Ons wil kerk nie laat skeur, sê Moreleta Kairos Netwerk

Theo Danzfuss het die volgende brief geskryf na aanleiding van die volgende artikel: NG Kerk ‘gaan skeur’ (13 Des 2020)

Miskien moet die volgende bygevoeg word:

In NG Kerk ‘gaan skeur’ (aan die bokant) word vyf dinge genoem wat tans in die NG Kerk waar is.  Die Algemene Sinode wil ruimte maak vir dinge soos die bestaan van die duiwel en selfdegeslagsverhoudings. Predikante wat die duiwel bevraagteken, verbreek egter hulle legitimasie-eed. En homoseks is sonde, wat allermins in die kerk toegelaat kan word.

‘n Mens wonder waarvoor die algemene sinode volgende ruimte wil laat – dalk universalisme?

Vir behoudendes is hierdie dinge heeltemal onaanvaarbaar. Behoudendes kan nie aan ’n kerk behoort waar daar ruimte gelaat word vir hierdie dwaalleringe nie.

Daarom is daar twee opsies in die oë van behoudendes:

  1. Die Algemene Sinode moet hulle standpunt verander
  2. Paaie moet skei (watter term jy ookal daarvoor wil gebruik)

Vandaar die stelling tydens die Zoomvergadering op 3 Desember 2020:

Iemand moet van die wa afklim en ons wil hê húlle moet afklim. Dis miskien idealisties, maar dit is die feit van die saak.

Die Zoomvergadering was egter baie ver van ’n beplanningsessie om te skeur.

*************

Ons wil kerk nie laat skeur, sê Moreleta Kairos Netwerk | Netwerk24

Deur Isabel Venter

13 Desember 2020

Dit is onwaar dat hulle ’n skeuring in die NG Kerk wil bewerkstellig, sê lede van die Moreleta Kairos Netwerk (MKN).

Volgens ’n lid van dié groep het die algemene sinode se besluit oor gays verlede jaar die kerk reeds geskeur.

Ds. Theo Danzfuss, ’n lid van MKN, het Sondag aan Netwerk24 gesê gerugte dat die groep van die NG Kerk wil wegskeur, is van alle waarheid ontbloot.

Die Sondagkoerant Rapport het Sondag berig oor ’n vertroulike vergadering waarop leraars en lidmate vir skeuring voorbrand gemaak het. Die koerant is in besit van ’n opname van die Zoom-vergadering.

Die vergadering was tussen lede van die MKN waar Pieter Breytenbach terugrapporteer het oor gesprekke tussen ’n werkgroep van die MKN en die kerk se algemene sinodale moderamen op 19 November oor die gay-kwessie.

Breytenbach is die bedryfshoof van Moreletapark, die NG Kerk se grootste gemeente.

Dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode, het by navraag gesê die beraad was eerder oor kerkherstel.

Danzfuss sê die MKN is juis gestig met die doel om ’n oplossing te vind en ’n skeuring te verhoed.

Volgens Danzfuss het die algemene sinode se besluit verlede jaar die kerk reeds geskeur. Dit blyk volgens hom duidelik uit die feit dat tientalle gemeentes doleer (treur oor die besluit).

Die sinode het verlede jaar ’n besluit geneem wat vir kerkrade die ruimte bied om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings erken, gay paartjies in die huwelik wil bevestig en gay predikante wil aanstel. Die besluit maak dus ook ruimte vir kerke wat dit nie wil doen nie.

Maar hierdie besluit is net die spreekwoordelike strooihalm wat die kameel se rug gebreek het, sê Danzfuss.

Die MKN is onder meer ook gegrief oor Skrifinterpretasie.

“Daarom wil ons graag eerder in gesprek met die algemene sinode tree.”

Dit is volgens hom slegs die algemene sinode wat die besluite kan herroep om met alternatiewe oplossings na vore te kan kom. Daarom is dit so belangrik om verder met die algemene sinode te praat.

“Die saak is nog ver van ’n beslissing af, daar is nog baie dinge om oor te gesels,” het Danzfuss gesê.

Op sy webtuiste dui MKN aan dat hy ontnuger is met die algemene sinode wat, volgens MKN, die gesag van die Skrif afmaak as die woorde van die skrywers en nie God se Woord nie.

Die algemene sinode slaan volgens MKN ook nie ag op sy eie kommissies en lede se besware nie en toon kenmerke van valse leierskap deur hulself bo die Woord van God te ag.

Die groep sê hulle wil deur saam te werk alle besluite van die algemene sinode wat in stryd is met die Bybel, nietig maak.

Breytenbach het luidens Rapport se berig op die vertroulike vergadering verlede Donderdag gesê die twee teologiese stromings in die kerk oor selfdegeslagverhoudings “is soos ’n huwelik wat op die rotse is. Die oplossing is maar eintlik soos daardie huwelik waar die pad van hierdie twee . . . op die een of ander manier gaan skei”.

Voorts word berig Danzfuss het gesê hulle moet druk plaas op diegene wat gayhuwelike ondersteun om die kerk te verlaat.

“Iemand moet van die wa afklim en ons wil hê húlle moet afklim. Dis miskien idealisties, maar dit is die feit van die saak.”

Ds. James Kirkpatrick, assessor van die noordelike sinode, het Sondag aan Netwerk24 gesê die taalgebruik van die MKN, soos dit blyk uit die opname van hul beraad, is onaanvaarbaar.

Dit help nie daar word agteraf vergaderings gehou, waarop gepraat word oor kerkskeurings, terwyl die saak nog uitgepraat moet word nie, sê hy.

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige moderator van die NG Kerk, sê dit lyk of die groep die belangrikste kerklike reël, om eenheid na te streef, veronagsaam.

“Die kerk sal nooit iemand veronagsaam wat gegrief voel nie en sal altyd ’n weg vind om sake te beredder. Die belangrikste is om dit te doen sodat daar nie verdeeldheid gesaai word nie.”

Hy meen verder die MKN self verskil oor soveel kwessies en dat dit nie standhoudend kan wees nie. Baie water moet nog in die see loop voor daar ’n skeuring sal wees, sê Niemandt.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinode se moderamen, sê gesprekke tussen ’n MKN-werkgroep en die algemene sinode duur voort. Die werkgroep en algemene sinode kom in Januarie weer byeen en hy vertrou die gesprekke sal op iets positiefs uitloop.

Hy sê op dié vergadering sal hulle onder meer praat oor kerkregskwessies, teologiese opleiding en Bybelleer.

Hy is oortuig dat hulle ’n besluit sal neem waarmee almal tevrede sal wees en wat boonop kerkeenheid sal bewaar.

• MKN bestaan nie net uit lidmate of predikante van Moreletapark nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui