Fietsrit saam met my Vader

Kyk ook:

Nadat ek die eerste keer vir Jesus Christus ontmoet het, het die lewe vir my gevoel soos ’n fietsrit op ’n tandemfiets, en Jesus het op die agterste sitplek gesit en Hy het my gehelp trap.

Ek weet nie mooi wanneer dit was dat ons plekke omgeruil het, maar sedert Hy die voorsitplek ingeneem het was die lewe nooit weer dieselfde nie.

Toe ek in beheer was, het ek die pad geken: dit was redelik voorspelbaar – altyd die kortste pad op my manier tussen twee punte.

Maar vandat Jesus Christus die stuurstokke oorgeneem het, is die hele pad sommer interessant en opwindend, al hou ek soms asem in.

Hy neem ons oor asemrowende bergpaaie, deur rotsagtige plekke, afdraendes teen nekbreek snelhede en al wat ek kon doen was om vas te hou.

Selfs wanneer dit gelyk het na skone malligheid, het Hy aangemoedig met ’n “hou aan met trap!”.

Ek het bang en paniekerig geraak en uitgeroep: “Waarheen neem U my?”

Hy het net geglimlag en nie geantwoord nie, en ek het geleer om Hom te vertrou.

Ek het my voorspelbare leefstyl vergeet en het gewoond begin raak aan die avontuur van op die agterste sitplek ry en saamtrap maar geen stuurstok in my eie hande.

Wanneer ek soms begin bang raak, dan het Hy terug geleun en my hand aangeraak. Hy het my geneem na mense met gawes wat ek nodig gehad het… gawes van genesing, aanvaarding, vriendelikheid.

Hy het my beveel: “Gee jou gawes weg, dis te veel bagasie, te veel gewig.”

So het ek weggegee aan mense wat ons ontmoet het op die pad, en ek het ontdek dat deur weg te gee, ek al hoe meer ontvang het, maar my vrag het nie swaarder geraak nie, die las is lig.

Aanvanklik het ek Hom nie vertrou nie, en ek was self in beheer van my lewe.

Toe ek begin agter ry het, het ek gedink, Hy gaan ons verongeluk!

Stelselmatig het ek egter agtergekom dat Hy fietsrygeheime ken….

Hy het geweet hoe om deur ’n skerp draai te beweeg, hoe om te klim oor rotse wat heeltemal te hoog gelyk het vir my, en ook waar om te jaag sodat ons vinniger deur die gevaarlike plekke kon gaan.

Ek het geleer om my mond te hou en net saam te trap, dikwels op die mees ongewone plekke; ek het begin ontspan en selfs geleer om die natuurskoon rondom my te geniet… en ook die koel wind in my gesig in die permanente kameraadskap van Iemand wat my nooit begewe en verlaat nie, die Heilige Gees.

En elke keer wanneer ek seker was dat ek aan die einde was van my eie kragte, glad nie instaat om verder te gaan nie, dan het Hy geglimlag en aangemoedig…

“Trap my kind, trap!”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui