Wat het werklik by NG Kerk Parke gebeur?

Die volgende brief deur Liesl Saayman is op Facebook gepubliseer (ongeveer 29 Maart 2019).

Lees Gemeente ‘kies liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar om die agtergrond te kry.

Lees my mening aan die onderkant van die artikel.

***********

Wat het werklik by NG Kerk Parke gebeur?

Om te moet kies tussen die huis van die Here en die Here van die huis…

Meeste van ons het ’n Bybelverhaal wat ons meer bybly as die res, wat ons meer laat wonder. Die verhaal van Abraham wat vir Isak moes gaan offer was nog altyd vir my een van daai verhale. Ek het gepeins oor die ongelooflike tweestryd om te moet kies vir twee goed waarvoor jy so lief is. Om die besluit te maak om dit waarvoor jy soveel om gee, op te gee, want dit is God se wil. Dit is die tweestryd wat in my hart woeker al vir ’n paar weke – oor my kerk. ’n Storie waarmee ek wakker geword het so paar nagte terug, maar dit was ’n boodskap van hoop, want sien, God het vir Abraham nie net getoets nie, Hy het ook voorsien. Soos net Hy kan voorsien wanneer mens Sy wil kies.

NG Kerk Parke, reeds vir 10 jaar my geloofstuiste. Reeds vir 5 jaar is ek op die kerkraad, deel van ’n wonderlike gemeenskap van gelowiges, deel van ’n versorgende gesin wat streef daarna om ’n positiewe verskil in die wêreld te maak. ’n Kerk waar ek my geloof kon uitleef en met ’n eerlike hart geweet het ek is lief vir die kerk, lief vir die mense en ek respekteer die leraars. Dit was vir my ’n geloofshoogtepunt.

Dit is geensins nuwe nuus wat in Parke gemeente gebeur het nie. Kraaifontein se mense het hoofstroomnuus gemaak met die aanstel van die eerste homoseksuele dominee. Wat verder gesneeubal het ná die hofbeslissing van die Gaum aanval.

Wanneer Kerkbode op 18 Februarie in groot swart letters aankondig “Gemeente kies ‘liefde bo vrees’ met aanstelling van gay leraar”, word daar ’n absolute leuen aan die wêreld verkondig, want die gemeente is nooit ’n keuse gegee nie. Ook blyk dit dat die hele kerkraad nie ten volle ingelig was voor hul besluit of tydens die verkiesing nie, anders as die populêre woorde in Kerkbode: “Die kerkraad se besluit om my te beroep beskou ek as ’n dapper stap van getuienis en gehoorsaamheid”.

Daar is ’n paar goed wat ek wil duidelik maak rondom die beroep van die eerste homoseksuele dominee, want daar was ’n redelike losbandigheid met die omgang van die waarheid so ver. Ek gaan nie hier kommentaar lewer oor die individu wat aangestel is nie. Ek gaan nie oordeel nie, ek beskryf bloot die proses en die effek van die proses op mense wat nie ’n keuse gehad het nie.

Parke is ’n armer gemeente, alhoewel ons ’n groot gemeente is. Dus, met die geleentheid om ’n leraar in ’n internskappos te kan aanstel, het ons die geleentheid geneem. Ds Louis van der Riet was die tweede internskapleraar vir ons gemeente. Daar word vir die kerkraad twee kandidate voorgestel wat pas afgestudeer is – ’n aanbeveling deur Communitas gemaak. Uit die twee word dan ’n internskapdominee gekies. In kort het die proses soos volg verloop:

  • In die week van 19 – 23 November ontmoet Ds Charl Stander (hoofleraar van Parkegemeente) die twee moontlike kandidate soos voorgelê deur Communitas.
  • Vroeg in Desember voer hy en Ds Jacques van Rensburg (tentmakerpredikant by Parke) en vier ander lede van die kerkraad (die adviesspan) met die twee kandidate ’n onderhoud, waaruit ’n verslag saamgestel word wat aan die kerkraad voorgelê word by ’n spesiale vergadering.
  • Op 12 Desember sit die kerkraad vir die spesiale vergadering om die verslag te bespreek en daarvolgens iemand te beroep. Die verslag word bespreek en verkiesing/beroeping vind plaas.
  • Ds Louis van der Riet word verkies en vir die volgende twee Sondae word dit in die kerk afgekondig vir approbasie. Let wel, die volgende twee Sondae het in die skoolvakansie geval met beperkte dienste en minimale kerkbywoning.

Ekself was ongelukkig by daardie beroepsvergadering afwesig en het eers later die verslag ontvang. Die verslag noem geensins enigiets van enige kandidate se homoseksualiteit nie. Dit is ook oormatig sterk geskryf in die guns van die kandidaat wat toe wel aangestel is. Ook by ’n latere gesprek met ’n kerkraadslid wat wel teenwoordig was by die vergadering, asook uit die notule van die vergadering, is dit vir my duidelik gemaak dat die kandidaat se homoseksualiteit ook nie verbaal bespreek was nie. Dus het kerkraadslede gestem vir ’n kandidaat wat op ’n verslag ontsettend goed voorgelê was en wat dit basies onmoontlik gemaak het vir enigiemand om nie in sy guns te stem nie. Terwyl daar kerkraadslede om die tafel sit wat totaal onbewus was van die feit dat hulle sopas die eerste homoseksuele dominee in die NG Kerk se geskiedenis verkies het. Dit vind alles plaas terwyl die voorsitter van die ring, Dr. Thinus van Zyl, ook teenwoordig is by die vergadering. Net soos in enige ander vergadering wat ek oor die laaste vyf jaar bygewoon het, volg die kerkraad blindelings die aanbevelings van die voorsitter.

Dit was inderdaad eers op die volgende kerkraadsvergadering op 6 Februarie, nadat Ds van der Riet reeds vanaf 1 Februarie in diens was, wat sommige lede eers daarvan uitgevind het, kort voordat hyself by die vergadering aangesluit het. Daar kan nie beweer word dat die kerkraad ’n keuse gemaak het of ’n dapper besluit geneem het, terwyl dit blyk dat almal nie eers bewus was van dit waarvoor hulle in werklikheid gestem het nie.

Op ’n latere skriftelike versoek aan die voorsitter van die kerkraad oor hoekom die inligting rondom die kandidaat se homoseksualiteit versuim was, was die antwoord soos volg en ek haal aan:

“Die pre-advies (6 van ons) het die verslag opgestel vir die beroepingsvergadering. Ons gevoel was dat ons nie iemand se seksuele status behoort te bespreek asof dit ’n abnormaliteit is nie. Dit is immers wat ons 2016-besluit sê. Ons het dit byvoorbeeld nie met (die vorige aanstelling) se beroep gedoen nie. Iemand se seksuele status mag, in terme van ons besluit, nooit ’n faktor by oorweging wees nie.”

Was dit werklik die keuse van die pre-advies om te maak, indien die hele kerkraad veronderstel is om daaroor te moet stem? Die 2016-besluit, is ’n besluit wat op verskillende wyses geïnterpreteer kan word, ook ’n besluit waarvan lede wat sedertdien tot die kerkraad verkies is, nie noodwendig bewus van was nie. Die notule dui ook nie aan dat die 2016-besluit eers genoem was tydens die vergadering nie.

Ongetwyfeld is so ’n geskiedenis-skuddende aanstelling nie iets wat ligtelik opgeneem mag word nie, nie iets waarvan dele versuim moet word nie en verseker iets waaroor die hele kerkraad ’n ingeligte en nugtere besluit moes kon neem. God se werke hoef egter nooit agter versinsels, weglatings en verskonings weggesteek te word, om deurgevoer te word nie, die wil van mense wel. Indien daar volgens God se Woord gehandel was met die hele aanstelling, sou dit nie nodig gewees het om soveel weglatings en misleiding wat daaruit gespruit het, aanwesig te hê nie.

Dus, die feit dat die kerkraad eenparig gestem het vir Parkegemeente se homoseksuele leraar moet nooit gesien word as ’n eenparige besluit nie. Wel as ’n oningeligte besluit. Die gemeente het nie gekies nie. Daar is VIR hulle gekies.

Ek is in hierdie gemeente geroep om myself te wend tot die teologiese veld, ek het vertroue in ’n mentor gehad, my geloofsvorming het hier plaasgevind, maar hier is my vertroue in wantroue omskep, my liefde vir die geloofsruimte in ’n walging vir ’n plek wat valshede omhels. ’n Plek waar God geëer was is nou ’n plek waar God se Woord, Wet en Kerk verontagsaam en gemanipuleer word om mense se wense te pas. Waar daar eenheid was, is daar nou verdeeldheid, vriende word vyande, geloof verander in twyfel. Kinders wat belydenis moet aflê twyfel oor hoekom hul die Bybel moet ken, net om by ’n kerk te staan wat God se Woord aanpas om mense te vrede te stel. Dit is die nagevolge waaroor mense nie praat nie.

Sommige gemeentelede volg nog steeds blindelings alles na wat vir hulle vertel word, ander is in stille teenstand en kies selektief hul dienste volgens die leraar soos aangedui op die preekrooster. Dié wat egter nie saamstem nie, se vryheid van spraak, se vryheid van opinie en se soeke na God se waarheid word dikwels gestil, verwerp of afgemaak.

Was die besluit wat gemaak is deur enkele individue rakende die hele gemeente se toekoms een wat goed gaan uitwerk? Ek weet nie, ek gaan nie meer soontoe nie. Ek het wel geleer dat die huis van die Here, nooit in kompetisie moet staan met jou verhouding met die Here van die huis nie.

God eis onverdeelde trou. Ons kan nie dat ons diensbaarheid teenoor mense staan voor ons gehoorsaamheid aan God en Sy woord nie. Hy eis onverdeelde trou. #liefdebovrees, maar as die vrees dui op ’n heilige vrees en ontsag vir ’n Almagtige God, dan kies ek vrees bo liefde vir mense. Net soos wat God vir Abraham ’n skaapram gestuur het, so sal God ook weer ’n geloofstuiste vir my stuur. #ekenmyhuissaldieHeredien

– Liesl Saayman

Kommentaar

Tragies! Dit is amper al wat ’n mens kan sê.

’n Paar opmerkings

Volgens Liesl het die voorsitter van die kerkraad gesê: “Ons gevoel was dat ons nie iemand se seksuele status behoort te bespreek asof dit ’n abnormaliteit is nie… Iemand se seksuele status mag, in terme van ons besluit, nooit ’n faktor by oorweging wees nie.”

Hierdie is bog, om die minste te sê. Dit is bloot ’n regverdiging vir hulle besluit om doelbewus ’n gay persoon aan te stel. Daar is niks mee fout om in ’n onderhoud aan die kandidaat te vra wat sy siening oor homoseksualiteit is nie. As hulle dit aan Van der Riet gevra het in sy onderhoud, sou hy waarskynlik self daarmee uitgekom het dat hy gay is. Jy het ’n plig om die regte vrae aan kandidate te vra. Jy gaan byvoorbeeld nie iemand as jeugwerker aanstel wat ’n rekord het dat die persoon met kinders lol nie.

My opinie: die voorsitter is nie eerlik nie (om dit sagkens te stel).

Liesl sê: “Net soos in enige ander vergadering wat ek oor die laaste vyf jaar bygewoon het, volg die kerkraad blindelings die aanbevelings van die voorsitter.”

Dit is ongelukkig ’n feit. Die oorgrote meerderheid van lidmate en selfs kerkraadslede in ons kerke is skape wat die herder blindelings volg. Daar word bitter min teenstand gebied of vrae gevra. Die leiers word blindelings vertrou.

Wat leer ons uit hierdie voorval

Jy moet vir jouself besluit hoe belangrik hierdie kwessie is. Daar is twee redes hoekom dit uiters belangrik is:

  1. Volgens die Bybel is homoseksualiteit sonde. Wie is ons om dit te ontsondig? Toe die Israeliete afgode aanbid het, het hulle waarskynlik ook gedink dat dit nie so erg was nie terwyl dit ’n afskuwelikheid in God se oë was. Ware liefde aan God is gehoorsaamheid.
  2. As ons dinge wat só duidelik in die Bybel gesê word, begin betwyfel, dan het die Bybel geen gesag meer nie.

Kyk ook Die Bybel oor homoseksualiteit.

As jy nog nie weet wat jou predikant(e) en die voorsitter van die kerkraad se siening oor hierdie kwessie is nie, dan beteken dit dat hierdie kwessie nog nie vir jou belangrik genoeg was nie. EN dit beteken dat hierdie kwessie ook nie belangrik genoeg vir jou predikant(e) en voorsitter is nie of dat hulle selfs progay is.

As jy vind dat jou leiers progay is, dan het jy ’n probleem. As jy in jou gemeente wil aanbly, gaan jy moet aanvaar dat dit gaan wees om ’n geveg te veg. Nie om geestelik gevoed te word nie. Jy gaan stil moet word en by die Here hoor wat die pad vorentoe is.

Ek het ’n paar jaar gelede die volgende opgestel om kerkrade te help om die regte mense aan te stel: Vrae aan predikante (en ander) Miskien kan dit van nut wees.

Die NG Kerk het tans terminale kanker. Ons weet dat God terminale kankerpasiënte kan genees, maar ons weet ook dat dit nie baie gebeur nie. Tyd sal leer of God nog die NG Kerk wil red. Op die oomblik lyk dit nie goed nie…

1 thought on “Wat het werklik by NG Kerk Parke gebeur?”

  1. Ons moet ophou om te rebeleer teen God. Oms moet Gehoorsaam wees, Ons harte buig voor God, . Tot Bekering kom.
    Oms moet die Evangelie soos Jesus ons leer, verkondig….. Dit is wat ons almal predikante ingesluit moet doen.
    Wat in die Bybel staan moet reg oorgedra word.
    Mense mag nie mislei word nie.
    Lees Die Bybel volledig, nie net versies nie. Die Evangelie boodskap moet eenvoudig, maar duidelik en in die waarheid verkondig word.
    Kan nie net Genade preek nie, mense besef nie wat hul verkeerd doen nie.
    SGV is nie aanvaarbaar vir God nie. Huwelik is tussen man en vrou. (wat god saam gevoeg het)
    In die begin van die mens op aarde het God hul so saam gevoeg.
    Gehoorsaamheid aan, Die Drie Enige God is van uiterste belang.
    NG Kerk moet terug keer na God se Waardes en Opdragte, anders gaan die NG Kerk leeg loop.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui