Is evolusie nie dalk pseudowetenskap nie?

Die volgende brief is aan Rapport geskryf na aanleiding van SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in (26 Jul 2020). Dit is egter nie geplaas nie.

********

Is evolusie nie dalk pseudowetenskap nie?

Johan Smit, Parys

9 Augustus 2020

Wanneer leerinstellings voorgee om kritiese denke te help bevorder, maar ’n legitieme wêreldbeskouing geskoei op die Joods-Christelike skeppingsverhaal probeer muilband, ontbloot dit ’n sinistêre agenda (In die land van Noag is skeppers koning, Rapport 2 Augustus 2020). Meer nog wanneer iemand soos George Claassen persoonlik beledigend raak, asof hy nie in staat is om die bal behoorlik te speel nie, en dus die man moet uithaal.

Is die skeppingsleer pseudowetenskap soos hy beweer? Wel, wat is wetenskap? Dis die soeke na kennis deur waarneming en eksperimentering. Ons singtuiglike waarnemingsvermoë waarop die wetenskaplike metode rus, is egter beperk tot die fisiese dimensie. Beteken dit daar bestaan nie ’n geestelike dimensie wat ’n God en hiernamaals insluit nie? Die antwoord op hierdie vraag is waar Bybelgelowiges en hoofstroomwetenskaplikes verskil.

Bybelgelowiges glo in God as die Skepper van beide die fisiese en geestelike realms, en alhoewel Hy nie fisies direk waarneembaar is nie, Homself aan die mens op geestelik (en soms fisiese) wyse openbaar het, vandaar die Bybel. Ja dis ’n geloof, oftwel ’n wêreldbeskouing.

Sekulêre wetenskaplikes glo (let wel!) dat die slotsom van alle kennis in die materiële dimensie opgesluit is (materialisme), en dat alles waarneembaar ’n natuurlike verklaring moet hê (filosofiese naturalisme). Die geestelike dimensie, en moontlike bestaan van God word dus van meet af uitgesluit as ’n moontlikheid. Ja dis ’n geloof, oftwel ’n wêreldbeskouing.

Wanneer ons oor oorsprong debateer (historiese of forensiese wetenskap), is dit belangrik om te besef dat beide kampe dieselfde data tot hul beskikking het, maar dit verskillend interpreteer vanuit onderskeie wêreldbeskouiings (voorveronderstellings). Ter illustrasie interpreteer Gerrie en Barry van Oscar-faam dieselfde forensiese bewyse verskillend weens hul voorveronderstellings.

Dis duidelik dat die debat nie gaan oor geloof teenoor wetenskap nie, maar wetenskap wat beoefen word vanuit twee kontrasterende geloofsoortuigings. Evolusie is dus nie objektiewe wetenskap nie, maar (net soos skepping), ’n subjektiewe (godsdienstige?) verklaring van die ontstaan en ontwikkeling van lewe gebore vanuit die ateïstiese, naturalistiese wêreldbeskouing.

Waaroor ek en George wel saamstem, is dat bewyse die grondslag van wetenskap is, en hier val evolusie plat. Evolusie vereis die toevoeging van genetiese inligting, wat nog nóóit waargeneem is nie. Dis nie bloot net die verandering van spesies oor tyd soos ons mislei word nie. Die veranderinge in vinkbekkies oor tyd is waarneembare wetenskap. Die interpretasie dat dit as bewys dien dat vinke, valke en volstruise ’n voorouer deel, is verregaande. Hoekom nie eerder ’n Godgegewe oorlewingsprogrammering in die epigenetiese DNS-kode nie?

Gepraat van DNS, dis so ’n duidelike bewys van die Skepperhand as wat hierdie brief bewys is van my outeurskap. Om dit toe te skryf as blinde evolusie oor tyd, is soos om te beweer hierdie brief is die gevolg van lukrake letter-raak van my selfoon in my broeksak. Erger nog, die bewering dat die selfoon uit niks ontstaan het. Is dit nie juis pseudowetenskaplik nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui