Seisoen van (eensydig) luister!

Kyk ook:

Die volgende is van HIER gekopieer. Kyk ook HIER vir die Engelse weergawe.

**********

Seisoen van (eensydig) luister!

Uitgesproke ateïs en evolusionis prof. George Claassen was onlangs die hoofspreker by die openingsdag plegtigheid van die teologiese fakulteit, Universiteit van Pretoria. Die ongewone keuse was vermoedelik aangespoor deur die betrokke kerkgenootskap wat poog om in ’n ‘seisoen van luister’ oor grense heen uit te reik. Etlike honderde leraars, teoloë, akademici, studente en besoekers het die geleentheid bygewoon.

Claassen (’n dosent in wetenskap-joernalistiek, voorsitter van Skeptic South Africa en Darwin/Dawkins-aanhanger) is berug vir sy venynige aanvalle teen die Christendom, en in besonder, skeppingsleerders (‘kreasioniste’). In sy aanbieding het Claassen geloof in ’n Skepper-God betwyfel en godsdiens (lees Christelike geloof) afgemaak as die algemeenste vorm van bygeloof. Hy het passievol aangevoer dat evolusie bo alle redelike twyfel bewys is en dat dit as ’n feit aanvaar behoort te word deur alle denkende mense, insluitende Christene. Veral kommerwekkend was sy stelling wat daarop gesinspeel het dat uitsprake van wetenskaplikes van die dag, groter gesag dra as die Heilige Gees deur die Skrif (die Bybel).

Na afloop van die aanbieding het teoloë ’n geleentheid gehad om op te kom vir die Christelike geloof (Phil 1:7,17), en terselfdertyd nie-Christene se vurige geloof verbintenis tot evolusie te ontbloot. Dit is belangrik om daarop te let dat Claassen niegodsdienstig neutraal’ is nie; sy gereelde woordevloed teen die Christendom ontbloot sy eie religieuse verbintenis tot naturalisme, (die natuur is al wat daar is), en tot ’n filosofiese benadering wat die feilbare rede van die gevalle mens verhef bo die onfeilbare openbaring van God in die Bybel. Solank die Kerk die geveinsde ‘neutraliteit’ van ateïste aanvaar, en nalaat om aan de toon dat ’n stryd betrokke is tussen twee teenstellende godsdienstige wêreldbeskouings, sal Christene toenemend sleg daarvan afkom.

Op die openingsdag is Claassen se swak standpunt grotendeels onbetwis gelaat. Die replieke gelewer deur twee teoloë was niks minder nie as ’n regstreekse ‘oorgawe’, aangesien hulle grotendeels saamgestem het met Claassen se beskouinge oor evolusie. Prof. Cornél du Toit aanvaar onder meer (verkeerdelik) die opvatting van evolusioniste dat die werk van alle natuurwetenskaplikes gegrond is op evolusie (weerspieël in die dikwels herhaalde mantra ‘niks in biologie maak sin behalwe in die lig van evolusie’). Prof. Danie Veldsman is (onnodig) besorg daaroor dat die jongste bevindinge in die genetika oënskynlik ’n Skepper-God ontken, met die teologie wat nog ’n bevredigende antwoord moet vind, maar hy blyk onbewus te wees daarvan dat wetenskaplike verklarings hiervoor beskikbaar is in agtenswaardige skeppingswetenskaplike hulpbronne. Deur daarop aan te dring dat geen goeie wetenskaplike redes bestaan om die mens van evolusie uit te sluit, wil dit voorkom asof hy ook, wat die ‘herkoms van die mens’ betref, oningelig is oor wetenskaplike (en Bybelse) bewysgronde aan die keersy van die debat. (Vir bykomstige inligting oor die byeenkoms, en waarskynlike uitwerking op die Kerk, kyk artikel deur dr. Hennie Mouton).

Met dr. Mark Harwood in April op toer in Suid-Afrika, het CMI–SA die UP Fakulteit genader met die versoek dat dr. Harwood (ontwerp-ingenieur en redevoerder vir CMI–Australië) die geleentheid gegee word om die ander sy van die debat toe te lig. Volgens prof. Julian Müller (Hoof van Praktiese Teologie) was dit nie moontlik om aan die versoek te voldoen,

“Die Fakulteit Teologie aan UP staan nie op ’n kreasionistiese standpunt nie en kan ongelukkig nie aan [Dr Mark Harwood] ’n platform gee nie. Ons beskouing oor skepping is nie teenoor, en in teenstelling met, die evolusieteorie nie. Ons onderskryf die ‘seisoen van luister’, maar nie ten koste van gesonde, wetenskaplike ondersoeke nie.”

Prof. Müller se reaksie laat verskeie vrae ontstaan. Was dit sy eensydig besluit om dr. Harwood weg te wys? Is Müller gewoonweg onbewus van die Bybelse grondslag van die moderne wetenskap, of van heelparty Bybelgelowige wetenskaplikes wat aan die spits gestaan het van fundamentele ‘wetenskaplike ondersoeke’ lank voor evolusie en Darwin op die toneel verskyn het? Hoe opreg is die UP Fakulteit in hul ondersteuning van die ‘seisoen van luister’ as ’n godloënaar met ope arms verwelkom word, maar ’n belydende Christen weggewys word? Hoeveel van diegene wat die openingsgeleentheid bygewoon het, sou bereid wees om te luister na ’n goed-beredeneerde, Bybelgetroue weergawe aan die ‘keersy’ van hierdie belangrike kwessie, aangebied deur ’n internasionaal-befaamde skeppingsleerder wat (anders as Claassen) ook ’n opgeleide wetenskaplike is wat getuig van bekering en geloof in Jesus Christus?

Vir te lank reeds word teoloë, bedienaars van die Woord en gelowiges in Suid-Afrika geïntimideer, selfs onder druk geplaas om die onwetenskaplike aansprake van evolusioniste te aanvaar. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die Bybel in sommige kringe gekompromitteer is, gevolg deur die toenemende ondermyning van die evangelie-boodskap in die tyd wat ons leef. Deur ‘miljoene jare van dood, pyn en lyding’ te stel as van voor die Sondeval van die mens te wees, het ’n regstreekse uitwerking op die versoeningswerk van Christus—die rede hoekom Jesus ’n fisieke dood aan die kruis moes ly vir die sonde van die mensdom (Heb 2:9).

Creation Ministries International se roeping en opdrag is om Christene wêreldwyd toe te rus en te bemoedig om antwoorde te gee (1 Petrus 3:15) in die konteks van die skepping/evolusie-debat, en om die gesag en akkuraatheid van die Bybel te verdedig en te handhaaf vanaf die eerste vers.

Henk Gous se mening oor hierdie gebeure aan Jean Oosthuizen

Hallo Jean
Graag

Dit is noodsaaklik dat Christene direk gesprek voer met mense wat anders glo of glad nie glo dat God bestaan nie. Jesus was meer op die markplein as in die tempel.

George Claassen het duidelik gewys dat evolusie ’n standhoudende en geldige teorie is. Christen moet dus nie daarmee probeer verskil deur evolusie onwetenskaplik te probeer verklaar nie. Dit sal jou verspot maak. Ons moet eerder verskil o.g.v. die ‘onwetenskaplike’ afleiding van George en ander persone dat evolusie bewys dat daar geen God is nie.

Dis waar Danie Veldsman in sy repliek tereg gesê het dat George ‘onkant speel’, d.w.s. sy eie reëls van wetenskapsbeoefening verbreek.
Die waarde van diepgaande gesprek soos hierdie is die feit dat Christene die onmoontlikheid om aan kreasionisme vas te hou, besef, en die wonderlike moontlikheid van evolusie as God se werkswyse ontdek.

Copernicus het christene gehelp om te beweeg van die misverstand dat God die aarde op pilare vashou, na die wonderlike verstaan dat God die aarde in vaste bane vashou. Wetenskaplikes help ons om te verstaan dat die skepping ’n 4,7 miljard jaar oue evolusionêre kunswerk van God is, nie net 6 dae soos die skeppingsverhaal dit metafories teken nie.

Ek het gevind dat George Claasen op sy rustige manier tog maar alle verskynings van godsdiens, die ekstreme misbruik van ‘Crossing over’
saam met ernstige teologie, as bygeloof afskryf. Hy stem saam met Dunbar dat die ‘eienaardige verskynsel van godsdiens’ bloot ’n beperkte waarde het om mense evolusionêr te help oorleef, deur bv. mense positief beter te laat voel nes ’n placebo medisyne soms ook beterskap inbring.

Hy het dus die 150 teoloë in die oë gekyk en gesê: jul bedryf bygeloof.

Groete
Henk Gous

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui