Johannes de Koning: Bekering by die Algemene Sinode? Wat het gebeur sedert Maart 2022?

Op 4 Oktober 2022 het ds Johannes de Koning van NG gemeente Tsumeb in Namibië, die volgende video op Youtube vrygestel:

Bekering by die Algemene Sinode? Wat het gebeur sedert Maart 2022?

Hier volg ’n paar uittreksels uit die video met kommentaar tussenin.

*********

00:33 Die Namibiese sinode het in Maart 2022 ’n persverklaring goedgekeur wat hoofsaaklik die volgende gesê het:

  • “Die Sinode van Namibië is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die NG-kerk se Algemene Sinode te stap”
  • “Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode losmaak in gevolge Artikel 37…”

03:43 Wat het intussen gebeur?

05:22 “Net so terloops, die algemene sinode (AS) self is natuurlik ’n vergadering wat nie op die oomblik in sitting is nie. So, tegnies kan die AS hulleself nie nou bekeer nie, want hulle sou dit net kon doen as hulle in sitting is. Aan die ander kant sou daar niks kon wees wat die leierskap van die NG Kerk se algemene sinodale moderamen (ASM) verhoed om ’n buitengewone algemene sinode saam te roep nie.”

[Kommentaar: In ’n mate is dit nie billik om te verwag dat die ASM weer ’n buitengewone AS saamroep nie: In 2015 het die AS selfdegeslagverhoudings (SGV) goedgekeur. In 2016 is dit tydens ’n buitengewone AS omgedraai. In 2019 is dit weer goedgekeur. Daar kan nie elke keer ’n buitengewone sinode gehou word indien daar verskil word oor sinodebesluite nie. Soos dit is, het die NGK reeds ’n bespotting geword. Om weer ’n buitengewone AS te hou, sal ’n totale bespotting van die NG Kerk maak. Kyk ook Die NG Kerk en homoseksualiteit.]

06:41 Die AS het deur sy goedkeuring van SGV, 2000 jaar se skrifinterpretasie en kerklike tradisie oor die wese van die huwelik in beginsel van die tafel afgevee. … deel van hierdie aanslag teen die huwelik en gesonde gesinne kom juis vanuit die aktivistiese LGBTQIA+ ideologieë. … Daarom kan die kerk nie nou bekostig om te sê: “ons wil nie ’n duidelike standpunt inneem nie”

08:20 In 2016 het die Namibiese Sinode ’n duidelike standpunt ingeneem oor SGV. Die Namibiese standpunt is lynreg in botsing met die AS se standpunt en op die langeduur is dit onuithoudbaar. Niemand kan vir altyd op twee stoele bly sit nie. Wat sou gebeur as ’n aktiewe homoseksuele predikant deur ’n Namibiese sinode beroep word? Kan hy hier afgekeur word?

[Kommentaar: Dit is ’n uitstekende vraag! Dit is presies dieselfde vraag wat ek gevra het toe die Goudlandse sinode vroeër hierdie jaar versuim het om iets daadwerkliks te doen en bloot besluit het om hulle bestaande besluit van 2015 te herbevestig.]

09:28 Is daar enige stappe, tekens of voornemens van bekering by die ASM of leiersfigure binne die ASM? Die eerlike antwoord is NEE! Is daar betekenisvolle vooruitsigte dat dit iewers in die nabye toekoms, soos byvoorbeeld by die beplande AS van 2023 sou kon gebeur? As ek eerlik moet wees is die kanse uiters skraal. By God is alles moontlik, maar ons moet kyk na die rigting waarin dinge beweeg. Net prakties: hoe gaan die kerk dit regkry om hierdie dwaalbesluit om te keer en byvoorbeeld aktiewe homoseksuele wat reeds bevestig is in die ampte uit hulle ampte te verwyder [soos Louis van der Riet, Philipp Dietmann en Stefan de Kerk]. Ons weet almal die kerk het reeds ’n hofsaak verloor. Hoeveel hofsake gaan daar kan wees? Nee, kom ons wees maar eerlik, dit lyk op hierdie stadium geensins of daar ’n voorneme van bekering by ons kerklike strukture (ASM) te bespeur is nie. Inteendeel, die ASM se dagbestuur het onlangs ’n kommerwekkende verklaring uitgereik.

[Kommentaar: Om die besluit tydens die volgende AS in 2023 om te draai, sal ook vir revisie gevra moet word (kyk Kennis van revisie). Dit sal baie waarskynlik onsuksesvol wees.]

13:30 Kan gemeentes regtig self besluit oor fundamentele, etiese sake wat duidelik in die skrif verwoord word? Sou ’n gemeente kon besluit of moord of diefstal reg is? Wat gaan gebeur as een gemeente ’n persoon onder tug plaas en ’n buurgemeente verkies of beroep daardie selfde persoon tot die leraarsamp? Wat het geword van orde en eenheid? Wat beteken ’n kerkverband dan nog?

[Kommentaar: Weereens uitstekende vrae! Die antwoord oor of gemeentes self kan besluit oor fundamentele, etiese sake, is vanselfsprekend, “nee”. Daarom sal dit nie help om die AS te ontbind nie, soos sommige behoudendes op die oomblik voorstel. Dit sal totaal onprakties wees as een gemeente een ding besluit en ’n ander gemeente ’n ander ding. Die vraag is egter: kan streeksinodes besluite maak oor fundamentele, etiese sake wat in botsing is met die kerkverband waaraan hulle behoort? Dit is juis daarom dat ek die vraag vra of Artikel 37 werklik ’n langtermynoplossing is vir behoudendes in die NG Kerk – kyk Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge. Indien artikel 37 goedgekeur sou word, sal dit ’n reuse stap in die regte rigting wees, maar ’n mens sou nie daar kon stop nie.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui