Jehu

Jehu, seun van Josafat, seun van Nimsi, was die 10de koning van Israel (Noordelike ryk). Hy was vir 28 jaar aan bewind (884 vC tot 856 vC).

Hy is bekend daarvoor dat God hom aangestel het om die nageslag van Agab uit te wis. Dit het hy baie suksesvol gedoen. Dit word in 2 Konings 9-11 beskryf:

Jehu word tot koning gesalf (2 Konings 9:1-12)

Elisa het  ’n profeet gestuur om Jehu te salf as koning.

Jehu maak vir Joram dood (2 Konings 9:13-29)

Jehu het afgesit na Joram, die koning van Israel op daardie stadium, om hom dood te maak.

Oppad daarheen het een van Joram se wagters opgemerk: “Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos ’n mal mens!” (v20)

(v21) Joram het toe self ’n wa geneem en Jehu tegemoet gegaan. Toe Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?” Maar hy antwoord: “Wat? Vrede? Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isebel se afgodsdiens?” Joram het die wa omgepluk om te vlug maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie getref. Jehu gee toe opdrag om sy lyk op die stuk grond van Nabot te gaan gooi.

(v27) Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur het, het hy gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Hulle het hom op sy wa raakgeskiet.

Jehu maak vir Isebel dood (2 Koning 9:30-37)

Isebel, oorlede koning Agab se vrou, het gedink sy sal haar mooi maak en die dood vryspring, maar tevergeefs. Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri, koningsmoordenaar?” Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant?” Twee, drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe. Hy het beveel: “Gooi haar af!” Toe gooi hulle haar af. Van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hulle het haar doodgetrap. Hy het in die paleis ingegaan en gaan eet en drink. Daarna het hy gesê: “Sien tog maar om na hierdie vervloekte vrou. Begrawe haar, sy is darem ’n koning se dogter.” Hulle is weg om haar te gaan begrawe, maar hulle kon net die kopbeen, die voete en die hande kry. Toe hulle dit aan Jehu kom rapporteer, het hy gesê: “Dit is die woord van die Here wat deur sy dienaar Elia die Tisbiet gekom het: ‘Op die oop stuk grond in Jisreël sal die honde die vleis van Isebel opvreet.’ Op die oop stuk grond in Jisreël sal die lyk van Isebel wees soos mis in ’n land. Niemand sal kan sê dit is Isebel nie.”

Jehu laat die prinse van Samaria doodmaak (2 Konings 10:1-10)

In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. ’n Mens neem aan hulle was nog kinders, want hulle het oppassers gehad. Jehu het briewe geskryf na Samaria se leiers en gesê dat hulle een van die prinse moet aanstel as koning, maar dat hulle moes weet dat hulle hulself sou moes verdedig teen Jehu. Die leiers van die stad was bang en wou eerder hulleself aan Jehu ondewerp. Jehu se voorwaarde was dat hy die koppe van die 70 prinse wou hê. Die volgende dag is dit aan hom gegee.

Jehu maak die res van Agab se familie dood (2 Konings 10:11-17)

Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was. Hy het nie een laat wegkom nie.

Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom.

“Wie is julle?” het hy gevra.

“Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.”

Jehu het beveel: “Vang hulle.” Hulle het hulle gevang en hulle almal doodgemaak, altesaam twee en veertig.

Toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het.

Jehu maak die vereerders van Baäl dood (2 Kon 10:18-28)

Jehu het gemaak asof hy vir Baäl wil aanbid en kry toe al die vereerders van Baäl in die tempel bymekaar. Toe die tempel van hoek tot kant vol was het hy opdrag gegee aan 80 man buite die tempel om in te gaan en almal dood te maak.

Beoordeling van Jehu se bewind (2 Kon 10:29-36)

God het Jehu geseën omdat hy gehoorsaam was in sy taak. In vers 30 word die volgende gesê:

(30)Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

Jehu het egter steeds toegelaat dat Israel die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, nog vereer is.

In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien.

Jehu is oorlede, en hulle het hom in Samaria begrawe.

In Hosea 1 lees ons: (4)Die Here sê toe vir Hosea: Noem die seun Jisreël, want Ek gaan binnekort die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël en Ek gaan die koningskap in Israel tot niet maak.

Jehu het dus lyk my sy hand oorspeel, alhoewel ‘n mens niks daarvan in 2 Konings kan aflei nie.

Jeremia 48: (10)’n Vloek rus op elkeen wat weier om die werk van die Here te doen. ’n Vloek rus ook op elkeen wat nie dié doodmaak wat die Here hulle beveel het om dood te maak nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui