Huweliksformulier (Gereformeerde Kerk)

Huweliksformulier van die Gereformeerde Kerk

Geliefdes in ons Here Jesus Christus, God het die huwelik met hierdie woorde ingestel: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas[1].

Toe het die HERE God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees[2].

Net so lei God vandag nog elke man en vrou na mekaar toe. Van hierdie instelling van die huwelik getuig ons Here Jesus Christus ook: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie[3]. Daarom het Hy die huwelik ook so hoog geëer deur sy teenwoordigheid en sy wondertekens op die bruilof in Kana[4]. En Paulus se met die oog op Christus en die gemeente dat die huwelik ’n groot verborgenheid is. Hieruit leer ons dat die huwelik, wat in die welbehae van God gegrond is, baie eerbaar is, want dit is ’n afbeelding van die verhouding tussen Christus en die gemeente[5].

Die getroudes kan daarom ook in hulle hart verseker wees van die hulp en bystand van God, selfs wanneer hulle dit glad nie verwag nie. Hoewel getroudes as gevolg van die sonde gewoonlik deur allerhande teëspoed getref word en daar lyding oor hulle kom, kan u dit nogtans geduldig en dankbaar aanvaar, aangesien dit alles uit die hand van die Here kom.

Maar u moet ook weet wat die doel van die huwelik is.

Die een moet naamlik die ander getrou help en bystaan in alles wat tot die tydelike en ewige lewe behoort. Die menslike geslag moet ook deur die huwelik gebou word[6], en ouers moet hulle kinders opvoed in die ware kennis en vrees van God tot sy eer en tot hulle saligheid.

Verder dien die huwelik om die mens alle onkuisheid te laat vermy. Daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man[7], met medewete en toestemming van hulle ouers of voogde. Hulle huwelikslewe moet heilig wees, sodat die tempel van God, naamlik die liggaam, nie verontreinig word nie.

U moet ook weet hoe die gedrag van die een teenoor die ander volgens die Woord van God moet wees: En dan moet u, man, besef dat God u as hoof van die vrou gestel het, soos Christus die Hoof van sy gemeente is[8]. U moet haar liefhê en verstandig lei, onderrig, vertroos en beskerm en haar as vrou eer. U moet nie teen haar verbitterd word nie maar verstandig met haar saamwoon. U moet ook ywerig en getrou u beroep beoefen, sodat u u gesin eerbaar kan onderhou en ook aan die behoeftiges iets kan gee.

En u, vrou, moet u man liefhê, hom eer en gehoorsaam wees[9] in alles wat reg en billik is, net soos die gemeente aan Christus onderdanig is. U moet u man ook behulpsaam wees in alles wat goed en reg is[10], en aan u gesin en huishouding die regte aandag gee. Verder moet u ingetoë en eerbaar lewe, vir ander tot voorbeeld in deugsaamheid[11].

Die bedienaar vra nou aan die bruidspaar:

AB en CD, nou dat u weet dat God die huwelik ingestel het en wat Hy u daarin beveel, getuig u hier voor God en almal wat teenwoordig is, dat dit u opregte voorneme is om so in hierdie staat te lewe, en begeer u dat u huwelik nou gesluit en bevestig sal word?

Antwoord:

Ja.

Verklaar u, AB, dat, sover u weet, daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met CD hier teenwoordig nie en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u CD tot u wettige vrou neem?

Antwoord:

Ja.

Verklaar u, CD, dat sover u weet, daar regtens geen beletsel is teen u voorgenome huwelik met AB hier teenwoordig nie en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u AB tot u wettige man neem?

Antwoord:

Ja.

Daarna spreek die bedienaar die bruidspaar soos volg toe:

Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het, bekragtig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het!

Nou gee hulle mekaar die regterhand, en die bedienaar rig hom tot die bruidegom:

AB, u het hier voor God en almal teenwoordig verklaar dat u CD as u wettige vrou neem. Beloof u dat u haar nooit sal verlaat nie, dat u haar sal liefhê en getrou sal onderhou soos ’n getroue en Godvresende man aan sy vrou verskuldig is? Beloof u verder dat u heilig met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly ooreenkomstig die uitspraak van die heilige evangelie?

Wat is u antwoord?

Antwoord:

Ja.

Daarna rig die dienaar hom tot die bruid:

CD, u het hier voor God en almal teenwoordig verklaar dat u AB as u wettige man neem. Beloof u dat u hom sal liefhê, hom gehoorsaam sal wees, hom sal dien en help en hom nooit sal verlaat nie? Beloof u verder dat u heilig met hom sal lewe en hom in alles getrou sal bly, soos ’n vrome en getroue vrou aan haar man verskuldig is ooreenkomstig die uitspraak van die heilige evangelie? Wat is u antwoord?

Antwoord:

Ja.

Hierna sê die bedienaar:

Ek verklaar nou dat AB en CD hier teenwoordig regtens getroud is. Mag die Vader van alle barmhartigheid, wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee! Amen.

Maar omdat daar in onsself niks goeds is nie en alle goeie gawes van bo kom, van die Vader van die ligte, versoek ek u om neer te kniel voor die Here, sodat ons almal saam met u en vir u kan bid.

Laat ons bid.

Gebed

Almagtige God, U openbaar u goedheid en wysheid in al u werke en het ook van die begin af gesê dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie. U het vir hom ’n hulp geskep wat by hom pas, en verorden dat die wat twee was, een moet wees. Ons bid U dat U hierdie egpaar wat U tot die heilige huwelik geroep en saam verbind het, deur u Heilige Gees wil lei, sodat hulle in ’n ware en vaste geloof heilig volgens u Goddelike wil sal lewe en alle boosheid teëstaan. Seën hulle ook, soos U die gelowige vaders, u getroue vriende en dienaars, Abraham, Isak en Jakob, geseën het.

Laat weg waar nie toepaslik nie.

En aangesien hulle mede-erfgename is van die verbond wat U met hierdie vaders gesluit het, bid ons dat U aan hulle die genade sal verleen om hulle kinders, as dit U behaag om hulle die te gee, Christelik op te voed tot eer van u heilige Naam, tot opbou van u gemeente en tot verbreiding van u heilige evangelie.

Verhoor ons, Vader van alle barmhartigheid, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, ons Here, wat saam met U en die Heilige Gees leef en regeer – die enige, ware, ewige God, wat altyd geprys moet word.

Amen.

Ten slotte versoek die bedienaar om ’n gepaste seënbede te sing, en sê daarna:

Mag ons HERE God u met sy genade vervul en gee dat u in alle godsaligheid en liefde saamverbind lank en heilig mag lewe! Amen.

Skriffundering

[1] Genesis 2:8

[2] Genesis 2:21-24, Matteus 19:4-6

[3] Matteus 19:4-6

[4] Johannes 2:1-11

[5] Efesiërs 5:32

[6] Genesis 1:28

[7] 1 Tessalonisense 4:3-5

[8] Efesiërs 5:23,25

[9] Efesiërs 5:24

[10] Genesis 3:16

[11] 1 Petrus 3:1-6

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui