NG Kerk se teenkanting ironies

Kyk ook:

NG Kerk se teenkanting ironies

deur Ferdie Muller

2011-11-24

(Gekopieer vanaf Beeld.)

Die nuwe wetsontwerp deur die ANC van 22 November is natuurlik baie hartseer.

Ek vind die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderatuur se verklaring daaroor egter uiters interessant om ten minste die volgende redes:

1) Hulle praat oor die “inhoud en gees van die Grondwet” wat die hoogste prioriteit behoort te wees;

2) Die Wet is deur die Parlement afgedwing en daarop gerig om monde te snoer;

3) ’n Groot veldtog word ondersteun om hierdie wet met alles tot hulle beskikking teen te staan.

My eerlike vraag is dit: 5 maande gelede het dit openbare kennis geword dat ’n regter ten tye van die Tukkies verhoor wat proff. Le Roux, Muller, Human en Cas Vos van die NG Kerk teen my begin het, kategories verklaar het dat NG professore en predikante nie meer hoef te glo dat Jesus letterlik uit die graf opgestaan het nie.

Verskeie gewone Christene het sedertdien kontak gemaak en kon gewoon nie verstaan hoe dit moontlik is dat ’n regter so iets kon besluit nie, terwyl die “inhoud en gees” van die NG belydenis en die 2003 ASK verklaring oor Jesus se opstanding spesifiek die historiese en letterlike opstanding van Jesus bely.

Ek kan verkeerd wees, maar in een sin, sou mens kon aanvoer dat ’n “nuwe wet” tydens die verhoor forseer is om monde te snoer. In alle billikheid sou mens kon vra: Is die Grondwet van Suid Afrika meer belangrik as die belydenis en kernidentiteit van die NG Kerk?

Moet Christene deelneem aan ’n veldtog om die Grondwet te beskerm, maar wanneer dit by die kernidentiteit en belydenis oor Jesus se opstanding kom, moet ons maar aanvaar dat die inhoud en gees van die NG belydenis en 2003 ASK verklaring nie meer die “hoogste prioriteit” hoef te wees nie?

Ek sê dit alles met ’n sagte stem, omdat ek weet dat ook ek destyds foute begaan het wat ek bely het.

Die vrae oor die regter se uitlatings en die radikale implikasies daarvan vir die NG Kerk word myns insiens egter onder die mat gevee.

Ons moet vorentoe gaan en die verlede met rus laat, maar as die besluite van gister en vandag die Grondwet (of ’n kernbelydenis van die NG Kerk) onherroeplik verander, moet mens dalk met respek, liefde en nederig by die NG Kerk se ASM hoor of dit in orde is om ook hieroor op te staan…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui