Kyk ook:
Deur Daniel Louw
25 November 2026
Sokrates (469–399 vC) was een van die belangrikste filosowe van Antieke Griekeland. Hy het in Athene gewoon en word beskou as een van die grondleggers van die Westerse filosofie.
Sokrates was krities oor die Atheense demokrasie.
Atheense demokrasie
Atheense demokrasie het ongeveer 508/507 vC ontstaan en was een van die eerste bekende stelsels waarin gewone burgers direk aan die regering deelgeneem het.
Slegs vrygebore volwasse mans wat Atheense burgers was kon stem. Vroue, slawe, buitelanders wat in Athene gewoon het (metoikoi) en kinders was uitgesluit.
Dus was Atheense demokrasie reeds ‘n gevestigde stelsel toe Sokrates geleef het.
Die verhoor van die Atheense generaals
Sedert 431 vC was Athene in die Peloponnesiese Oorlog teen Sparta gewikkel. In 406 vC (7 jaar voor Sokrates se dood) het Athene ‘n belangrike seeslag by die Arginusae-eilande gewen. Ná die geveg is verskeie Atheense skepe deur ‘n storm verhinder om die oorlewendes van gesinkte skepe te red. Die generaals is daarvoor verantwoordelik gehou. Die volksvergadering het besluit om die generaals gesamentlik te verhoor en oor hulle lot te stem. Volgens die wet moes elke generaal egter afsonderlik verhoor word. Die voorgestelde gesamentlike verhoor was dus onwettig.
Uiteindelik is die generaals skuldig bevind en tereggestel.
Sokrates se kritiek oor demokrasie
Hierdie gebeurtenis was waarskynlik een van die belangrikste insidente wat gemaak het dat Sokrates ‘n suiwer demokrasie gekritiseer het. Sy beswaar was dat die meerderheid nie noodwendig weet wat reg of verstandig is nie.
Sy sentrale vraag was ongeveer: Waarom behoort mense se politieke besluite deur die aantal stemme bepaal te word eerder as deur kennis, wysheid en goeie oordeel?
- Wanneer jy ‘n stuurman vir ‘n skip kies, kies jy die mees bekwame persoon. Jy vra nie die bemanning om oor die persoon te stem nie.
- Net soos ‘n mens ‘n kundige moet kies om ‘n skip te stuur, so moet ‘n mens ook die mees bekwame persoon kies om ‘n land te bestuur.
- Die meerderheid is dikwels verkeerd.
- Demokrasie kan deur populisme gekaap word
Ironie in Sokrates se dood
Een van die bekendste ironieë in die geskiedenis van die filosofie is dat Sokrates deur demokrasie tot die dood veroordeel is.
In 399 vC is Sokrates in Athene verhoor.
Die aanklagte was onder andere:
- Hy erken nie die gode wat die stad erken nie.
- Hy stel nuwe goddelike wesens of invloede bekend.
- Hy korrupteer die jeug.
‘n Jurie van 501 Atheense burgers het oor sy skuld besluit. Die stemuitslag was:
- Skuldig: 280 (56%)
- Onskuldig: 221 (44%)
Om die ironie te vererger: Ná die skuldigbevinding moes die jurie weer stem oor die straf. Die aanklaers het die doodstraf voorgestel. Volgens Plato het die doodstraf ‘n groter meerderheid gekry as die oorspronklike skuldigbevinding.
Hy is tereggestel deur hom te dwing om gif (hemlock) te drink.
Toepassings vandag
Suid-Afrika
Suid-Afrika is ‘n uitstekende voorbeeld om Sokrates se punt demonstreer. ‘n 18 jarige seun wat na graad 9 (standerd 7) die skool verlaat het en in die tronk sit vir diefstal kan ook aan die nasionale verkiesing deelneem en sy stem tel presies dieselfde as ‘n ryk besigheidsman wat nie net baie meer wysheid, kennis en lewenservaring het nie, maar wat ook ‘n reuse finansiële bydrae maak aan die land.
In Suid-Afrika dra ‘n klein minderheid die land finansieel. Die nuutste statistiek is dat 1 miljoen mense (1.6%) 60% van Suid-Afrika se belasting betaal.[1] Dit gaan teen alle gesonde verstand in dat hierdie minderheid so ‘n klein sê het oor hoe die land geregeer moet word. In alle besighede het die grootste aandeelhouers die grootste sê oor die besigheid omdat hulle ook die meeste het om te verloor.
Met ‘n suiwer demokratiese stelsel gaan die minderheid, ongeag hulle bydrae, altyd aan die kortste ent trek.
Verder word minder gegoede mense (wat die meerderheid in Suid-Afrika is), baie makliker omgekoop met geskenke en valse, onrealistiese beloftes.
‘n Suiwer demokrasie kan slegs sinvol werk in ‘n land wat ‘n homogene bevolking het, soos in baie Europese lande. Die bevolking het egter steeds die verantwoordelikheid om hulleself inlig oor die politiek en kan nie bekostig om apaties daaroor te staan nie.[2]
Amerika
Elke vier jaar word miljoene dollars gespandeer om kiesers in Amerika te oortuig om vir ‘n sekere kandidaat te stem.
Selfs vir ‘n land soos Amerika raak dit vir die president moeilik om die regte dinge te doen weens druk van die kiesers:
President Donald Trump het die verkiesing in 2024 met ‘n wegholoorwinning gewen. Hy het egter twee jaar later sleg verloor tydens die middeltermynverkiesing van 3 November 2026. Een van die grootste redes was dat die oorlog teen Iran hoë oliepryse veroorsaak het en lewenskostes in Amerika verhoog het.
Trump het die oorlog met Iran begin omdat Iran vir jare lank die grootste befondsers van terroriste was en daar was verder die gevaar dat Iran begin het om ‘n kernwapen te bou.
Dus sou mens kon redeneer dat dit die regte besluit was om Iran aan te val. Die Amerikaanse publiek het egter die mag om dit te keer deur vir die opposisie te stem. Die gevaar is natuurlik dat die oorlog teen Iran gestaak word en dat hulle as ‘n groter bedreiging vir die wêreld uit die stryd tree.
Die NG Kerk
Die kerk is ‘n baie interessante geval.
Wanneer ‘n mens Sokrates se redenasie moet toepas, beteken dit dat die mees kundige mense in die kerk moet besluit oor die interpretasie van die Bybel. Die ironie is dat dit juis die geleerde teoloë in die NG Kerk is wat die dwaling in die NG Kerk ingebring het.[3]
Ten slotte
By verre die mees effektiefste stelsel is om ‘n wyse, Godvresende diktator of koning te hê wat ‘n land of streek of kerk regeer. Dit is een ding om so ‘n leier te kry en aan te stel, maar dit is geheel en al ‘n ander storie om te verseker dat sy opvolgers dieselfde wyse besluite neem. Die geskiedenis het dit bewys.
Dit is daarom dat Winston Churchill gesê het:
Many forms of Government have been tried, and will be tried in this world of sin and woe. No one pretends that democracy is perfect or all-wise. Indeed, it has been said that democracy is the worst form of Government except for all those other forms that have been tried from time to time.
In Afrikaans:
Baie regeringsvorme is al probeer en sal weer probeer word. Niemand beweer dat demokrasie volmaak of alwetend is nie. Daar is inderdaad gesê dat demokrasie die swakste regeringsvorm is, behalwe vir al die ander regeringsvorme wat van tyd tot tyd probeer is.
Hierdie hierinner ‘n mens net weer oor die gebrokenheid van die wêreld.
Daar is geen stelsel of struktuur wat bestand is teen die verdorwenheid van die mens nie.
Die enigste troos wat ‘n mens werklik het is om jouself daaraan te herinner dat ons slegs bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld is.
Voetnotas
[1] Kyk:
- 1 million South Africans pay most of the income tax and keep the whole country functioning (10 Oct 2026)
- One Percent of South Africa’s Population Pays 60% of Personal Income Tax (20 Feb 2020)
[2] Kyk youtube.com | people know nothing about politics.
[3] Kyk Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000.
Bronne
- youtube.com | socrates democracy
- Why Democracies Always Fail (21 Feb 2024, Nick Freitas, The Why minutes)