Brief van Wes-Kaaplandse moderatuur oor die gebruik van sosiale media

Die brief hieronder is deur Charl Stander en Marinus Theron, namens die moderatuur van die Sinode Wes-Kaapland, aan gemeenteleiers in hierdie sinode geskryf.

Charl Stander is predikant by Parkegemeente in Kraaifontein, waaraan Louis van der Riet ook verbonde is.

Marinus Theron is predikant verbonde aan NG Caledon.

Hierdie brief is waarskynlik geskryf na aanleiding van ’n paar gebeure en uitsprake in die openbare media. Kyk:

Dit is nie die eerste keer dat ’n soortgelyke verklaring uitgereik is nie – kyk die skakels in die “kyk ook”-blokkie hierbo.

‘n Mens kry die idee dat die NG Kerk leierskap desperaat raak om behoudendes se stem stil te maak. Hulle het nie waarheid wat hulle saak ondersteun nie – al wat oorbly is om die man te speel – om te probeer insinueer dat behoudendes onchristelik optree.

Die vraag is, hoekom sal behoudendes hulle saak so sterk en “onchristelik” in die openbare media stel? Die antwoord is eenvoudig: die kerk se normale kanale het klaaglik misluk – kyk:

Hier volg die brief:

**********

Aan: Gemeenteleiers in Sinode Wes-Kaapland

30 Augustus 2021

Geagte voorsitter van die kerkraad

DIE GEBRUIK VAN SOSIALE MEDIA

Die ATP (Algemene Taakspan Predikantesake) en die ATR (Algemene Taakspan Regte) het onlangs riglyne vir gesprekvoering op sosiale media deur gelegitimeerdes goedgekeur. Dit sal mettertyd in die gedragskode vir predikante van die NG Kerk (bladsy 217 van die Kerkorde Algemene Sinode) opgeneem word. Omdat daar dikwels navrae in hierdie verband ontvang word, het die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland geoordeel dat dit nuttig kan wees om hierdie riglyne aan kerkrade en gemeenteleiers in die sinodale gebied beskikbaar te stel.

Ons bevind ons in ’n tyd waar kommunikasie deur gelowiges en gelegitimeerdes in die media en veral die sosiale media, soms veel te wense oorlaat. Die getuienis wat ons uitleef in navolging van Jesus Christus behoort konsekwent in ons optrede en kommunikasie sigbaar te wees. Jesus het dit heel duidelik aan sy volgelinge oorgedra toe Hy in Johannes 13:34-35 gesê het:

“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhé.
Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhé.
As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Riglyne vir gesprekvoering deur gelegitimeerdes op sosiale media:

Gelegitimeerdes, maar ook gelowiges se gesprekke op sosiale media behoort altyd kenmerkend te wees van ’n Christelike etos wat gedra word deur Bybelse waardes soos respek, liefde, waarheid, eenheid, luister en ’n besef van eie broosheid en feilbaarheid.

As getuie van Jesus Christus behoort geen gesprek op sosiale media enige kommentaar te bevat wat:

1. ander se geloof of Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie;

2. lasterlike opmerkings bevat waar dit ’n individu of geloofsgemeenskappe skade kan berokken nie;

3. van enige vorm van haatspraak — ingesluit seksisme, rassisme en homofobie — bevat nie;

4. enige vorm van beledigende taalgebruik besig, wat ander mense se waardigheid of geloofwaardigheid as predikant in gedrang bring nie;

5. in’n godsdienstig vermanende trant geskryf word, maar kwetsend, beledigend en vernederend is;

6. op valse getuienis berus, kwaadwillig en verdagmakend van aard is, skeurmakery bevorder of kru taal bevat nie.

Hierdie riglyne vir gesprekvoering op sosiale media kan in eie konteks na goed denke aangewend word.

Mag ons almal ons daartoe verbind om na die voorbeeld van Jesus, met mekaar op ‘n wyse om te gaan wat nie die koninkryk skade doen en die eer van God aantas nie.

Seën vir die res van 2021.

Charl Stander & Marinus Theron
Namens die moderatuur,
NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode Wes-Kaapland)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui