Vir die Here is een dag soos duisend jaar …

Opsomming

Genesis skipperaars wil 2 Petrus 3:8 (…vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.) gebruik om te redeneer dat die dae in Genesis 1 nie as 24-uur dae gesien moet word nie, maar langer tydperke. Hierdie vers verwys egter spesifiek na die wederkoms en nie na die skepping nie. Oor die wederkoms was Jesus hoegenaamd nie spesifiek nie. Genesis 1 aan die ander kant is baie spesifiek en die woord yôm, wat spesifiek “dag” beteken, word gebruik vir die dae in Genesis 1. As jy 2 Pet 3:8 wil gebruik om die dae in Genesis 1 te bevraagteken dan is al die dae in die Bybel oop vir interpretasie. Dit is baie dieselfde as om soos volg te redeneer: Daar is dinge in die Ou Testament wat tot niet verklaar is, soos die besnydenis, offer van diere, eet van onrein diere en die heiliging van die Sabbat. Ons sien ook nie meer tattoeëermerke as ’n sonde nie. Daarom hoef ons ook nie te glo dat homoseksualiteit sonde is nie.

In 2 Petrus 3:8 staan:

(8)…vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Baie mense gebruik hierdie vers om te redeneer dat die dae waarvan gepraat word in Genesis 1 ook as miljoene jare gesien kan word. Dit is egter nie ’n geldige redenasie nie.

2 Petrus 3 gaan oor die wederkoms en oordeelsdag, geensins oor die skepping nie. Petrus herhaal die beeld van Noag en die sondvloed wat Jesus ook in Matteus 24 gebruik het oor die wederkoms:

2 Petrus 3: (3)Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot (4)en sê: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.” (5)Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede ’n hemel en ’n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. (6)En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. (7)Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. (8)Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

Matteus 24: (37)Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. (38)In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

Daar was egter mense wat die wederkoms in hulle leeftyd verwag het, waarskynlik na aanleiding van wat Jesus in Matteus 24 gesê het:

(34)Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.

Daarom gebruik Petrus hierdie woorde: “vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” Dit is om mense te laat verstaan dat dit langer kan neem vir Jesus om te kom as wat hulle dink. Dit was die bedoeling van hierdie woorde.

Petrus is reg as hy sê dat een dag vir die Here soos ’n duisend jaar is en anders om. Dit staan ook in Psalms 90: (4)Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Die verskil tussen 2 Petrus 3:8 en Genesis 1 is dat die Bybel nooit ’n spesifieke tyd gee vir die wederkoms nie. In Matteus 24:36 sê Jesus:

(36)“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

In Genesis 1 is die Bybel egter baie duidelik oor die tydsbestek van die skepping.

  • Na elke skeppingsdag kry jy die woorde: “Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die Xde dag.
  • Selfs in die tien gebooie wat God met sy eie vinger geskryf het: “Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Die tydsbestek vir die wederkoms is vaag. Die tydsbestek vir die skepping is glad nie vaag nie.

Verdere argumente

Orals waar die Bybel ’n tydsperiode beskryf, of dit in dae of ure is, dan interpreteer lesers dit letterlik. Hoekom word die lengte van “dag” (“yôm” in Hebreeus) slegs in Genesis bevraagteken? Dit is duidelik as gevolg van invloede van buite die Bybel – om evolusie en lang tydperke met die Bybel te versoen.

As 2 Petrus 3:8 gebruik wil word om die periode van die dae in Genesis 1 te wil bevraagteken, dan kan al die dae in die Bybel bevraagteken word op grond van hierdie gedeelte. Dan was Jesus ook nie noodwendig drie dae in die graf nie.

Alhoewel nie so ’n sterk argument nie, kan ’n mens ook redeneer dat Petrus praat van “duisend jaar” en nie “miljoene jare” nie. As die aarde werklik miljoene jare oud was en as mens hierdie op die skepping van toepassing moes maak, sou daar sekerlik gestaan het “miljoene” of ten minste “duisende” en nie net “duisend” nie.

Kommentaar

Jan Louw

Nog ’n argument om by te voeg is dat God in ’n ewige werklikheid bestaan. Ons beleef tyd in terme van ure, dae, maande, jare, eeue en millenia. God is bo tyd verhewe. Daarom is duisend jaar vir Hom soos een dag. As God egter die tyd spesifiseer, dan jy nie die “een dag soos duisend jaar”-argument gebruik nie.

1 thought on “Vir die Here is een dag soos duisend jaar …”

  1. 1. Dankie, ek het nooit só daaroor gedink nie : “…met sy eie vinger geskryf het: …” (Ons hoor die 10 gebooie, maar dalk luister ons nie?)

    2. Ons kan nie 5000 mense voer met 5 brode en 2 vissies nie, óf die storm en see sê om te bedaar nie; net so min kan ons die wêreld in 6 dae skep… ons het werklik te doen met ’n wonderwerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui