Herman Lategan: NG Kerk kry trofee vir padda van die jaar

As behoudende Christen weet mens nie of mens oor hierdie artikel moet lag of huil nie.

‘n Mens wil lag, want behoudendes veg al jare teen die liberale strominge in die NG Kerk en tans is dit slegs die liberales in die NG Kerk wat wonde lek oor hierdie artikel. Behoudendes stem 90% saam met hierdie artikel vir presies die teenoorgestelde redes as wat Herman Lategan bedoel het. Die belaglike gebeure in die NG Kerk is besig om die leierskap in te haal. Ek wil waag om te sê dat denominasies soos die APK, EGK en GK nooit hierdie trofee sal kry nie, selfs al dink Herman Lategan nog minder van hulle. Hoekom nie? Want hulle is standvastig in hulle geloof, Hulle is nie ’n riet in die wind nie.

‘n Mens wil egter ook huil, want die skade wat die Koninkryk van God ly, is wesenlik. Dit laat mens dink aan:

Lukas 17(1)Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. (2)So ’n mens kan eerder met ’n groot klip (meulsteen) aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word. (Markus 9:42)

en Matteus 13: (41)Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, (42)en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

Ek het ook op enkele plekke kommentaar gelewer in blokhakies.

Kyk ook die volgende twee artikels wat oor hierdie artikel kommentaar lewer:

*******

Herman Lategan: NG Kerk kry trofee vir padda van die jaar | Netwerk24

Deur Herman Lategan

27 Desember 2020

peuterig b.nw. Wat onbenullig en nie werklik belangrik of ter sake is nie. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Elke jaareinde word ’n padda van die jaar-trofee toegeken in dié rubriek. Gewoonlik gaan dit aan ’n persoon, maar hierdie jaar word ’n kerkgenootskap beloon.

Die naam van dié beker is die Lawaaipadda-trofee. Neem jul buiging, die hele NG Kerk, terwyl al wat padda is fluit en met hul toonkussinkies klap.

Die Lawaaipadda is ’n slymerige amfibie bekend vir sy kort, rasperige, eendagtige gekwaak wat herhaaldelik en eentonig geuiter word. Mannetjies roep alleen of in klein groepies, selde in groot kore. Laat die simboliek hiervan ons nie verbygaan nie.

Verder is die figuurlike betekenis van die woord amfibie: Draadsitter, persoon wat vis nóg vlees is. Vir balans laat daar tog melding gemaak word van dié kerk se voortreflike koerant, die Kerkbode, asook die welsynwerk wat hulle verrig.

Dit gesê, is die aanhoudende gekekkel oor gay mense en hul huwelike iets wat grens aan die burleske. Dat ’n koterie van ou wit mans so behep kan wees met die liefdesverhoudings van ander volwassenes sal met terugskoue eendag met minagting en humor bejeën word.

[Kommentaar: Moet glad nie so seker wees nie. Dit staan in die Bybel. Dat daar mense smalend na die Bybel kyk, is seker, maar daar sal altyd ware kinders van die Here wees wat die gesag van die Bybel sal aanvaar.]

Soos die skrywer Theunis Engelbrecht onlangs in ’n onderhoud genoem het: “Die rol wat sekere kerke, en spesifiek die NG Kerk, gespeel het – en steeds speel – om mense te breinspoel sodat hulle God en die Bybel kan gebruik as ’n stok om gay mense mee te slaan is vir my weersinwekkend, om nie eens te praat van al die dekades wat hulle apartheid goedgepraat en aktief in stand help hou het nie.

[Kommentaar: Om die Bybel te gebruik as ’n stok om gays te slaan? Alla wêreld. Dit is nou ’n manier om daarna te kyk. As jy dit so verkies, dan word die Bybel ook gebruik om egbrekers, moordenaars en diewe met ’n stok te slaan.]

“Kerke het baie bloed op hul hande van al die gay mense wat al selfmoord gepleeg het omdat hulle deur die kerk, en dus ook hul gemeenskappe, verwerp is.”

Hierdie kerkvaders maak so baie lawaai oor ’n kwessie waarin die oorgrote meerderheid gay mense vandag regtig nie meer belangstel nie. Hulle is uitgediende obskure figurante en souffleurs wat op ’n verhoog met ’n klein, krimpende gehoor optree.

Wat soek gay mense daar in ieder geval? Bly weg van hierdie versameling irrelevante en nuttelose koproliete.

Dan is daar (onder meer!) die kwessie van hoe vroue vir jare deur die NG Kerk se patriargie Sondae meedoënloos herinner is aan hul mindere status. Saans, wagtend vir haar man wat sy pappa noem (hoe Freudiaans), kook sy die kos en dek sy die tafel, met hom elke dag aan die hoof daarvan.

Toe dr. Carin van Schalkwyk laas jaar sê sy en ander leraars is moeg daarvoor om oor genderkwessies te praat en nie gehoor te word nie, kap ds. Rheinier Nel luidens Netwerk24 terug deur te sê patriargie is nie die probleem nie, maar matriargie.

[Kommentaar: Rheiner se stelling is net belaglik vir diegene wat dink dat alles in die wêreld blanke mans se skuld is. Google gerus “war against white men” en “white men enemy” (‘n BLM aktivis het eenkeer gesê: “White men are the common enemy.”). Kyk gerus ook wat Jordan Peterson hieroor sê, byvoorbeeld in Jordan Peterson on the ‘backlash against masculinity’ – BBC News.]

“Sommige vroue lok mans uit tot aggressie dat mans gewelddadig word,” antwoord hy soos ’n toondoof kruidjie-roer-my-nie.

Dit is duidelik dat ’n parogiale NG Kerk uit voeling is met ’n nuwe, ontwikkelende samelewing wat sukkel met rasseverhoudings, geweld en onopgeloste trauma uit die verlede.

Julle moet inderdaad vir julself vra: Eli, Eli, lama sabagtáni?

[Kommentaar: Behoudende Christene stem 100% saam. As God nog nie die NG Kerk verlaat het nie, sal Hy binnekort as die kerk nie omdraai nie…]

1 thought on “Herman Lategan: NG Kerk kry trofee vir padda van die jaar”

  1. Jesus is die eerste wat die kerk noem: Matteus 16:18. Selfs net dit alleen, behoort elke Christen te dryf om hul afkeur oor hierdie rubriek uit te spreek. Kyk maar hoe vurig raak Moslems oor hul valse godsdiens. Dit is ’n kwaadwillige skrywe. Die kwaad hou nie vanself op nie. Dit hou net op as goeie mense ’n streep trek en sê: tot hiertoe en nie verder nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui