Beswaardes eis getrouheid aan Bybel

Vir meer oor hierdie aangeleentheid, kyk Plakkaatveldtog tydens 2011 sinode.

*******

Beswaardes eis getrouheid aan Bybel | Rapport

Deur Marlene Malan

2011-10-08

Die NG Kerk is op ’n “dwaalpad”, meen ’n groep van sowat 50 “bekommerde, besorgde Bybelgetroue NG lidmate” wat beoog om by die NG Kerk se algemene sinode met plakkate te betoog.

Dié sinode begin môre in Boksburg.

Die beswaardes meen die kerk predik toenemend ’n “sosiale teologie” wat méér humanisties as Bybelgetrou is.

Hulle het aan Rapport gesê hulle probeer “om die NG kerkleiers so ver te kry om al die vals leerstellings wat subtiel die kerk ingesypel het, te repudieer”.

Die groepie meen die gesag van die Bybel word toenemend afgebreek.

Van die besware handel oor die ontkenning van die Bybelse skeppingsverhaal, die ontkenning van die sondeval en bestaan van die duiwel, asook die ontkenning van die maagdelike geboorte en die Godheid van Jesus.

Mnr. Daniel Louw, ’n chemiese ingenieur van Secunda, sê “teologiestudente word vandag subtiel geleer dat die Bybel nie betroubaar kan wees nie, want die ‘wetenskap’ het die Bybel kwansuis verkeerd bewys”.

“Ek praat van dinge soos Genesis 1, Jesus se wonderwerke, die maagdelike geboorte, sy opstanding, en redding slegs deur Jesus. Baie studente val hiervoor.

“Ons word fundamentaliste genoem en daarvan beskuldig dat ons nie mense ruimte gee om te twyfel nie. Dis heeltemal onwaar.”

Volgens dr. Wynand Louw van Melkbosstrand “is daar dinge wat my in die NG Kerk ontuis laat voel. Kerkbode dra artikels wat teologie verkondig, wat eenvoudig nie die Evangelie is nie”.

“Basiese grondwaarhede word onder verdenking geplaas. Ek wil niks met die sogenaamde bevrydingsteologie te doen hê nie.”

Sommige binne die NG Kerk “stuur Christene reguit hel toe deur gelowe gelyk te stel,” sê mnr. Danie Strydom van Pretoria.

Mev. Anna Louw van Ladybrand sê: “Besorgde lidmate voel die NG Kerk het verraad gepleeg teenoor die Here tydens die parlementêre voorlegging oor die Wet op Burgerlike Verbintenisse.”

Van die groep beswaardes was betrokke by die skryf van die boek Die Trojaanse perd wat die NG Kerk kritiseer oor die koers wat hy inslaan. Hulle noem hulself “die lidmaatforum”.

Dié boek is uit NG Kerk-geledere sterk gekritiseer.

Kommentaar

Ongelukkig het die sterk kritiek op die boek (Die Trojaanse perd wat die NG Kerk) uit NG Kerk-geledere geen sinvolle bespreking van die werklike inhoud van die boek ingesluit nie.  Sommige kritiek (soos dié van dr Mike Smuts) was selfs op wanpersepsies van wat die skrywers sou glo, gebaseer.  Die repliek van die skrywers op die soort kritiek, is eenvoudig deur die NG-leierskap geïgnoreer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui