Kerkleiers ontstel oor gay kwessie

Kyk ook:

Ek wil graag baie dankie sê aan Volksblad dat julle ruimte gee aan lidmate van die NG Kerk en ander Christene, wat op ’n manier uiting wil gee aan die diep ontsteltenis in ons harte oor wat nou in die NG Kerk aan die gebeur is.

Die nuwe moderator, Nelis Janse van Rensburg, vra dat ons aan mekaar moet vashou al verskil ons van mekaar. Dit is ongelukkig ’n haas onmoontlike versoek in die lig van die besluite wat nou by die Sinode geneem is.

Johannnes sê dat ons mense wat ’n “ander leer” bring nie moet groet nie (2 Joh:10). Ek het altyd gedink dit is darem hard van die apostel om so te praat. Nou verstaan ek watter geweldige implikasies dit het, wanneer mense wat veronderstel is om medegelowiges te wees, standpunte propageer wat direk met die Bybel in stryd is. Die hartlike broederliefde wat kenmerkend van die kerk moet wees (1 Kor 16:20) word onmoontlik gemaak.

Die moderator en die assessor, Dirkie van der Spuy, verklaar in die pastorale brief aan gemeentes dat hulle met “oop Bybels en biddende harte” na die wil van die Here gesoek het. Sulke woorde vererger die ontsteltenis net nog meer. Ons weet almal dat die Skrifgedeeltes wat duidelik oor homoseksuele gedrag gaan, nie die onderwerp van bespreking by die Sinode was nie. Hulle is eenvoudig van die tafel af gevee, met die uitspraak dat hulle nie van toepassing is op vandag se homoseksualiteit nie. Ander beginsels soos menswaardigheid en liefde, het uiteindelik bepaal wat die Sinode oor homoseksualiteit moes besluit en nie die Bybel nie.

Sulke optrede veroorsaak ’n gevoel dat die leierskap in die NG Kerk nie eerlik met die Bybel en met die lidmate van die NG Kerk omgaan nie.

Jan Louw

Reitz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui