Neem jy as man/vrou/hulle/dit/geboortegewende persoon . . .

*******

Neem jy as man/vrou/hulle/dit/geboortegewende persoon . . . | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

05 Oktober 2022

Met verwysing na my brief (“Oor huweliksformulier-kaskenades”, 26.09) skryf Danie Pienaar (29.09): “Hy skets die verspotheid van die algemene sinode om homself bloot te lê vir lagwekkende kommentaar.”

Nou ja, dit was nie my doel nie, maar met die verwarrende teenstrydighede in die LGBTQIA+-familie het ek regtig gewonder hoe ’n trouformulier sou lees. Want sien, nie almal in hierdie familie wil as “hy” of “sy” bekend staan nie. Sommiges wil as “hulle” aangespreek word. Soos in “they” in Engels.

In Amerika is daar tans in sommige kringe geweldige onsekerheid oor wat ’n vrou is. Toe ’n Amerikaanse senator onlangs gevra is wat is ’n vrou, kon sy in die senaat vir twee minute lank nie verklaar wat ’n vrou is nie. Op die ou end is gesê dit is iemand wat ’n “birthing person” is, naamlik iemand wat geboorte kan gee.

Maar selfs dit is nie so eenvoudig nie, want as ’n vrou haarself her-gender tot ’n man, of ’n vrou haarself trans-gender as ’n man, kan hulle dikwels steeds geboorte gee, soos al gebeur het.

Dus, sou ’n trouformulier opgestel word, sal die bewoording moontlik moet lees: “Neem jy, man/vrou/hulle/dit/geboortegewende persoon as jou wettige man/vrou/hulle/dit/geboortegewende persoon . . .”

Dit is baie duidelik dat ’n enkele huweliksformulier glad nie voldoende sal wees om elkeen in die LGBTQIA+-familie tevrede te stel nie.

Dit was ’n baie wyse besluit van die moderamen van die NG Kerk se algemene sinode om nie ’n huweliksformulier vir die LGBTQIA+-familie op te stel nie en maar liewers hierdie tameletjie-opdrag te laat vaar.

Die beste is dat elke L en G en B en T en Q en I en A en + hul eie huweliksformulier opstel waarvolgens hulle wil trou, want as enigiemand anders dit opstel, gaan die LGBTQIA+-vonke spat, want die aanspreekterme sal nie vir almal aanvaarbaar wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui