onttrek het). Daarvoor is hy skuldig bevind aan oneerlikheid en is sy status as NG student opgeskort. Die kuratorium het Ferdie egter deur hulle prokureur laat weet dat indien hy alle dwaalleer-aanklagte teen die dosente sou laat vaar, dít moontlik die kuratorium sou oortuig van sy berou wat gevolglik kon inhou dat hulle hom sou toelaat om sy studies te voltooi en daarna in die NG Kerk gelegitimeer te word. Hierdie gebaar van sy kant af sou moontlik die universiteit oortuig om alle dissiplinêre aksies van hulle kant af ook te laat vaar. Hy het dit egter van die hand gewys.(Opgestaan, p297)

Die gevolg was dat die dosente onskuldig bevind is en dat hy lewenslank uit die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria geskors is.

Vandag fokus kerkleiers bloot op Ferdie se oneerlikheid, maar hierdie dosente was nooit onder stok gekry nie. Inteendeel, al hulle kollegas het hulle beskerm.

Hierdie insident het duidelik gewys dat daar ‘n tipe broederbond bestaan het tussen die dosente van die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria.

Vir meer hieroor uit sy eie perspektief, lees gerus sy baie insiggewende boek wat gratis beskikbaar is: Opgestaan. Studente se stryd om geloof by Tukkies in die jare 2001 tot 2006

Onder andere die volgende predikante/teoloë word in die boek genoem:

Tans is hy in Engeland ’n teoloog.

Kyk ook

6 thoughts on “Wie is Ferdie Mulder?”

  1. Hallo Ferdie
    Ek is ’n NG Kerk lidmaat my lewe lank en is nou 71 jaar oud en woon in Durbanville. Ek het van jou gehoor via Riekert Botha en het sedertdien baie van jou You Tube aanbiedings gekyk. Ek stem nie saam met die NG Kerk se beleid oor dieselfde geslag verhoudings nie, maar het dit maar verduur. Nou begin ek na aanleiding van jou menings weer twyfel oor oor dit. Nog ’n aspek van my kerk wat my pla is hulle koel houding teenoor evangelisasie. Een ds se standpunt is “almal is gered” en dat EEiii te konfronterend is. Dit is my passie dat mense geloofsekerheid moet he. My vraag is nou : Waar vind ek ’n geestelike tuiste aangesien ek nie die kerk sal kan verander nie! Ek weet ek moet baie bid oor hierdie saak, maar wat is jou siening hieroor.
    Vriendelike groete
    Johan Cilliers

  2. Dr Ferdie
    Ek is goeie vriende met Thys en Salome Neethling wat op hul beurt goeie vriende met jou ouers is.
    Graag sal ek met jou wil kontak maak.
    Ek wil vra of die verstaan van die doop nie aan die worstel van sommige van die probleme in die NGK le nie. Dat die doop saligmakende vermoe het sonder dat geloof betrokke is. Dit lei tot onwedergebore kerkleiers wat die deur wyd oop maak vir dwaling.
    Die selfbeskikking van die Afrikaner is ook ’n interessant onderwerp waar ek glo daar moet sterk onderskeid tussen kerk en staat wees vir die volgende rede. Die regering moet die kwaaddoener straf en die kerk het die bediening van versoening ontvang.
    Ek sou graag wou weet of jy in gemeentelike bediening staan en waar?

  3. Geagte Ferdie, Ek is so dankbaar dat jou YouTube video oor Andrew Murray het skielik opgespring op my skerm. Ek glo dit is van God want op die oomblik is ek besig om ’n boodskap te skryf wat ek oor die wereld uitstuur na my leserskring, presies waaroor jy praat. Ek woon nou al 23 jaar in New Zealand. Die Here het my ’n geweldige passie gegee vir siele en die waarheid wat my (moet se) baie genot in Jesus gee maar ook baie hartseer en teenkanting. Verskoon my swak Afrikaans maar ek sal baie graag met jou in aanraking will kom. Ek glo ek kan jou kennis op ’n wonderlike manier gebruik in my leserskring. Hierdie video het my opnuut gemotiveer . Verskriklik dankie. Groete in Jesus

  4. Ek was student tydens daardie tydperk by UP se teologiese fakulteit. Ferdie Mulder was oneerlik in meer as een opsig en het nie net sy eie toekoms in die kerk maar talle ander in die gedrang gebring. Hy’t homself gedra soos ‘n bedorwe kind.

    1. “Piet”, ek weet nie wat ek moet dink van so ‘n opmerking onder ‘n skuilnaam nie. Ferdie het alles baie mooi in sy boek verduidelik en ook sy “oneerlikheid”. As jy van nog weet is jy seker baie welkom om dit te noem, maar dan stel ek baie sterk voor dat jy dit nie onder ‘n skuilnaam doen nie. Verder, veroordeel jy die dosente en Flip du Toit se leuens ook? Want indien jy dit probeer ontken, dan bevraagteken ek jou objektiwiteit.

  5. Ferdie
    Ek is self besig met my BTH graad en is regtig geskok oor die fondamentele weerleggings van Christelike leeringe soos vervat in God se Woord deur die NG Kerk – my NG Kerk waarin ek groot geword het. Ons het in een van die modules gekyk na die skade wat apartheid nie net aan ons land nie, maar ook aan ons Godsdiens aangerig het. My vraag is: wat is daardie of dan vandag wat is vandag se teoloe se antwoord aan God, wat sê ek as leraar eendag vir my gemeente in alle eerlikheid – preek ek nog verkondig ek nog die ware Woord van God, is ek besig met dwaalleer – het ek deel geword van die vals leraars in 2 Petrus 2 – het ek ander in die verderf gelei – kan ek eendag verantwoordelikheid daarvoor neem – sal my siel ooit kan rus vind!

    Baie sterkte met jou verkondiging en getuie – ek weet nie of ek meer kans sien om gelegitimeer te word nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui