Is dít wat die doleerders verwerp?

*******

Is dít wat die doleerders verwerp? | Kerkbode

Deur Neels Jackson

11 Januarie 2021

Neels Jackson van Pretoria skryf: Arnold Griesel skryf in Kerkbode (9 Desember) [kyk ook HIER] daar is geen eenheid in die NG Kerk oor wat ons glo nie. Hy noem Skrifgesag, wie God is, hoe God die mens geskape het, wat sonde is en die aard van verlossing en heiligmaking.

As lidmaat wat gay-gelowiges en hulle verhoudings volledig aanvaar, wil ek duidelik stel wat ek oor elkeen van dié sake glo. Ek wil hoor of dit is waarvan die doleerders verskil, en waarom hulle verskil.

Oor die Skrif: Ek glo die Bybel is die Woord van God en rigtinggewend vir my lewe. Ek glo dat ek die Bybel reg moet verstaan. Dit behels onder meer dat ek nie losstaande tekste buite hulle konteks gebruik nie. Dit beteken ook dat ek die kultuurverskille tussen vandag en die Bybelse tyd in ag neem. (Daarsonder sou vroue nog hoede moes dra kerk toe.)

[Kommentaar: Ja, dit is reg. Kyk ook Hermeneutiek.]

Oor wie God is: Ek glo Jesus Christus is die beste openbaring van God wat ons het. In die Evangelies lees ek mense is vir Jesus belangrik. Ek lees dat Hy mense innig jammer gekry het en dat Hy bedroef was oor die verhardheid van die Fariseërs. [Kommentaar: “Bedroef”?!?!?! Ek sou dit nie bedroef genoem het nie. Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade.] Ek lees dat Jesus die wet anders hanteer het as die Fariseërs. Vir Jesus het dit nie oor die letter van die wet gegaan nie, maar oor mense. Daarom dat Hy, in ’n dispuut oor die sabbat, sê die sabbat is vir die mens gemaak, nie die mens vir die sabbat nie. Die hart van Jesus se vertolking van die wet is die liefde. Daarin moet ons Hom navolg. [Kommentaar: Jesus het ook gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” (Mat 5:17) Daarom kan jy hoegenaamd nie sommer net so ’n algemene stelling maak wat impliseer dat Jesus die hele wet sommer net geskrap het nie.]

Oor hoe God mense geskape het: Ek lees in die Bybel dat God man en vrou geskape het. Maar ek bely ook Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis waarin ons bely dat ons God ook ken uit “die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld”. In die skepping sien ek dat God ook mense gemaak het wat nie mooi in die kategorieë van man en vrou pas nie. Interseksmense het manlike en vroulike eienskappe. In die skepping sien ek ook dat God nie net heteroseksuele mans en vroue gemaak het nie. Daar is ook mans en vroue wat tot mense van hulle eie geslag aangetrokke voel.

[Kommentaar: Daar is hoegenaamd geen wetenskaplike bewys dat mense homoseksueel gebore word nie. Trouens, die wetenskap wys die teendeel. Kyk Word jy gay gebore?. Dit grens aan skelm om interseks as voorbeeld te roep en dit dan te wil toepas op homoseksualiteit. Interseks is uit en uit ’n fisiese afwyking terwyl homoseksualiteit ’n geestelike afwyking is. Interseks kan nie met bekeringsterapie behandel word nie, terwyl homoseksualiteit wel kan.]

Oor wat sonde is: Ek glo dat sonde in wese is om nie om te gee vir ander mense nie, of om hulle skade te doen. Dit leer ek by Jesus. Volgens Matteus 25 oordeel Hy diegene wat nie gesorg het vir dié wat honger en dors en naak en vreemd en siek en in die gevangenis is nie. Dit is sonde teen medemense en dit is ook sonde teenoor God. God se wil wat ons moet gehoorsaam, is om mekaar lief te hê. As ons mekaar liefhet, sal die wêreld weet dat ons Hom liefhet. God verwag nie van ons ’n nougesette gehoorsaamheid aan reëls ten koste van ander mense nie. Dit was die Fariseërs se siening, waaroor Jesus skerp met hulle bots.

[Kommentaar: Nee, Jesus het met die Fariseërs gebots omdat hulle skynheilig was, nie omdat hulle te wetties was nie. Hulle het een stel reëls vir die gepeupel gehad, maar hulleself blind gehou daarvoor dat hulle net so skuldig was op ander vlakke.
Sonde is ongehoorsaamheid aan God. Hoe jy ander mense hanteer is slegs ’n gedeelte daarvan. Kom ons kyk na die tien gebooie: Die eerste vier gebooie gaan oor liefde vir God. Om God lief te hê beteken om gehoorsaam aan Hom te wees – kyk Die Bybel oor ware liefde vir God. As Abraham soos Jackson sou redeneer, sou hy met allerhande humanistiese verskonings gekom het om nie vir Isak te offer nie. Die feit dat Abraham bereid was om Isak te offer het sy liefde aan God bewys. Dit het heel eerste gegaan oor gehoorsaamheid.]

Oor verlossing en heiligmaking: Jesus verlos ons van sonde, en daarmee van ’n liefdelose lewe. As ons berou het daaroor, word ons vergewe. Dan verwag Hy van ons om, soos Saggeus, daarmee op te hou en om mekaar lief te hê.

Dit lê in die hart van wat ek glo. Hieruit vloei ’n benadering wat gay-gelowiges aanvaar vir wie hulle is en wat vir hulle hoop gee, pleks daarvan om hulle moedeloos en depressief te maak.

Kommentaar

Philip Coetzee

11 Januarie 2021 at 11:56

Die voorafgaande skrywe verwys net na die gay kwessie as maatstaf of voorbehoud vir dolering. As ons dieper delf in die beswaardes se rede tot doleering, sal ons vind dat dit baie wyer gaan en dat die gay kwessie net nog ñ bestandeel in ñ kokende pot is, wat aangevuur word deur ñ verligte interpretasie van die Bybel. Hoe kan die mens hul “lig” bo die van God sin plaas? Sekerlik is die Skrif, in konteks met verstaan, ñ onveranderde lig (rigtingwyser) vir alle tye?

Nic Botha

11 Januarie 2021 at 12:40

Ek is bevrees dat Neels Jackson in die natuur en God se skepping lees wat hy daarin wil lees en nie wat in die Bybel staan nie. Niemand staan liefdeloos teenoor gay-mense nie Net so min as wat Jesus vir Saggeus en baie ander gesê het hulle sonde is vergewe en dat hulle nie daarin en daarmee moet voortgaan nie, net so min sou Hy selfdegeslagverhoudinge aanvaar het. God het man en vrou geskape, nie interseksprsone nie, en Sy bedoeling was nooit dat mense van dieselfde geslag verhoudings en seks met hê nie. Hy het man en vrou geskape met die doel on voort te plant. Net so het Hy van alle diere, visse, voëls, reptiele, norm maar op, ‘n manlike en ‘n vroulike geskape, vir doeleindes van voortplanting. Neels moet net weer sy Bybel gaan lees. Tekste word nie sommer uitverband aangegaal nie, maar juis binne verband. As hy sê hy glo die Bybel dan sal hy ook moet erken dat die Bybel net so relevant en van toepassing is vandag as deur die eeue. Ons kan nou skielik sê sekere dele is nie meer van toepassing nie want die wêreld en die lewe het verander nie. Die wêreld en die lewe het verander omdat die mense God en Sy Woord nie meer ag nie, want ons wil nie hoor wst is reg en wat is verkeerd nie. Ons wil en sal self besluit want ons is mos elkeen self god!

Johan van Noordwes

11 Januarie 2021 at 18:10

Oom Neels,

Dankie vir die uiteensetting, ek dink ek verstaan die verskille nou beter. Ek kan net namens myself praat en die volgende op/aanmerkings maak oor waar ek as behoudende lidmaat verskil:

Oor die Skrif: Ek stem met meeste saam, behalwe dat die kultuurverskille net gebruik kan word tot aanpassing indien dit as rede vir n sekere leering aangevoer word. In die geval van die huwelik tussen een man en een vrou haal Jesus spesifiek die skeppingsverhaal aan wat kultuur grense irrelevant maak.

Oor wie God is:Hier klink dit vir my of oom die baba met die badwater uitgooi. Jesus self het gesê dat “as julle My liefhet sal julle my gebooie gehoorsaam”. In Mat 19 maak Jesus die reëls selfs strenger as wat die fariseërs wou hê. In kort dink ek dat oom se skrywe meer gegaan het oor hoe oom dink Jesus mense sien as oor wie God werklik is. God se heiligheid word nie eers genoem nie.

Oor hoe God mense geskape het: Ek dink hier kom ons by n groot dispuut, want hier plaas oom die algemene openbaring van die skepping bo die spesiale openbaring van die Woord. Ook word die gevalle skepping en invloed daarvan op die mens nie genoem nie.

Oor wat sonde is: Ek dink ons moet God vertrou om te openbaar wat sonde is en nie ons eie oordeel vertrou nie want “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (JER 17:9). Ons leef tog in God se wêreld, dus moet Sy reëls geld.

Groete in Christus

Henrietta Klaasing

11 Januarie 2021 at 18:33

Neels verwys na Artikel 2 van die NGB maar hy doen dit net gedeeltelik.

Ons ken God deur twee middele, kortweg gestel, deur natuur en Skriftuur. In Artikel 2 van die NGB staan daar:

“Ten eerste (ken ons God – en natuurlik Jesus as deel van die Drie-Eenheid) deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20)”.

Dit is die “natuur” waardeur God geken kan word en word ook die algemene openbaring genoem en is dit wat deur alle mense op aarde waargeneem kan word. Dit kan geinterpreteer word dat die menswetenskappe en gedragswetenskappe (soos onder andere die mediese wetenskap, die psigiatrie en sielkunde) deel is van hierdie deel van die Artikel. Dit is waar Neels Jackson die klem laat om sy sienings oor LGTBQ+ en allerlei “identifikikasies” te regverdig.

MAAR: Artikel 2 van die NGB gaan voort en verklaar:

“Ten tweede maak Hy Hom (en dus ook Jesus as deel van die Drie-Eenheid) deur sy heilige en Goddelike Woord NOG DUIDELIKER EN MEER VOLKOME aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort”.

Wanneer aan die mens- en gedragswetenskappe meer gesag gegee word as aan dit wat in God se Woord staan, is dit direk teenoor die tweede deel van Artikel 2 van die NGB, naamlik dat God Homself deur sy heilige en Goddelike Woord NOG DUIDELIKER en MEER VOLKOME AAN ONS BEKEND MAAK AS UIT DIE NATUUR. Dit is ook nie in lyn met “Sola Scriptura” nie.

1. Dit is hierdie TWEEDE deel van Artikel 2 van die NGB wat Neels mislees/ ignoreer.

2. Verder lees hy ook mis dat Jesus in Sy Heiligheid (lees maar daaroor in die hele Boek van die Openbaring van Jesus Christus) die sonde haat.

3. En derdens lees Neels mis dat Jesus Christus se verlossende krag mense van enige sonde (ook die sonde van homoseksualiteit soos ek dit in die Bybel verstaan) kan verlos.

Ek skryf in my persoonlike hoedanigheid.

Chael TerBlanche

11 Januarie 2021 at 21:19

Neels my kort antwoord is nee. Ek kan in baie meer detail antwoord, maar gaan net kortliks op sekere punte reageer.

Oor die Skrif: Ons moet die Skrif reg verstaan deur verantwoordelike eksegese en waak teen eisegese van veral die moderne humanistiese beskouing.

Oor wie God is: Jesus het vir sondaars gekom, maar om waarlik lief te hê is ook om te sê gaan en sondig nie meer nie. God haat sonde.

Oor wat sonde is: Sonde is om die merk te mis wat God gestel het. Sonder die wet sou ons nie weet wat sonde is nie. Sonde word deur God gedefinieer, nie die mens nie. In die geval van seks buite die huwelik tussen ;n man en vrou is die Skrif duidelik dat dit sonde is. Liefde is nie om ‘n persoon te verskoon vir sy sonde nie, maar om hom te help om dit te oorkom deur die krag en genade van God.

Oor verlossing en heiligmaking: Verlossing is deur Jesus. Heiligmaking is om gehoorsaam te wees aan God en Sy gebooie. Gaan en sondig nie meer nie. Ons almal faal hierin en het mekaar nodig om mekaar te bemoedig en te help hierin. Natuurlik kan ons dit nie doen sonder die hulp van die Heilige Gees nie. Ons moet mekaar help en nie veroordeel nie, maar om stil te bly is ook nie liefde nie.

Ek aanvaar gay-gelowiges net soos ek alle ander sondaar-gelowiges aanvaar, maar ek kan nie die sonde aanvaar nie, want my God haat sonde en dit het die dood van my Verlosser gekos.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui