NG Kerk-lidmate beplan plakkaat-veldtog

Vir meer oor hierdie aangeleentheid, kyk Plakkaatveldtog tydens 2011 sinode. Kyk ook die kommentaar onderaan die artikel.

*********

NG Kerk-lidmate beplan plakkaat-veldtog | Volksblad

2011-10-07 22:19

Karen Ebersohn

’n “DRAMATIESE” plakkaat-veldtog deur besorgde lidmate van die NG Kerk word beplan vir die duur van die Algemene Sinode se vergadering wat Maandag in Boksburg begin.

Volksblad verneem die veldtog word ondersteun deur die skrywers en medewerkers van die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme wat verlede jaar verskyn het. Die veldtog is om sake waaroor in die boek geskryf is, aan die lig te bring, het een van die beswaardes gesê.

Volksblad het verlede jaar berig die boek is deur ’n groep besorgde lidmate en predikante uit die NG Kerk saamgestel.

Dit handel oor “teologiese veranderings in die kerk en die ingrypende implikasies wat dit het op sake soos die gesag en die gebruik van die Bybel, homoseksualiteit, saambly en die huwelik”.

En ja, die boek is dalk omstrede en sal mense skok, het die skrywers gewaarsku.

Drs. Henrietta Klaasing, met ’n doktorsgraad in teologie, en Hennie Mouton, ’n ingenieur van Pretoria, is die samestellers en medeskrywers.

Mouton het destyds gesê die boek is om NG lidmate te kry om na Bybelse waarhede terug te keer.

“Daar word gekyk na hoe die ommekeer in Skrifbeskouing ook nie Skrifkritiek en Skrifgebruik onaangetas gelaat het nie. Dit het tot gevolg dat Bybelwaarhede soos die opstanding van Christus, Sy maagdelike geboorte, Sy Godheid en selfs Sy plaasvervangende sterwe verloën word.”

Die plakkate vir die veldtog gaan môre reeds aangebring word en gaan in die strate langs die Sinode se kampterrein opgeplak word. Daar gaan plakkate by die ingang en hek wees, is aan Volksblad gesê.

Mouton het gister bevestig die veldtog gaan plaasvind, maar wou nie meer inligting verskaf nie.

Prof. Piet Strauss, uittredende moderator van die NG Kerk, sê om ’n veldtog of betoging te hou is nie die kerk se manier om probleme op te los nie.

“In die kerk hou ons vergaderings en tree in gesprek met mekaar.”

Strauss sê met so veldtog skep die beswaarde lidmate net meer afstand tussen hulle en die Sinode omdat hulle nie deel van die agenda van die Sinode is nie. Die ander skrywers van die boek is ds. Gideon Aggenbag, ’n emeritus-predikant, mnr. Daniel Louw, ’n ingenieur, ds. Jan Louw, NG predikant op Secunda, dr. Koos Visser, ’n mediese spesialis, en ds. Hanan Viljoen, emeritus-predikant.

Die Sinode duur tot Donderdag.

Volksblad

Kommentaar

Hier is die lys van die plakkate wat gedruk is.

  • Sinode, wees aan God gehoorsaam, nie aan mense
  • Jesus IS die Seun van God en self ook God
  • Jesus het FISIES uit die dood opgestaan
  • Jesus IS die enigste Weg tot saligheid
  • Die HELE Bybel IS die Woord van God
  • HERE U Woord is die WAARHEID
  • Diversiteit ten koste van die WAARHEID
  • Judas het 30 munte gekry, WAT KRY JY?
  • Keur die Bybel homoseks verhoudings goed?
  • PASOP!!!! Die Bose bestaan werklik
  • Wie, wat is die Trojaanse perd in die NGK?
  • Wie skuil in die Trojaanse perd in die NGK
  • ‘n Ander Jesus – ’n Ander Evangelie
  • Gesonde teologie = ’n gesonde Kerk
  • Daar is groot droefheid by my oor my broers

Daniel Louw

In ’n mate kan ’n mens verstaan dat prof Piet Strauss hierdie opmerking maak:

  1. In ’n mate was hy as moderator, verplig om dit te sê.
  2. Veldtogte is definitief nie die ideale manier om jou standpunt oor te dra nie.

As ek die volgende noem sal prof Strauss dalk beter verstaan:

Hierdie veldtog was ’n noodkreet vanweë verskeie pogings om die teologiese verval in die NG Kerk te stuit juis omdat die amptelike kanale nie gewerk het nie.

Vanaf Mei 2010 is daar al gevegte op Diversiteitsforum waar ons ons saak probeer stel het, maar baie van die behoudende skrywes is verwyder (www.glodiebybel.co.za bevat die meeste van hierdie kommunikasie). Die vorige webmeester, Charles Malan, was ver van behoudend en was ons openlik vyandig gesind. Nou is Gerhard Bothma aangestel as die nuwe webmeester (hy word ook genoem in Die Trojaanse Perd in die NG Kerk) en hy is in dieselfde denkskool as Julian Müller, so ons het nie goeie verwagtige dat daar ’n balans gaan kom op die Diversiteitsforum nie.

Wat die Kerkbode betref is daar al baie briewe geskryf na beide die gedrukte weergawe en ook Kerbode aanlyn. Kerkbode is deesdae meer ’n debatsforum en teelaarde van alternatiewe idees, as ’n blad wat NGK lidmate se geloof versterk of die kerk se beeld op bou. Dit is onaanvaarbaar dat Abel Pienaar se boek Saam opsoek na God, op kerkbode.co.za se voorblad adverteer word en dat daar voorheen ’n skakel na kletskerk.co.za was (Kletskerk is Jean Oosthuizen, die nuusredakteur van Kerkbode, se webwerf, waar allerlei Godlasterlikhede kwytgeraak word en geen poging van Oosthuizen is om die Christelike geloof te verdedig nie). Dit terwyl ander behoudende webblaaie soos creation.com, answersingenesis.org, tektonics.org, reasonablefaith.org en ander apologetiese webblaaie nooit ’n kans sal staan om positiewe publisiteit op Kerkbode te kry nie. Ook word daar by UP se teologiese fakulteit eerder na ateïste geluister as na mense wat in ’n letterlike skepping volgens Genesis 1 glo (kyk Seisoen van (eensydig) luister!).

Ferdie Mulder het sy boek, Opgestaan gepubliseer, waar duidelik vertel word wat gebeur het by UP te teologiese fakulteit. Wat gaan daarvan word? Gaan daardie skandelike gebeurtenis ook maar sommer deur die kerkleiding onder die mat ingevee word? Gaan die kwessies daarin enigsins bespreek word, of gaan dit doodgeswyg word? Julian Müller twyfel glad nie daarin dat ons Jesus se opstanding metafories moet interpreteer nie en in Dít wat ons nié dink sê hy:

Ek, aan die ander kant, sou myself ’n post-teïs wou noem. Dit beteken ek aanvaar doelbewus dat daar ’n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het.

Hy verklaar dus ondubbelsinnig en skaamteloos dat hy klaar is met die God van die Bybel, met God as ’n Persoon. Maar tog is hy nog aan UP teologiese fakulteit verbonde waar hy ’n groot invloed het op die opvoeding van teologiese studente.

Dit is onaanvaarbaar dat Ben du Toit en Kobus Gerber in 2006 names die NGK in ’n voorlegging aan die parlement gevra het dat homoseksuele huwelike gewettig moet word. Beide beklee tans nog hoë posisies in die NGK en mens kry nie eers die idee dat hulle daaroor aangespreek is nie.

Die sinode wil weer praat oor die bose (kyk Sinode praat wéér oor die bose). Daar wil gevra word om ruimte te maak vir mense wat nie glo in die persoonlike aard van die duiwel en demone nie. Dit is heeltemal onaanvaarbaar. Die bose is een van die kernwaarhede van ons geloof wat nie bevraagteken kan word nie. As daar nie ’n duiwel is nie, waarvan moes Jesus ons kom red het met sy kruisdood? Om die bose te bevraagteken is om die hele Christelike geloof te bevraagteken. Ben du Toit sê in NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel dat hy nie glo in die bestaan van die duiwel nie.

Wat stel behoudende kerkleiers voor hoe hierdie situasies hanteer moet word? Daar is die afgelope jare al baie in gesprek getree, maar dit het geen uitwerking gehad nie. Dit is presies die rede hoekom die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk gebore is. Maar toe kry dit slegs negatiewe publisiteit van die NGK se kant af. Daar is baie klem gelê op Mike Smuts se resensie oor die boek, maar nooit is verwys na die replieke op sy resensie nie.

Verder is die boek, Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, wel deel van die agenda van die sinode (kyk NG Kerk sinode 2011) en dit was ook die rede hoekom die plakkate “www.glodiebybel.co.za” bevat.

Wat moet nog gedoen word om kerkleiers te laat besef dat alles nie pluis is in die NGK nie en dat dit beheer word deur liberales met hul eie agenda? Is Esegiël 8 op die NGK leierskap van toepassing:

(3)Die Gees het my gebring na die ingang van die poort aan die binnekant, die een wat na die noorde toe kyk, daar waar die afgodsbeeld gestaan het wat soveel heftige toorn veroorsaak het. … (7)Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek ’n gat in die muur. … (9)God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!” … (10)Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is. (11)Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en ’n geurige wierookwolk het opgestyg. (12)God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.” (13)Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,” (14)en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus. (15)Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.” (16)Hy bring my toe na die binneste voorhof van die huis van die Here toe. Daar in die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was ’n stuk of vyf en twintig man met hulle rug na die tempel van die Here toe en hulle gesig na die ooste toe, en hulle was besig om in aanbidding voor die son neer te val na die ooste toe. (18)Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.”

Esegiël 9:6 Maak dood en roei uit die oumense, die jongmanne en jong vroue, die kinders en vrouens; moet net nie raak aan dié wat die merk het nie. Begin by my heiligdom!” Hulle het toe begin met die ou manne voor die tempel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui