Kuratorium vra respekvolle gesprek

Op 3 September 2018 verskyn Nadia Marias se artikel Jesus diskrimineer nié in die Kerkbode.

Chris van Wyk reageer daarop en wys dat hierdie artikel teenstrydig is met die Dordtse Leërreels. Dus is Nadia in gevaar om haar legitimasie-eed te breek. Kerkbode, onder leiding van Neels Jackson, weier egter om sy brief te plaas en daarom plaas Chris sy brief op sy Facebookmuur (kyk Die Dordtse Leerreëls in gedrang (6 September 2018)).

In plaas daarvan dat Nadia haar artikel onttrek, verdedig die kuratorium vir Nadia. Die enigste manier om haar te verdedig is egter om Chris van Wyk se karakter aan te val en te impliseer dat hy disrespekvol is en besig is met sogenaamde verdagmakery.

*******

Kuratorium vra respekvolle gesprek | Kerkbode

20 September 2018

Die dagbestuur van die kuratorium op Stellenbosch het die volgende verklaring uitgereik:

Die Dagbestuur van die Kuratorium het kennis geneem dat daar op sosiale media beskuldigings gemaak is ten opsigte van beweerde leerdwaling teenoor een van die dosente van ons Dosenteraad, dr Nadia Marais, dosent in Sistematiese Teologie aan die Fakulteit Teologie van Stellenbosch.

Die Dagbestuur bevestig dat dr Marais ’n geordende leraar van die NGK is en dat sy as sodanig die belydenisskrifte onderteken het en steeds onderskryf. Sy is as lid van die dagbestuur van die Sinodale Taakspan vir Leerstellige en Aktuele Sake ook betrokke by verskeie sinodale projekte oor onder meer evangelisasie en hermeneutiek waar sy ’n uiters gewaardeerde bydrae maak.

Dr Marais tree gereeld op by VBO kursusse en konferensies en preek gereeld in gemeentes. Sy is dus gereeld in gesprek met leraars en gemeentes. Haar breë kennis van en diep verbintenis aan die gereformeerde leer, is telkens deurslaggewend in haar bydrae en as jong teoloog speel sy hierin reeds ’n leidende rol.

Die Dagbestuur vind dit daarom uiters jammer dat daar via sosiale media verdagmakery teenoor haar optrede is. Dit is onnodig en onwys.

Gesonde kritiese gesprek oor die interpretasie van ons belydenisgrondslag is en was nog altyd belangrik vir die NG Kerk se onderskeiding en ons sal voortgaan om dit te stimuleer, maar nie via sosiale media nie.

Die Dagbestuur wil leraars en lidmate wat behoefte het om met haar in gesprek te tree, uitnooi om dit persoonlik met haar te doen, of dit kan ook via die Kuratorium gedoen word.

Respekvolle kritiese gesprekke waar ons by en van mekaar leer, is deel van die visie van die Kuratorium, en die Dosente van die NGK se dosenteraad speel hierin ’n baie belangrike en gewaardeerde rol.

Indien daar navrae is hieroor kan dr Frederick Marais, skriba van die Kuratorium op Stellenbosch, gekontak word by jfm@sun.ac.za of 021-8089138.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui