Kruisverhoor: ‘Liberale lidmate moet van wa af, húlle verbreek eed’

********

Kruisverhoor: ‘Liberale lidmate moet van wa af, húlle verbreek eed’ | Netwerk24

Deur Hanlie Retief

20 Desember 2020

Hulle wil nie wegskeur van die NG Kerk nie, hulle soek al biddende na oplossings, sê ds. Theo Danzfuss van die Moreleta Kairos Netwerk.

Die Zoom-opname van ’n MKN-vergadering wys julle gee voor om te versoen, maar eintlik is julle besig om te organiseer vir ’n skeuring.

Daar is geen sprake van “voorgee” of dat ons “organiseer om te skeur” nie. Dit is valse en kwaadwillige bewerings. Rapport werk dalk met ’n geredigeerde opname, anders is dit bloot moedswillige verminking van die waarheid.

Ds. Stephen Heyns van die Petrus Steyn-gemeente sê hy berei reeds sy gemeente voor “dat die kerk vir seker uitmekaar gaan spat”.

Ek kan nie namens hom praat nie en sy opmerking was ook net om sy persoonlike omstandighede met die ander te deel. Die algemene sinode se besluite het egter baie bygedra dat mense nou goeie rede het om sulke voorspellings te maak.

Jul afstigplanne is al so ver gevorder dat julle ’n plek soek om predikante op te lei.

Ons soek alternatiewe, behoudende, teologiese opleiding vir ons studente en voortgesette opleiding vir ons behoudende, dienende leraars. Dis nie beplanning vir kerkskeuring nie, maar ’n noodroep dat die sinodes van die NG Kerk dringend sy teologiese opleiding heroorweeg, want duisende lidmate vertrou nie meer die liberale en vrysinnige opleiding waaraan ons teologiese studente vandag blootgestel word nie.

Dui alles nie maar daarop dat julle nie meer besig is om ’n oplossing te soek nie, maar dinge gereed kry vir ’n skeuring?

Ek ontken kategories dat MKN nog ooit enige beplanning gedoen het om die kerk te skeur. Ons het juis verskeie gemeentes wat op die punt was om weg te skeur nuwe hoop gegee om liewer te help om die probleem van binne die kerk op te los.

Daniel Louw vra in die Zoom-vergadering “waarom ons nie meer eerlik en openlik is dat ons wil wegbreek nie”.

Dié persoon is lankal nie meer ’n lidmaat van die NG Kerk nie. Om sy terloopse, persoonlike vraag aan die groot klok te hang of dit nou MKN se siening verteenwoordig is om jou lesers te mislei.

Pieter Breytenbach sê die uitdaging is om kerkskeuring te bewerkstellig sonder om “goed soos beroepbaarheid, geboue, pensioenfondse en al daardie goed” in gedrang te bring.

Hy het nooit gepraat van kerkskeuring nie. Die twee strominge in die NG Kerk is so uiteenlopend dat hulle op lang termyn nie onder een dak kan bly nie. Terwyl ons alle moontlike oplossings biddend oorweeg moet ons, soos ds. Pieter bedoel het, soek na die oplossing wat die Koninkryk die minste skade sal doen. Een van die oplossings is natuurlik, soos Rapport ons valslik van beskuldig, dat een van die twee groepe wegbreek en ’n nuwe kerk stig. Dit is ’n heel laaste uitweg. As dit egter wel gebeur, behoort die liberale groep eerlik genoeg te wees om van die wa af te klim om ’n ander geestelike tuiste te soek, want dis hulle wat nie meer wil bly by hul lidmaatbeloftes en legitimasie-eed nie.

Júlle is ongelukkig oor die kerk se besluit oor gay-huwelike; rus die onus nie op julle om te loop nie?

Ek kan verskeie redes gee hoekom dit ’n onwettige besluit was. Dis in stryd met die Skrif, ons belydenisskrifte, die Kerkorde en op ’n onwettige manier geneem.

Pieter Breytenbach sê julle stel glad nie belang om enigsins die ander kant van die teologie te probeer aanvaar nie – geen versoeningspoging dus van jul kant af nie?

Geen versoening tussen lig en duisternis, waarheid en leuen nie.

Dit is juis wat die algemene sinode laat struikel het: sy oordrewe klem op diversiteit en pogings om mense en die media tevrede te stel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui